Gebruik tegnologie op ’n bedagsame en ekonomiese wyse
Katherine, wat in haar 20’s is, gebruik ’n rekenaar by die werk. Maar tuis het sy gevind dat sy heeltyd op die Internet rondsnuffel, inkopies aanlyn doen en met tallose e-posboodskappe probeer byhou. Haar gebruik van tegnologie was nietemin heelwat minder as dié van haar jonger kollegas. “Waarom pla hulle my heeltyd met verspotte teksboodskappe?” vra sy. “Ek is ’n mens! Waarom kan hulle nie oor die telefoon met my praat nie?”
KATHERINE se vraag is ietwat ironies, want die telefoon is ook ’n indirekte kommunikasiemiddel. Katherine het nietemin ’n punt beet: Baie van die toestelle wat ontwerp is om mense met mekaar in verbinding te bring, kan hulle in werklikheid emosioneel van mekaar verwyder. Om jou te help om ’n goeie balans in jou gebruik van tegnologie te vind, kan jy na die volgende Bybelbeginsels kyk.
◼ “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook net so aan hulle doen” (Matteus 7:12). As ons hierdie woorde van Jesus Christus in ons gebruik van selfone en rekenaars toepas, sal ons ander met respek behandel en goeie maniere aan die dag lê. “Ek en my man was by ’n restaurant”, sê ’n vrou met die naam Anne. “Twee mans het langs ons by ’n tafel gesit en eet. Maar die een het die hele tyd terwyl hy geëet het, oor sy selfoon gepraat. Ons het jammer gevoel vir sy vriend, wat ‘alleen’ geëet het.” Hoe sou jy gevoel het as jy daardie vriend was? Seergemaak? Gekrenk? Ja, die feit dat ons ’n selfoon byna enige plek en enige tyd kan gebruik, beteken nie dat ons dit moet doen nie. Jesus se woorde behoort ons riglyn te wees.
◼ “Let . . . voortdurend streng op hoe julle wandel, dat dit nie as onwyses is nie, maar as wyses, terwyl julle die geleë tyd vir julleself uitkoop” (Efesiërs 5:15, 16). Tyd is ’n kosbare gawe van God en moenie vermors word nie. Tegnologie kan wel tyd spaar. Die Internet kan ons byvoorbeeld help om navorsing, banksake en inkopies vinniger te doen. Maar dit kan ook tydrowend wees as ons ure lank doelloos op die Internet rondsnuffel.
Nog iets wat tyd kan verkwis, is om etlike dinge gelyk te probeer doen—om op ’n rekenaar te werk terwyl jy TV kyk en oor die telefoon praat of om byvoorbeeld tussen jou e-pos en ander programme rond te spring. Waarom kan dit teenproduktief wees?
“Dis feitlik onmoontlik om ’n grondige kennis te verkry van enige van die take wat jy verrig as jy etlike dinge tegelyk doen”, sê die neurowetenskaplike dr. Jordan Grafman. Ons kan eenvoudig nie op ’n hele paar goed tegelyk konsentreer nie; iets gaan daaronder ly. As ’n mens etlike dinge gelyk doen, kan dit derhalwe veroorsaak dat ’n mens nie een daarvan deeglik doen en nie juis onthou wat jy gedoen het nie. Omdat mense hulle aandag so skielik van die een ding na die ander verskuif, maak hulle ook meer foute en neem dit hulle “baie langer—dikwels twee of meer keer so lank—om take te verrig as wanneer hulle dit een ná die ander doen”, sê ’n berig in die tydskrif Time. Dink dus twee keer voordat jy ’n paar take gelyk probeer verrig; jou dag sal moontlik nie lank genoeg wees nie!
◼ “Waak teen elke soort hebsug, want selfs wanneer iemand oorvloed het, spruit sy lewe nie voort uit die dinge wat hy besit nie” (Lukas 12:15). Materiële besittings, ongeag hoe duur of spoggerig dit is, kan ons nie lewe of ware geluk gee nie. Slegs God kan. “Gelukkig is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte”, het Jesus gesê (Matteus 5:3). Daarteenoor stel die handelswêreld geluk gelyk met materiële dinge. ‘Koop, koop, koop’, sê hulle. ‘Jy moet die nuutste hê.’ Moenie hierdeur mislei word nie. Wees eerder verstandig. Ontleed jou beweegredes en behoeftes voordat jy jou swaar verdiende geld uitgee. Onthou ook dat talle hipertegnologiese produkte baie vinnig in waarde verminder. As jy wel ’n sekere toestel nodig het, moet jy jou dus afvra: ‘Moet ek die heel nuutste hê? En het ek een met al die duur ekstras nodig, wat ek dalk nooit sal gebruik nie?’
’n Seën of ’n vloek—jou keuse
Katherine, wat vroeër genoem is, was baie ontsteld toe haar tuisrekenaar ingegee het. “Aanvanklik was ek in ’n toestand van skok”, sê sy, “maar ek het besluit om te wag voordat ek dit vervang. Ná ’n maand was ek meer ontspanne, en ek het meer gelees. Ek gebruik ’n rekenaar by die werk; daarom is dit nog steeds vir my moontlik om buite werksure met my vriende in aanraking te bly. Maar ek voel nie meer die drang om heeltyd aanlyn te wees nie. Tegnologie oorheers nie meer my lewe nie.”
Baie produkte van die wetenskap en tegnologie is beslis prakties en kan ons baie tyd en energie spaar. Gebruik dit dus wanneer jy moet, maar doen dit op ’n verantwoordelike en bedagsame wyse. Hoe? Stel mense voor tegnologie. Moenie kosbare tyd en geld verkwis op toestelle of sagteware wat jy nie nodig het nie. Moenie die Internet en ander media gebruik om na sedelik verdorwe dinge en geweld te kyk nie. En moenie ’n “tegnologieverslaafde” word nie. Kortom, wees verstandig—pas die goddelik geïnspireerde, beproefde beginsels toe wat in God se geskrewe Woord, die Heilige Bybel, gevind word. Ja, “Jehovah gee wysheid; uit sy mond kom kennis en onderskeidingsvermoë”.—Spreuke 2:6.
[Venster op bladsy 9]
SELFONE, REKENAARS EN GOEIE MANIERE
Hoe kan jy jou selfoon en rekenaar op ’n bedagsame wyse gebruik? Let op die volgende wenke.
◼ Moenie ’n oproep beantwoord of maak wanneer of waar jy ander kan steur nie. Skakel jou selfoon af indien nodig.
◼ Moenie toelaat dat jou selfoon ’n belangrike gesprek met iemand onderbreek tensy dit absoluut noodsaaklik is nie.
◼ Wanneer jy oor die telefoon praat, moet jy jou volle aandag gee aan die persoon met wie jy praat.
◼ Moenie met jou selfoon ’n foto van iemand neem as dit dalk onbeleefd of ’n verleentheid vir die persoon sal wees nie.
◼ Weerstaan die versoeking om elke “interessante” e-pos wat jy ontvang, aan te stuur. Die ontvangers sal dit miskien nie waardeer nie.