Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 6/09 bl. 24-27
  • Katolieke jongmense aangespoor om te getuig

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Katolieke jongmense aangespoor om te getuig
  • Ontwaak!—2009
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “’n Erosie van geloof”
  • Praalvertoon en partytjies
  • ‘Wees my getuies’
  • Jongmense wat getuig
  • Sydney—’n woelige hawestad
    Ontwaak!—1999
  • Die Pelgrims en hulle stryd om vryheid
    Ontwaak!—1996
  • Die kerk—veranderinge en verwarring
    Ontwaak!—1993
Ontwaak!—2009
g 6/09 bl. 24-27

Katolieke jongmense aangespoor om te getuig

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN AUSTRALIË

VERLEDE Julie het Rooms-Katolieke van regoor die wêreld op Sydney, Australië, toegesak vir die viering van die Wêreldjeugdag vir 2008, ’n godsdiensgeleentheid wat deur die Katolieke Kerk gereël word.

Die strate het gewemel van besoekers, of pelgrims, uit 170 lande wat met wapperende vlae gejuig en gesing het en ’n karnavalatmosfeer deur die hele stad geskep het. Duisende toeskouers het op Sydney se hawe bymekaargekom om pous Benediktus XVI te sien, wat per boot daar aangekom het, vergesel van 12 ander kleurvolle vaartuie. Sowat 500 miljoen mense regoor die wêreld het na die regstreekse uitsending van hierdie skouspel op TV gekyk.

Die laaste mis, wat by ’n renbaan in die stad gehou is, is deur sowat 400 000 mense bygewoon, waaronder 4 000 kerkamptenare en 2 000 mediaverteenwoordigers. Dit was die grootste enkele saamtrek wat nog ooit in Australië gehou is, wat die bywoningshoogtepunt van die Olimpiese Spele van 2000 in Sydney ver oortref het.

Wat is Wêreldjeugdag? Waarom word dit gehou? Watter bedrywighede word vir hierdie dag gereël? En wat het dit omtrent die geloof van die jongmense daar in Sydney aan die lig gebring?

“’n Erosie van geloof”

Wêreldjeugdag is ’n jaarlikse geleentheid om die geloof van Katolieke jongmense te vier. Kerklidmate vier die dag gewoonlik in hulle plaaslike bisdom. Maar elke twee of drie jaar speel ’n groot stad gasheer vir die geleentheid, en Katolieke jongmense van regoor die wêreld word genooi om dit by te woon. Hierdie samekomste is al in tien stede op vyf vastelande gehou en is deur miljoene bygewoon.

Maar soos kerkamptenare erken, is Wêreldjeugdag ook ’n poging om die agteruitgang in die Katolieke Kerk te stuit. “Ons het te staan gekom voor ’n ernstige erosie van godsdiensbeoefening en tot ’n sekere mate ’n erosie van geloof”, het George Cardinal Pell, Australië se senior Katolieke geestelike, gesê. “Wêreldjeugdag is ’n poging om iets daaromtrent te doen.”

Volgens syfers van die Vatikaan neem die aantal priesters wêreldwyd drasties af. Tienduisende het in onlangse dekades die priesterdom verlaat om te trou. Oor die afgelope 30 jaar het die aantal mense in Australië wat vir die priesterdom studeer, met meer as 70 persent afgeneem. Die gemiddelde ouderdom van priesters in Australië se grootste bisdom is nou in die 60’s, sowat 20 jaar hoër as die gemiddelde ouderdom in 1977.

In baie lande het kerkbywoning ook afgeneem. Ongeveer 25 persent van alle Australiërs sê dat hulle Katoliek is, maar slegs 14 persent van hulle gaan gereeld kerk toe. Onder Katolieke jongmense is dit blykbaar minder as 10 persent. Boonop verontagsaam baie Katolieke kerkleringe oor geslagsedelikheid, geboortebeperking en egskeiding. Ander is ontnugter deur kerkskandale, soos dié wat verband hou met priesters wat pedofiele is.

Wêreldjeugdag “is in werklikheid ’n laaste wanhopige poging om die verderf te keer”, sê The Sydney Morning Herald. “Die kerkleiers in Australië en Rome streef na herstel en hernuwing deur middel van die jeug.” Hoe reik kerkleiers na hulle uit?

Praalvertoon en partytjies

Tydens die Wêreldjeugdag vir 2008 het die kerk sy prag en praal vertoon en was daar onder andere groepswerkswinkels, pelgrimstogte en groot samekomste vir die viering van die mis. Hoewel hierdie bedrywighede baie van die pelgrims diep geraak het, het party ’n ander gees agter die verrigtinge gesien. ’n Jong Katoliek met die naam Alexandra van die Verenigde State het van Wêreldjeugdag gesê: “Dis net een groot partytjie.”

Tydens die ses dae lange saamtrek in Sydney was daar 450 feesgeleenthede, waaronder konserte, rolprente, toneel- en straatopvoerings. Die musiek het gewissel van opera en Gregoriaanse gelyksang tot heavy metal en rap. Rockkonserte het duisende jong pretmakers gelok.

Sommige Katolieke was besorg oor hierdie gebeure. Die geleentheid het “net ’n vrolike partytjie geword—’n week van partytjies en konserte en wêreldse bedrywighede met baie min wat waarlik heilig en gewyd is”, het die priester Peter Scott vir Australië se ABC News gesê. Trouens, in die jaar 2000 het pous Benediktus XVI, toe kardinaal Ratzinger, geskryf: “‘Rock’[musiek] gee uiting aan basiese drifte, en by rockfeeste neem dit ’n kultiese aard aan, ’n vorm van aanbidding wat in werklikheid in stryd is met die Christelike aanbidding.”—The Spirit of the Liturgy.

Die vraag kan ontstaan: “Sal Wêreldjeugdag ’n gebeurtenis wees wat lewens verander?” “Dalk vir ’n baie klein minderheid”, het die voormalige priester Paul Collins gesê. “Maar die meeste sal terugval in hulle vorige lewenspatroon”, het hy opgemerk. “Wesenlike veranderinge vind nie plaas weens skouspelagtige gebeure nie, maar weens bepeinsing, noukeurige beplanning en ’n bereidwilligheid om diepgewortelde probleme aan te pak.”

‘Wees my getuies’

Kerkleiers is klaarblyklik bewus van hierdie feite. Gevolglik was die tema van die Wêreldjeugdag vir 2008: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom; en julle sal my getuies wees.”a

Biskoppe het pelgrims aangemoedig om “’n nuwe apostoliese ywer te ontdek om in voller mate in die moderne wêreld van die Evangelie te getuig”. Pous Benediktus XVI het pelgrims aangespoor om “’n nuwe geslag apostels” te word en by ’n ander geleentheid het hy hulle aangespoor om “die Goeie Nuus onder hulle vriende, hulle familie en almal wat hulle teëkom” te verkondig.

Hierdie beroepe het sommige opregte pelgrims se harte geraak. Ramido, ’n 20-jarige van die Verenigde State, het vir ’n verslaggewer gesê: “Om ’n getuie te wees, is vir my ’n ernstige saak.” Maar Beatrice, ’n 18-jarige van Italië, het gesê: “Vandag praat jongmense nie oor God nie. Dit is deesdae baie moeilik om ’n getuie te wees.” Baie pelgrims het dieselfde mening gehad as twee tienermeisies van Texas, VSA, wat gesê het: “Waar ons vandaan kom, is Jehovah se Getuies die enigste mense wat getuig!”

Jongmense wat getuig

Ja, Jehovah se Getuies, jonk en oud, is welbekend vir hulle ywerige getuieniswerk. Waarom doen hulle dit? “Liefde vir God, liefde vir mense en liefde vir die Bybel”, sê Sotir, ’n 22-jarige Getuie van Sydney.

Gedurende die Wêreldjeugdag vir 2008 het bykans 400 jong Getuies van Sydney, hoewel hulle nie die geleentheid bygewoon het nie, aan ’n spesiale kampanje deelgeneem om Bybelwaarhede aan besoekende Katolieke pelgrims oor te dra. “Ek het dit baie geniet om hierdie geestelikgesinde jong Katolieke te ontmoet”, het Travas, 25 jaar oud, gesê. “Baie van hulle het goeie Bybelvrae gehad, en ek het dit geniet om vir hulle bevredigende antwoorde te wys.”

“My benadering was ontspanne en informeel”, het Tarsha, ’n 23-jarige, gesê. “Ek wou hulle in Sydney verwelkom en hoor wat hulle glo.” Frazer, wat 20 is, het gesê: “Waar gepas, het ek vir die besoekers ’n geskenk gegee—die boek Wat leer die Bybel werklik?b Almal wat ek ontmoet het, was bly om dit te ontvang.”

Dit was duidelik dat baie besoekers hulle besprekings met die jong Getuies geniet het. Suzanne, van Fidji, het Belinda, ’n 19-jarige Getuie, gevra waarom God lyding toelaat. Belinda het voorgestel dat hulle die antwoord bespreek wat in die Leer Bybel-boek gegee word. Toe hulle klaar was, het Suzanne gesê: “Gewoonlik sê mense net dat God se weë moeilik is om te verstaan. Hierdie keer het ek werklik ’n antwoord gekry!” Toe Belinda vir haar die boek gee, het Suzanne uitgeroep: “Ek het probeer om alles wat jy gesê het, te memoriseer. Ek het nie gedink jy sou vir my die boek gee nie!”

’n Filippynse besoeker het vir Marina, ’n 27-jarige Getuie, gevra om ’n foto van haar voor ’n bekende landmerk in Sydney te neem. ’n Vriendelike bespreking het gevolg, en Marina het vir die vrou ’n Leer Bybel-boek gegee. “Ek het net gisteraand gebid om die Bybel beter te verstaan”, het die vrou gesê. “Hierdie boek is dalk die antwoord op my gebed!”

Levi, ’n 27-jarige Getuie, het ’n gesprek aangeknoop met twee besoekers van Panama, ’n ma en dogter. Kort voor lank het hulle oor geestelike dinge begin praat, en ’n interessante bespreking van Bybelleringe het gevolg. Die twee het die Leer Bybel-boek geneem. Later het Levi gevra: “Wat was die hoogtepunt van julle reis?” Die dogter het die Leer Bybel-boek vasgedruk en geantwoord: “Om jou te ontmoet.”

Ja, talle jong Katolieke was gretig om meer van die Bybel te weet. Wat van jou? Wil jy graag die Bybel beter verstaan? Vra Jehovah se Getuies dan gerus vir ’n gratis tuisbybelstudie. Hulle sal jou ook met graagte help!

[Voetnote]

a Hierdie tema is ’n gedeeltelike aanhaling uit Handelinge 1:8 uit The Jerusalem Bible.

b Uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Lokteks op bladsy 27]

“Ons het te staan gekom voor ’n ernstige erosie van godsdiensbeoefening en tot ’n sekere mate ’n erosie van geloof.”—Rooms-Katolieke geestelike George Cardinal Pell

[Venster/Prente op bladsy 25]

EKSPO VAN BEROEPE IN DIE KERK

Tydens die Wêreldjeugdag vir 2008 is die grootste ekspo van kerkberoepe nog in Australië gehou. Meer as 100 Katolieke ordes en agentskappe het oor die 50 000 pelgrims aangespoor om ’n loopbaan in die Katolieke Kerk te oorweeg as priesters, nonne of godsdienswerkers.

[Prent op bladsy 24, 25]

Pelgrims in kleurvolle drag het in optogte deur die strate geloop

[Prente op bladsy 26]

Jehovah se Getuies het uitgereik na pelgrims wat deur die stad Sydney getoer het

[Foto-erkenning op bladsy 24]

Getty Images

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel