Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 5/09 bl. 15-17
  • Toe daar reuse in Europa was

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Toe daar reuse in Europa was
  • Ontwaak!—2009
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Van hiënas tot seekoeie
  • Wat die fossielverslag sê
    Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?
  • Het alle lewe afgestam van ’n gemeenskaplike voorouer?
    Vyf belangrike vrae oor—Die oorsprong van lewe
  • “Aapmense”—Wat was hulle?
    Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?
  • Wetenskaplikes lei die publiek om die bos
    Ontwaak!—1994
Sien nog
Ontwaak!—2009
g 5/09 bl. 15-17

Toe daar reuse in Europa was

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN ITALIË

IN 1932 het padwerkers naby die Kolosseum in Rome gewerk toe een van die mans op ’n harde voorwerp afkom. Dit was die tand en skedel van ’n olifant. Hierdie ontdekking was nie enig in sy soort nie. Oor die jare heen is sowat 140 fossieloorblyfsels van olifante in en om Rome gevind, waarvan die eerste bevestigde geval in die 17de eeu was.

Mense was van mening dat dit die beendere van olifante was wat na antieke Rome ingevoer is of deur die Kartaagse generaal Hannibal na Italië gebring is. G. B. Pianciani, ’n 19de-eeuse priester en professor in die natuurwetenskappe in Viterbo, het hierdie aannames bevraagteken. Aangesien die beendere hoofsaaklik in alluviale afsettings gevind is, het hy tot die slotsom gekom dat dit aan diere behoort het wat elders dood is en deur vloedwaters tot daar gedra is.

Baie van die olifantfossiele wat in Italië gevind is, is nie dié van olifante wat ons vandag ken nie. Hulle behoort eerder aan ’n uitgestorwe spesie wat Elephas antiquus, of die oerolifant, genoem word. (Sien bladsy 15.) Hierdie dier se tande was byna reguit, en hy was ongeveer vyf meter hoog by die skouer, wat hom ongeveer twee meter hoër maak as sy hedendaagse eweknieë.

Hoe algemeen het hierdie reuse voorgekom? Die fossielverslag dui daarop dat hulle eens op ’n tyd oral in Europa en Engeland gevind kon word, net soos hulle naverwante, die mammoete. Wat meer is, die olifantfossiele word nie altyd op hulle eie gevind nie, maar eerder in fossiellae saam met die oorblyfsels van tallose ander spesies, waarvan party natuurlike vyande was.

Van hiënas tot seekoeie

Fossiele wat gevind is in Lazio, ’n streek in Sentraal-Italië wat Rome insluit, dui daarop dat die gebied eens op ’n tyd ’n klimaat gehad het wat meer soos dié van Afrika is, aangesien seekoeie, wildsbokke en selfs groot katte vroeër in hierdie streek voorgekom het. Trouens, die fossiele van een kat, wat die luiperd van Monte Sacro genoem word, is in die hartjie van Rome gevind. By die Polledrara-afsetting buite die stad is meer as 9 000 fossieloorblyfsels van ’n verskeidenheid diere opgegrawe: oerolifante, buffels, herte, magotte, renosters en wisente—groot osse wat ongeveer vier eeue gelede uitgesterf het. ’n Museum op die terrein het ’n verhewe loopvlak wat besoekers in staat stel om die fossiele te sien op die plekke waar hulle oorspronklik gevind is.—Sien bladsy 16.

Tonne oorblyfsels is in ’n grot naby Palermo, Sisilië, gevind, onder meer die gefossileerde beendere van herte, osse, olifante en seekoeie van verskillende ouderdomme—selfs ’n fetus. Trouens, 20 ton fossiele is binne die eerste ses maande nadat die terrein ontdek is, te koop aangebied!

In die suide van Engeland het die paleontoloog J. Manson Valentine fossiellae ontdek wat enorme afsettings van versplinterde beendere bevat het van baie van dieselfde diere, asook van hiënas en ysbere. Waarom is daar sulke groot fossiellae op sulke uiteenlopende plekke?

Party wetenskaplikes glo dat die omstandighede waaronder die diere dood is, met ’n natuurramp ooreenstem. Wat ook al die oorsaak of oorsake van hierdie grootskaalse uitsterwings, die gevolge daarvan is oor ’n groot gebied gevoel, waaronder die Europese vasteland, die Britse eilande, Siberië en Alaska.

Danksy die fossielverslag kan ons ons ’n heel ander wêreld voorstel as die een wat ons vandag ken. Om die waarheid te sê, as jy ver genoeg in die verlede teruggaan, selfs net in Italië, sou jy kon dink dat jy in die wildernis van Afrika is.

[Venster op bladsy 17]

WAT IS ’N FOSSIEL?

Met die eerste oogopslag lyk ’n fossiel dalk soos ’n gewone been. Maar in werklikheid is dit die produk van ’n chemiese verandering—fossilering—wat plaasvind voordat die oorblyfsels van dooie diere kan ontbind.

Een algemene vorm van fossilering is mineralisering. Tydens hierdie proses word die oorspronklike organiese stof heeltemal of gedeeltelik vervang deur minerale wat in nat sedimentêre afsettings teenwoordig is. Spesifieke omgewingstoestande is dus nodig sodat fossilering kan plaasvind. Daar moet onder andere baie sedimentêre afsetting wees, die oorblyfsels moet vinnig begrawe word en weerstand teen ontbinding bied. Onder normale omstandighede word diereoorblyfsels wat nie geëet is nie, deur bakterieë afgebreek, asook deur meganiese en chemiese faktore, soos wind en water. Fossilering vind dus baie selde plaas.

[Venster/Prent op bladsy 17]

MAMMOETE IN DIE NOORDELIKE HALFROND

Die fossielverslag dui aan dat die wolhaarmammoet oor ’n uitgestrekte gebied voorgekom het, wat Asië, Europa en Noord-Amerika ingesluit het. In Europa was Italië blykbaar die suidelikste punt waar die dier voorgekom het.

Die wolhaarmammoet was ongeveer dieselfde grootte as die Indiese olifant van vandag, met hare wat tot 50 sentimeter lank geword het, en die bulle het lang geboë tande gehad wat sowat vyf meter lank geword het. ’n Buitengewoon groot hoeveelheid mammoetivoor is in Siberië gevind—trouens, soveel dat dit tydens die Middeleeue na China en Europa uitgevoer is.

[Erkenning]

Photo courtesy of the Royal BC Museum

[Prent op bladsy 16, 17]

Die Polledrara- fossielafsetting

[Erkenning]

Soprintendenza Archeologica di Roma

[Foto-erkennings op bladsy 15]

Bo: Museo di Paleontologia dell’Università degli Studi “La Sapienza” di Roma; onder: © Comune di Roma - Sovraintendenza Beni Culturali (SBCAS; fald. 90, fasc. 4, n. inv. 19249)

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel