Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 11/22 bl. 24-27
  • Verstaan die vrees om te hakkel

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Verstaan die vrees om te hakkel
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Situasies wat vrees kan veroorsaak
  • Wanneer jy probeer help
  • Hoe om hulle las te verlig
  • Ons Skepper verstaan
  • Hakkelry—Is daar ’n oplossing?
    Ontwaak!—2010
  • Hoe ek hakkelry die hoof bied
    Ontwaak!—1998
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1998
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1998
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 11/22 bl. 24-27

Verstaan die vrees om te hakkel

KEN jy die verskil tussen ’n vlot spreker en een wat bang is dat hy sal hakkel? ‘Maar natuurlik’, antwoord jy dalk. Maar let op wat Peter Louw in sy boek Hhhakkel skryf: “Vir elke ‘openlike’ hakkelaar is daar miskien tien wat so onopgemerk moontlik wil bly en hul spraakgebrek op allerlei maniere verdoesel.” Hulle spraakgebrek verdoesel? Hoe is dit moontlik?

Party hakkelaars kry dit reg om hulle gebrek weg te steek deur vooruit te dink aan woorde wat in die verlede vir hulle probleme veroorsaak het. Dan, in plaas van daardie woord te sê, stel hulle die sin anders of gebruik hulle ’n ander woord met ’n soortgelyke betekenis. ’n Man het sy hakkelry vir 19 jaar van getroude lewe weggesteek. Toe sy vrou die waarheid ontdek, het sy ’n spraakterapeut gevra: “Dink jy dat dit die rede is waarom hy my die telefoonoproepe laat maak en waarom ek altyd ons bestelling by restaurante moet plaas en waarom hy nooit kommentaar lewer by . . . vergaderinge nie?”

Beskou ook Gerard en Maria, ’n gelukkige egpaar van Suid-Afrika.a Maria het ’n paar keer aan haar man probeer verduidelik dat sy nie by Bybelstudievergaderinge antwoord nie omdat sy bang is dat sy sal hakkel. “Onsin”, het hy dan met beslistheid gesê, “jy is nie ’n hakkelaar nie.” Gerard het sy oordeel gegrond op sy vrou se gewoonlik spraaksame geaardheid. Net sekere praatsituasies maak haar bang dat sy sal hakkel. Gerard het vir die eerste keer hiervan bewus geword ná vyf jaar van getroude lewe en het toe erken: “Ek was onkundig en onbedagsaam.” Nou, in plaas van haar te kritiseer, prys hy haar vir die kere wat sy wel die moed bymekaarskraap om voor ’n groot gehoor te praat.

Dit is te verstane dat talle hakkelaars deur vrees geteister word. “Vrees”, verduidelik hakkelaar David Compton in sy boek Stammering, “is soms knaend, dikwels akuut. . . . Wanneer die hakkelaar op sy kwesbaarste is, sy noodsaaklikste oomblik van kontak met sy medemens bereik, wanneer hy met hulle probeer kommunikeer, of dit nou alledaags of intiem is—dít is die tye wanneer hy dalk verwag om gekwets te word, om bespot te word . . . Selfs diegene wat dit met die grootste welslae die hoof bied, erken steeds dat hulle vrees hulle lewe gevorm het en dat hulle nooit heeltemal daarsonder is nie.”

Situasies wat vrees kan veroorsaak

Wanneer ’n hakkelaar ’n vraag moet beantwoord voor ’n gehoor, soos in ’n skoolklaskamer, ’n sakevergadering of ’n godsdiensbyeenkoms, kan dit angstigheid veroorsaak wat daartoe lei dat hy erg hakkel. Rosanne, ’n 15-jarige Suid-Afrikaanse hakkelaar, is in ’n radio-onderhoud gevra: “Is daar tye wanneer jy dink dat dit eintlik baie makliker is om stil te bly?” Sy het geantwoord: “Dikwels, byvoorbeeld in die klaskamersituasie, wanneer ek die regte antwoord het en ek weet dat dit my goeie punte sal besorg, maar besef dat dit te veel inspanning sal verg om in werklikheid iets te sê.”

Tydens die bogenoemde radioprogram is daar ook met Simon, ’n sakeman, ’n onderhoud gevoer. Soos Rosanne het Simon ook verbeter met behulp van spraakterapie. Maar hy hakkel soms nog erg. Dit kan deur die gesindheid van sy gehoor vererger word. “As jy in ’n raadsvergadering is waar jy redelik baie moet praat en jy sukkel, word die mense om daardie tafel baie, baie ongeduldig”, verduidelik hy.

Die vrees van ’n hakkelaar moet nie verwar word met die vrees wat ’n skugter persoon dalk het om met vreemdelinge te praat nie. Beskou Lisa, wat die afgelope twee jaar vergaderinge van Jehovah se Getuies bywoon. In alledaagse gesprekke met vriende kry sy dit dikwels reg om heel vlot te praat. Sy neem ook ywerig deel aan die evangelisasiewerk wat vereis dat sy vreemdelinge ongenooid moet nader. Maar sy het ’n vrees wat eie is aan talle hakkelaars—om voor ’n groot gehoor te praat. “By ons vergaderinge”, verduidelik Lisa, “slaag ek selde daarin om my hand op te steek en ’n vraag te beantwoord. As ek enigsins antwoord, is dit hoogstens een woord of ’n kort sin. Al is dit min, is dit my beste. Die antwoorde is dikwels in my kop en op my lippe omdat ek altyd voorberei. Maar my tong weier eenvoudig om saam te werk.”

’n Erger ondervinding vir party hakkelaars is om hardop te lees. Dit dwing hulle om woorde te gebruik wat hulle gewoonlik sou vermy. “By een van ons vergaderinge”, vervolg Lisa, “word ons soms gevra om beurte te maak om die Skrifgedeeltes onder bespreking te lees. Sulke tye wag ek my beurt beangs af, terwyl ek onrustig rondskuif, want ek weet nie of ek die vers sal kan lees nie. Soms lees ek, maar kan nie ’n sekere woord uitspreek nie. Dan slaan ek dit net oor en lees verder.”

Daar moet natuurlik goed nagedink word voordat ’n hakkelaar aangemoedig word om hardop te lees. Sulke “aanmoediging” kan die hakkelaar slegter laat voel. So iemand moet liewer hartlik geprys word omdat hy sy bes doen.

Wanneer jy probeer help

Hakkelry is ’n baie ingewikkelde steurnis. Wat vir een persoon help, help dalk nie vir iemand anders nie. Om die waarheid te sê, talle hakkelaars wat ’n tyd lank “genees” was, ondervind later ’n terugslag. Meer navorsing is al oor hakkelry gedoen as oor feitlik enige ander spraaksteurnis. Maar kundiges het nog nie ’n spesifieke oorsaak gevind nie. Trouens, die meeste stem saam dat talle faktore tot hakkelry kan bydra. Een teorie, volgens onlangse studies, is dat dit dalk te doen het met die abnormale rangskikking van breinselle vroeg in die lewe van die hakkelaar. Volgens drs. Theodore J. Peters en Barry Guitar, in hulle handboek Stuttering—An Integrated Approach to Its Nature and Treatment, sal huidige beskouings oor die oorsake “verouderd wees namate meer studies die groot leemtes in ons kennis van hakkelry vul”.

Aangesien die mens so min van hakkelry weet, moet ons versigtig wees wanneer ons een van die vele terapieë aanbeveel vir mense wat deur hierdie steurnis geteister word. “Die meeste mense wat erg hakkel”, voeg die bogenoemde handboek by, “sal net gedeeltelik herstel. Hulle sal leer om stadiger te praat of om minder angstig te wees wanneer hulle hakkel en om nie so baie daardeur gekwel te word nie. . . . Om onverklaarbare redes verander ’n paar hakkelaars net nie noemenswaardig met behandeling nie.”b

Wanneer behandeling nie help nie, beskuldig party terapeute die hakkelaar daarvan dat hy nie hard genoeg probeer nie. Een terapeut het gesê: “Die enigste rede waarom ’n hakkelaar moontlik sal misluk, is omdat hy ’n halfhartige gesindheid het.” Skrywer David Compton het oor sulke bewerings gesê: “Ek kan nie die woede beskryf wat hakkelaars voel wanneer hulle hierdie soort opmerking hoor nie. Eerstens, omdat dit beslis onwaar is. Geen terapie sal ooit vir álle hakkelaars doeltreffend wees nie, en selfs die regte terapie vir ’n spesifieke hakkelaar sal steeds nie onfeilbaar wees nie. Tweedens, omdat hakkelaars met mislukking saamleef . . . Enigiets wat [hulle mislukking] onnodig en onregverdig vergroot, is ’n wandaad.”

Hoe om hulle las te verlig

Hakkelaars wil gewoonlik nie bejammer word nie. Daar is egter baie wat gedoen kan word om hulle las te verlig. Moenie uit verleentheid wegkyk wanneer hulle hakkel nie. Behou oogkontak met hulle eerder as om hulle mond dop te hou. Hulle is gewoonlik gevoelig vir die lyftaal van hulle luisteraars. As jy ontspanne lyk, sal dit help om hulle vrese te stil. “Wys hom dat jy bereid is om na hom te luister net soos jy na enigiemand anders sou luister”, het ’n spraakterapeut gesê.

Onderwysers wat ’n hakkelaar in hulle klas het, kan baie doen om sy vrese te stil. In die Suid-Afrikaanse opvoedkundige tydskrif Die Unie is die volgende raad aan onderwysers gegee: “Die meeste hakkelaars hakkel baie minder as hulle weet die luisteraar verwag nie vlotheid nie.”

Volgens die bogenoemde tydskrif is dit ook belangrik dat die onderwyser uitvind wat die leerling se gevoelens is. In plaas van sulke leerlinge uit verleentheid te vermy, word onderwysers aangeraai om met hulle te praat en hulle aan te moedig om hulle gevoelens oor die probleem uit te spreek. Op dié manier kan die onderwyser vasstel vir watter spraaksituasies die leerling die bangste is. “Sy spraakvlotheid is 80 persent in jou hande”, is die slotsom waartoe die tydskrif kom. Sy vlotheid sal verbeter as hy weet dat hy aanvaar word ten spyte van sy probleem. Die tydskrif verduidelik verder: “’n Ontspanne, leergerigte atmosfeer in die klas sal nie net vir die hakkelaar tot voordeel strek nie, maar ook die res van die klas.”

Hierdie voorstelle kan ongetwyfeld met welslae aangepas word vir onderrigsituasies waarby volwassenes betrokke is.

Ons Skepper verstaan

Ons Skepper, Jehovah God, verstaan menslike onvolmaaktheid ten volle. Hy het aan Moses die opdrag gegee om sy woordvoerder te wees tydens die Israeliete se uittog uit Egipte. Hy het dit gedoen hoewel hy deeglik bewus was van Moses se spraakgebrek wat dit vir hom moeilik gemaak het om te kommunikeer. God het ook geweet dat Moses se broer, Aäron, daarenteen ’n vlot spreker was. God het gesê: “Ek weet dat hý goed kan praat” (Exodus 4:14). Moses het egter ander eienskappe gehad wat baie belangriker was, soos lojaliteit, goedhartigheid, geloof en saggeaardheid (Numeri 12:3; Hebreërs 11:24, 25). Ten spyte van Moses se besware het God by sy keuse van Moses as leier van sy volk gebly. Terselfdertyd het God Moses se vrese erken deur Aäron as Moses se woordvoerder aan te stel.—Exodus 4:10-17.

Ons kan God navolg deur begrip te toon. Behandel hakkelaars met waardigheid en moenie toelaat dat ’n spraakgebrek jou vir die persoon se ware waarde verblind nie. Die ondervinding van ’n dogtertjie en haar hakkelende vader lig dit toe. Die vader het ’n manier aangeleer om vlotter te lees. Een aand het hy dit op sy sesjarige dogtertjie getoets deur vir haar ’n storie te lees, en hy was baie trots op sy vlotheid.

“Praat reg, Pappa”, het sy gesê toe hy klaar gelees het.

“Ek práát reg”, het hy verontwaardig geantwoord.

“Nee”, het sy aangedring, “praat soos Pappa altyd praat.”

Ja, hierdie dogtertjie het haar vader liefgehad net soos hy was, selfs met sy spraakgebrek. As jy dus weer te doen het met iemand wat hakkel, moet jy onthou dat die persoon kosbare gedagtes en gewenste eienskappe kan hê. Hy het beslis gevoelens. Wees geduldig en toon begrip.

[Voetnote]

a Van die name in hierdie artikel is verander.

b Die prognose is beter vir kinders as vir volwassenes. Die ervare spraakterapeut Ann Irwin verduidelik in haar boek Stammering in Young Children: “Drie uit vier kinders ontgroei hulle hakkelry spontaan. As jou kind een van die vyf-en-twintig persent is wat dit nie spontaan ontgroei nie, is die kanse baie goed dat hy dit met Voorkomende Terapie sal ontgroei.”

[Prent op bladsy 25]

’n Hakkelaar is dalk bang om in die openbaar te praat

[Prent op bladsy 26]

Wees geduldig as ’n hakkelaar sukkel om met jou te praat

[Prent op bladsy 27]

Hakkelaars is gewoonlik bang om die telefoon te gebruik

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel