Slaan ag op waarskuwings—Dit maak ’n verskil
WOENSDAG 24 Augustus 2005 was ’n tipiese warm, bedompige dag in New Orleans, Louisiana, VSA. Alan en sy gesin het hulle huis verlaat om ’n paar dae in Beaumont, Texas, deur te bring wat meer as 300 kilometer wes daarvandaan is. Hulle het genoeg klere vir vyf dae saamgeneem. Alan verduidelik: “Ons was onbewus van orkaan Katrina, wat teen daardie tyd oos van Florida begin vorm het. Maar teen Vrydagaand was dit duidelik dat New Orleans deur ’n Kategorie 4- of 5-orkaan getref gaan word.”
Teen Sondag 28 Augustus het alles daarop gedui dat die storm met die naam Katrina ’n uiters vernietigende orkaan gaan wees. Die burgemeester van New Orleans het opdrag gegee dat die hele stad ontruim moet word. Gevolglik het duisende voertuie stadig na die noorde en weste beweeg, en verkeersopeenhopings het op hoofweë ontstaan. Duisende mense wat nie motors gehad het nie, het na skuilings of na die groot Superdome-stadion gevlug. Party het besluit om in hulle huise te bly en te wag totdat die storm verby is.
‘Volgende keer gee ek heel eerste pad!’
Joe, een van Jehovah se Getuies, was een van dié wat agtergebly het. Hy was oortuig dat hy in sy huis veilig teen die storm sou wees. Hy het geredeneer dat vorige orkane nie soveel skade aangerig het as wat die owerhede voorspel het nie. “Ek het gedink ek kon dit oorleef”, sê hy. “Hoe vinnig het ek tog van mening verander! Die winde was baie sterk, en dit het kwaai gereën. In ’n oogwink is die huis se dak afgeruk. Toe het die water vreeslik vinnig begin styg—drie meter binne drie uur! Dit het so vinnig ingestroom dat ek na die volgende verdieping moes gaan. Ek het regtig bang geword, want die wind het geloei en dit het gelyk of die mure enige oomblik inmekaar gaan stort. Die plafon het begin meegee. Ek het toe probeer dink hoe ek daar gaan uitkom.
“Ek het gedink dat ek dalk in die onstuimige waters sou moes spring. Maar die golwe was te woes. Die wind het skuim van die branders in die nabygeleë strate rondgewaai. Ek het geweet dat ek waarskynlik sou verdrink as ek inspring.”
Uiteindelik het ’n boot Joe gered en hom op ’n brug afgelaai. Lyke het in die water onder hom rondgedryf en ontlasting kon oral gesien word. Hy het een aand op ’n motor se kattebak geslaap. Daarna is hy per helikopter en toe per bus na die New Orleans-burgersentrum geneem. “Daar het die mense goed na my gekyk”, sê hy. “Op een stadium was ek baie verward. Al waaraan ek kon dink, was: ‘Waar gaan ek my volgende bottel water in die hande kry?’”
Wanneer Joe terugkyk op wat gebeur het, besef hy dat hy die ontberinge wat hy deurgemaak het, kon vermy het. “Ek het my les geleer”, sê hy. “Die volgende keer wanneer hulle sê: ‘Ontruim’, gee ek heel eerste pad!”
Sy het waarskuwings geïgnoreer, moes in ’n boom skuil
Die stede Biloxi en Gulfport, aan die Mississippi-kus, het groot skade gely en baie mense het gesterf. Volgens The New York Times van 31 Augustus 2005 het Vincent Creel, die bestuurder van openbare sake in Biloxi, gesê: “Baie mense het hulle nie aan die ontruimingsbevele gesteur nie omdat hulle orkaan Camille [in 1969] oorleef het of omdat hulle huise destyds nie vernietig is nie.” Daar is gereken dat Camille sterker as Katrina was, maar soos Creel gesê het, het Katrina ‘’n onkeerbare watermassa soos dié van ’n tsoenami voor haar uitgedryf’.
Een van die plaaslike inwoners wat besluit het om die waarskuwings te ignoreer, was Inell, wat die grootste deel van haar lewe in Biloxi gewoon het. Sy sê: “Ons het in die verlede al baie storms oorleef. Daarom was ek nie te bekommerd oor Katrina nie.” Nadat Inell haar 88-jarige skoonma, haar seun, haar dogter en haar skoonseun—asook twee honde en drie katte—bymekaargekry het, het hulle besluit om nie hulle goed geboude huis te ontruim nie. Die storm het Biloxi toe om 10:00 die oggend op 29 Augustus getref. Inell sê: “Ek het gesien hoe water in een van die slaapkamers naby die agterkant van die huis inlek. Toe het dit oral begin inkom. Ons het besluit om vir veiligheid in die solder in te klim. Maar die water het bly styg. Ons moes uit die solder uitkom, want ons was bang dat ons vasgekeer sou word. Maar waarheen kon ons gaan?
“My seun moes ’n gat in ’n vlieëskerm skeur sodat ons onder die water buitentoe kon swem. Daarna het ons bo die water gebly deur aan die kant van die dak vas te klou. Drie van ons het na die regterkant van die huis beweeg en my dogter na die linkerkant. Ek het ’n groot boom daar naby gesien. Ek, my seun en my skoonma het na die boom geswem en daaraan vasgeklou. Toe het ek my dogter hoor skree: ‘Mamma! Mamma!’ My skoonseun, wat laaste uit die solder gekom het, het na haar toe geswem om haar te red. Hulle het dit reggekry om in ’n boot te klim wat in die oprit geparkeer was en wat nou naby die huis rondgedryf het. Hulle het vir my gesê om ook in die boot te klim. Ek wou dit nie in die kolkende waters waag nie. Ek het veilig gevoel in die boom en wou net daar bly.
“Van waar ek was, kon ek sien hoe die water in die straat af en rondom die huis vloei. Ek het oor my situasie begin dink en soos ’n dwaas gevoel omdat ek nie op die waarskuwings om die gebied te verlaat, ag geslaan het nie.
“Later het die water begin daal, en uiteindelik was ons almal saam in die boot! ’n Brandweerwa het opgedaag en ons hospitaal toe geneem. Ons was inderdaad dankbaar dat ons met ons lewe daarvan afgekom het!”
Die Getuies se ontruimingsplanne
Die uitwerking van Katrina kon al langs die Golfkus gevoel word, waar duisende huise vanaf Louisiana oos tot in Alabama vernietig is. Maar orkane is niks nuuts vir hierdie deel van die Verenigde State nie. Daarom het Jehovah se Getuies al ’n paar jaar ontruimingsplanne gehad. Die 21 gemeentes van Jehovah se Getuies in New Orleans en omstreke hersien gewoonlik in Junie, voor die stormseisoen begin, ’n noodontruimingsplan. Die meeste van die plaaslike Getuies het dus geweet wat om in ’n noodgeval te doen. Hoe doeltreffend was die plan toe orkaan Katrina die gebied tref?
Onmiddellik nadat die stadsamptenare aangekondig het dat mense hulle huise moet ontruim, het die ouer manne in elke gemeente met die gemeentelede in aanraking gekom en hulle aangemoedig om die stad te verlaat. Baie kon hulle eie reëlings tref om saam met familie of vriende te gaan. Spesiale vervoer en bystand is vir die bejaardes en siekes voorsien. John, ’n lid van ’n noodlenigingskomitee van die Getuies, het gesê: “Ek glo werklik dat ons baie lewens gered het deur hierdie plan uit te voer.” Gevolglik was die meeste van Jehovah se Getuies uit die stad voordat die storm dit getref het. Die takkantoor van Jehovah se Getuies in Amerika het noodlenigingskomitees gestig om onmiddellik praktiese noodleniging aan die gebiede te voorsien wat getref is.
Getuies word in die Astrodome opgespoor
Ongeveer 16 000 rampslagoffers, hoofsaaklik van Louisiana, het voedsel, water en skuiling in die Astrodome in Houston, Texas, ontvang. Die noodlenigingskomitee van die Getuies in Houston het uitgevind dat daar ’n klompie Getuies onder daardie groot skare is. Maar hoe kon hulle hulle opspoor?
Vroeg Vrydagoggend op 2 September het ’n groep Getuie- ouer manne by die Astrodome opgedaag om hulle ontwortelde broers te vind. Hulle was verbaas om duisende mans, vroue, tieners, kinders en babas te sien wat regoor die reusestadion versprei was. Die voetbalveld was oortrek met duisende opvoubeddens en rampslagoffers wat geduldig vir hulp gewag het. Daar was lang rye mense wat mediese behandeling wou hê, en mediese personeel het rondgehardloop om pasiënte in ambulanse te kry.
“Dit het gevoel asof ek in die middel van ’n vlugtelingkamp was”, het Samuel gesê, een van die ouer manne wat op soek was na mede-Getuies. Hoe sou hulle ’n handjievol Getuies in hierdie groot skare vind? Die ouer manne het begin deur op en af in die gange te loop met groot plakkate wat Getuies aangemoedig het om hulleself te identifiseer. Nadat hulle drie uur lank sonder enige welslae gesoek het, het hulle besef dat hulle ’n praktieser metode sal moet probeer. Hulle het die Rooi Kruis gevra om ’n aankondiging oor die luidsprekerstelsel te maak: “Alle gedoopte Getuies van Jehovah moet asseblief by die oostelike ingang op die onderste verdieping bymekaarkom.”
Uiteindelik het die Getuies een vir een met ’n breë glimlag begin opdaag. Samuel verduidelik: “Hulle was vreugdevol en het trane in hulle oë gehad. Hulle het ons hartlik omhels en ons hande vasgehou. Hulle wou nie ons hande los nie omdat hulle bang was dat hulle ons in die skare sou verloor.” Op Vrydag en Saterdag is 24 Getuies gevind en na die Getuies se noodlenigingsentrum geneem.
Die meeste van hulle het, buiten die vuil klere wat hulle aangehad het, feitlik geen materiële besittings gehad nie. Een Getuie het ’n kleinerige boks, so groot soos ’n skoenboks, by haar gehad. Daarin was ’n paar belangrike dokumente—dit was al wat sy kon red toe die verwoestende storm die gebied getref het.
By die Astrodome het baie mense die besoekende ouer manne as bedienaars van Jehovah se Getuies herken en hulle om Bybels en Bybellektuur genader. Meer as 220 Bybels is aangevra. Die Getuies het ook die Ontwaak! van 22 Julie 2005 met die baie tydige voorbladreeks “Natuurrampe—Neem dit toe?” vir die publiek aangebied.
Party keer terug na hulle huise
Een oorlewende van die storm is ’n ervare verslaggewer en die hoofbestuurder van ’n TV-stasie in New Orleans. Hy het dus al baie verwoesting in die verlede gesien. Hy het na sy huis in Jefferson Parish, Louisiana, teruggekeer om van sy besittings te probeer vind. “Ek was geskok”, sê hy. “Alles is vernietig. Op TV het ons gesien hoe die noodwalle breek en die water uit die kanale instroom. Maar die sterk winde het ook groot skade aangerig. Die woonstelgebou waarin ek gebly het, is heeltemal vernietig. Alles muf, verrot en stink. Die stank is onbeskryflik. Dis absoluut verskriklik. Maar ten minste lewe ons nog.”
Alan, wat aan die begin genoem is, het uiteindelik teruggekeer na sy huis in Metairie, ’n westelike voorstad van New Orleans. Die storm het verwoesting gesaai. “Dit was traumaties en skokkend om dit te sien”, sê hy. “Dit het gelyk asof iemand ’n atoombom op die stad laat val het. Dis een ding om oor die nuus hiervan te hoor of om dit op TV te sien. Dis iets heeltemal anders om deur jou buurt te loop of te ry en sulke grootskaalse en wydverspreide skade en verwoesting te sien. Dis moeilik om dit te verwerk.
“Byvoorbeeld die stank—dit was soos verrotte vleis, die reuk van die dood. Baie besighede is geheel en al vernietig of oorstroom. Daar was polisie en soldate op elke hoek. Dit het soos ’n oorlogsone gelyk.”
Van die noodlenigingspogings
Die stads-, staats- en federale owerheid het reëlings vir noodleniging getref. Die vernaamste federale agentskap wat gehelp het, was FEMA (Federale Agentskap vir Noodoptrede). Ander organisasies het ingespring om die duisende slagoffers te help. Groot hoeveelhede voedsel, klere en water is per vragmotor na die gebiede gestuur wat deur die storm getref is. FEMA het kort voor lank tjeks begin uitskryf en ander finansiële hulp aangebied om mense deur die eerste paar dae of weke te help. Hoe het Jehovah se Getuies intussen gevaar?
Die skade word vasgestel en herstelwerk word gedoen
Onmiddellik ná die storm het die Getuies spanne georganiseer om in die verwoeste gebiede in te gaan en vas te stel hoeveel Getuies se huise en Koninkryksale beskadig of vernietig is. Hoe het hulle hierdie enorme taak aangepak? Die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies, in Brooklyn, New York, het toestemming gegee dat noodlenigingskomitees gestig word onder die toesig van die Takkomitee in die Verenigde State. En Streekboukomitees uit baie dele van die Verenigde State is genooi om met die herstelwerk te begin.a Wat het hulle tot dusver uitgerig?
Die noodlenigingsgroep in Long Beach, Mississippi, het berig dat hulle teen 17 Februarie 2006 reeds 531 van die 632 beskadigde huise van Getuies in hulle gebied heeltemal reggemaak het, wat beteken dat nog 101 herstelwerk nodig het. Die Getuies het ook hulp verleen aan bure wat nie Getuies is nie. Sewentien Koninkryksale se dakke is erg beskadig, en teen die middel van Februarie is 16 van hierdie sale se dakke vervang. Wat van die komitee in Baton Rouge, Louisiana?
Hierdie groep sien om na die gebied in Louisiana wat die ergste deur orkaan Katrina getref is. Van die 2 700 huise van Getuies wat herstelwerk nodig gehad het, was 1 119 teen die middel van Februarie voltooi; hierdie noodlenigingskomitee het dus nog baie werk gehad. Hulle het ook bure en gesinne wat dringend hulp nodig gehad het, gehelp. Vyftig Koninkryksale is erg beskadig. Teen Februarie was 25 van hulle herstel. In Texas moes die Houston-groep 871 huise herstel wat in September deur orkaan Rita beskadig is. Teen 20 Februarie was 830 voltooi.
Lesse wat ons uit Katrina kan leer
Duisende wat die verwoesting van Katrina ervaar het, het die ernstige les geleer dat dit lewensbelangrik is om ag te slaan op waarskuwings. Om die waarheid te sê, baie voel net soos Joe, wat vroeër aangehaal is en gesê het: “Die volgende keer wanneer hulle sê: ‘Ontruim’, gee ek heel eerste pad!”
Jehovah se Getuies gaan voort om noodleniging aan slagoffers in die Golfgebied te voorsien (Galasiërs 6:10). Maar hulle bediening sluit nie net humanitêre hulp in nie. Inteendeel, Jehovah se Getuies se vernaamste werk—wat in 235 lande regoor die wêreld uitgevoer word—is om ’n waarskuwing te gee wat baie belangriker is as dié van ’n dreigende storm. Die Bybel voorspel dat God binnekort ’n einde aan hierdie goddelose stelsel van dinge gaan bring, ons aarde gaan reinig en dit in die toestand gaan herstel wat hy daarvoor in gedagte gehad het. As jy graag wil weet wat die Bybel omtrent hierdie oordeelstydperk leer, kan jy in aanraking kom met Jehovah se Getuies in jou gebied of na die gepaste adres op bladsy 5 van hierdie tydskrif skryf.—Markus 13:10; 2 Timoteus 3:1-5; Openbaring 14:6, 7; 16:14-16.
[Voetnoot]
a Streekboukomitees bestaan uit spanne vrywillige werkers van Jehovah se Getuies wat baie ondervinding het in die bou en opknapping van Koninkryksale. Daar is omtrent 100 van hierdie groepe regoor die Verenigde State en nog baie meer wêreldwyd.
[Prent op bladsy 14, 15]
Satellietfoto van die oog van orkaan Katrina
[Erkenning]
NOAA
[Prent op bladsy 15]
Die oorstroomde New Orleans
[Erkenning]
AP Photo/David J. Phillip
[Prente op bladsy 15]
Orkaan Katrina het geboue vernietig en baie lewens geëis
[Erkenning]
AP Photo/Ben Sklar
[Prent op bladsy 16, 17]
Die Astrodome in Houston, Texas, het skuiling gebied vir ongeveer 16 000 rampslagoffers
[Prente op bladsy 17]
Christen- ouer manne op soek na Getuies onder die rampslagoffers
[Prent op bladsy 18]
Die Getuies het dit baie waardeer dat hulle huise reggemaak is
[Prent op bladsy 18]
Vrywilligers doen herstelwerk aan ’n erg beskadigde dak
[Prent op bladsy 18]
Vrywilligers het voedsel voorsien
[Prent op bladsy 19]
Alan