Die man wat die wêreld gekarteer het
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BELGIË
In die vroeë deel van 1544 het Gerhardus Mercator hom in ’n koue, donker tronksel bevind. Hy was seker dat hy sou sterf. Waarom het dit met die grootste kartograaf van die 16de eeu gebeur? Om uit te vind, moet ons eers sy lewe en die tyd waarin hy geleef het, van naderby beskou.
MERCATOR is in 1512 in Rupelmonde, ’n klein hawe naby Antwerpen, België, gebore. Hy het sy opleiding by die Universiteit van Leuven ontvang. Nadat hy gegradueer het, het hy die leringe van Aristoteles bestudeer, maar kort voor lank het dit hom gekwel dat hy nie die beskouings van Aristoteles met die leringe van die Bybel kon versoen nie. Mercator het geskryf: “Toe ek sien dat Moses se beskrywing van die Genesis van die wêreld in baie opsigte nie werklik ooreenstem met die beskouings van Aristoteles en die res van die filosowe nie, het ek aan alle filosowe begin twyfel en die geheime van die natuur begin ondersoek.”
Aangesien Mercator nie ’n filosoof wou word nie, het hy sy universiteitsopleiding gestaak. Maar hy het die res van sy lewe daaraan gewy om na bewyse te soek wat die Bybel se skeppingsverslag steun.
Hy bestudeer aardrykskunde
In 1534 het Mercator wiskunde, sterrekunde en aardrykskunde begin studeer onder die wiskundige Gemma Frisius. Daarbenewens het Mercator moontlik die graveerkuns by Gaspar van der Heyden geleer, ’n graveerder en vervaardiger van aardbolle. Aan die begin van die 16de eeu het kartograwe swaar Gotiese, of vet, letters gebruik, wat die plek vir geskrewe inligting op kaarte beperk het. Mercator het egter ’n nuwe soort kursiewe skrif uit Italië begin gebruik wat italic genoem is en goed gewerk het op aardbolle.
In 1536 het Mercator as ’n graveerder saam met Frisius en Van der Heyden gewerk om ’n aardbol te maak. Mercator se pragtige kursiewe handskrif het tot die sukses van die projek bygedra. Nicholas Crane, ’n hedendaagse skrywer wat Mercator se lewensverhaal geskryf het, sê dat hoewel ’n ander kartograaf “dit reggekry het om vyftig Amerikaanse plekname op ’n muurkaart te pas wat so breed was soos ’n man se lengte, het Mercator dit reggekry om sestig te pas op ’n sfeer waarvan die deursnee net twee handspanne was”!
Mercator word ’n kartograaf
Teen 1537 het Mercator vir die eerste keer ’n kaart gemaak sonder die hulp van ander—’n kaart van die Heilige Land, wat hy gemaak het om by te dra tot ’n “beter begrip van albei testamente”. In die 16de eeu was kaarte van die Heilige Land hopeloos onakkuraat, en sommige het minder as 30 plekname bevat—waarvan baie op die verkeerde plek was. Maar meer as 400 plekke is op Mercator se kaart aangedui! Dit het ook die roete getoon wat die Israeliete ná die eksodus op hulle reis deur die woestyn gevolg het. Omdat die kaart so akkuraat was, het baie van Mercator se tydgenote dit bewonder.
Mercator se sukses het vir hom as ’n aansporing gedien, en hy het in 1538 ’n wêreldkaart gepubliseer. Voor daardie tyd het kartograwe min omtrent Noord-Amerika geweet en het hulle dit die Onbekende Verafgeleë Land genoem. Hoewel die aardrykskundige naam “Amerika” reeds bestaan het, was Mercator die eerste persoon wat daardie naam vir Noord- sowel as Suid-Amerika gebruik het.
Mercator het in ’n tyd gelewe toe die wêreld se oseane verken is en baie nuwe lande ontdek is. Seemanne het teenstrydige inligting oorgedra, wat die taak van kartograwe byna onmoontlik gemaak het, aangesien hulle die ontbrekende inligting moes probeer voorsien. In 1541 het Mercator nietemin sy doelwit bereik om “die volledigste aardbol nog te maak”.
Beskuldig van kettery
In Leuven, waar Mercator gewoon het, was daar baie Lutherane. In 1536 het Mercator met Lutheranisme gesimpatiseer, en sy vrou het later blykbaar ’n Lutheraan geword. In Februarie 1544 is Mercator saam met 42 ander burgers van Leuven in hegtenis geneem op die aanklag dat hulle “verdagte briewe” geskryf het. Maar dit is moontlik ook omdat die publikasie van sy kaart van die Heilige Land agterdog gewek het by twee teoloë aan die Universiteit van Leuven, Tapper en Latomus. Albei mans het gedien op die regbank tydens die verhoor van die Bybelvertaler William Tyndale, wat in 1536 in België tereggestel is. Dalk was Tapper en Latomus bekommerd dat Mercator se kaart van die Heilige Land, soos Tyndale se vertaling van die Bybel, mense sou aanmoedig om die Bybel te lees. Hoe dit ook al sy, Mercator is in die kasteel van Rupelmonde, sy tuisdorp, opgesluit.
Antoinette van Roesmaels, een van die ander mense wat verhoor is, het getuig dat Mercator nooit enige private Protestantse Bybelvoorlesings bygewoon het nie. Maar omdat sy hierdie voorlesings bygewoon het, is Antoinette lewendig begrawe sodat sy stadig weens versmoring gesterf het. Mercator is ná sewe maande in die gevangenis vrygelaat, maar al sy besittings is gekonfiskeer. In 1552 het Mercator getrek na Duisburg, Duitsland, waar ’n verdraagsamer godsdiensklimaat geheers het.
Die eerste atlas
Mercator het aangehou om die Bybelverslag van die skepping te verdedig. Hy het die grootste deel van sy lewe daaraan gewy om ’n sintese, of samevatting, te maak van die hele skepping “van hemel en aarde, van die vroegste tyd af tot op hede”, soos hy dit gestel het. Hierdie werk het chronologiese sowel as aardrykskundige inligting bevat.
In 1569 het Mercator ’n lys uitgegee van die belangrikste geskiedkundige gebeure sedert die skepping—die eerste deel van sy sintese, met die titel Chronologia. Sy doelwit was om sy lesers te help om te verstaan waar hulle in die tydstroom en geskiedenis is. Maar omdat Mercator Luther se protes teen aflaatgeld van 1517 ingesluit het, is Chronologia op die Katolieke Kerk se indeks van verbode boeke geplaas.
In die daaropvolgende jare het Mercator baie tyd daaraan bestee om die plate vir die kaarte van sy nuwe aardrykskundige werk te teken en te graveer. In 1590 het Mercator ’n beroerte gehad wat sy spraakvermoë aangetas het en sy linkerkant verlam het sodat dit vir hom uiters moeilik was om sy werk voort te sit. Hy was egter vasbeslote om nie sy lewenstaak onvoltooid te laat nie, en hy het tot sy dood in 1594, op 82-jarige ouderdom, aangehou werk. Mercator se seun Rumold het vyf onvoltooide kaarte klaargemaak. Die hele versameling van Mercator se kaarte is in 1595 gepubliseer. Dit was die heel eerste versameling kaarte wat ’n atlas genoem is.
Mercator se Atlas het ’n bespreking bevat van die eerste hoofstuk van Genesis, waarin die egtheid van God se Woord teen die redenasies van filosowe verdedig is. Mercator het hierdie bespreking “die oogmerk van al my arbeid” genoem.
“Die grootste aardrykskundige van ons dag”
’n Vergrote uitgawe van die Atlas, wat in 1606 deur Jodocus Hondius gepubliseer is, is in baie tale gedruk en het ’n topverkoper geword. Abraham Ortelius, ’n 16de-eeuse kartograaf, het Mercator geprys as “die grootste aardrykskundige van ons dag”. In onlangser tye het die skrywer Nicholas Crane Mercator beskryf as “die man wat die planeet gekarteer het”.
Mercator se nalatenskap is nog steeds deel van ons daaglikse lewe. Wanneer ons byvoorbeeld ’n atlas raadpleeg of ’n globale posisioneringstelsel aanskakel, vind ons baat by die werk van Mercator, ’n merkwaardige man wat sy hele lewe lank wou weet waar hy in die tydstroom en in God se skepping inpas.
[Venster op bladsy 21]
MERCATOR—’N YWERIGE BYBELSTUDENT
Mercator het geglo dat die aarde ’n plek sou word waar regverdigheid, vrede en voorspoed sou heers. Hy het ’n ongepubliseerde kommentaar oor Romeine hoofstukke 1-11 geskryf, waarin hy die Calvinistiese idee van voorbeskikking weerlê het. Dit is interessant dat hy ook met Martin Luther verskil het en gesê het dat werke, nie net geloof nie, nodig is om gered te word. Mercator het in ’n brief geskryf dat sonde “nie sy oorsprong het by die planete [astrologie] of by enige natuurlike neiging wat deur God geskep is nie, maar net by die vrye wil van die mens”. In sy briewe het hy die Rooms-Katolieke dogma van transsubstansiasie verwerp en gesê dat Jesus se woorde “dit is my liggaam” nie letterlik opgeneem moet word nie, maar eerder geestelik.
[Venster/Prent op bladsy 22]
DIE MERCATORPROJEKSIE
Het hy al ooit die skil van ’n lemoen probeer platdruk? Dit is natuurlik onmoontlik om dit te doen sonder om die vorm daarvan te verander. Hierdie voorbeeld lig die probleem toe waarvoor kartograwe te staan kom—hoe om ’n sfeer (die aarde) op ’n plat kaart weer te gee. Mercator het die probleem opgelos deur ’n stelsel te skep wat nou as die Mercatorprojeksie bekend staan. Volgens hierdie metode word die lyne wat die breedtegrade tussen die ewenaar en die pole vorm, eweredig gespasieer. Hoewel hierdie benadering afstande en groottes verwring (veral na die noorde en die suide), was dit ’n groot deurbraak in kartografie. Mercator se muurkaart van die wêreld van 1569 was ’n meesterstuk wat grootliks tot sy beroemdheid as kartograaf bygedra het. Trouens, sy projeksie word nog steeds op seekaarte en deur die moderne globale posisioneringstelsel gebruik.
[Prent]
Die Mercatorprojeksie kan vergelyk word met ’n oopgesnyde silinder waarop die wêreld uitgestryk is
[Prent op bladsy 20]
Mercator se kaart van die Heilige Land, 1537, waarop meer as 400 plekke aangedui word
[Prent op bladsy 20, 21]
Mercator se wêreldkaart, 1538
Let op die woord “AMERI CAE” op albei Amerikaanse vastelande
[Foto-erkenning op bladsy 19]
Antwerpen, Stedelijk Prentenkabinet
[Foto-erkenning op bladsy 20]
Albei kaarte: From the American Geographical Society Library, University of Wisconsin-Milwaukee Libraries