’n Konflik wat my lewe verander het
SOOS VERTEL DEUR MICHAEL MOLINA
‘Die Republiek van Viëtnam het aan onderoffisier Molina die Viëtnamese Kruis vir Dapperheid toegeken’, het die militêre koerant “Tester” van Maryland, VSA, berig. ‘Molina het later ’n goue ster in plaas van ’n tweede Aanprysingsmedalje ontvang vir sy dapper en onverskrokke optrede gedurende ’n ander swaar skietgeveg. Op 6 Junie 1968 het hy nog ’n goue ster verwerf toe hy ’n belangrike buitepos teen Viëtkongguerillas beskerm het.’
EK WAS op altesaam 284 gevegsvlugte en het 29 medaljes ontvang. Nou dien ek as ’n Christenbedienaar in ’n ander soort oorlogvoering, waarvan die Bybel sê: “Die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie” (2 Korintiërs 10:4). Kom ek verduidelik waarom ek so ’n verandering in my lewe aangebring het.
Chicago is in die noorde van Illinois, VSA, geleë, waar daar feitlik altyd ’n sterk wind van die Michigan-meer af waai. Op 1 Februarie 1947, die dag toe ek daar gebore is, was dit nie net winderig nie, maar ook snerpend koud. Aangesien my pa kort tevore nog in die Tweede Wêreldoorlog gedien het, het twee militêre dokters my ma gehelp om my in die wêreld te bring. Toe ek tien jaar oud was, het ons gesin na Los Angeles, Kalifornië, verhuis, waar ek en my ouer broer en suster na ’n Katolieke skool toe gegaan het.
As kind het ek in die strate en op oop erwe bofbal en voetbal gespeel, maar ek het ook met tuisgemaakte houtgewere en masjiengewere soldaat gespeel. Die 1960’s, toe ek op hoërskool was, was ’n tyd van radikale denke en veranderende gesindhede. Sluipmoorde op sosiale en politieke leiers, waaronder die president van die Verenigde State in 1963, sowel as protesoptogte, die verbranding van die Amerikaanse vlag en gewelddadige betogings was aan die orde van die dag. Op skool was ek en die meeste van my klasmaats bekommerd oor militêre diens.
Kort nadat ek in 1966 my hoërskoolloopbaan voltooi het, is ek beveel om my vir mediese keuring aan te meld, en ek is goedgekeur. Ek het egter by die vloot aangesluit en is dus nie deur die weermag opgeroep nie. Aangesien helikopters my gefassineer het, het ek aangebied om in die vloot se nuwe eskader van aanvalshelikopters te dien. In November 1967, pas nadat ek my basiese opleiding voltooi het, het ek my in die Viëtnamese hoofstad, Saigon, bevind.
Eerste oorlogservaringe
Ek is spoedig na ’n klein vliegveld geneem waar daar vier Huey-helikopters was. Party van ons afdeling van 30 seemanne het by die vliegveld geslaap, terwyl die res van ons 16 kilometer daarvandaan in ’n tweeverdiepinggebou gehuisves is. My eerste nag daar het ek wakker geskrik toe koeëls deur die gebou begin vlieg het. Ek het uit my bed gerol en ’n paar sekondes lank plat op die vloer gelê. Toe ek skote bokant ons hoor, het ek na die trap gekruip en by die dak uitgekom, waar iemand my ’n geweer in die hand gestop het. Ons het die res van die nag geveg, kaalvoet en in ons onderklere.
Ná drie dae van swaar gevegte—omsingel en heeltemal afgesny—het ons kos en water en die meeste van ons ammunisie opgeraak. Die bevelvoerder het gesê: “Sodra dit lig word, moet ons maak dat ons by die vliegveld kom.” Ons moes deur ’n brandende dorpie vlug. Terwyl ons deur die dorp beweeg het, kon ons skote hoor, onder andere van masjiengewere. Daar het oral lyke gelê.
Ons het uiteindelik by ons vliegveld uitgekom, waar die situasie nie veel beter was nie. Ons het skuilgate om die vliegveld gegrawe en ons posisie probeer behou. Die Viëtkong het verskeie kere deurgebreek, ons vliegveld binnegeval en baie soldate doodgemaak, waaronder ons bevelvoerder. Ek het weke lank in my skuilgat gebly, waar ek nie skoon klere gehad het of kon stort nie. Toe het ’n helikopter ons na ’n ander buitepos geneem.
Ná daardie eerste geveg was ek vasbeslote om ’n helikopter-boordskutter te word. Ek het ’n paar dae se opleiding ontvang en ’n lugbemanningslid geword. Gevegsvlugte was algemeen; soms het ek op drie of vier vlugte per dag gegaan.
Die uitwerking van die oorlog
Ek was geskok om te sien hoeveel mense afgemaai word. Terselfdertyd het ek aan die anti-oorlogproteste by die huis gedink. Veg ons dan nie vir vryheid nie? Waag ons nie ons lewe sodat ander ’n beter lewe kan hê nie? Ek het nogtans gewonder hoe die oorlog geregverdig kon word. Wie sou hierby baat vind? Die Viëtnamese? Hulle moes jare lank oorlog verduur selfs voordat ons gekom het. Nou was daar net nog meer dood en lyding.
Ek was jonk en het nie die politiek agter die oorlog verstaan nie. Ek het ook nie tyd gehad om daaroor te dink nie. Ek het net geweet dat daar sendings was waarop ek moes gaan en dat ek ’n werk gehad het om te doen, want dit was waarvoor ek opgelei is. Seemanne het dikwels gesê: “Ons is opgelei om te veg, nie om te dink nie.” Ek het my egter voorgeneem dat ek die rede waarom ons daar geveg het, deeglik sou ondersoek as ek lewendig daar uitkom.
Die Viëtnamese konflik het my aan iets anders blootgestel waarvoor ek nie gereed was nie—dwelms. As ’n tiener het ek sigarette gerook, oor naweke bier en whiskey gedrink en na partytjies toe gegaan. Maar ek het nooit dwelms gebruik nie. In Viëtnam het dinge verander. Van my metgeselle het gesê: “Waarom nie, Mike? Net môre kry jy ’n koeël deur die kop.” Ek het dus nou en dan toegegee.
’n Slagveld is egter geen plek vir dwelms wat hallusinasies veroorsaak nie, en ek het myself belowe dat ek dit nie voor ’n sending sou gebruik nie. Maar terug by die huis het ek nog steeds ’n drang gehad om dwelms te gebruik, en ek het by daardie wêreld betrokke geraak.
Terug van die oorlog af
In Oktober 1970 het ek van Viëtnam af teruggekeer na ons huis in Kalifornië, en my uitkyk op die lewe het ingrypend verander. Hoewel ek by die weermag aangesluit het om vir vryheid te veg, het ek gevoel dat ek gebruik is. Ek het verbitterd en vol haat teruggekom. Ek het nêrens ingepas nie en was nie meer patrioties nie.
Ek het dae lank dagga gerook en ander dwelms gebruik terwyl ek in my ouers se garage aan my motorfiets gewerk het. Dit het my net depressiewer gemaak om te sit en tob oor my situasie en die dinge wat in Viëtnam gebeur het. My gewete het my begin pla. My begeerte om die redes vir die Viëtnamese Oorlog te ondersoek, het al hoe sterker geword.
Die regering het studiebeurse aan veterane beskikbaar gestel; ek het dus by ’n kollege in die stad ingeskryf, en later is ek na die Universiteit van Kalifornië in Los Angeles. Daar het ek vriende gemaak met persone wat teen die oorlog in Viëtnam betoog het, asook met ander wat in die oorlog was. Ons het lang besprekings gehad oor die oorlog en wêreldtoestande. Nie een van ons het bevredigende antwoorde gehad nie; ons was almal maar redelik verward.
Pogings om te help en hulp te kry
Baie van ons het in werklikheid emosionele en sielkundige probleme gehad. Ek is beweeg om iets te doen om te help. Op universiteit was my hoofvak dus abnormale sielkunde. Aangesien ek soveel met oorlog en die dood te doen gehad het, het ek besluit om daarvoor te probeer vergoed. Ek het dus in hospitale vir geestelik versteurde mense begin werk.
Dwelms was oral op ons universiteitskampus beskikbaar, en ek het besef dat dit die oorsaak van baie probleme is. Ek wou vordering maak met my studies en mense met sielkundige probleme in die hospitaal help. Daarom het ek my dwelmgebruik heeltemal gestaak en my tyd en energie daaraan gewy om te studeer en te werk. Maar as ’n terapeut kon ek net beperkte vordering by my geestelik versteurde pasiënte sien.
Heeltemal gefrustreerd met die stelsel van dinge en met ’n gewete wat my gekwel het, het ek na verligting vir my angstigheid gesoek. Ek het begin om te bid en kerk toe te gaan. Ek het niks geleer tydens die mis in die Katolieke Kerk nie. Daarom het ek begin om saans kerk toe te gaan. Ek het ingegaan, ’n kers aangesteek en voor die beelde gebid. Daar was beelde van Jesus wat aan ’n kruis hang, Maria met ’n dolk in haar hart en ander beelde van sogenaamde heiliges.
Ek het begin dink: ‘Wat ’n koue en morbiede plek is die kerk tog! Kan God se gees werklik hier wees?’ Ek het antwoorde en bemoediging nodig gehad. Ek het genoeg lyding gesien. Daarom het ek een aand uit die kerk gestap en in die park gaan bid. Ek het opgekyk na die sterre en seker vir die eerste keer in my lewe werklik probeer om met my Skepper te kommunikeer.
Ek leer Bybelwaarheid
Ek het vir ’n naweek by my ou vriend Gary gaan kuier om weg te kom van die spanning van die werk by die hospitaal. Eendag het ons ’n ruk lank in sy sitkamer gesit en TV kyk. Die nuus het gehandel oor pogings om president Nixon aan te kla. Ons het gesels oor korrupsie op alle gebiede van die lewe, en ek het gesê dat ek bedrieg gevoel het wat die oorlog in Viëtnam betref.
Alva, my vriend se vrou, het ons gesprek gehoor en uit die kombuis gekom. Sy het gesê dat die gebeure waaroor ons praat, ’n vervulling van Bybelprofesie is. “Wat kan ’n president se probleme met Bybelprofesie te doen hê?” het ek gevra. Alva het verduidelik dat God se Koninkryk in die hande van Christus Jesus binnekort alle korrupte regerings sal vervang en dat mense vir ewig in vrede sal lewe op ’n aarde wat in ’n paradys omskep sal word (Daniël 2:44; Openbaring 21:3, 4). Alva het na die Onse Vader verwys, waarin ons vra dat God se Koninkryk moet kom en dat God se wil op aarde moet geskied soos in die hemel.—Matteus 6:9, 10.
Ek kon sien dat ons beslis goddelike leiding nodig het om ’n beter regering en ware vrede op aarde tot stand te bring (Prediker 8:9; Jeremia 10:23). Wat die moontlikheid betref om vir ewig te lewe, het ek onthou dat ek geleer het dat die atome waaruit ons fisiese liggaam bestaan, binne ’n relatiewe kort tydjie vervang word. Hoewel van die dinge wat Alva gesê het, vergesog geklink het, het dit my nuuskierigheid geprikkel. Ek wou vergoed vir al die leed wat ek veroorsaak het en wou ander se lyding verlig. Alva het voorgestel dat ek na die Koninkryksaal toe gaan, waar ek meer kon leer.
Bill Akina was ’n voltydse bedienaar in die gemeente. Hy was in die vloot gedurende die Tweede Wêreldoorlog, en ek kon my dus met hom vereenselwig. Bowenal het hy die Bybel geken, en hy en sy vrou het dit gebruik om al my vrae te beantwoord. Namate my studie saam met Bill gevorder het, kon ek sien dat ek diegene in die hospitaal net tydelike verligting kon bied, al was my pogings om hulle te help goed bedoel. Om mense daarenteen te help om ’n juiste kennis van die Bybel te verkry, sou vir hulle die ewige lewe beteken, indien hulle geloof beoefen en in ooreenstemming met hierdie kennis lewe.—Johannes 17:3.
Bill het die studiehulp Die waarheid wat lei tot die ewige lewe gebruik om die Bybel met my te studeer. Ek het in Julie 1974 my toewyding aan God deur doop gesimboliseer. Ses maande later het ek ’n pionier geword, soos voltydse evangeliedienaars onder Jehovah se Getuies genoem word. Intussen het ek my studies aan die universiteit gestaak en uit my werk by die hospitaal bedank. Om my in die bediening te onderhou, het ek snags as ’n skoonmaker in banke gewerk (1 Tessalonisense 4:11). My vriende en familie het gedink dat ek mal geword het.
Nadat ek sowat ’n jaar in Kalifornië gepionier het, het ek begin wonder hoe ek in groter mate in Jehovah se diens gebruik kon word. Ek het besluit om sendingdiens in die buiteland my doelwit te maak. Nadat ek ’n paar jaar as ’n pionier gedien het, is ek genooi om die Wagtoring-Bybelskool Gilead by te woon, wat destyds in Brooklyn, New York, geleë was. Ek was in die 66ste klas van daardie skool en het op 11 Maart 1979 in die stad Long Island, New York, gegradueer.
Verskillende toewysings
Ek is na Guatemala, Sentraal-Amerika, gestuur waar ek ongeveer ’n jaar as sendeling gedien het. Toe is ek genooi om te gaan werk in die klein drukkery by die takkantoor van Jehovah se Getuies in die hoofstad, Guatemala-stad. In 1981 is ek met Lupita, ’n plaaslike pionier, getroud, en sy is genooi om saam met my by die takkantoor te kom dien. Later, in 1996, is ons drukwerk in Guatemala gestaak toe al ons publikasies van die takkantoor in Mexiko begin kom het.
Ons dogtertjie, Stephanie, is in 1984 gebore, maar ek kon voortgaan om by die takkantoor te dien. Dit was selfs die geval nadat Lupita in 1987 geboorte gegee het aan Mitchell. Ons woon nie by die takkantoor nie, en ek moet elke dag die sowat tien kilometer soontoe en terug ry, wat soms moeilik is. Maar dit is ’n voorreg om daar te dien, en my gesin ondersteun my baie.
Lupita en Stephanie dien tans as pioniers, en Mitchell is ’n gedoopte bedienaar. Hy sal vanjaar sy studies by ’n ambagskool voltooi, en sy doelwit is om die voltydse bediening te betree. Ek weet dat ons hierdie spesiale voorregte geniet, nie weens persoonlike vermoëns nie, maar danksy Jehovah se onverdiende goedhartigheid. Hy is ’n liefdevolle God en sal enigiemand gebruik wat ’n gewillige gees het en op hom staatmaak vir leiding.
Soms word ons gevra hoe ons dit as ’n gesin regkry om soveel in die bediening te doen en ons terselfdertyd finansieel te onderhou. Ons doen sekulêre werk gedurende ons vakansies. Maar ons het nog altyd probeer om ons ‘oog eenvoudig’ te hou wat materiële dinge betref, Jehovah om hulp te vra, op hom te vertrou en voortdurend sy leiding te soek.—Matteus 6:25-34; Spreuke 3:5.
Wanneer ek ’n geweer gedra het, het dit my ’n gevoel van mag gegee, en ek moet dus voortdurend daaraan werk om nederigheid aan te kweek. Satan se stelsel van dinge het my geleer om te haat en dood te maak en om agterdogtig, aggressief en verdedigend te wees. Maar Jehovah het barmhartigheid en liefderyke goedhartigheid aan my betoon, waarvoor ek baie dankbaar is. Ek is nou vasbeslote om nie meer te leer om oorlog te voer nie en om liefde en medelye vir almal te hê.—Matteus 5:43-45; Jesaja 2:4.
Dit was nie vir my maklik om veranderinge aan te bring nie. Ek het egter geleer om ’n vreedsamer lewe te lei. Met God se hulp kon ek ook die nagmerries vanweë my oorlogservaringe verwerk. Ek sien werklik uit na die tyd wanneer oorloë en konflikte sal ophou (Psalm 46:9). Tot dan is ek dankbaar vir die geleentheid om aan die lewensreddende werk deel te neem wat mense help om van ons grootse Lewegewer, Jehovah God, te leer.
[Prent op bladsy 12]
Ek was ’n helikopter- boordskutter
[Prent op bladsy 14]
Saam met Bill Akina en sy vrou, Eloise, 1978
[Prent op bladsy 15]
Ek werk in die drukkery by die Guatemala-takkantoor, 1982
[Prent op bladsy 15]
Saam met my vrou in die predikingswerk
[Prent op bladsy 15]
Vandag saam met Lupita, Mitchell en Stephanie