Bolivia se “verlore wêreld”
IN 1906 het die president van Brittanje se Koninklike Geografiese Vereniging die groot ekonomiese potensiaal van Suid-Amerika met kolonel Percy Harrison Fawcett bespreek. Hy het ’n kaart voor Fawcett ingeskuif en gesê: “Kyk net na hierdie gebied! Dis vol leë ruimtes omdat so min daarvan bekend is.” Hy het die kolonel toe die werk aangebied om dit te gaan verken. Fawcett het dit aanvaar.
In sy dagboek het Fawcett die digbeboste hange beskryf van wat nou bekend staan as die Huanchaca-plato in Bolivia. Hy het die gebied “’n verlore wêreld” genoem.a Party meen dat Fawcett se dagboek en foto’s die beroemde Britse skrywer sir Arthur Conan Doyle geïnspireer het om die roman The Lost World te skryf, wat ’n mitiese wêreld van “aapmense” en skrikwekkende dinosourusse beskryf wat kwansuis tot vandag toe behoue gebly het. Vandag sluit hierdie betreklik ongerepte deel van Amasonië Bolivia se pragtige Noel Kempff Mercado- Nasionale Park in, wat in 2000 tot ’n Wêrelderfenisgebied verklaar is.b
Die park is in die verre noordooste van Bolivia langs die Brasiliaanse grens geleë en is ’n feitlik ongerepte wildernis wat ’n oppervlak van meer as 15 000 vierkante kilometer beslaan. Dit sluit vyf ekosisteme in: hooglandse immergroen woude, loofwoude, hooglandse droë savannas, savannavleilande en moeraswoude. Die Huanchaca-plato is ’n sandsteenplato van 5 180 vierkante kilometer wat 550 meter bo die omliggende laagvlakte uitrys en soos ’n 150 kilometer lange ruggraat parallel met die oostelike grens van die park loop. Die talle riviere wat die plato en die omliggende laagvlakte dreineer, voed sowat 20 watervalle, waaronder die Salto Susana-waterval, die Arco Iris-waterval, die Federico Ahlfeld-waterval, die Gemelas-waterval en El Encanto-waterval.
Ons avontuur begin
Omdat die park in ’n mate deur sy afsondering beskerm word, is dit ’n magneet vir ekotoeriste, van wie baie vanaf Santa Cruz in Sentraal-Bolivia daarheen vlieg. Ons het besluit om die 700 kilometer per motor af te lê om die Boliviaanse platteland van naderby te beskou. Op een stadium het ons iets voor ons gesien wat gelyk het soos ’n klomp kleurvolle blare wat oor die pad warrel. Die “blare” was egter skoenlappers, en ons was nie die enigstes wat hulle gesien het nie. ’n Klomp honger akkedisse het rondgeskarrel en heerlik gesmul aan hulle hulpelose prooi.
Toe ons by die nasionale park aankom, het ons ons gids, Guido, ontmoet in die dorpie La Florida, op die oewer van die Paragua-rivier. Guido het ons en ons voertuig op ’n pont oor die rivier geneem, en daarvandaan het ons die entjie na die Los Fierros-kamp gery. Op pad het ons ’n jakkals gesien, asook ’n mikstertnaguil—’n pragtige voël wat voor ons oor die pad gevlieg het.
Ná ’n nag se slaap is ons wakker gemaak deur die gekras van voëls—vier pragtige blou-en-geel-makao’s wat hoog in ’n boom buite ons hut gesit het. Dit was asof hulle uitgeroep het: “Welkom by ons tuiste!” Hierdie goeie begin van ons eerste dag in die park het vir ons gesê dat ’n wonderlike ondervinding op ons wag.
’n Oorvloed lewe
Die Noel Kempff Mercado- Nasionale Park spog met meer as 600 voëlspesies, 139 verskillende soogdiere (meer as in die hele Noord-Amerika), 74 reptielsoorte en moontlik sowat 3 000 skoenlapperspesies—om nie eens te praat van die tallose ander insekte nie. Die voëls sluit meer as 20 soorte papegaaie in, asook die harpyarend, die hoatsin en die kuifpipra. Nick Acheson, ’n plaaslike voëlgids en omgewingsbewaarder, het vir ons gesê dat “seldsame spesies soos die geelpensdwergtiran en die swartmanteldikbekkie voëlkykers van regoor die wêreld lok”.
Onder die talle soogdiere is grootmiervreters, maanhaarwolwe, jaguars, pekari’s, tapirs en pampasherte. Die talle riviere wat die park omring en dreineer, wemel ook van lewe, wat 62 soorte amfibieë en 254 visspesies insluit, sowel as kaaimans, reuseotters, watervarke en pragtige pienk dolfyne. Die park is werklik ’n paradys vir natuurliefhebbers!
As gevolg van die groot katte in Amasonië is baie besoekers bekommerd oor veiligheid—en ons was ook. Die bestuurder van die Los Fierros-kamp het ons van sy eerste nag in die park vertel. “Ek het middernag wakker geskrik met die eienaardige gevoel dat ek dopgehou word”, het hy gesê. “Ek het by die venster van my hut uitgekyk en ’n jaguar na my sien staar, en daar was net die insektegaas tussen ons! Ek was doodbang en het my tot dagbreek in die badkamer toegesluit.” Dit was nie wat ons wou hoor nie!
Maar toe het die bestuurder verder gesê: “Ek het gou uitgevind dat hierdie nuuskierige kat dikwels snags besoek kom aflê en nie as gevaarlik beskou word nie. Trouens, op warm dae kom jaguars dikwels in die kamp in en lê hulle op die koel, geteëlde stoepe van die hutte. Soos julle julle kan voorstel, kan dit vir nuwe besoekers skrikwekkend wees! In die verlede het ons altyd ’n geweer gedra, veral wanneer ons nagtoere geneem het, maar nou vat ons nooit een saam nie. Die diere het nie verander nie; ons gesindheid teenoor hulle het wel.” Hy het ons nietemin gemaan om alle wilde diere met respek te behandel.
Staptog deur die woud na die El Encanto-waterval
Die park se baie watervalle is ’n groot aantreklikheid. Ons het vroeg saam met Guido, ons gids, vertrek op ons staptog na die El Encanto-waterval, wat vanaf die Huanchaca-plato 80 meter na benede stort. Terwyl ons die ses kilometer deur die reënwoud geloop het, is ons deur slingerape en brulape in die takke bo ons begroet. Albei spesies het gepaste name—slingerape omdat hulle die ene arms en bene is, en brulape omdat hulle ’n harde huilgeluid maak wat tot drie kilometer ver gehoor kan word! Voor ons het ’n rooikeelfluitgoean, ’n kalkoenagtige voël, oor die paadjie gehardloop op soek na ontbyt. Guido het ons aandag gevestig op spore langs die oewer van die nabygeleë stroom. Sy geoefende oog het die spore geïdentifiseer van twee verskillende herte, sowel as ’n tapir, ’n jaguar en ’n bergleeu. Ons het gevoel dat allerhande oë ons uit tallose skuilplekke dophou en dat hierdie plek dag en nag wemel van lewe.
Daar is oorgenoeg plantegroei waaragter die waaksame diere kan skuil, want die verskillende landskappe en habitats in die park onderhou ’n oorvloed plante van alle soorte. Trouens, na raming floreer 4 000 spesies in die gebied, onder andere meer as 100 orgideesoorte, sowel as ’n groot verskeidenheid bome, varings, bromelias en rankplante. Ons het ons verlustig in al die kleure en geure terwyl ons gesmul het aan die heerlike vrugte wat langs die paadjie groei. Laasgenoemde sluit mangaba-vrugte in, wat aan ’n boom groei, en grenadellas, wat aan ’n rankplant groei.
Terwyl ons ’n stroom oorgesteek het, het ons uiteindelik in die verte die geluid van vallende water gehoor, wat met elke tree harder geword het. Toe, skielik, het ons ’n oopte bereik, en daar voor ons was die majestueuse El Encanto-waterval, met die onderste gedeelte in mis gehul. Varings en bromelias het die rotswande om die kristalhelder poel versier. “Op warm dae”, het Guido gesê, “kom ape na die water toe om af te koel.” Ons het gedink dat dit ’n goeie idee is en het ook afgekoel, terwyl ons heeltyd die onverstoorde rustigheid van hierdie pragtige plek en die aangename geluid van vallende water ingeneem het.
Bewaring —Die nalatenskap van Noel Kempff Mercado
Die omgewingsbewaarder Noel Kempff Mercado het in 1986 gesterf. Nogtans duur die werk wat hy begin het om hierdie deel van Bolivia te beskerm, voort. In 1996 het die regerings van Bolivia en die Verenigde State ooreengekom om 880 000 hektaar reënwoud te beskerm en volhoubare ontwikkeling te bevorder in ’n poging om die vrystelling van kweekhuisgasse in ander dele van die wêreld te temper. Die daaropvolgende jaar het die regering van Bolivia en drie energiemaatskappye die Noel Kempff-Klimaatsoptredeprojek begin, wat onder andere gelei het tot die beëindiging van houtkapregte op 880 000 hektaar woudgebied. Hierdie gebied is toe by die park gevoeg, wat die grootte daarvan verdubbel het.
Ons besoek aan hierdie asemrowende plek het ons waardering vergroot vir die Skepper en vir die prag en verskeidenheid van die lewe wat hy op die aarde geplaas het. Psalm 104:24 sê: “Hoe talryk is u werke, o Jehovah! U het hulle almal in wysheid gemaak. Die aarde is vol van wat u voortgebring het.” Ja, terwyl ons op die paadjies in hierdie ongerepte “verlore wêreld” geloop het, het ons ’n byna instinktiewe begeerte gehad om saggies te stap, die prag in te neem en niks saam met ons huis toe te vat nie behalwe die foto’s in ons kameras en die herinneringe in ons harte.
[Voetnote]
a In Mei 1925 het Fawcett aan sy vrou oor sy ekspedisie geskryf. Dit was die laaste wat van hom gehoor is, en sy verdwyning is nog steeds ’n raaisel.
b Die park, wat in 1979 gestig is, is oorspronklik die Huanchaca- Nasionale Park genoem. Dit is in 1988 die nuwe naam gegee ter ere van die Boliviaanse bioloog Noel Kempff Mercado, wat op die plato deur dwelmhandelaars vermoor is nadat hy toevallig op ’n onwettige kokaïenlaboratorium afgekom het.
[Prent op bladsy 16]
Pers en rooi orgidee
[Prent op bladsy 16, 17]
Ahlfeld-waterval, in die nasionale park
[Prent op bladsy 17]
Makao’s
[Prent op bladsy 17]
El Encanto-waterval
[Foto-erkenning op bladsy 15]
Lugfoto: ® 2004 Hermes Justiniano/BoliviaNature.com
[Foto-erkenning op bladsy 17]
Orgidee, Ahlfeld-waterval en makao’s: ® 2004 Hermes Justiniano/BoliviaNature.com