Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 10/08 bl. 10-12
  • Die Europese bison—Gered van uitsterwing

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Europese bison—Gered van uitsterwing
  • Ontwaak!—2008
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Op die randjie van uitsterwing
  • Nuwe hoop vir die bison
  • Van uitsterwing gered?
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2008
  • Die dieretuin—Die natuurlewe se laaste hoop?
    Ontwaak!—1997
  • Waar ses vastelande ontmoet
    Ontwaak!—2005
  • ’n Kykie na vandag se dieretuine
    Ontwaak!—2012
Sien nog
Ontwaak!—2008
g 10/08 bl. 10-12

Die Europese bison—Gered van uitsterwing

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN POLE

Die wilddiewe was opgewonde. Hulle het die spoor gevind waarna hulle gesoek het. ’n Ruk later het hulle uiteindelik ’n vlugtige blik op hulle teiken gekry. Sy pels was donkerbruin; sy baard byna swart. Sy horings het hoog op sy kop gesit en het skerp na binne gekrul. Sy vleis en vel was baie gesog en sou ’n aansienlike som geld inbring.

Die wilddiewe se eerste skoot het die dier gekwes. Hy het in die woud ingehardloop op soek na skuiling, maar tevergeefs. ’n Tweede skoot het sy teiken getref, en die dier, wat ’n halfton geweeg het, het op die grond neergesak. Die wilddiewe het geen idee gehad dat hulle op daardie oomblik geskiedenis gemaak het nie. Dit was April 1919, en hulle het so pas die laaste wilde laaglandse Europese bison in Pole doodgemaak. Gelukkig was daar destyds nog individuele bisons in aanhouding in dieretuine en in privaat versamelings.

DIE Europese bison (Bison bonasus), wat soms die wisent genoem word, het oorspronklik in groot getalle oor die grootste deel van die Europese vasteland voorgekom. ’n Volwasse bul kan tot 900 kilogram weeg en by die skouers oor die twee meter hoog staan. Hierdie groot soogdiere is al die keisers van die woud genoem.

’n Vername kenmerk van die bison is dat die grootte van sy voorlyf buite verhouding is tot die grootte van sy agterlyf. Sy skouers is breed en swaar met ’n opvallende skof terwyl sy agterlyf in vergelyking relatief klein is. Sy agterlyf is met kort hare bedek en sy voorlyf met lang, wollerige hare, en hy het ’n baard.

Op die randjie van uitsterwing

Na skatting is daar vandag nog net ’n paar duisend Europese bisons oor. Landbou en ontbossing het hulle van hulle natuurlike habitat beroof, en wilddiewe het hulle genadeloos gejag. Teen die agtste eeu het die Europese bison in Gallië (hedendaagse Frankryk en België) uitgesterf.

In die 16de eeu het Poolse konings stappe gedoen om die spesie te beskerm. Een van die eerste konings om op te tree, was Sigismund II Augustus, wat beveel het dat iemand wat ’n bison doodmaak, die doodstraf opgelê moes word. Waarom hierdie besluit? “Die doel”, het dr. Zbigniew Krasiński van die Białowieza- Nasionale Park gesê, “was om die diere te bewaar sodat hulle jagtrofeë vir die heersers en hulle howelinge kon wees.” Ondanks die swaar straf het die wette nie daarin geslaag om die wilde bison te beskerm nie, en teen die einde van die 18de eeu kon die Europese bison slegs in die Białowieza-woud in die ooste van Pole en in Kaukasië aangetref word.

In die 19de eeu het dinge uiteindelik begin verbeter. Nadat die Russiese Ryk die Białowieza-woud geannekseer het, het keiser Aleksander I ’n bevel uitgevaardig om die Europese bison te beskerm. Die resultate was kort voor lank duidelik sigbaar. Die bisonbevolking het geleidelik toegeneem, en teen 1857 was daar byna 1 900 Europese bisons onder die regering se beskerming. Later is voerplekke opgestel om gedurende die winter voedsel aan die bison te voorsien. Watergate is sorgvuldig beplan, en grond is skoongemaak om plante te kweek vir voer.

Ongelukkig was die voorspoedige tye vir hierdie bisons van korte duur. Binne 60 jaar is hulle getalle tot die helfte verminder. Met die begin van die Eerste Wêreldoorlog is Pole se wilde bison uiteindelik ’n nekslag toegedien. Ten spyte van ’n Duitse wet om “die bison as ’n unieke natuurlike monument vir die nageslag te bewaar”, is die trop afgemaai deur die terugvallende Duitse leërs en die Russiese leërs wat teen hulle geveg het, sowel as deur die immerteenwoordige wilddiewe. Soos aan die begin van hierdie artikel beskryf is, is die laaste wilde Europese bison in Pole in 1919 doodgemaak.

Nuwe hoop vir die bison

In ’n poging om die spesie te red, is die Internasionale Vereniging vir die Beskerming van die Europese Bison in 1923 gestig. Die eerste doelwit was om te tel hoeveel volbloedbisons daar in aanhouding was.a Daar was nog 54 rasegte laaglandse Europese bisons oor in verskillende dieretuine en diereversamelings regoor die wêreld. Maar nie almal van hulle was geskik vir teeldoeleindes nie. Party was te oud terwyl ander siektes gehad het. Uiteindelik is 12 diere gekies om die spesie te versterk. Dit is bekend dat alle laaglandse Europese bisons wat vandag lewe, van slegs vyf van hierdie diere afstam.

In die herfs van 1929 is ’n mylpaal bereik toe twee laaglandse Europese bisons in die natuur vrygelaat is. Hulle is in ’n spesiaal voorbereide wildtuin in die Białowieza-woud gesit. Ná tien jaar het hulle getalle tot 16 vermeerder.

Van uitsterwing gered?

Aan die begin van die 21ste eeu was daar wêreldwyd ongeveer 2 900 Europese bisons. Omtrent 700 van hulle was in Pole. Deur die jare heen is daar ook troppe in Belo-Rusland, Kirgistan, Litaue, die Oekraïne en Rusland gevestig.

Dit beteken egter nie dat die Europese bison buite gevaar is nie. Plae, siektes, voedsel- en watertekorte en wilddiewe hou nog steeds ’n bedreiging in. Genetiese afwykings weens ’n beperkte genepoel is ook ’n ernstige probleem. Om hierdie redes is die Europese bison nog steeds op die Rooi Lys, ’n lys van bedreigde plant- en dierspesies oral in die wêreld.

Mense se vasbeslotenheid om hierdie spesie te bewaar, het gehelp om dit tot in ons dag behoue te laat bly. Dr. Krasiński, wat vroeër aangehaal is, herinner ons egter dat “die lot van die Europese bison ’n voorbeeld is van hoe vinnig ’n spesie tot op die randjie van uitwissing gebring kan word en dan slegs met groot inspanning gered kan word”. Die toekoms van hierdie sowel as baie ander diere bly onseker. Maar vir eers is “die keisers van die woud” van uitsterwing gered.

[Voetnoot]

a Daar is twee subspesies van die Europese bison—die laaglandse Europese bison en die Kaukasiese, of bergbison. Die laaste Kaukasiese bison het in 1927 doodgegaan. Maar vroeër het ’n ander mannetjie van dieselfde subspesie met laaglandse bisons gepaar, wat ’n basternageslag voortgebring het. ’n Aantal van hierdie gekruiste Kaukasiese bisons bestaan nog.

[Prente op bladsy 10]

Europese bisons in die Białowieza-Nasionale Park

[Erkenning]

Al die foto’s: Białowieski Park Narodowy

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel