Vraebus
◼ Watter Bybelbeginsels is van toepassing op die gebruik van selfone gedurende Christelike vergaderinge en in die bediening?
“Vir alles is daar ’n vasgestelde tyd” (Pred. 3:1): Selfone stel mense in staat om feitlik enige tyd SMS’e te stuur of met mekaar te praat. Daar is egter geleenthede wanneer Christene nie wil hê dat hulle aandag deur hulle foon afgelei moet word nie. Byvoorbeeld, ons vergaderinge is ’n tyd om Jehovah te aanbid, geestelik onderrig te word en wedersydse aanmoediging te ontvang (Deut. 31:12; Ps. 22:22; Rom. 1:11, 12). Kan ons ons foon afskakel wanneer ons by die vergadering aankom en ons boodskappe aflaai nadat ons die vergadering verlaat het? As ons nie ons foon wil afsit nie omdat ons moontlik ’n noodoproep sal ontvang, moet ons dit so stel dat dit ander nie sal steur nie.
“Doen alles ter wille van die goeie nuus” (1 Kor. 9:23): Soms is daar geldige redes vir die gebruik van ’n selfoon in die bediening. Byvoorbeeld, die broer wat die leiding neem, gebruik dit dalk om uit te vind waar diegene is wat in ander dele van die gebied werk. Verkondigers gebruik soms hulle selfoon om ’n belangstellende of ’n Bybelstudent te bel voordat hulle hulle besoek, veral as die persoon redelik ver woon. As ons ’n foon by ons het, moet ons seker maak dat dit nie ons gesprek met ’n huisbewoner onderbreek nie (2 Kor. 6:3). Sal dit nie beter wees as ons, terwyl ons vir ander verkondigers wag, ons aandag by die bediening en by diegene saam met wie ons werk, bepaal eerder as om ’n vriend te bel of te SMS nie?
Wees bedagsaam teenoor ander (1 Kor. 10:24; Fil. 2:4): Wat velddiensvergaderinge betref, wil ons nooit laks wees en dink dat ons, as ons laat is, altyd iemand kan bel of SMS om uit te vind waar die groep velddiens doen nie. Wanneer ons laat kom, moet die groep dikwels herorganiseer word. Omstandighede buite ons beheer kan natuurlik soms veroorsaak dat ons laat is. Maar wanneer ons in die gewoonte kom om betyds te wees, toon ons respek vir Jehovah se reëling en bedagsaamheid teenoor die broer wat die leiding neem en teenoor ons medeverkondigers.