’n Pasiënt se reg om te besluit
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN ITALIË
◼ Jehovah se Getuies weier om bloedoortappings te aanvaar. Hierdie weiering is gebaseer op Bybelgebooie, waarvan die vroegste sê: “Net vleis met sy siel—sy bloed—mag julle nie eet nie.” Vir eerste-eeuse Christene is daar eenvoudig gesê “om [hulle] voortdurend te onthou van . . . bloed”.—Genesis 9:4; Handelinge 15:29; Levitikus 17:14.
Hoërskoolleerders in Monterenzio, Italië, is gevra om ’n opstel te skryf oor die belangrikheid daarvan om bloed te skenk. Een van hierdie leerders was Benedetta, ’n Getuie van Jehovah, wat die volgende geskryf het:
“Dit is ’n welbekende feit dat Jehovah se Getuies bloedoortappings weier omdat hulle by Bybelbeginsels bly, maar dit beteken nie dat hulle ander vorme van behandeling van die hand wys nie. Trouens, Jehovah se Getuies stel hulle gesondheid hoog op prys. Hulle probeer om die beste mediese sorg vir hulle en hulle kinders te kry. Hulle is heeltemal bereid om hulle samewerking aan dokters te gee, solank hulle oortuigings gerespekteer word.”
Toe het Benedetta bygevoeg: “Elke pasiënt het die reg om te besluit watter behandeling vir hom die beste is, die reg om gerespekteer te word en die reg om te weet wat die risiko’s en die voordele is van die behandeling wat hy gaan ontvang.”
Die Monterenzio-tak van AVIS (Vereniging van Italiaanse Bloedskenkers) het pryse toegeken aan die leerders wat hulle persoonlike gevoelens oor die onderwerp die beste uitgedruk het. ’n Berig in die tydskrif Monterenzio Vivace het gesê: “Benedetta Barbi is spesiaal vermeld vir haar opstel wat wel teen die hoofstroom gegaan het—aangesien die inhoud heeltemal strydig is met AVIS se standpunt—maar waarin die leerder dit reggekry het om haar oortuigings op ’n redelike en beleefde wyse uit te druk.”
Hoewel Jehovah se Getuies se standpunt oor bloed “teen die hoofstroom” gaan, sien baie dokters nou die voordele daarvan in. Die Getuies se standpunt het grootliks bygedra tot ’n aantal innoverende mediese prosedures wat bloedverlies tydens chirurgie verminder. Dit het voordele meegebring vir Getuiepasiënte en ander. Maar die hoofrede waarom Jehovah se Getuies bloed weier, is stewig op die Bybel gegrond, soos in die inleiding gemeld word.
Die volgende keer dat Jehovah se Getuies aan jou deur klop, kan jy hulle gerus oor die Skepper se beskouing van bloed vra. Hulle sal dit graag met jou bespreek op ’n manier wat “diep respek” toon.—1 Petrus 3:15.
[Venster/Prent op bladsy 30]
VERDERE INLIGTING
Met die hulp van talle erkende deskundiges bespreek die DVD Transfusion Alternatives die mediese, wetlike en etiese beginsels wat van toepassing is op alternatiewe vir oortappings. Jy kan dit by Jehovah se Getuies kry.