Ontmoet Thailand se kleurvolle bergstamme
Chiang Mai se markte is ’n miernes van bedrywigheid. Daar is ’n gedrang van mense in padstalletjies vol eksotiese ware. Die geknibbel tussen kopers en verkopers kan bo die gedruis van die verkeer gehoor word. Hier in die besige noordelike deel van Thailand kan besoekers Thailand se kleurvolle bergstamme ontmoet.
DIE 65 miljoen inwoners van Thailand sluit mense in van 23 etniese minderheidsgroepe wat bergstamme genoem word. Die meeste van hierdie stamme woon in die noordelike deel van Thailand, ’n streek van berge, riviere en vrugbare valleie, wat tot in Mianmar en Laos strek.
Die meeste van Thailand se bergstamme het hulle in die afgelope 200 jaar hier kom vestig. Die Karen, die grootste van die ses vernaamste stamme, het van Mianmar gekom. Die Lahu, Lisu en Akha is afkomstig van Yunnan, in China se suidwestelike hooglande. En die Hmong en Mien het van Sentraal-China gekom.a
Die stamme het hoofsaaklik gemigreer om weg te kom van oorloë, maatskaplike druk en mededinging om vrugbare land.b Die noordelike deel van Thailand was ’n ideale toevlugsoord, want dit was afgeleë, bergagtig en grotendeels onbewoon. En Thailand het die immigrante toegelaat om te bly. Die dorpies van die bergstamme was kort voor lank oor die landskap versprei, met verskillende stamme wat hulle langs mekaar gevestig het en ’n mosaïek van kulture en tale gevorm het.
Kenmerkende kleredrag en kleurryke gebruike
Elke bergstam kan aan sy kenmerkende kleredrag uitgeken word. Akhavroue dra byvoorbeeld swierige silwer hooftooisels, wat lyk soos elegante torings wat met tossels, borduurwerk en munte versier is. Van hulle ander hoofbedekkings lyk soos gepantserde helms wat van stukkies metaal gemaak is en is met blink knope, krale en balletjies versier. Mienvroue lyk treffend in hulle ryklik geborduurde langbroeke, wat tot vyf jaar kan neem om te maak. Stylvolle tulbande, enkellengte-tunieke met rooi pompomagtige krae en indigo lyfbande rond hulle bekoorlike uitrustings af.
Die volle mondering van bergstamvroue sluit ’n hele rits silwer versierings in wat klingel en skitter en hulle status en rykdom bekend maak aan bewonderende toeskouers en mans wat hulle moontlik die hof sal wil maak. Ander versierende bykomstighede van glas, hout en garing word ook gedra.
Die meeste bergbewoners is trots op hulle tradisionele gebruike. Tieners van die Karenstam trek byvoorbeeld deftiger aan vir begrafnisse as vir enige ander geleentheid. Die rede? Talle tieners woon hierdie geleenthede by, in die hoop om hulle toekomstige huweliksmaat te ontmoet. Ná sononder neem die jonges—seuns en meisies—mekaar aan die hand, beweeg hulle stadig in ’n sirkel om die afgestorwene en sing hulle tradisionele liefdesliedjies dwarsdeur die nag.
Tieners van die Hmongstam maak mekaar die hof terwyl hulle ’n spesiale speletjie by die Nuwejaarsfees speel. Seuns en meisies wat van mekaar hou, vorm paartjies wat teenoor mekaar in rye staan met ’n paar treë tussen hulle. Dan gooi ’n seun en ’n meisie ’n sagte lapbal heen en weer vir mekaar. Wanneer een van hulle die bal laat val—doelbewus of per ongeluk—moet hy of sy ’n klein versiering vir die ander persoon gee. Later in die aand kan hierdie items in ruil vir ’n lied teruggekry word. As die sang mooi is, kan dit ’n redelike skare lok en boonop ’n jong persoon se kanse verbeter om iemand se hart te wen.
Uitdagings weens veranderinge
In vroeëre tye het die meeste bergstamme kap-en-brand-landbou beoefen, deur ongerepte woud af te kap sodat hulle gewasse kon plant en met vee kon boer. Hierdie gebruik het ernstige omgewingsprobleme laat ontstaan. Maar nou sien die mense op verantwoordeliker wyse om na die land, met goeie resultate.
Aangesien hulle in die Goue Driehoek woon—’n gebied wat dele van Thailand, Laos en Mianmar insluit—het baie bergstamme vroeër opium verbou. Deesdae verbou hulle egter koffie, groente, vrugte en blomme, danksy programme wat deur die Thaise koningshuis en internasionale hulpagentskappe geborg is om vervangingsgewasse aan te plant. Baie bergbewoners verkoop ook handelsware, lewer dienste en voorsien tradisionele handwerk aan die groeiende toeristebedryf.
Maar armoede, swak sanitasie en ongeletterdheid maak die lewe moeilik vir baie. Ander negatiewe faktore is onder meer kwynende natuurlike hulpbronne, veranderinge in kultuur, rassevooroordeel en dwelm- en alkoholmisbruik. Die voorouers van die bergstamme het na Thailand gevlug om van soortgelyke probleme weg te kom. Maar waar kan hulle vandag ’n toevlug vind?
’n Ware toevlug
Baie van die bergbewoners het die allerbeste toevlug gevind—die ware God, Jehovah. In Psalm 34:8 sê die Bybel: “Smaak en sien dat Jehovah goed is; gelukkig is die man wat sy toevlug tot hom neem.” Jawlay, ’n lid van die Lahustam, vertel: “Toe ek op 19 getrou het, was ek reeds ’n dronkaard en verslaaf aan dwelms. Sonder dwelms kon ek nie werk nie, en sonder werk het ek nie geld gehad nie. My vrou, Anothai, het verstote en ongeliefd gevoel. Ons het alewig gestry.
“Nadat ons dogter, Suphawadee, gebore is, het Anothai die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. Maar wanneer die Getuies na ons huis toe gekom het, het ek in die woud in gehardloop. Kort voor lank het my vrou se gedrag egter begin verbeter. Sy het respekvol met my gepraat en het meer aandag geskenk aan haar huislike pligte. Toe sy my aangespoor het om die Bybel te studeer, het ek dus ingestem.
“Namate Bybelleringe my hart geraak het, het ek geleidelik vordering gemaak. Uiteindelik het ek met God se hulp my verslawings oorkom. Nou is my gesin waarlik gelukkig, want ons het die beste lewensweg gevind! Ons geniet dit ook om vir ander onder die bergstamme van die Bybel se heilsame leringe te vertel.”
Jawlay se woorde herinner ’n mens aan ’n profesie in die Bybelboek Openbaring, wat sê dat “ewige goeie nuus” gedurende die laaste dae van die teenswoordige goddelose wêreld aan “elke nasie en stam en taal en volk” verkondig sal word (Openbaring 14:6). Jehovah se Getuies beskou dit as ’n voorreg om deel te neem aan hierdie werk, wat ’n blyk is van God se liefde vir alle mense, insluitende Thailand se kleurvolle bergstamme.—Johannes 3:16.
[Voetnote]
a Stamme kan verskeie name hê. In verskillende lande word die Mien byvoorbeeld die Lu Mien, Mian, Yao, Dao, Zao of Man genoem.
b Baie van die bergstambevolking woon nog steeds in China, sowel as in Viëtnam, Laos en Mianmar. In onlangser tye het groot immigrantegemeenskappe van die bergstamme ontstaan in Australië, Frankryk, die Verenigde State en ander lande.
[Venster/Prent op bladsy 16]
MAAK RINGE DIE NEK LANGER?
Baie Kayanvroue voer persoonlike versiering tot nuwe hoogtes deur rolle blink geelkoperringe wat tot 38 sentimeter hoog kan wees, om hulle nek te dra.c Die proses begin wanneer dogtertjies omtrent vyf jaar oud is. Elke paar jaar word die rolle met langer, swaarder rolle vervang totdat die vroue, as volwassenes, tot 25 ringe dra wat byna 13 kilogram weeg! Al lyk dit of die ringe hulle nek langer maak, is dit nie werklik die geval nie. Die ringe druk eerder die sleutelbeen af en pers die ribbekas saam.
[Voetnoot]
c Die Kayan het uit Mianmar, waar sowat 50 000 nog woon, na Thailand gekom. Daar word hulle Padaung, oftewel “Langnekke”, genoem.
[Erkenning]
Hilltribe Museum, Chiang Mai
[Venster op bladsy 17]
LEGENDES VAN ’N GROOT VLOED
Die Lisu- en Hmongstamme het albei legendes oor ’n groot vloed. In een Hmonglegende waarsku die “Heer van die Hemel” twee broers dat ’n vloed binnekort die aarde sal verswelg. Hy beveel die gewelddadige ouer broer om ’n ysterboot te bou en die sagmoedige jonger broer om ’n houtboot te bou. Hy sê dan vir laasgenoemde om sy suster, sowel as ’n mannetjie en wyfie van elke diersoort en twee sade van elke plantsoort, saam met hom op die houtboot te neem.
Wanneer die vloed kom, sink die ysterboot, maar die houtboot dryf. Dan maak ’n reënboogvormige draak die aarde droog. Ten slotte trou die jonger broer met sy suster, en hulle nakomelinge vul die aarde. Let op die ooreenkomste tussen hierdie legende en die noukeurig opgetekende verslag in die Heilige Bybel in Genesis hoofstukke 6 tot 10.
[Prent op bladsy 16, 17]
Bergstamvroue in volle mondering
[Erkenning]
Hilltribe Museum, Chiang Mai
[Prente op bladsy 17]
Jawlay saam met sy gesin
[Foto-erkenning op bladsy 15]
Albei foto’s: Hilltribe Museum, Chiang Mai