Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 6/09 bl. 6-9
  • Waarom ons teen ’n aborsie besluit het

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom ons teen ’n aborsie besluit het
  • Ontwaak!—2009
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vermy oorhaastigheid—Maak praktiese planne
  • Aanvaar die feit dat dit ’n menselewe is
  • Wat mensevrees kan doen
  • Vriendskap met God het krag
  • Hulle is nie spyt nie
  • Aborsie—Nie ’n probleemvrye oplossing nie
    Ontwaak!—2009
  • Aborsie—Is dit die oplossing?
    Ontwaak!—1995
  • Wat sê die Bybel oor aborsie?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Aborsie
    Ontwaak!—2017
Sien nog
Ontwaak!—2009
g 6/09 bl. 6-9

Waarom ons teen ’n aborsie besluit het

VICTORIA, wat in die eerste artikel genoem is, het vir haar kêrel, Bill, gesê dat sy nie ’n aborsie sou kry nie. “Ek het geglo dat daar ’n lewe binne-in my is”, het Victoria gesê. “Omdat ek besef het dat Bill my nie gedurende my swangerskap sou ondersteun as ek by hom bly nie, het ek hom gelos.”

Later het Bill egter sy beskouing verander en Victoria gevra om met hom te trou. Maar om vir hulle pasgebore seuntjie te sorg, het vir hulle oorweldigend gevoel. “Ons het geen kar, geen geld, min klere en bitter min van enigiets anders gehad”, het Victoria verduidelik. “Bill het min verdien, en ons moes in goedkoop behuising bly, maar ons het vasgebyt.”

Daar was ook ander wat moeilike omstandighede as gevolg van ’n onbeplande swangerskap moes deurmaak. Nogtans het hulle ook geweier om ’n aborsie te ondergaan. Wat het hulle in staat gestel om vasbeslote te bly en die stres om ’n onbeplande of selfs ongewenste kind groot te maak, die hoof te bied? Die sleutel was om skatte van wysheid uit die Bybel toe te pas.

Vermy oorhaastigheid—Maak praktiese planne

Die Bybel sê wyslik: “Die planne van die vlytige lei gewis tot voordeel, maar elkeen wat oorhaastig is, stuur gewis op gebrek af.”—Spreuke 21:5.

Vir Connie, ’n moeder van drie seuns, insluitende een wat gestremd was, was die gedagte aan nog ’n kind oorweldigend. “Ons kon nie nog ’n mond kos gee nie”, het sy gesê. “Ons het dus ’n aborsie oorweeg.” Maar voordat sy ’n oorhaastige besluit geneem het, het sy Kay, ’n werksmaat, in haar vertroue geneem. Kay het haar gehelp om te sien dat daar ’n ongebore persoon binne-in haar is, en toe sy dit besef, het dit haar beskouing verander.

Maar Connie het praktiese hulp nodig gehad om vir haar kind te beplan. Aangesien Connie se tante in die omgewing gewoon het, het Kay voorgestel dat Connie met haar in verbinding tree. Toe die tante gevra is, was sy maar te bly om te help. Verder het Connie se man ekstra werk gekry, en hulle het na ’n goedkoper woonstel getrek. Sodoende kon hulle vir hierdie nuwe aankomeling sorg.

Kay het Connie ook gehelp om ’n paar organisasies te vind wat hulp verleen aan diegene wat onverwags swanger raak. In baie lande is daar sulke organisasies wat hulp gee aan moeders wat dit nodig het. Die Internet of plaaslike telefoongidse, wat gewoonlik in die meeste openbare biblioteke beskikbaar is, kan gebruik word om hierdie organisasies te vind. Dit verg dalk baie inspanning om hulp te verkry, maar “die planne van die vlytige” sal wel tot sukses lei.

Aanvaar die feit dat dit ’n menselewe is

“Wat die wyse betref”, sê die Bybel, “sy oë is in sy kop; maar die sot wandel voort in volslae duisternis.”—Prediker 2:14.

’n Vrou wat waarlik wys is, sluit nie haar oë vir die werklikheid nie en ‘wandel’ dus nie ‘in die duisternis’ nie. Sy gebruik die ‘oë in haar kop’, oftewel haar verstandelike vermoëns. Dit maak dit vir haar moontlik om te bepaal presies wat die gevolge van haar dade sal wees. In teenstelling met iemand wat haar oë sluit vir die werklikheid van wat in haar baarmoeder plaasvind, tree die wyse vrou dus met innige medelye op om haar lewende embrio te beskerm.

Stephanie, ’n swanger meisie wat ’n aborsie oorweeg het, het ’n sonogram van die twee maande oue kind binne-in haar gesien. “Ek het in trane uitgebars”, het Stephanie gesê. “Ek het gedink: Waarom sou ek ’n lewende wese wou doodmaak?”

’n Ander swanger maar ongetroude jong vrou met die naam Denise het ook voor die werklikheid te staan gekom dat daar ’n lewende persoon binne-in haar is. Toe haar kêrel vir haar geld gegee het en gesê het: “Doen iets daaromtrent”, het Denise geantwoord: “’n Aborsie? Ek sal dit nooit kan doen nie!” Sy het dus geweier om haar baba dood te maak.

Wat mensevrees kan doen

Dié wat dit aanvanklik oorweeg het om hulle swangerskap te beëindig omdat ander hulle onder druk geplaas het om dit te doen, sal wys wees as hulle nadink oor die Bybelspreuk: “Om vir mense bang te wees, kan jou in die moeilikheid laat beland, maar as jy op die HERE vertrou, sal jy veilig wees.”—Spreuke 29:25, New Century Version.

Die 17-jarige Monica het by haar kêrel swanger geraak kort voordat sy by ’n sakeskool sou begin studeer. Haar ma, ’n weduwee met vyf kinders, was verpletter. Sy wou gehad het dat haar dogter haar vir iets moes kwalifiseer sodat sy hulle armoedige bestaan kon agterlaat. Uit desperaatheid het die ma daarop aangedring dat Monica ’n aborsie moet kry. Monica het verduidelik: “Toe die dokter my gevra het of ek met die aborsie wou voortgaan, het ek vir hom gesê: ‘Nee!’”

Haar ma was so ontsteld toe sy Monica se veelbelowende toekoms in die niet sien verdwyn en toe sy dink aan die stres van nog ’n kind, dat sy Monica gedwing het om die huis te verlaat. Monica kon by ’n tante gaan woon. Ná ’n paar weke, het haar ma se gesindheid versag en het sy haar toegelaat om terug te kom huis toe om haar baba te hê. Monica se ma het haar gehelp om vir Leon, die pasgebore baba, te sorg en het die klein seuntjie baie liefgekry.

Die druk op ’n getroude vrou met die naam Robin het uit ’n ander oord gekom. “Toe ek swanger geword het, het my dokter my vir ’n nierinfeksie behandel sonder om eers te toets of ek swanger is”, het Robin gesê. “Daar is vir my gesê dat die moontlikheid groot is dat die baba verstandelik erg gestremd sal wees.” Die dokter het toe daarop aangedring dat sy ’n aborsie moet ondergaan. “Ek het aan hom verduidelik wat die Bybel se beskouing van lewe is”, het Robin vertel. “Ek het vir hom gesê dat ek onder geen omstandighede ’n aborsie kan ondergaan nie.”

Hoewel dit te verstane is dat die dokter besorg was, was Robin se lewe nie in onmiddellike gevaar nie.a “Toe my dogter gebore is”, het Robin bygevoeg, “het toetse getoon dat sy net effens gestremd is weens ligte serebrale verlamming. Sy is redelik gesond. Nou, op die ouderdom van 15, lees sy al hoe beter. Sy beteken soveel vir my, en elke dag dank ek Jehovah telkemale vir haar.”

Vriendskap met God het krag

Die Bybel sê: “Die vriendskap van Jehovah is met diegene wat hom vrees.”—Psalm 25:14, American Standard Version.

Baie wat besluit om ’n aborsie te weier, doen dit omdat hulle hulle Skepper se gevoelens oor die saak in ag neem. Om God se vriendskap te geniet en te doen wat hom behaag, is vir hulle van die allergrootste belang. Dit is hierdie begeerte wat ’n groot invloed gehad het op Victoria, wat vroeër gemeld is. “Ek het vas geglo dat God lewe gee”, het sy gesê, “en ek het nie die reg gehad om die lewe te neem wat hy gegee het nie.”

Toe Victoria die Bybel ernstig begin studeer het, het haar vriendskap met God sterker geword. Sy het gesê: “Die besluit om my kind te hou, het my baie nader aan God laat voel en het in my die begeerte gewek om hom in alle aspekte van my lewe te behaag. Toe ek vir Sy leiding gebid het, het alle ander dinge goed uitgewerk.”

Vriendskap met God, die Bron van die lewe, vergroot ons respek vir die lewe in die baarmoeder (Psalm 36:9). Daarbenewens kan God die “krag wat bo die normale is”, voorsien om ’n vrou en haar gesin te help om ’n onbeplande swangerskap die hoof te bied (2 Korintiërs 4:7). Hoe voel diegene wat respek vir God se beskouing van die lewe getoon het, nou oor hulle besluit?

Hulle is nie spyt nie

Hierdie ouers word nie gekwel deur skuldgevoelens of ’n knaende gevoel van hartseer en verlies nie. Mettertyd het hulle “die vrug van die moederskoot” waarlik as ’n beloning beskou, en nie as ’n straf nie! (Psalm 127:3). Connie, wat vroeër gemeld is, het hierdie feit erken slegs twee ure nadat sy geboorte gegee het! Sy het opgewonde haar werksmaat Kay gebel en vir haar gesê hoe verheug sy is oor die vooruitsig om haar dogtertjie groot te maak. Connie het oorgeloop van vreugde en bygevoeg: “Dit is so waar dat God diegene seën wat doen wat hom behaag.”

Waarom is dit so voordelig om op te tree in ooreenstemming met God se beskouing van die lewe? Omdat God as die Bron van die lewe sy wette en standaarde in die Bybel vir ons uiteensit “sodat dit met [ons] goed kan gaan”, of “tot [ons] eie voordeel”.—Deuteronomium 10:13; New Revised Standard Version.

Volgens Victoria en Bill, wie se ondervinding hierdie artikel sowel as die eerste een inlei, was die feit dat hulle teen ’n aborsie besluit het die keerpunt in hulle lewe. Hulle verduidelik dit soos volg: “Ons was vasgevang in dwelmmisbruik en sou waarskynlik gesterf het as ons daarmee aangehou het. Maar respek vir die lewe van ons ongebore kind het ons laat stilstaan en oor ons eie lewens laat nadink. Met die hulp van Jehovah se Getuies het ons verander.”

Lance, hulle seun, is nou amper 34 jaar oud en is al meer as 12 jaar getroud. Lance verduidelik: “Van kleins af het my ouers my geleer om besluite te neem wat op die Bybel gegrond is. Ek, my vrou en my kind het soveel daarby baat gevind dat ons eenvoudig nie gelukkiger kan wees nie.” Sy pa, wat aanvanklik wou hê dat Victoria ’n aborsie moet ondergaan, het gesê: “Ons ys wanneer ons besef hoe na ons daaraan gekom het om nie ons kosbare seun te hê nie.”

Dink weer aan Monica, wat geweier het om ’n aborsie te kry ten spyte van die druk wat haar ma op haar uitgeoefen het. “Twee weke ná my seun se geboorte”, vertel sy, “het Jehovah se Getuies met my in aanraking gekom, en ek het geleer hoe om my lewe heeltemal met God se wette in ooreenstemming te bring. Kort daarna het ek my seun Leon die waarde van gehoorsaamheid aan God begin leer, en hy het mettertyd ’n sterk liefde vir God ontwikkel. Leon is nou ’n reisende bedienaar van Jehovah se Getuies.”

Wanneer hy nadink oor wat sy ma gedoen het, sê Leon: “Die wete dat sy my só liefgehad het dat sy my laat lewe het ondanks die druk waaronder sy was, het by my die begeerte gewek om my lewe op die beste manier moontlik te gebruik om my waardering vir hierdie wonderlike gawe teenoor God te toon.”

Baie wat ’n begrip van God se beskouing van die lewe verkry het, is glad nie spyt oor hulle besluit om die lewe te spaar van die kind wat nou vir hulle so kosbaar is nie. Uit harte wat oorloop van dankbaarheid kan hulle sê: “Ons het teen ’n aborsie besluit!”

[Voetnoot]

a As daar by geboorte tussen die lewe van die ma en die lewe van die kind gekies moet word, moet die persone wat direk betrokke is, daardie keuse maak. Maar in baie lande kom hierdie situasie weens vooruitgang in mediese prosedures selde voor.

[Prent op bladsy 7]

Toe Stephanie ’n sonogram van die twee maande oue kind binne-in haar gesien het, het dit haar gehelp om ’n besluit te neem

(Buitelyn bygevoeg)

[Prent op bladsy 8]

Victoria en Lance

[Prent op bladsy 8, 9]

Victoria en Bill vandag, saam met Lance en sy gesin

[Prent op bladsy 9]

Monica en haar seun Leon is innig dankbaar dat sy nie 36 jaar gelede onder die druk geswig het om ’n aborsie te kry nie

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel