Hoe ek my liefde vir oorlog verloor het
Soos vertel deur Thomas Stubenvoll
EK IS op 8 November 1944 in die stad New York gebore. Ek het grootgeword in die suidelike deel van die Bronx, ’n buurt wat destyds volgens rassegroepe verdeel was. As ’n seun het ek baie tyd op straat deurgebring, en ek het gou geleer om die gebiedsgrense van die verskillende etniese bendes te respekteer. Hierdie bendes is gevrees weens hulle betrokkenheid by misdaad en gewelddadigheid.
Teen die tyd dat ek 12 jaar oud was, het ek aan ’n bende behoort. Ons het onsself Die Skedels genoem. Ek en my makkers het in goederewaens van die spoorweg ingebreek en kaste vol grondboontjiebotter en ander voedselitems gesteel. Bendes met seuns in hulle laat tienerjare het baie erger dinge gedoen. Daar was talle bloedige gevegte tussen hierdie bendes. Eenkeer is ’n goeie vriend van my voor my oë doodgesteek.
Gefassineer deur oorlog
Die bendelewe het my nie regtig gelukkig gemaak nie. Ná ’n ruk wou ek net wegkom uit die stad. My oom Eddie was in die Koreaanse Oorlog, waar hy as ’n lid van die marinierskorps, ’n afdeling van die Amerikaanse vloot, gedien het. Oom Eddie se beskrywing van die mariniers het my gefassineer. Hy het my vertel dat elke marinier ’n gedissiplineerde leier en ’n geharde krygsman is wat opgelei is om kragdadig op te tree. Die marinierskorps se leuse, Semper fidelis, Latyn vir “altyd getrou”, beklemtoon hulle streng kode van lojaliteit en toegewydheid. Kort voor lank was daar niks wat ek meer wou hê as om ’n bekwame marinier te wees nie.
Op 8 November 1961, die dag toe ek 17 geword het, het ek as ’n rekruut by die marinierskorps aangesluit. Minder as vier maande later het ek my basiese opleiding as ’n marinier voltooi. Dit was die begin van ’n 11 jaar lange militêre loopbaan.
Ek het gedurende vredestyd by die vloot aangesluit. Die lewe van ’n marinier is nietemin een van voortdurende opleiding. Eers is ek na Oahu, Hawaii, gestuur, waar ek twee jaar lank intensiewe opleiding in infanterietaktiek en guerrillaoorlogvoering ontvang het. Ek het ’n skerpskutter geword en kon ’n kolskyf van 25 sentimeter op 460 meter tref. Ek is opgelei in die gevegskuns, die gebruik van plofstof, kaartvertolking, vernietigingswerk en kommunikasie. Ek het elke oomblik daarvan geniet.
Ná Hawaii het ek ses maande in Japan deurgebring op ’n sending om onderwaterwapens by die Atsoegi-vlootlugbasis te bewaak. Kort daarna het vyandighede tussen die Verenigde State en Noord-Viëtnam toegeneem, en ek het as deel van ’n mariniersafdeling op die USS Ranger, ’n vliegdekskip, gedien. Ons skip het vanuit die Golf van Tonkin deelgeneem aan die lugbombardement van Noord-Viëtnam. Uiteindelik het ek in ’n regte oorlog geveg. Ek het nietemin gevoel dat ek die eintlike aksie misloop omdat ek op ’n skip was.
Die werklikhede van oorlog
In die lente van 1966, terwyl ek op die Ranger was, is ek ná vier jaar se militêre diens eervol ontslaan. Die meeste soldate in my posisie sou bly gewees het om terug te gaan huis toe en die bloedbad te vermy wat kort daarna sou plaasvind. Maar ek het ’n toegewyde marinier geword, ’n professionele soldaat, en ek was nie van plan om dit op te gee nie. Ek het besluit om weer aan te sluit.
Ek wou veg. Dit is waarvoor ek opgelei was. Ek het dus aangebied om by die infanterie aan te sluit. Dit het nie saak gemaak waar ek gedien het nie, solank ek ’n infanteriesoldaat in die marinierskorps was. Om ’n goeie marinier te wees, was my doel in die lewe, en die oorlog was besig om my god te word.
In Oktober 1967 is ek na Viëtnam gestuur. Ek was senuweeagtig en opgewonde en is onmiddellik na die frontlinie in die Quang Tri-provinsie geneem. Minder as ’n dag later was ek in die middel van ’n bloedige geveg. Oral om my is manne doodgemaak en gewond. Ek kon die stof sien opslaan waar die vyand se koeëls die grond getref het. Die enigste skuiling was ’n paar struike. Ek het net begin skiet. Dit was verskriklik. Ek het gedink ek gaan sterf. Uiteindelik was die geveg verby. Ek het dit oorleef, maar ek kan nie dieselfde sê van die manne wat ek help terugdra het nie.
Ek het die volgende 20 maande aan die hewigste gevegte van die Viëtnamese Oorlog deelgeneem. Sewe dae per week en byna 24 uur per dag was ek besig om te skiet of het ek probeer om nie geskiet te word nie, het ek hinderlae gelê of in hinderlae beland. Die meeste van daardie tyd het ek op die vyand geskiet vanuit gate in die grond wat gou in modderpoele verander het wanneer dit gereën het. Soms was dit koud en was die ongemak ondraaglik. Ek het in sulke gate geëet en geslaap.
My soek-en-vernietig-sendings het my in en uit die bedompige oerwoud geneem, waar die gevaar altyd bestaan het dat die vyand uit die digte bosse kon storm. Soms moes ek ure lank artillerievuur verduur. Gedurende een geveg naby Che Sanh is ongeveer driekwart van my peloton beseer of doodgemaak—net 13 van ons het oorgebly.
Op 30 Januarie 1968 was ek by ’n leërbasis, waar ek die eerste keer in meer as ’n jaar in ’n tent kon slaap. Die relatiewe gerief het vroeg daardie oggend tot ’n einde gekom toe ek deur die oorverdowende geluid van ’n mortierontploffing wakker geskud is. Ek is gewond. Etlike stukke skrapnel het my skouer en rug binnegedring. Daardie oggend het die vyand met ’n groot inval begin.
Ek het die Purple Heart, ’n militêre eremedalje, ontvang weens my beserings, maar dit was nie ernstig genoeg om my te laat ophou veg nie. Die hospitaalsoldate het die skrapnel gou uitgehaal, en kort daarna was ek op pad na die stad Hue, waar een van die vernaamste gevegte van die oorlog plaasgevind het. Daar het ek soos ’n regte oorlogsmasjien gefunksioneer. Dit was vir my niks om die vyand te skiet nie. Ek het 32 dae lank, feitlik dag en nag, van huis tot huis gegaan om die vyand op te spoor en dood te maak.
Op daardie stadium het ek gevoel dat my handelswyse heeltemal geregverdig is. ‘Die vyand’, het ek geredeneer, ‘het immers duisende onskuldige mans, vroue en kinders in die stad Hue doodgemaak. In die strate en stegies het daar duisende lyke gelê. Orals was daar fopmyne, selfs onder party van die lyke. Ons was voortdurend blootgestel aan vyandelike skerpskutters.’ Nie een van hierdie dinge het my afgeskrik nie. Ek het gevoel dat dit reg is om die vyand dood te maak.
’n Ongesonde oorlogslus
’n Ruk ná die slag van Hue het ek my diensbeurt van 13 maande voltooi. Maar die oorlog het gewoed, en ek wou deel daarvan bly. Ek het dus aangebied om nog ’n diensbeurt in Viëtnam te doen. Teen daardie tyd was ek ’n stafsersant en is ek op ’n spesiale sending gestuur. Dit het behels dat ek mariniersafdelings na klein dorpies op die platteland moes lei. Daar het ons met burgers gewerk en hulle opgelei om hulle gemeenskappe te beskerm. Ons was heeltyd op ’n gereedheidsgrondslag omdat die vyand dikwels voorgegee het dat hulle deel van die plaaslike bevolking is. Snags het ons stilletjies rondbeweeg en vyandelike soldate gesoek, gevang en doodgemaak. Ondanks die verskriklike spanning het my liefde vir oorlog net bly toeneem.
My tweede diensbeurt in Viëtnam was gou verby. Ek het weer gevra of ek op die slagveld kon bly. Hierdie keer het my bevelvoerders my versoek geweier, moontlik omdat hulle my ongesonde oorlogslus opgemerk het. Maar my loopbaan as ’n marinier was nie verby nie. Ek is na die Verenigde State teruggestuur om ’n drilinstrukteur te wees en rekrute op te lei. Drie en ’n half jaar lank het ek my toegelê op my pligte as ’n drilinstrukteur. Ek het baie gehad om my rekrute te leer, en ek het my bes gedoen om elkeen van hulle te verander in die genadelose oorlogsmasjien wat ek geword het.
Ek vind ’n beter doel in die lewe
Ek het met ’n mede-drilinstrukteur bevriend geraak. Sy vrou het hom kort tevore verlaat. Sy suster, Christine Antisdel, wat kort tevore een van Jehovah se Getuies geword het, het aangebied om by hom te kom bly en hom met sy twee klein kindertjies te help. Dit was die eerste keer dat ek van die Getuies gehoor het.
Ek is as ’n Katoliek grootgemaak en het agt jaar lank ’n Katolieke skool bygewoon. By die kerk het ek selfs as ’n altaarknaap gedien. Nogtans het ek feitlik niks van die Bybel geweet nie. Christine het dit verander. Sy het my van Bybelwaarhede vertel waarvan ek nog nooit gehoor het nie. Ek het uitgevind wat die Bybel werklik leer en wat dit nie leer nie.
Byvoorbeeld, ek het uitgevind dat die Bybel nie leer dat God mense ná die dood in ’n brandende hel straf nie (Prediker 9:5, 10). Dit leer nie dat God deel van ’n Drie-eenheid is nie (Johannes 14:28). Die Bybel leer egter dat God goddeloosheid, pyn en die dood sal verwyder en dat die gehoorsame mensdom vir ewig in ’n aardse paradys sal lewe (Psalm 37:9-11; Openbaring 21:3, 4). Ek het ook die waarheid oor God se sedelike standaarde geleer (1 Korintiërs 6:9, 10). Ek het geleer dat God ’n naam het, Jehovah (Psalm 83:18). Al hierdie dinge het my gefassineer!
In November 1972 is ek na ’n ander basis oorgeplaas, waar ek oorlogstaktiek aan onderoffisiere moes leer. Daar het ek die Bybel met Jehovah se Getuies begin studeer. Ek het hulle vergaderinge bygewoon en was baie beïndruk deur die vriendelike atmosfeer en die ware broederskap onder die Getuies.
Maar hoe meer ek oor die Bybel geleer het, hoe meer het my gewete my gepla. Die waarhede van die Bybel was heeltemal teenstrydig met my lewenswyse. Ek het my lewe gewy aan die bevordering van nasionalistiese oorlogvoering en geweld, dinge wat God haat.
Ek het tot die gevolgtrekking gekom dat ek nie terselfdertyd ’n marinier en ’n aanbidder van Jehovah God kan wees nie. Dit was toe dat ek my liefde vir oorlog verloor het. Ek het besluit om my loopbaan op te gee. Ná maande se papierwerk, onderhoude en ’n psigiatriese ondersoek het ek ’n eervolle ontslag ontvang—hierdie keer as ’n gewetensbeswaarde. Dit is hoe my diens van 11 jaar in die marinierskorps tot ’n einde gekom het.
Toe kon ek vir Jehovah die woorde van Jesaja 6:8 sê: “Hier is ek! Stuur my.” Ja, ek was gereed om my energie en geesdrif in die ware God se diens te gebruik pleks van in die marinierskorps. Ek is op 27 Julie 1973 as een van Jehovah se Getuies gedoop. Vyf maande later is ek getroud met Christine Antisdel, die heel eerste Getuie wat ek ontmoet het.
Ek en Christine het die 36 jaar wat ons getroud is, daaraan gewy om ander te help om Bybelkennis te verkry en nader aan God te kom. Ons het agt jaar lank as sendelinge in die Dominikaanse Republiek gedien. Ek dien al die afgelope 18 jaar as ’n reisende opsiener. Ek en my vrou het honderde Spaanssprekende gemeentes van Jehovah se Getuies regoor die Verenigde State besoek.
Tot vandag toe is ek nie bewus van enige nadelige emosionele of verstandelike gevolge van my oorlogsdae nie. Geen bomskok, geen posttraumatiese stresversteuring, geen nagmerries, geen terugflitse nie. Nogtans is ek, noudat ek nader aan Jehovah God gekom het, innig spyt dat ek gedurende die oorlog die lewe van my medemens geneem het.
Ek het ’n groot transformasie ondergaan—maar dit was die moeite werd. Ek voel nou dat God my vergewe het vir wat ek in die verlede gedoen het. My doel is nie meer om lewens te neem nie, maar om mense die hoop van ewige lewe op ’n paradysaarde te bied. Toe ek ’n marinier was, het ek uit onkunde en misplaaste ywer opgetree. As een van Jehovah se Getuies wat uitgevind het wat die Bybel leer, word my optrede nou gemotiveer deur ’n vaste oortuiging dat daar ’n ware, lewende God is, dat hy ’n liefdevolle God is en dat net goeie dinge uiteindelik met diegene sal gebeur wat hom liefhet en gehoorsaam.
[Lokteks op bladsy 25]
Sewe dae per week en byna 24 uur per dag was ek besig om te skiet of het ek probeer om nie geskiet te word nie, het ek hinderlae gelê of in hinderlae beland
[Lokteks op bladsy 27]
Noudat ek nader aan Jehovah God gekom het, is ek innig spyt dat ek gedurende die oorlog die lewe van my medemens geneem het
[Prente op bladsy 24]
Ek dien as ’n drilinstrukteur (bo) en in die infanterie in Viëtnam (links)
[Prent op bladsy 25]
Ek het die Purple Heart ontvang weens my beserings, maar dit was nie ernstig genoeg om my te laat ophou veg nie
[Prent op bladsy 26]
Ek en Christine het die 36 jaar wat ons getroud is, daaraan gewy om ander te help om Bybelkennis te verkry