Dertig jaar van ondergrondse vertaling
Soos vertel deur Ona Mockutė
In April 1962 is ek in ’n stampvol hofsaal in Klaipeda, Litaue, verhoor op aanklag van misdade teen die gemeenskap. Ek is die vorige Oktober in hegtenis geneem en aangekla van godsdiensbedrywighede wat as ’n misdaad teen die Sowjetstaat beskou is. Laat ek verduidelik wat daartoe gelei het dat ek in hegtenis geneem en toe opgesluit is omdat ek die publikasies van Jehovah se Getuies ondergronds vertaal het.
EK IS in 1930 in Wes-Litaue gebore, nie ver van die Baltiese See af nie. Voordat ek gebore is, het my ma gebid dat haar kind ’n non moet word. Maar sy het eenkeer vir my gesê: “Ek kan eenvoudig nie voor st. Petrus of ander lewelose afgode bid nie.” Ek het dit nooit vergeet nie en wou dus nie in die kerk kniel nie, al het ek op pad huis toe van die skool af voor ’n kruis gekniel.
Later, gedurende die Tweede Wêreldoorlog—van 1939 tot 1945—het ek onbeskryflike wreedheid gesien, en dit het my baie gekwel. Eendag gedurende die Duitse besetting het ek en my tante bessies in die woud gepluk. Ons het op twee groot gate afgekom waar ons vars bloedspatsels gesien het. Ek het geweet dat ’n groep Jode, insluitende my skoolmaats Tese en Sara, onlangs vermoor is, en ons het tot die slotsom gekom dat ons hulle massagraf ontdek het. Ek was geskok en het uitgeroep: “God, u is so goed! Maar waarom laat u sulke verskriklike gruwels toe?”
In 1949 het ek my hoërskoolloopbaan voltooi in Klaipeda, nie ver van ons af nie, en daarna het ek my studie van musiek voortgesit. Ek het in 1950 by ’n ondergrondse politieke studentebeweging aangesluit, maar is kort voor lank verraai en saam met 12 ander in hegtenis geneem. Ek was in Klaipeda in die tronk, en daar het ek vir die eerste keer een van Jehovah se Getuies ontmoet.
Ek leer Bybelwaarhede
’n Middeljarige vrou is in ons tronksel ingestamp. Sy het vriendelik vir ons, sewe jong vroue, geglimlag. Ek het haar gevra: “My liewe mens, gevangenes is gewoonlik hartseer wanneer hulle in die tronk gestop word, maar jy glimlag! Mag ek vra waarom jy hier is?”
“Weens die waarheid”, het sy geantwoord.
“Maar wat is waarheid?” het ek gevra.
Die vrou se naam was Lydia Peldszus. Sy was ’n Duitser wat in hegtenis geneem is omdat sy een van Jehovah se Getuies is. Ons het talle geestelike gesprekke gehad. Die hartverblydende Bybelwaarhede wat Lydia ons geleer het, het nie net my lewe verander nie, maar ook die lewens van drie ander wat die sel met ons gedeel het.
Hoe my Bybelkennis toegeneem het
Weens my ondergrondse politieke bedrywighede teen die Sowjetbesetting is ek tot 25 jaar in die tronk, sowel as ’n verdere 5 jaar in ballingskap, gevonnis. Danksy die Getuies wat ek gedurende my jare in tronke sowel as in strafkampe in die Siberiese wildernis ontmoet het, het my kennis van God en sy voornemens toegeneem. Hierdie Getuies is, soos Lydia, gestraf vir hulle opvattings.
Ek het nie net meer Bybelkennis gedurende daardie jare ingeneem nie, maar het ook ander van my geloof vertel. Hoewel ek nie die geleentheid gehad het om my toewyding aan God deur doop te simboliseer nie, het ander gevangenes en tronkbeamptes my as een van Jehovah se Getuies beskou. Ek is in 1958 vrygelaat, nadat ek agt jaar van my vonnis uitgedien het. Ek het na Litaue teruggekeer met swak gesondheid, maar sterk geloof in Jehovah.
Die ondergrondse vertaling begin
Destyds was daar net ’n paar Getuies in Litaue oor. Die res was in die tronk of in Siberiese ballingskap. In 1959 het twee Getuies uit Siberië teruggekeer en voorgestel dat ek ons Bybelpublikasies in Litaus vertaal. Ek het die uitdaging met graagte aanvaar en dit as ’n voorreg beskou.
In Maart 1960 het ek begin vertaal, en in Julie is ek in die geheim in die Dubysa-rivier gedoop. Weens teenstand van die KGB (Russiese Geheime Polisie) kon ek nie werk kry om myself te onderhou nie, en daarom het ek by my ouers gewoon, wat goedgesind was teenoor my opvattings. Ek het koeie opgepas wat aan my pa en aan ander bure behoort het. Terwyl ek die diere opgepas het, het ek ook vertaal. Ek het ’n pragtige kantoor gehad—my stoel was ’n boomstomp, en ek was omring deur ’n groen grastapyt. Die dak oor my kop was die blou lug, en my skoot was my lessenaar.
Ek het egter agtergekom dat dit nie veilig is om in die oop veld te vertaal nie, aangesien KGB-agente of hulle informante my maklik sou kon sien. Toe wegkruipplekke beskikbaar geword het waar ek kon vertaal, het ek dus uit my pa se huis getrek. Soms het ek in skure gewerk, met plaasdiere aan die een kant en ek aan die ander kant, druk besig om te tik.
Daar was geen elektrisiteit nie, en daarom het ek gewerk solank dit lig was. Om die geratel van die meganiese tikmasjien uit te doof, was daar buite die skuur ’n raserige windmeul wat spesiaal vir dié doel gebou is. Wanneer dit donker geword het, het ek aandete in die huis gaan eet. Dan het ek teruggegaan na die skuur toe en op ’n bed van hooi geslaap.
In Oktober 1961 is ek en twee ander Getuies in hegtenis geneem toe my werk ter bevordering van godsdiensbedrywighede ontdek is. Dit het gelei tot die verhoor in 1962 waarvan ek aan die begin van hierdie verhaal vertel het. Die owerheid het ons ’n publieke verhoor toegestaan, en ons was bly dat ons aan baie toeskouers ’n getuienis kon gee (Markus 13:9). Ek is ’n vonnis van drie jaar opgelê en na ’n tronk in Tallinn, Estland, gestuur. Sover ek weet, was ek op daardie stadium die enigste persoon wat weens geloofsoortuigings daar opgesluit was. Stadsamptenare het my besoek, en ek het hulle van my oortuigings vertel.
Ek begin weer vertaal
Nadat ek in 1964 uit die tronk in Estland vrygelaat is, het ek na Litaue teruggekeer. Daar het ek voortgegaan om ons publikasies te vertaal, gewoonlik uit Russies in Litaus. Daar was geweldig baie werk. Hoewel ander gehelp het, was ek die enigste voltydse vertaler vir Litaus. Ek het dikwels sewe dae per week van sonop tot sononder gewerk. Sonder Jehovah se hulp sou ek nooit die krag gehad het om dit te doen nie.
Omdat ek besef het hoe belangrik die werk was, het ek altyd probeer om versigtig te wees. Christenbroers en -susters het dikwels hulle eie veiligheid en dié van hulle gesin in gevaar gestel om my weg te steek, kos te gee en te beskerm. Hierdie samewerking het ons baie na aan mekaar laat kom. Terwyl ek gewerk het, was die gesin by wie ek gebly het, op die uitkyk na dié wat my dalk sou aangee. Om my te waarsku, het iemand twee keer met ’n ystervoorwerp teen die verhittingstelsel se pype geslaan. Wanneer ek hierdie waarskuwing gehoor het, het ek gou enigiets weggesteek wat sou laat blyk waarmee ek besig was.
As ons uitgevind het dat die huis waar ek werk, dopgehou word, het ek gou na ’n ander plek gegaan. Dit was ’n ernstige oortreding om ’n tikmasjien te hê sonder amptelike toestemming, en daarom het iemand anders my tikmasjien na die nuwe werksplek geneem. Dan het ek gewoonlik in die nag na die nuwe plek gegaan.
Jehovah het my werklik beskerm. Hoewel amptenare geweet het waarmee ek besig was, kon hulle dit nie bewys nie. Byvoorbeeld, tydens ’n verhoor van agt Getuies van Jehovah in 1973 het die aanklaer my ingeroep om my te ondervra. Hy het my reguit gevra: “Mockutė, hoeveel lektuur het jy al oor die jare gedruk?”
Ek het gesê dat ek daardie vraag nie kon beantwoord nie. Toe vra hy: “Wel, watter soort vraag kan jy beantwoord?”
“’n Vraag wat nie met hierdie werk verband hou nie”, het ek gesê.
Winde van verandering
Teen die einde van die 1980’s het die situasie in Litaue begin verander. Dit was nie meer nodig om vir regeringsagente weg te kruip nie. In 1990 het ander dus die vertaalwerk begin doen. Op 1 September 1992 is ’n klein vertaalkantoor gestig in Klaipeda, die stad waar ek my uiteindelik gevestig het.
Ek het altesaam 30 jaar lank op 16 verskillende plekke as ’n vertaler gewerk. Ek het nooit my eie huis gehad nie. Maar hoe bly is ek tog om die vrugte van ons werk te sien! Vandag is daar omtrent 3 000 Getuies van Jehovah in Litaue. En die vertaalwerk wat ek vroeër gedoen het terwyl ek in skure en op solders weggekruip het, word nou gedoen in die gerieflike takkantoor in Litaue, naby die stad Kaunas.
Ek onthou nog die merkwaardige ontmoeting byna 60 jaar gelede in daardie koue tronksel in Klaipeda. Dit het my lewe verander! Ek sal altyd dankbaar wees teenoor ons grootse Skepper, Jehovah, omdat ek die waarheid omtrent hom en sy voornemens kon vind en my lewe aan hom kon toewy om sy wil te doen.
[Lokteks op bladsy 13]
Die hartverblydende Bybelwaarhede wat Lydia vier van ons geleer het terwyl ons in die tronk was, het ons lewe verander
[Prent op bladsy 12]
My verhoor is in 1962 in ’n Sowjetkoerant gedek
[Prent op bladsy 14, 15]
Van die Bybellektuur waarvoor ek my vryheid in gevaar gestel het om te vertaal
[Prent op bladsy 15]
Lydia het my in die tronk van Bybelwaarhede vertel
[Prent op bladsy 15]
Twee Getuies (links) het my meer omtrent God geleer terwyl ons in 1956 in ’n strafkamp in Chabarowsk, Rusland, was
[Prent op bladsy 15]
’n Tikmasjien wat ek gebruik het toe ek tydens die verbod gewerk het