Die goue era van koningin Elizabeth I—Mite of werklikheid?
GEDURENDE haar leeftyd was sy ’n legende. Danksy skrywers, digters, toneelskrywers en hedendaagse filmmakers duur haar roem voort. In onlangse jare was daar ’n groot toename in boeke en uitstallings oor haar. In ’n internasionale meningspeiling is sy onder die tien grootste Britte gereken. Sy was koningin Elizabeth I van Engeland.
Waarom het hierdie vorstin, wat gedurende haar leeftyd as die Maagdekoningin en Goeie Koningin Bess bekend gestaan het, keer op keer die publiek se aandag getrek? Was haar bewind werklik ’n goue era?
Sy erf baie probleme
Elizabeth Tudor is in 1533 gebore—tot die bittere teleurstelling van haar vader, Hendrik VIII, ’n koning wat desperaat was vir ’n manlike opvolger. Haar moeder, Anna Boleyn, Hendrik se tweede vrou, het nie ’n seun voortgebring nie. Hendrik het haar laat onthoof op grond van aanklagte wat baie meen versin was. Elizabeth was toe net twee jaar oud.
Hendrik het teen dié tyd bande met die pous in Rome verbreek en het homself tot die opperhoof van die Anglikaanse Kerk verklaar. Ná Hendrik se dood in 1547 het die geestelike raadgewers van sy jong seun, Eduard VI, Engeland eg Protestants probeer maak. Eduard is oorlede nadat hy slegs ses jaar regeer het, en die nasie het onder die kort en bloedige bewind van Maria I, Elizabeth se halfsuster, weer omgeswaai na die Rooms-Katolieke geloof.a Teen die tyd dat Elizabeth in 1558 op die ouderdom van 25 die troon bestyg het, was Engeland nie net deur godsdiensonenigheid verdeel nie, maar ook byna bankrot. Hulle het die laaste van hulle Franse besittings verloor, en Spanje het ’n wesenlike bedreiging ingehou.
Aan die begin van haar bewind het Elizabeth haar omring met vaardige raadgewers, van wie party die grootste deel van haar 44 jaar lange bewind by haar sou bly. Die eerste probleem wat sy aangepak het, was godsdiens. Volgens die Nasionale Skeepvaartmuseum het sy besluit “om die Hervorming terug te bring en ’n Anglikaanse Kerk op te bou wat nóg Katoliek nóg uiters streng Protestants is”. Pleks van die opperhoof het sy die oppergoewerneur daarvan geword om diegene te paai wat nie ’n vrou as hoof van die kerk kon aanvaar nie. Daarna het die parlement die Wet van Eenvormigheid uitgevaardig, wat die opvattings en gebruike van die Anglikaanse Kerk vasgelê het, hoewel dit sekere Katolieke seremonies behou het. Die meeste Katolieke asook die onbuigsamer Protestante, die Puriteine, was natuurlik nie tevrede met hierdie “middeweg” nie.
Daar was ’n ander persoonliker probleem wat Elizabeth bekommer het. Hoe kon sy die trou en respek wen van ’n nasie wat nog gesteier het onder die gevolge van Maria I se rampspoedige bewind? Sy het besluit om die feit dat sy ’n vrou is, as ’n bate te gebruik. Die geskiedkundige Christopher Haigh verduidelik: “Op haar troon was Elizabeth die Maagdekoningin; teenoor die Kerk was sy ’n moeder, vir haar adellikes was sy ’n tante, vir haar raadgewers ’n neulerige vrou en vir haar howelinge ’n verleidster.” Haar geheim was om haar volk voortdurend te verseker van haar spesiale liefde vir hulle. Haar volk was op hulle beurt ook lief vir haar, of so het sy oor en oor vir hulle gesê, en hulle het dit kort voor lank geglo.
Die parlement was gretig dat Elizabeth trou en ’n Protestantse opvolger voortbring. Die een koninklike hofmaker ná die ander het op die toneel verskyn. Elizabeth het voorgegee dat sy belangstel en het die huweliksonderhandelinge oor maande, soms jare, uitgerek en dan teen die verlowing besluit wanneer dit polities raadsaam was om dit te doen.
Omdat Elizabeth ’n “gematigde” godsdiensweg gevolg het, het sy die teiken van sameswerings geword. Iemand met wie sy rekening moes hou, was haar Katolieke niggie, Maria Stuart, wat deur die Katolieke Europa beskou is as Maria I se regmatige opvolger. In 1568 het gevaar uit hierdie oord toegeneem toe Maria noodgedwonge afstand moes doen van die Skotse troon en na Engeland moes vlug. Al was sy onder huisarres, het sy gou die middelpunt geword van Katolieke sameswerings om die Protestantse koningin te onttroon, maar Elizabeth het ferm geweier om ’n medekoningin dood te maak. In 1570 het pous Pius V ’n pouslike bul uitgereik waarin Elizabeth geëkskommunikeer is en haar onderdane van gehoorsaamheid aan haar vrygestel is. Die volgende pous, Gregorius XIII, het verder gegaan deur te verklaar dat dit nie ’n sonde sou wees om Engeland binne te val en die koningin met geweld te verwyder nie. Sake het ’n kritieke punt bereik toe Anthony Babington se komplot om Elizabeth dood te maak, aan die lig gekom het en Maria daarby betrek is. Elizabeth moes uiteindelik ’n besluit oor Maria neem, en op aandrang van die parlement het sy uiteindelik in 1587 ingestem dat Maria tereggestel word. Die Katolieke Europa was ontstoke—veral Filips II van Spanje.
Katolieke Filips se astrante strategie
Filips, wat destyds Europa se magtigste heerser was, het Engeland Katoliek probeer hou deur Elizabeth te vra om met hom te trou toe sy koningin geword het, maar sy het sy aanbod van die hand gewys. Jare lank het Engelse kapers Spaanse skepe en hawens geplunder en Spanje se koloniale oppermag uitgedaag. Elizabeth het skande by skade gevoeg deur die Nederlanders te ondersteun in hulle stryd om onafhanklikheid van Spaanse oorheersing. Maria se teregstelling was vir Filips die laaste strooi. Op aansporing van die pous het hy beplan om die Spaanse Armada, ’n ontsaglike vloot van meer as 130 skepe, te gebruik om na Nederland te seil, ’n groot landleër aan boord te neem en dan die Engelse Kanaal oor te steek om Engeland binne te val. Voordat die vloot heeltemal gemobiliseer is, het Engelse spioene die komplot blootgelê. Elizabeth het sir Francis Drake met 30 skepe na die Spaanse hawe Cádiz gestuur, waar hulle ’n aantal van die beste vaartuie vernietig het, en sodoende die Armada ’n jaar lank vertraag het.
Toe die Armada uiteindelik in 1588 uit die hawe vaar, was die Engelse vloot gereed vir hulle. Hoewel die Spaanse vloot aangeval is, het dit sonder te veel skade deur die Engelse Kanaal gekom en naby die Franse hawe Calais anker gegooi. Die volgende aand het die Engelse agt vuurskepe onder hulle ingestuur.b Die Spaanse vloot het paniekbevange uitmekaargespat, en ná ’n hewige geveg het ’n suidwestewind hulle weg van Engeland af noordwaarts in die rigting van Skotland gedwing. Storms om Skotland en die weskus van Ierland het die helfte van die Spaanse skepe verwoes, terwyl die res na Spanje teruggesukkel het.
Die “goue era” begin
Aan die begin van Elizabeth se bewind het Engeland geen oorsese besittings gehad nie. In teenstelling daarmee het Spanje groot rykdom verwerf uit uitgestrekte gebiede wat hulle in Noord-, Sentraal- en Suid-Amerika verower het. Engeland wou in die aksie deel. Ondernemende avonturiers het dus oor oseane gevaar op soek na roem, rykdom en nuwe handelsroetes na China en die Verre Ooste. Sir Francis Drake het die eerste seekaptein geword wat met sy skip om die wêreld gevaar het, en terwyl hy langs die weskus van Suid- en Noord-Amerika opgevaar het, het hy Spaanse skepe vol skatte geplunder. Sir Walter Raleigh het die Spaanse monopolie van die Nuwe Wêreld probeer beëindig deur pogings te borg om ’n kolonie aan die ooskus van Noord-Amerika te stig. Hy het die gebied wat hy daar in besit geneem het, Virginië genoem ter ere van Engeland se Maagdekoningin. Hoewel hierdie vroeë pogings om kolonies te stig, misluk het, het dit Engeland se belangstelling in toekomstige ondernemings aangewakker. Toe Spanje se “Onoorwinlike Armada” verslaan is, het Engeland se vertroue op see toegeneem, en Elizabeth het steun aan nuwe handelsondernemings aan die ander kant van die wêreld in Suidoos-Asië gegee. Die grondslag was gelê vir ’n Britse Ryk wat uiteindelik oor die hele aarde sou strek.c
Aan die tuisfront is opvoeding aangemoedig. Nuwe skole is gestig, wat meer studente toegang gegee het tot die literêre wêreld. ’n Dors na leesstof tesame met vooruitgang in die drukkuns het ’n kulturele ontploffing tot gevolg gehad. Dít was die era van William Shakespeare en ander beroemde toneelskrywers. Gehore het na nuwe teaters gestroom om deur hulle toneelstukke vermaak te word. Digters het pragtige sonnette geskryf, en komponiste het met nuwe musiek vorendag gekom. Bekwame kunstenaars het voortreflike miniature van die koningin en howelinge geskilder. Nuwe Bybelvertalings het die ereplek in kerke en huise ingeneem. Maar die goue dae het tot ’n einde gekom.
Die goue era verloor sy glans
Elizabeth se laaste jare was vol probleme. Ná die dood van haar betroubare raadgewers het sy voorregte aan ’n paar gunstelinge verleen, wat aanleiding gegee het tot intense wedywering aan die hof en selfs ’n mislukte opstand. Weer eens is haar koninkryk deur godsdiensverdeeldheid uitmekaargeskeur. Katolieke het geweier om Protestantse dienste by te woon en het toenemende vervolging ondervind. Teen die einde van haar bewind was omtrent 200 priesters en leke tereggestel. Ook Puriteine is in die tronk gegooi en tereggestel. In Ierland het mense teen Engelse oorheersing in opstand gekom, en oorlog met Spanje het voortgeduur. Vier opeenvolgende swak oeste het toenemende werkloosheid en rondswerwery tot gevolg gehad, en mense het gewelddadig teen hoë voedselpryse betoog. Elizabeth het haar gewildheid verloor. Engeland was nie meer lief vir hulle Maagdekoningin nie.
Elizabeth het geleidelik haar wil verloor om te lewe, en sy het op 24 Maart 1603 gesterf, wat die lyn van die Tudor-heersers beëindig het. Die nasie het die nuus in geskokte stilte ontvang, maar teen die aand het hulle hulle met vreugdevure en straatpartytjies oor hulle nuwe koning verheug. Uiteindelik het hulle ’n koning gehad—Jakobus VI van Skotland, die Protestantse seun van Maria Stuart. In sy rol as Jakobus I van Engeland het hy gedoen wat Elizabeth nie kon doen nie—hy het die twee koninkryke onder een koning verenig. Maar die aanvanklike optimisme het kort voor lank in ontnugtering verander, en die nasie het begin terugverlang na die dae van hulle Goeie Koningin Bess.
Was dit werklik ’n goue era?
Vroeë geskiedskrywers het Elizabeth se lof besing. ’n Paar jaar ná haar dood het William Camden haar bewind beskryf as ’n goue era van vooruitgang waartydens die koningin haar volk tot grootheid geïnspireer het. Eeue lank het niemand hierdie beskouing werklik bevraagteken nie. Elizabeth se roem het aan die einde van die 19de eeu selfs toegeneem toe die geboorte van die Britse Ryk, wat teen daardie tyd ’n kwart van die wêreld beslaan het, aan haar toegeskryf is.
Party hedendaagse geskiedskrywers sien Elizabeth se bewind nie deur so ’n rooskleurige bril nie. The Oxford Illustrated History of Britain sê: “Elizabeth het ná haar dood ’n naam verwerf wat haar werklike prestasies ver oortref. Dit is duidelik dat haar eie propaganda, . . . haar lang lewe, die toevalligheid van die Shakespeariaanse tydperk en die gelukkige oorwinning oor die Armada ons oorgehaal het om ons stem te voeg by ’n crescendo van ophemeling wat die eenvoudige feit ignoreer dat sy stilletjies toegelaat het dat Engeland onregeerbaar word.” Haigh, wat vroeër aangehaal is, verduidelik wat party geskiedskrywers se verslae beïnvloed het: “In 1603, toe mense hulle hoop op ’n Stuart-koning geplaas het, het Elizabeth na ’n dwase ou vrou gelyk. Teen 1630, toe Stuart-konings ietwat van ’n teleurstelling was, het sy die toonbeeld van alle vorstelike deugde geword.”
Dit ly geen twyfel dat Elizabeth ’n buitengewone vrou in ’n man se wêreld was nie. Sy was intelligent en vasberade en het uitgeblink op die gebied van openbare betrekkinge met die hulp van haar ministers, wat alles in verband met haar toesprake, openbare verskynings, kleredrag en portrette sorgvuldig beplan het om die beeld van die koningskap en die legendariese goue era daarvan te bevorder.
[Voetnote]
a Sien die artikel “Godsdiensonverdraagsaamheid nou erken” in die Ontwaak! van 8 April 2000, bladsye 12-14.
b ’n Vuurskip was ’n oorlogsvaartuig vol plofstof en ander vlambare stowwe, wat aan die brand gesteek en onder die vyand se skepe ingestuur is om verwoesting aan te rig.
c Sien die venster “John Dee en die Britse Ryk”.
[Lokteks op bladsy 22]
“Elizabeth het ná haar dood ’n naam verwerf wat haar werklike prestasies ver oortref”
[Venster/Prent op bladsy 22]
JOHN DEE EN DIE BRITSE RYK
Elizabeth het John Dee (1527-1608/9) haar filosoof genoem. Hy was ’n gerespekteerde wiskundige, aardrykskundige en sterrekundige en het ook baie belanggestel in sterrewiggelary en die okkulte. Hy het die koningin raad gegee oor die gunstigste dag vir haar kroning en het sy kunste aan haar hof beoefen. Blykbaar was dit hy wat die term “Britse Ryk” gewild gemaak het, en hy het Elizabeth aangemoedig om haarself te beskou as die keiserin van ’n toekomstige ryk wat tot stand gebring sou word deur die oseane te beheer en nuwe lande te koloniseer. Met hierdie doel voor oë het hy ontdekkingsreisigers opgelei in navigasie, veral in hulle soektog na noordoostelike en noordwestelike deurgange na die Ooste, en hy het planne ondersteun om die Noord-Amerikaanse vasteland te koloniseer.
[Erkenning]
Photograph taken by courtesy of the British Museum
[Prente op bladsy 20, 21]
A. Engelse vuurskepe wat onder die Spaanse Armada ingestuur is B. Sir Francis Drake C. Koningin Elizabeth D. Die Globe-teater E. William Shakespeare
[Erkennings]
A: From the book The History of Protestantism (Vol. III); B: ORONOZ; C: From the book Heroes of the Reformation; D: From the book The Comprehensive History of England (Vol. II); E: Encyclopædia Britannica/11th Edition (1911)
[Foto-erkenning op bladsy 19]
© The Bridgeman Art Library International