Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 10/08 bl. 24-25
  • Wat is die aard van God?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat is die aard van God?
  • Ontwaak!—2008
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom menslike kenmerke?
  • Is God manlik of vroulik?
  • God se vernaamste eienskap
  • Is God ’n werklike persoon?
    Ontwaak!—2010
  • Hoe die menslike natuur verander kan word
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Hoe kan jy God persoonlik leer ken?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Die waarheid oor God en Jesus
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe) – 2020
Sien nog
Ontwaak!—2008
g 10/08 bl. 24-25

Die Bybel se beskouing

Wat is die aard van God?

“GOD is ’n Gees, en dié wat hom aanbid, moet met gees en waarheid aanbid”, verduidelik die Bybel. Hierdie stelling openbaar ’n basiese waarheid oor die aard van God—hy is ’n gees! (Johannes 4:19-24). Nogtans beskryf die Bybel hom as ’n persoon, ’n individu. Sy naam is Jehovah.—Psalm 83:18.

Sommige wat die Bybel lees, het gesê dat hulle die aard van God verwarrend vind. As God ’n onsigbare gees is, en nie ’n stoflike wese nie, waarom word God dan op soveel plekke in die Bybel beskryf asof hy oë, ore, ’n neus, hart, arms, hande, vingers en voete het?a Party kom dalk tot die slotsom dat God ’n menslike vorm het omdat die Bybel sê dat die mens na sy beeld geskep is. ’n Nadere ondersoek van wat die Bybel sê, kan sulke verwarring uit die weg ruim.—Genesis 1:26.

Waarom menslike kenmerke?

Om mense te help om die aard van God te verstaan, is Bybelskrywers deur God geïnspireer om menslike karaktertrekke te gebruik om na die Almagtige te verwys. Geleerdes noem sulke terme antropomorfisties, wat beteken dat iets of iemand “beskryf of beskou word asof dit ’n menslike vorm of menslike eienskappe het”. Hierdie terme weerspieël hoe beperk menslike taal is wanneer ons die ware God, Jehovah, wil beskryf. Die bedoeling was om die kern van God se aard oor te dra op maniere wat mense kan verstaan. Dit beteken nie dat ons hierdie terme letterlik moet opneem nie, net soos ons ook nie die Bybelse verwysings na God as “die Rots”, “’n son” of “’n skild” letterlik opneem nie.—Deuteronomium 32:4; Psalm 84:11.

Die Bybel sê eweneens dat die mens na God se beeld geskep is om die gedagte oor te dra dat die mens in ’n beperkte mate eienskappe besit wat Jehovah in ’n absolute sin besit. Dit beteken natuurlik nie dat mense geeste is of dat God ’n menslike vorm het nie.

Is God manlik of vroulik?

Net soos die menslike kenmerke wat aan God toegeskryf word, nie letterlik verstaan moet word nie, moet die gebruik van die manlike geslag om God te beskryf, ook nie letterlik opgeneem word nie. Slegs fisiese skepsele word op grond van geslag onderskei, en wanneer die manlike geslag gebruik word om na God te verwys, weerspieël dit die beperkings van ’n menslike taal om die wese van God die Almagtige, Jehovah, ten volle te probeer vasvang.

Die Bybel se gebruik van die benaming “Vader” help ons om te verstaan dat ons Skepper met ’n liefdevolle, beskermende en besorgde mensevader vergelyk kan word (Matteus 6:9). Dit beteken nie dat ons God, of selfs ander geesskepsele in die hemel, as manlik of vroulik moet beskou nie. Hulle behoort uiteraard nie tot ’n geslag nie. Interessant genoeg, die Bybel toon dat diegene wat geroep word om mede-erfgename met Christus in sy hemelse Koninkryk te wees, nie verwag om manlik of vroulik te wees wanneer hulle as geesseuns van God verheerlik word nie. Die apostel Paulus het hulle daaraan herinner dat “daar . . . nie man of vrou” onder hulle sal wees wanneer hulle verheerlikte geesseuns van God word nie. Hulle word ook figuurlik beskryf as “die bruid” van die Lam, Jesus Christus. Al hierdie dinge lig toe dat menslike kenmerke wat aan God toegeskryf word—asook aan sy enigverwekte Seun, Jesus, en ander geesskepsele—nie letterlik verstaan moet word nie.—Galasiërs 3:26, 28; Openbaring 21:9; 1 Johannes 3:1, 2.

Die Bybelskrywers, wat ’n juiste begrip van die manlike rol gehad het, het die manlike geslag gebruik wanneer hulle na God verwys het. Hulle het in die man, wanneer hy sy rol behoorlik vervul, ’n gepaste weerspieëling van Jehovah se liefdevolle, vaderlike belangstelling in sy aardse kinders gesien.—Maleagi 3:17; Matteus 5:45; Lukas 11:11-13.

God se vernaamste eienskap

Hoewel die allerhoogste Soewerein ’n gees is, is hy nooit kil, in geheimsinnigheid gehul of afsydig nie. Die feit dat hy ’n gees is, is glad nie ’n ondeurdringbare versperring vir regskapenes wat sy liefde, sy mag, sy wysheid en sy geregtigheid wil leer ken en verstaan nie—eienskappe wat ook sy aard omskryf en duidelik in die skepping waarneembaar is.—Romeine 1:19-21.

Die aard van God kan egter opgesom word in sy vernaamste eienskap, liefde. Sy liefde is so uitsonderlik dat hy die verpersoonliking van liefde genoem word (1 Johannes 4:8). Hierdie eienskap omvat van sy ander karaktertrekke, soos barmhartigheid, vergifnis en lankmoedigheid (Eksodus 34:6; Psalm 103:8-14; Jesaja 55:7; Romeine 5:8). Jehovah is voorwaar ’n God van liefde wat ons as mense nooi om nader aan hom te kom.—Johannes 4:23.

[Voetnoot]

a Sien byvoorbeeld Genesis 8:21; Eksodus 3:20; 15:8; 31:18; 1 Samuel 8:21; Job 40:9; Psalm 10:17; 18:9; 34:15; Spreuke 27:11; Esegiël 8:17; Sagaria 14:4; Lukas 11:20; Johannes 12:38; Romeine 10:21 en Hebreërs 4:13.

HET JY AL GEWONDER?

◼ Wat is God se naam?—Psalm 83:18.

◼ Waar kan God se eienskappe duidelik waargeneem word?—Romeine 1:19-21.

◼ Wat is God se vernaamste eienskap?—1 Johannes 4:8.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel