Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 11/08 bl. 18-19
  • Hoe beskou God die gebruik van hulpmiddele in aanbidding?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe beskou God die gebruik van hulpmiddele in aanbidding?
  • Ontwaak!—2008
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ‘Moenie dieselfde dinge oor en oor sê nie’
  • Gebed wat God behaag
  • Hoe jy na aan God kan kom
    Kennis wat tot die ewige lewe lei
  • Gebede—Herhalend of spontaan?
    Ontwaak!—1992
  • Bly na aan Jehovah
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Hef lojale hande op in gebed
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
Sien nog
Ontwaak!—2008
g 11/08 bl. 18-19

Die Bybel se beskouing

Hoe beskou God die gebruik van hulpmiddele in aanbidding?

Die gebruik van fisiese hulpmiddele in gebed is algemeen in Boeddhisme, Hindoeïsme, Islam, Judaïsme, asook die Rooms-Katolieke en Oosters-Ortodokse Kerk. Gevolglik glo etlike miljoene mense in byna alle lande dat sulke voorwerpe hulle help om God te nader, sy guns te wen of seëninge te ontvang. Wat leer die Bybel?

DAAR word al duisende jare lank gebruik gemaak van voorwerpe as hulpmiddele in gebed. Op die plek waar eertydse Nineve geleë was, het argeoloë byvoorbeeld “twee vroue met vlerke [opgegrawe] wat in ’n biddende posisie voor die heilige boom staan; hulle . . . hou ’n blommekrans of bidsnoer in hulle linkerhand”.—The Catholic Encyclopedia.

Wat is die doel van bidsnoere? Dieselfde ensiklopedie antwoord: “Wanneer enige gebed baie keer herhaal moet word, sal mense hulle waarskynlik tot ’n meganiese toestel wend, wat makliker is as om op die vingers te tel.”

Bidwiele neem die herhaling van gebede een stap verder. Elke draai van die wiel, hetsy met die hand, wind, water of elektrisiteit, word beskou as die ekwivalent van ’n gebed wat opgesê word. Bidwiele word dikwels saam met mantras—mistieke formules of verse—gebruik. Let op hoe God oor sulke dinge voel.

‘Moenie dieselfde dinge oor en oor sê nie’

Jesus Christus, wat selfs deur miljoene nie-Christene as ’n profeet van God erken word, het die Skepper se beskouing van herhalende gebede soos volg verduidelik: “Wanneer julle bid, moet julle nie dieselfde dinge oor en oor sê, net soos die mense van die nasies nie, want hulle dink dat hulle verhoor sal word omdat hulle baie woorde gebruik.”a—Matteus 6:7.

As God dit nie goedkeur dat ons “dieselfde dinge oor en oor sê” nie, sal voorwerpe wat as hulpmiddels in herhalende gebede gebruik word, dan nie ook onaanvaarbaar wees nie? Gevolglik bevat die Bybel nie ’n enkele verwysing na ’n getroue kneg van die ware God wat bidsnoere, bidwiele of soortgelyke voorwerpe in aanbidding gebruik het nie. Die redes word selfs duideliker wanneer ons verstaan wat gebed werklik is en wat die doel daarvan is.

Gebed wat God behaag

In Jesus se modelgebed het hy spesifiek na God as “Ons Vader” verwys. Ja, ons Skepper is nie ’n afsydige wese of ’n mistieke krag wat gepaai moet word deur die herhaling van formules, rituele of mantras nie. Hy is eerder ’n liefdevolle Vader en wil hê dat ons hom as sodanig moet erken en moet liefhê. ‘Ek het die Vader lief’, het Jesus gesê (Johannes 14:31). ’n Profeet in eertydse Israel het gesê: “O Jehovah, u is ons Vader.”—Jesaja 64:8.

Hoe kan ons nader kom aan Jehovah as ’n geestelike Vader? (Jakobus 4:8). Soos in die geval van enige verhouding, kom ons nader aan God deur middel van tweerigtingkommunikasie. God “praat” met ons deur middel van die Bybel—sy geskrewe Woord—waarin hy sy bedrywighede, persoonlikheid en voorneme aan ons openbaar (2 Timoteus 3:16). Ons kommunikeer weer met God deur middel van gebed, of om op eerbiedige wyse met hom te praat. Sulke gebede moet natuurlik opreg en intiem wees, nie formeel en ritualisties nie.

Dink hieroor: Hoe kommunikeer normale, intelligente kinders in ’n hegte, liefdevolle gesin met hulle ouers? Sê hulle dieselfde woorde of frases oor en oor terwyl hulle die aantal herhalings met ’n toestel aftel? Natuurlik nie! Hulle praat eerder op ’n sinvolle, respekvolle manier en uit die hart.

Gebed tot God moet dieselfde wees. Ons kan God inderdaad nader met feitlik enigiets wat ons kwel. Filippense 4:6, 7 sê: “Moet julle oor niks kwel nie, maar laat julle versoeke in alles deur gebed en smeking tesame met danksegging by God bekend word; en die vrede van God . . . sal julle harte en julle verstandelike vermoëns . . . bewaak.” Wanneer iets ons kwel, kan ons natuurlik dikwels oor die saak bid. Maar dit is nie dieselfde as om ’n gebed woord vir woord te herhaal nie.—Matteus 7:7-11.

Die Bybel bevat baie voorbeelde van gebede wat God behaag, insluitende psalms, of liedere, en gebede wat Jesus self gedoen het (Psalm 17 en 86, opskrifte; Lukas 10:21, 22; 22:40-44).b Een van die laasgenoemde word in Johannes hoofstuk 17 gevind. Neem ’n paar minute om dit te lees. Terwyl jy dit doen, let op hoe Jesus sy hart teenoor God uitgestort het. Let ook op hoe onselfsugtig sy gebed was—hoe dit sy innige liefde vir sy volgelinge weerspieël het. ‘Heilige Vader’, het hy gesê, ‘waak oor hulle weens die bose’, Satan.—Johannes 17:11, 15.

Is daar hoegenaamd enige aanduiding in Jesus se woorde dat sy gebed soos ’n onpersoonlike, meganiese ritueel opgesê is? Beslis nie! Wat ’n goeie voorbeeld het hy tog nie vir ons gestel nie! Ja, almal wat nader aan die ware God wil kom, moet juiste kennis van hom as persoon opdoen. Dan moet hulle, deur liefde wat gebaseer is op daardie kennis, aangespoor word om godsdienstradisies en -gebruike wat God mishaag, te verwerp. Jehovah sê aan sulkes: “Ek sal vir julle ’n vader wees, en julle sal vir my seuns en dogters wees.”—2 Korintiërs 6:17, 18.

[Voetnote]

a In sy modelgebed het Jesus nie gesê: “Julle moet dan hierdie gebed bid” nie, wat in teenstelling sou gewees het met wat hy pas tevore gesê het. Hy het eerder gesê: “Julle moet dan só bid” (Matteus 6:9-13). Wat was sy punt? Soos die modelgebed toon, moet geestelike belange voorkeur kry bo materiële belange.

b Hoewel psalms by verskillende geleenthede gesing is, is hulle nie herhaaldelik soos ’n mantra opgesê nie, en hulle is ook nie tydens rituele opgesê waarin bidsnoere of bidwiele gebruik is nie.

HET JY AL GEWONDER?

◼ Is Jesus se raad dat gebede nie herhalend moet wees nie enigsins van toepassing op die gebruik van bidsnoere en bidwiele?—Matteus 6:7.

◼ Wat moet ons gebede openbaar oor ons beskouing van God?—Jesaja 64:8.

◼ Hoe sal God ons beskou as ons valse godsdiensleringe verwerp?—2 Korintiërs 6:17, 18.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel