Stres—Wat dit aan ons doen
Wat gebeur wanneer jy hardloop om ’n bus of ’n trein te haal? Jy kan ongetwyfeld voel hoe jou liggaam reageer deur jou bloeddruk te verhoog en jou hart vinniger te laat klop. Selfs as jy die bus of trein mis, keer jou hartklop en asemhaling gewoonlik terug na normaal.
MAAR dit is dalk ’n ander saak as ’n stresvolle situasie lank voortduur. Angstigheid, spierspanning, verhoogde bloeddruk en versteurde spysvertering kan langer neem om na normaal terug te keer. Al hoe meer mense vind dat die spanning nooit weggaan nie. Baie voel byvoorbeeld dat hulle vasgevang is in ’n werk wat op niks sal uitloop nie. Watter uitwerking het stres op jou liggaam en jou gesondheid?
Jou liggaam se reaksie op stres
Dr. Arien van der Merwe, ’n deskundige op hierdie gebied, verduidelik hoe jou liggaam op stres reageer. Dit gaan onmiddellik oor tot aksie, en ’n komplekse “stresstroom van neurochemikalieë en hormone vloei vinnig deur jou hele liggaam en bring elke orgaan en stelsel in ’n toestand van algehele gereedheid vir die stresreaksie”.
Jy is onmiddellik gereed om tot buitengewone aksie oor te gaan. Al jou sintuie—waaronder sig, gehoor en tassin—is betrokke. Jou brein reageer gou, en jou byniere skei dadelik kragtige hormone af, wat jou spiere sowel as jou hart, longe en ander organe as ’t ware opwen om te doen wat ook al nodig sal wees om die stresvolle situasie te hanteer.
In ’n noodgeval kan jou liggaam se stresreaksie dus jou lewe red, soos wanneer dit jou uit die pad van ’n aankomende motor laat spring. Dit is egter ’n heel ander saak wanneer ’n mens heeltyd onder stres gebuk gaan.
Wanneer stres ’n vyand word
Sê nou jou liggaam is heeltyd “opgewen”? Jou spiere bly gespanne, jou polsslag en bloeddruk bly hoog en hoë vlakke van cholesterol, vette, suikers, hormone en ander chemikalieë bly lank in die bloed. Voortdurende hoë vlakke van hierdie chemikalieë—wat bedoel is vir kortstondige, intense en ongereelde skielike aksies—beskadig uiteindelik belangrike liggaamsorgane. Met watter gevolge?
Jy kan rugpyn, hoofpyn, spierspasmas in die nek en spierspanning begin ondervind. Volgens dokters hou hierdie simptome dikwels verband met chroniese stres. Voortslepende stres kan skeppendheid en produktiwiteit belemmer, asook entoesiasme laat verflou en interpersoonlike verhoudings benadeel. Dit kan ook aanleiding gee tot prikkelbare dermsindroom, diarree en slukdermspasmas. Chroniese stres kan selfs ernstiger gevolge hê. Beroerte, hartaanval, nierversaking, kardiovaskulêre probleme en suikersiekte kan deur voortdurende stres veroorsaak of vererger word.
“Weens die afskeiding van kortisol tydens langdurige stres”, skryf Van der Merwe, “versamel vet gewoonlik om die buik en rug.” Velkwale, soos ekseem en psoriase, hou verband met—of word vererger deur—stres. Kwaai stres is ook al verbind met depressie, groter aggressiwiteit en uitbranding. Geheue en konsentrasie kan ook ’n permanente knou kry weens voortdurende stres. ’n Immuunstelsel wat erg afgetakel word deur langdurige stres, kan ’n mens vatbaar maak vir enigiets van die gewone verkoue tot kanker en outo-immuunsiektes.
Stres het ’n groot impak op alle aspekte van ons gesondheid—verstandelik, fisies, emosioneel en geestelik—en daarom moet ons weet hoe om dit te beheer. Nogtans wil ons nie die liggaam se stresreaksie heeltemal onderdruk nie. Waarom nie?
Ons kan stres met ’n vurige perd vergelyk. ’n Rit op so ’n perd kan genotvol en opwindend wees. Maar as hy heeltemal buite beheer raak, kan dit ons lewe in gevaar stel. Net so kan stres in beheerbare hoeveelhede die lewe genotvol en opwindend maak en ons aanspoor om skeppend, produktief, entoesiasties en gesond te wees.
Maar hoe kan ons ons stresvlakke beheer sodat ons die lewe ten volle kan geniet? Die volgende artikel bespreek doeltreffende maniere om stres en ons reaksie daarop te beheer.
[Venster op bladsy 5]
“WONDERBAAR GEMAAK” DEUR ’N WYSE, LIEFDEVOLLE SKEPPER
In teenstelling met die gewilde teorie is ons liggaam se reaksie op stres nie ’n oorblyfsel van die prehistoriese mens se reaksie op die bedreiging van mammoete en sabeltandtiere nie. Ons ingewikkelde fisiologiese stelsels is eerder op vaardige wyse gevorm deur ’n meesterlike Skepper. Byvoorbeeld, bloed se komplekse stollingsmeganisme—die gesofistikeerde vermoë wat dit het om infeksie te beveg en wonde te genees—en die uitvoerige manier waarop die liggaam op stres reageer, getuig alles van ’n wyse en liefdevolle Ontwerper.
Hierdie liggaamstelsels bevestig dat ons “op ’n vreesinboesemende wyse wonderbaar gemaak is” (Psalm 139:13-16). God se liefdevolle geestelike en fisiese voorsienings sowel as die wonderbaarlike manier waarop hy die mens geskep het om die lewe te geniet, verseker ons dat daar in die komende Paradys op aarde niks sal wees wat pyn, verdriet of die dood veroorsaak nie.—Openbaring 21:3-5.
[Diagram/Prent op bladsy 5]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
SLEGTE GEVOLGE VAN LANGDURIGE STRES OP DIE LIGGAAM
Hoofpyn
Nekpyn
Knersing van tande
Rugpyn
Hartkwale
Maagsere
Spierspasmas