Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 9/08 bl. 22-24
  • Die uitdaging van Asperger-sindroom

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die uitdaging van Asperger-sindroom
  • Ontwaak!—2008
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Uiteindelik, ’n diagnose!
  • Sy leer om “in die werklike wêreld te lewe”
  • ’n Groter uitdaging
  • Hoe om ondersteuning te gee
  • “Een van die beste dae in my lewe”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Wat sal jou kind sê?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—2005
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2008
Sien nog
Ontwaak!—2008
g 9/08 bl. 22-24

Die uitdaging van Asperger-sindroom

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BRITTANJE

JY WIL graag vriende hê, maar dit is nie vir jou maklik om ’n gesprek te voer nie. Nogtans kan jy ure lank oor jou gunstelingonderwerp gesels. Jou lewe word deur roetine beheer; verandering ontstel jou. Jy voel dikwels angstig en gefrustreerd en soms terneergedruk.

Jy word dikwels misverstaan. Mense sê dat jy vreemd, moeilik of selfs onbeskof is. Jy vind dit moeilik om ander se denke en gevoelens te verstaan, veral omdat jy nie hulle gesigsuitdrukkings of lyftaal kan interpreteer nie. Baie met Asperger-sindroom, wat ook Asperger se versteuring genoem word, kom gereeld voor sulke situasies te staan.

Mense met Asperger-sindroom lyk net soos enigiemand anders, en hulle is dikwels baie intelligent. Maar hulle het ’n neurologiese ontwikkelingsteurnis wat hulle kommunikasie en interaksie met ander beïnvloed. Die sindroom het verskeie kenmerke, en elke persoon word op ’n ander manier geraak. Dit is egter moontlik om die uitdaging van Asperger-sindroom die hoof te bied. Kyk na Claire se verhaal.

Uiteindelik, ’n diagnose!

As kind was Claire baie stil en teruggetrokke. Sy het oogkontak vermy en was bang vir groot groepe mense. Sy het vroeg leer praat, maar het so min woorde as moontlik gebruik en het op een toon gepraat. Sy het gehou van ’n streng roetine en het angstig geword as dit verander het.

By die skool was die onderwysers ongeduldig met Claire omdat hulle gedink het dat sy opsetlik moeilik is, en die ander kinders het haar afgeknou. Die situasie was ook moeilik vir haar ma, aangesien ander haar verkeerdelik vir Claire se optrede blameer het. Op die ou end het sy Claire gedurende haar laaste skooljare by die huis onderrig.

Daarna het Claire by verskillende plekke gewerk, maar het elke keer haar werk verloor omdat sy nie die veranderinge in roetine kon hanteer en kon doen wat van haar verwag is nie. By haar laaste werk, in ’n ouetehuis, het die matrone agtergekom dat iets ernstigs verkeerd is. Eers toe Claire 16 was, is haar toestand as Asperger-sindroom gediagnoseer.

Nou het Claire se ma geweet waarom haar dogter so anders as die res optree. ’n Vriend het inligting oor die sindroom gevind, en toe Claire dit lees, het sy verbaas gesê: “Doen ek dit werklik? Is dit hoe ek is?” Die plaaslike departement van maatskaplike dienste het aangeraai dat Claire beroepsterapie ontvang. Chris, een van Jehovah se Getuies wat ondervinding daarin het om kinders met spesiale behoeftes te help, het gereël dat Claire, ook ’n Getuie, as vrywilliger help met die instandhouding van ’n gebou wat deur die Getuies vir Christelike aanbidding gebruik word.

Sy leer om “in die werklike wêreld te lewe”

Aan die begin het Claire skaars met haar medevrywilligers gepraat. Wanneer sy ’n probleem teëgekom het, het sy vir Chris ’n briefie geskryf omdat dit vir haar makliker was as om haar gedagtes uit te spreek. Geleidelik het Chris haar sover gekry om te sit en dinge met hom te bespreek. Hy het haar geduldig geleer om, soos hy dit stel, “in die werklike wêreld te lewe”. Om kontak met ander te vermy en net te doen wat sy wou, was nie “die werklike wêreld” nie, het hy verduidelik. Met hulp het Claire begin leer om met ander saam te werk om ’n taak uit te voer.

Claire se ongelukkige ondervindinge in die verlede het tot ’n gebrek aan selfvertroue gelei en daarom was haar eerste reaksie op enige taak wat sy gegee is: “Ek kan dit nie doen nie.” Hoe het Chris hierdie probleem aangepak? Hy het vir haar ’n klein takie gegee en verduidelik: “Dit is hoe dit gedoen word”, en dan bygevoeg: “Jy kan dit doen.” Sy was baie bly wanneer sy dit reggekry het. Dan het Chris haar hartlik geprys en haar nog ’n takie gegee. Dit was vir Claire moeilik om ’n reeks mondelinge instruksies te onthou, maar ’n geskrewe lys was nie ’n probleem nie. Bietjie vir bietjie het sy selfvertroue opgebou.

Omdat Claire nie van groot groepe mense gehou het nie, was dit vir haar ’n groot uitdaging om by vergaderinge vir Christelike aanbidding met ander te gesels. Sy het gewoonlik alleen voor in die Koninkryksaal bly sit. Maar sy het vir haarself die doelwit gestel om onmiddellik ná die vergadering op te staan, na die agterkant van die saal te stap en haarself te dwing om met een persoon te praat.

Mettertyd het Claire met meer mense gesels. “Maar dit is nie maklik nie”, sê sy. Al maak haar toestand gesprekke baie moeilik, hou sy gereeld toesprake op die Teokratiese Bedieningskool, ’n program wat ontwerp is om al Jehovah se Getuies te help om hulle beter uit te druk.

’n Groter uitdaging

Toe Claire meer selfvertroue opgebou het, het Chris voorgestel dat sy probeer om te dien as ’n hulppionier, ’n term wat Jehovah se Getuies gebruik vir gedoopte Getuies wat elke maand 50 uur of meer daaraan bestee om ander van hulle Bybelse oortuigings te vertel. “Ek kan dit nie doen nie”, het Claire geantwoord.

Maar Chris het haar aangemoedig deur vir haar te sê dat sy bly sou wees dat sy probeer het, al bereik sy nie haar doelwit van 50 uur vir daardie maand nie. Claire het dit dus probeer en het die ondervinding terdeë geniet. Sy het dit weer en weer gedoen en dit al hoe meer geniet. Dit het haar meer selfvertroue gegee, veral omdat sy baie mense gevind het wat meer omtrent die Bybel wou weet.

Claire het die aanmoediging wat sy by Christelike vergaderinge gekry het, ter harte geneem en het gekyk of daar enigiets is wat haar keer om ’n gewone pionier, of voltydse bedienaar, te word. Sy het toe besluit om een te word. Die gevolg? In Claire se woorde: “Dit is die beste ding om te doen!” Sy is nou baie nader aan diegene in haar gemeente en het baie vriendskappe aangeknoop. Kinders hou daarvan om in haar geselskap te wees, en sy help hulle graag wanneer hulle die predikingswerk saam doen.

Hoe om ondersteuning te gee

Dit is waar dat nie almal met Asperger-sindroom as ’n voltydse bedienaar sal kan dien nie. Maar Claire se ondervinding lewer bewys dat mense met hierdie sindroom baie meer kan doen as wat hulle dalk besef. Claire se vaste rooster bevredig haar behoefte aan ’n roetine, en haar pligsgetrouheid en betroubaarheid help haar om goed te doen in haar gekose loopbaan.

Claire voel dat dit belangrik is vir mense om te weet dat sy Asperger-sindroom het, sodat hulle sal verstaan waarom sy anders is wanneer dit kom by haar beskouing van die wêreld en hoe sy daarop reageer. Sy verduidelik: “Omdat ’n mens jou nie altyd goed uitdruk nie, beskou mense jou as iemand wat nie kan dink nie.” Dit help om iemand te hê met wie jy dinge kan bespreek.

Chris sowel as Claire stel voor dat mense met hierdie sindroom klein doelwitte stel en dit stap vir stap aanpak. Dit kan baie nuttig wees as ’n mens hulp kry van iemand wat die sindroom verstaan. ’n Gevoel van eiewaarde kan dan versterk word en uitdagings te bowe gekom word.

Claire se verhaal toon dat, met geduld en aanmoediging, baie gedoen kan word om diegene met Asperger-sindroom te help. Claire bevestig dit en sê: “’n Paar jaar gelede sou ek nooit gedroom het dat ek vandag al hierdie dinge sou doen nie.”

[Lokteks op bladsy 24]

Claire voel dat dit belangrik is vir mense om te weet dat sy Asperger-sindroom het

[Venster op bladsy 22]

ASPERGER-SINDROOM

Die toestand is vernoem na dr. Hans Asperger, wat dit vir die eerste keer in 1944 beskryf het. Maar daar is eers in onlangse jare behoorlik navorsing gedoen om die toenemende aantal mense wat met die sindroom gediagnoseer word, te verstaan en te help. Mediese navorsers is nie seker of dit ’n minder ernstige vorm van outisme is en of dit ’n afsonderlike steurnis is nie. Tot op hede weet niemand wat Asperger-sindroom veroorsaak nie. Maar dit is nie die gevolg van emosionele verwaarlosing of die manier waarop ’n kind grootgemaak is nie.

[Venster op bladsy 24]

HOE OM MENSE MET ASPERGER-SINDROOM TE HELP

Toon belangstelling in diegene met Asperger-sindroom, en probeer om hulle te leer ken. Onthou dat hulle vriende wil hê en nodig het, al vind hulle dit dalk moeilik om ’n gesprek aan te knoop. Hulle is nie opsetlik moeilik of snaaks nie.

Wees geduldig en probeer hulle probleme verstaan. Wees ook daarvan bewus dat jy dinge duidelik en ondubbelsinnig moet verduidelik, want hulle sal wat jy sê, moontlik baie letterlik opneem. Wanneer ’n vaste roetine moet verander, moet die besonderhede mooi verduidelik word; demonstreer dalk selfs wat nou van hulle verwag word.

As jy vind dat hulle hulle obsessief bekommer oor iets ontstellends wat hulle gesien of gehoor het, kan jy hulle aanmoedig om op ’n mooi prent te konsentreer of na strelende musiek te luister.

[Prent op bladsy 23]

Claire het geleer om die inisiatief te neem om vriende te maak

[Prent op bladsy 23]

Chris verduidelik vir Claire hoe om met ander saam te werk om ’n taak te voltooi

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel