Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 5/10 bl. 12-14
  • Hakkelry—Is daar ’n oplossing?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hakkelry—Is daar ’n oplossing?
  • Ontwaak!—2010
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Weet ons wat die oorsake is?
  • Hulp vir diegene wat hakkel
  • Wees realisties
  • Hoe ek hakkelry die hoof bied
    Ontwaak!—1998
  • Verstaan die vrees om te hakkel
    Ontwaak!—1997
  • Hy hakkel nie meer nie!
    Ontwaak!—1998
  • Vlot voordrag
    Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool
Sien nog
Ontwaak!—2010
g 5/10 bl. 12-14

Hakkelry—Is daar ’n oplossing?

“Wanneer ek hakkel, raak ek senuweeagtig, en dan hakkel ek nog meer. Dis asof ek in ’n diep gat is en nie kan uitkom nie. Eenkeer het ek na ’n sielkundige gegaan vir hulp. Sy het gesê dat ek ’n meisie moet kry—sodat ek seks kan hê om my selfbeeld te verbeter! Ek het natuurlik nie teruggegaan soontoe nie. Ek wil net hê mense moet my aanvaar soos ek is.”—32-jarige Rafael.

STEL jou voor hoe dit sou wees as ’n koue sweet op jou uitslaan wanneer jy net vir ’n buskaartjie vra en as jy dikwels by woorde vassteek en die eerste klank herhaal wanneer jy praat. Dit is die geval met sowat 60 miljoen mense regoor die wêreld—1 uit 100—wat hakkel. Daar word dikwels met hulle gespot en teen hulle gediskrimineer. Hulle word dalk selfs as minder intelligent beskou omdat hulle woorde wat vir hulle moeilik is, vervang met eenvoudiger woorde wat hulle wel kan uitspreek.

Wat veroorsaak hakkelry? Kan dit genees word? Is daar enigiets wat ’n hakkelaar kan doen om sy vlotheid te verbeter?a En wat kan ander doen om te help?

Weet ons wat die oorsake is?

In die ou tyd het party mense geglo dat hakkelry veroorsaak word deur bose geeste, wat uitgedryf moes word. Gedurende die Middeleeue het die tong die skuld gekry. Die “raat”? Warm ysters en speserye! In latere eeue het chirurge van die senuwees en spiere van die tong gesny en selfs die mangels verwyder om hakkelry te genees. Maar nie een van hierdie wrede metodes het gehelp nie.

Hedendaagse navorsing dui daarop dat verskeie faktore, en nie net een nie, tot hakkelry aanleiding kan gee. Een faktor kan ’n persoon se reaksie op stres wees. Nog ’n faktor kan oorerflikheid wees, want ongeveer 60 persent van mense wat hakkel, het familielede met dieselfde probleem. Verder toon navorsing wat neurobeelding gebruik dat ’n hakkelaar se brein taal op ’n ander manier verwerk. Party “begin dalk praat voordat die brein voorskryf hoe die woorde uitgespreek moet word”, sê dr. Nathan Lavid in sy boek Understanding Stuttering.b

Die hoofoorsaak van hakkelry is dus nie noodwendig sielkundig, soos voorheen gemeen is nie. “Met ander woorde, hakkelry word nie deur oortuiging beïnvloed nie, en hakkelaars kan nie ‘sielkundig’ oorreed word om skielik vlot te praat nie”, sê die boek No Miracle Cures. Mense wat hakkel, kan egter sielkundige probleme ontwikkel as gevolg van hulle spraakgebrek. Byvoorbeeld, hulle vrees dalk sekere situasies, soos om in die openbaar of oor die telefoon te praat.

Hulp vir diegene wat hakkel

Interessant genoeg, mense wat hakkel, kan gewoonlik sing, fluister, met hulleself of met hulle troeteldiere praat, in koor praat of ander naboots sonder om veel of enigsins te hakkel. En 80 persent van kinders wat hakkel, oorkom dit vanself. Maar wat van die ander 20 persent?

Vandag is daar spraakterapieprogramme wat vlotheid kan verbeter. Party tegnieke behels dat die persoon sy kakebeen, lippe en tong ontspan en dat hy van die diafragma af asemhaal. Pasiënte kan ook geleer word om gebruik te maak van ’n sagte aanset, wat behels dat kleiner asemteue van die diafragma af geneem word en ’n bietjie lug uitgelaat word voordat hulle begin praat. Daarbenewens sal hulle dalk aangespoor word om vokale en sekere konsonante uit te rek. Die spraaktempo neem geleidelik toe namate vlotheid verbeter.

Hierdie vaardighede kan binne ’n paar uur aangeleer word. Maar om hierdie tegnieke met sukses in uiters spanningsvolle situasies toe te pas, kan duisende ure se oefening verg.

Hoe vroeg moet daar met terapie begin word? Is dit wys om net te wag en te kyk of ’n kind sy hakkelry ontgroei? Statistiek toon dat minder as 20 persent van kinders wat vyf jaar lank hakkel, dit vanself oorkom. “Teen sesjarige ouderdom”, sê die boek No Miracle Cures, “is die kanse skraal dat ’n kind dit sonder spraakterapie sal oorkom.” Daarom “moet kinders wat hakkel, so gou as moontlik ’n spraak-en-taal-patoloog besoek”, voeg die boek by. Van die 20 persent van kinders wat later as volwassenes nog steeds hakkel, reageer ongeveer 60 tot 80 persent gunstig op spraakterapie.c

Wees realisties

Volgens die spraakpatoloog Robert Quesal, wat self hakkel, is volmaakte vlotheid onder alle omstandighede nie ’n realistiese doelwit vir die meeste hakkelaars nie. Rafael, wat aan die begin genoem is, kon nie die spraakgebrek heeltemal oorkom nie, hoewel sy vlotheid verbeter het. Hy sê: “My probleem vererger wanneer ek in die openbaar moet lees of praat of wanneer ek in die geselskap van ’n aantreklike meisie is. Ek was voorheen baie selfbewus omdat mense my gespot het. Maar in die laaste tyd het ek probeer om myself te aanvaar soos ek is en myself nie te ernstig op te neem nie. Wanneer ’n woord my dus nou laat hakkel, lag ek dalk, maar dan probeer ek ontspan en voortgaan.”

Rafael se opmerkings stem ooreen met wat die Amerikaanse Hakkelstigting sê: “Om hakkelry te oorkom, beteken dikwels dat ’n persoon eerder die vrees om te hakkel, moet verloor as dat hy harder moet probeer.”

Baie mense wat met hierdie probleem worstel, het nie toegelaat dat dit hulle van ’n sinvolle lewe beroof nie. Party het selfs beroemd geword, onder andere die fisikus sir Isaac Newton, die Britse staatsman Winston Churchill en die Amerikaanse akteur James Stewart. Ander het vaardighede ontwikkel wat nie spraak behels nie, soos om ’n musiekinstrument te speel, te skilder of gebaretaal te leer. Dié van ons wat nie hakkel nie, moet waardering toon vir die groot inspanning wat diegene wat hakkel, aan die dag lê. Laat ons hulle dus al die aanmoediging en ondersteuning gee wat ons kan.

[Voetnote]

a In hierdie artikel word die manlike geslag gebruik omdat meer as 80 persent van mense wat hakkel, mans is.

b Hoewel hedendaagse teorieë oor die oorsake van hakkelry en gepaste terapieë sekere gemeenskaplike elemente bevat, stem dit nie altyd ooreen nie. Ontwaak! staan nie enige spesifieke beskouing of terapie voor nie.

c In sommige gevalle sal terapeute dalk antihakkeltoestelle wat klankterugvoering vertraag of medikasie om spraakverwante angstigheid te verminder, aanbeveel.

[Venster/Prent op bladsy 13]

HOE KAN JY IEMAND HELP WAT HAKKEL?

● Skep ’n ontspanne, rustige atmosfeer. Die gejaagde, veeleisende lewenswyse van vandag vererger dikwels die probleem.

● In plaas daarvan om vir die persoon wat hakkel te sê om stadiger te praat, kan jy die voorbeeld stel deur self stadiger te praat. Luister geduldig. Moet hom nie in die rede val nie. Moenie sinne vir hom voltooi nie. Pouseer voordat jy antwoord.

● Moet hom nie kritiseer en reghelp nie. Toon deur gepaste oogkontak, gesigsuitdrukkings, lyftaal en kommentare dat jy belangstel in wat hy sê, nie in hoe hy dit sê nie.

● Hakkelry moenie ’n taboe-onderwerp wees nie. Deur vriendelik te glimlag en van tyd tot tyd die probleem te erken, kan jy die hakkelaar meer op sy gemak laat voel. Jy kan miskien iets sê soos: “Soms is dit nie maklik om te sê wat ons wil sê nie.”

● Wys bowenal dat jy hom aanvaar soos hy is.

[Venster/Prent op bladsy 14]

“STADIG MAAR SEKER HET EK MINDER GEHAKKEL”

Víctor, wat ’n hele paar jaar lank gehakkel het terwyl sy gesin ’n uiters stresvolle tyd beleef het, kon sy spraakprobleem sonder terapie oorkom. As een van Jehovah se Getuies het hy by die Teokratiese Bedieningskool aangesluit, wat weekliks in elke gemeente gehou word. Hoewel die skool nie bedoel is om spraakterapie te voorsien nie, help dit studente om hulle spraakvermoë te verbeter en selfvertroue op te bou.

Die handboek wat gebruik word, het die titel Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool. Onder die opskrif “Wat jy kan doen as jy hakkel”, sê die boek: “Dit is belangrik om te volhard. . . . Berei goed voor as jy ’n toespraak gaan hou. Raak verdiep in jou aanbieding. . . . As jy begin hakkel terwyl jy met jou toespraak besig is, moet jy sover moontlik jou stem kalm hou en ontspanne bly. Ontspan jou kaakspiere. Gebruik kort sinne. Gebruik so min as moontlik tussenwerpsels, soos ‘um’ en ‘uh’.”

Het die skool Víctor gehelp? Hy sê: “Omdat ek so hard gekonsentreer het op wat ek gaan sê, en nie op hoe ek dit gaan sê nie, het ek van my probleem vergeet. Ek het ook baie geoefen. Stadig maar seker het ek minder gehakkel.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel