HÅKAN DAVIDSSON | LEWENSVERHAAL
Ek ondersteun die verspreiding van Bybelwaarheid
Ek is in Swede gebore en het daar grootgeword. As ’n tiener is ek deur mense beïnvloed wat nie aan God geglo het nie. So toe my pa, ma en jonger suster die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer het, het ek nie belanggestel nie.
Maar nadat my pa aangehou het om my te nooi, het ek besluit om by die Bybelstudie in te sit. Ek was beïndruk deur hoe akkuraat die Bybel is wanneer dit by die wetenskap kom. Mettertyd was ek oortuig dat die Bybel God se Woord is en dat Jehovah se Getuies dit akkuraat aan ander mense leer en dat die Getuies volgens die standaarde in die Bybel lewe. Ek en my pa is op dieselfde dag in 1970 gedoop. My ma en my twee susters is ’n paar jaar later gedoop.
Dit het gelyk asof baie ander jongmense net daarin belanggestel het om partytjie te hou. Ek moet erken dat ek op die ouderdom van 17 tot hulle sorgvrye lewenswyse aangetrokke was. Maar die Getuie-paartjie wat met my gestudeer het, was so gelukkig en tevrede met hulle lewe in voltydse diens dat ek graag by hulle wou aansluit. Ek het dit uiteindelik op die ouderdom van 21 gedoen.
Ek en my pa (aan my linkerkant) is op dieselfde dag gedoop
Ek het soveel vreugde uit pionierdiens gekry dat ek spyt is dat ek nie vroeër begin het nie. Ek het dit veral geniet om in die hawe van Gotenburg te preek, waar ek die waarheid gedeel het met die bemanning van die vragskepe wat ander tale gepraat het.
Oor die afgelope 50 jaar het ek ’n spesiale geleentheid gehad om die goeie nuus aan mense van verskillende taalgroepe beskikbaar te maak. Kom ek verduidelik hoe dit alles begin het.
Ek werk met MEPS
Om vir myself te sorg terwyl ek pionier het, het ek deeltyds as ’n tipograaf gewerk. Op daardie stadium het die manier hoe mense drukwerk doen, begin verander. In plaas daarvan om loodletters te gebruik, is fotografie gebruik om die teks en prente oor te dra. Ek het geleer om die nuutste rekenaar-settoerusting te gebruik om plate vir die drukpers voor te berei.
Op ons troudag
In 1980 het ek met Helene, wat ’n gewone pionier was, getrou. Sy het, net soos ek, daarvan gehou om mense uit verskillende wêrelddele te ontmoet en om nuwe kulture te ontdek. Ons doelwit was om Gileadskool by te woon en om as sendelinge te dien.
Maar as gevolg van die ondervinding wat ek in tipografie gehad het, is ek en Helene genooi om by Bethel in Swede te dien. Die organisasie het daarin belanggestel om nuwe tegnologie te gebruik wat ons drukwerk meer effektief sou maak. Daarom is ons in 1983 na Wallkill-Bethel in New York gestuur om opleiding te kry in die nuwe Veeltalige Elektroniese Setstelsel (MEPS)a wat die broers ontwikkel het.
Ek werk met MEPS-toerusting vir Hongkong, Mexiko, Nigerië en Spanje
Ons het uitgevind dat MEPS ’n rekenaarstelsel is wat toelaat dat teks in verskillende soorte skrif of alfabet getik word, met bygaande kunswerk gekombineer word en in bladsye saamgestel word. Ons werk was om MEPS te gebruik om nuwe soorte skrif te ontwikkel sodat ons publikasies in meer tale gedruk kon word. Nou, jare later, publiseer Jehovah se Getuies die goeie nuus in meer as ’n duisend tale!
Mettertyd het ek en Helene ’n toewysing in Asië gekry waar ons gehelp het om meer tale by MEPS te voeg. Ons was gereed en gretig om te help om die goeie nuus in meer tale beskikbaar te maak!
’n Kultuurskok
In 1986 het ek en Helene in Indië aangekom. Wat ’n kultuurskok was dit tog vir ons! Toe ons in Bombaai aankom, wat nou Moembaai genoem word, was ons deur die onbekende omgewing oorweldig. Dit het gelyk asof die Sweedse en Indiese kulture heeltemal van mekaar verskil! Daardie eerste week het ons dit ernstig oorweeg om terug huis toe te gaan.
Maar ná daardie eerste week het ons albei dieselfde gevolgtrekking gemaak: ‘Ons wou nog altyd sendelinge wees. So hoe kan ons nou opgee nadat ons uiteindelik ’n toewysing in ’n vreemde land gekry het? Ons moet hierdie struikelblokke oorkom.’
Daarom het ons besluit dat in plaas daarvan om weg te hardloop, ons eerder soveel as moontlik oor hierdie lewenswyse wat heeltemal anders is, moes leer. Dit het gemaak dat ek en Helene gou lief geword het vir Indië. Om die waarheid te sê, ons het sedertdien twee Indiese tale geleer, Goedjarati en Pandjabi.
Na Mianmar
In plaaslike kleredrag by die Koninkryksaal in Mianmar
In 1988 is ons na Mianmar gestuur, ’n land wat tussen China, Indië en Thailand lê. Daar was politieke probleme in Mianmar, en die grootste deel van die land was deur die weermag beheer. MEPS het nog nie die nie-Romeinse alfabet wat daar gebruik is, ondersteun nie. En daar was ook nie enige ander sagteware wat dit kon doen nie. So ons eerste taak was om te help om die karakters vir die nuwe skrif te ontwerp en om die lêers dan na Wallkill terug te bring om op MEPS gelaai te word.
By die lughawe het Helene die kunswerk van die nuwe karakters in haar handsak gehad. In daardie gevaarlike politieke toestande kon ons gearresteer word as die grenswagte ons met Mianmar-publikasies gevang het. Maar toe Helene deursoek is, het sy eenvoudig die handsak in haar hande in die lug gehou. Niemand het die handsak raakgesien nie!
MEPS het ons in staat gestel om die kwaliteit van ons setwerk te verbeter
Behalwe vir die nuwe skrif het die vertalers in Mianmar ook skootrekenaars, drukkers en opleiding in MEPS gekry. Die meeste van hierdie vertalers het nog nooit ’n rekenaar gesien nie, maar hulle was bereid om nuwe vaardighede te leer. Kort daarna was dit nie meer vir hulle nodig om verouderde kommersiële drukperse te gebruik met loodletters wat met die hand geset moes word nie. As gevolg hiervan het die kwaliteit van ons publikasies onmiddellik verbeter.
Na Nepal
In 1991 is ek en Helene toegewys om in Nepal te gaan help, ’n land aan die suidelike hange van die Himalajas. Op daardie stadium was daar net een gemeente in die land en was daar net ’n paar publikasies in Nepalees beskikbaar.
Kort voor lank is meer publikasies vertaal en in die gebied versprei. Vandag is daar omtrent 3 000 Getuies in meer as 40 gemeentes in Nepal, en meer as 7 500 mense het die Herdenking van Christus se dood in 2022 bygewoon!
’n Brosjure in Lahu
In die middel-1990’s het sendelinge wat in die stad Chiang Mai, Thailand, gebly het, begin om vir die mense van die Lahu hill-stamme te preek. Lahu word gepraat deur mense wat naby die grense van China, Laos, Mianmar, Thailand en Viëtnam bly. Maar ons het geen publikasies in hierdie taal gehad nie.
’n Jong man wat saam met die sendelinge gestudeer het, het die brosjure “Kyk, Ek maak alles nuut” van Thai na Lahu vertaal. Hy en ander mense van die dorpie het geld bymekaargemaak en die brosjure en die geld na die takkantoor gestuur. In die brief wat daarby ingesluit was, het hulle geskryf dat hulle graag wil hê dat alle mense wat Lahu praat, ook die waarheid moet hoor wat hulle in die brosjure geleer het.
’n Paar jaar later het ek en Helene die voorreg gehad om Lahu-vertalers op te lei om MEPS te gebruik. Een van die vertalers was ’n broer wat onlangs gedoop is en wat by die vertaalkantoor in Chiang Mai gedien het. Ons was verbaas om uit te vind dat hy die jong man was wat die “Kyk!”-brosjure in Lahu vertaal het!
In 1995 het ek en Helene teruggegaan na Indië. Daar het ons saam met die vertalers by die takkantoor gewerk om hulle die MEPS-hulpmiddele te gee wat hulle nodig gehad het. Vandag is daar genoeg publikasies beskikbaar in baie van die tale wat daar gepraat word wat mense help om te studeer en tot doop te vorder.
’n Wonderlike lewe
Ek en Helene dien vanaf 1999 by die takkantoor in Brittanje. Ons werk saam met die MEPS-programmeringspan by die wêreldhoofkwartier. Wat ’n vreugde is dit tog vir ons om baie van ons tyd in Londen te gebruik om in die Goedjarati- en Pandjabi-veld te getuig! Wanneer ’n nuwe taal op jw.org beskikbaar word, soek ons na geleenthede om vir dié in ons gebied te preek wat die taal praat.
Ek is so bly dat ek van ’n jong ouderdom af geestelike doelwitte in Jehovah se diens gestel het, in plaas daarvan om soos ander jongmense net ’n lekker tyd te wil hê. Wanneer ek en Helene terugdink oor ons keuses in die lewe, is ons nie spyt dat ons voltydse diens ons doelwit gemaak het nie. Ons het dit geniet om meer as 30 lande te besoek en vir onsself te sien hoe die goeie nuus mense van elke nasie en stam en taal bereik! – Openbaring 14:6.
a Dit word nou die Veeltalige Elektroniese Uitgewerstelsel genoem. MEPS word ook gebruik om digitale publikasies te skep.