Waarom ek ’n winsgewende loopbaan prysgegee het
Soos vertel deur Martha Teresa Márquez
EK WAS altyd baie lief daarvoor om te sing en het selfs as kind oor die radio gesing. Ná kleuterskool het ek nie verder skoolgegaan nie, maar ek het later sanglesse in Mexikostad geneem by die leier van die land se simfonieorkes.
In 1969, toe ek 24 was, het ’n vriendin wat ’n danseres was, my genooi om ’n oudisie te doen by die La Rampa Azul, wat destyds ’n deftige restaurant en kroeg was. Ek het die welbekende Cucurrucucú Paloma, deur die Mexikaanse komponis Tomás Méndez, gesing, en gehore het daarvan gehou. Dit was toe dat my professionele loopbaan eintlik begin het. Ek het onder die naam Romelia Romel as ’n solosangeres opgetree.
Ek het saam met Tomás Méndez sowel as ander talentvolle Mexikaanse liedjieskrywers en sangers gewerk, onder wie Cuco Sánchez en Juan Gabriel. Dit was opwindend om my naam in ligadvertensies en in koerante en tydskrifte te sien. Ek het in nagklubs, oor die radio en op toere deur Mexiko en Belize gesing. Ek het ook saam met die gewilde Mexikaanse komediante Leonorilda Ochoa gewerk toe haar televisieprogram nog redelik nuut was in Mexiko.
Ná verloop van tyd het ek ’n mate van roem verwerf en baie geld verdien—genoeg om luukshede soos juwele, pelsjasse en ’n dakwoonstel te bekostig. Ek het skynbaar alles gehad, maar ek was ongelukkig. Daar was ’n leemte in my. Hoewel ek as ’n Rooms-Katoliek grootgeword het, was ek skaam om kerk toe te gaan. Ek het te vuil gevoel weens my onsedelike lewenswyse.
Hoe ek lief geword het vir Jehovah
Terwyl ek vir my eerste plaatopname gerepeteer het, het ek vir ’n vriendin, ’n ranchera-sangeres met die naam Lorena Wong, vertel hoe ek voel. Ek het vir haar gesê dat ek ’n non wil word en minderbevoorregtes wil help. “’n Non? Jy’s seker mal!” het sy uitgeroep.
Toe het sy gevra: “Weet jy wat God se naam is?”
“Die Here Jesus Christus”, het ek geantwoord.
“Nee, sy naam is Jehovah”, het sy gesê. “Jesus is sy Seun.”
“Jehovah?” het ek gevra. Ek het dié naam glad nie geken nie. Lorena het my ’n Bybel gegee en belowe om haar onderrigter, een van Jehovah se Getuies, na my toe te stuur.a
Elke keer dat ek Lorena gesien het, het ek gevra: “Wanneer stuur jy jou onderrigter na my toe?” Ek was geestelik honger.
Intussen het ek die Bybel op my eie begin lees en gesien dat God se naam wel Jehovah is (Psalm 83:18). Ek was verbaas. Ek het ook op die Tien Gebooie afgekom en is getref deur die een wat sê: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie” (Eksodus 20:14). Op daardie stadium het ek saam met ’n getroude man gebly, wat die pa van my agt maande oue babaseuntjie was. Die seuntjie was my tweede kind. Ek het reeds ’n jong seun by ’n ander man gehad, met wie ek ook nooit getroud was nie.
Eendag, terwyl ek ’n lied vir ’n nuwe vertoning geoefen het, het iemand aan my dakwoonstel se deur geklop. Dit was Lorena se onderrigter, Mauricio Linares, en sy vrou. Hulle het vir my gewys wat God se voorneme vir die mensdom is en het die boek Die waarheid wat lei tot die ewige leweb vir my gegee. Ek het dit in een aand deurgelees, ten spyte daarvan dat ek met die moeilike woorde gesukkel het. Op dié tydstip het ek begin lief word vir Jehovah.
Ek verander my lewenswyse
Terwyl die Getuies my gehelp het om die Bybel te studeer en om beter te lees, het ek besef dat ek veranderinge in my lewe moet aanbring sodat ek Jehovah kan behaag. Ek het begin ontslae raak van my godsdiensbeelde en -voorwerpe asook gelukbringers, al was dit van goud gemaak.
Dit was vir my besonder moeilik om rook op te gee en nie meer te veel te drink nie. Wanneer ek ’n drankwinkel gesien het, het my mond gewater. Ek moes assosiasie met al my vriende beëindig, want hulle het vir my drank aangebied en my genooi om saam met hulle in deftige restaurante te gaan eet en drink. Ek het geweet dat dit uiteindelik tot alkoholmisbruik sou lei.
Dit was ook vir my moeilik om nie meer die partytjies van die rykes en beroemdes by te woon nie. Toe ek genooi is na die verjaarsdagpartytjie van ’n beroemde Kubaanse bokser, het ek gebid: “Nog net hierdie een keer, Jehovah. Ek sal nooit weer so ’n geselligheid bywoon of my gedra op ’n manier wat u nie goedkeur nie.” En ek het ook nooit weer nie.
Ek het my verhouding met my tweede seun se pa verbreek. Ek het dit gedoen ten spyte van al sy rykdom en alles wat hy my belowe het as ek hom nie verlaat nie. Dit was baie moeilik vir my omdat ek hom liefgehad het, en hy het dit geweet. Hy het verwaand gesê: “Ek is jou God! Ek is jou Christus!”
“Jy was dalk”, het ek geantwoord, “maar nou is Jehovah my God.” Hy het gedreig dat hy die seun wat ek by hom gehad het, sou wegneem en my sou aanrand.
Gedurende dié tyd het party mense vir my gesê dat ’n sangloopbaan soos enige ander loopbaan is—dat ek ’n Getuie kan wees en nog steeds kan sing. Maar ander het my herinner: “Jy gaan nie ’n heining om jou hê om jou te beskerm teen sigarette, drank en die onsedelike voorstelle van jou bewonderaars nie.” Ek het die wysheid van hierdie woorde ingesien.
Toe ek ’n gewilde sangeres was, het mense my probeer omkoop om gunste vir hulle te doen. Ek was vasbeslote om my nie langer aan sulke versoekings bloot te stel nie. In 1975 het ek dus my kontrak verbreek om deur China te toer, en ses maande later is ek as een van Jehovah se Getuies gedoop.
Die uitdagings en vreugdes
Hoe sou ek my en my gesin onderhou? Ek het feitlik geen skoolopleiding gehad nie, en al wat ek eintlik kon doen, was sing. My ouer suster, Irma, en haar drie kinders sowel as my eie twee jong seuns was van my afhanklik. Ons moes uit my duur woonstel na twee klein kamers trek. Die drastiese verandering van ’n weelderige lewe na ’n lewe van swaarkry was werklik ’n uitdaging. My suster en die kinders het my ’n ruk lank verwyt en druk op my uitgeoefen om my sangloopbaan voort te sit, maar ek was vasbeslote om te doen wat nodig was om Jehovah te dien.
Ek het my waardevolle artikels—my juwele, my pelsjasse, my motor—begin verkoop, en ons het geleef van die geld wat ek daarvoor gekry het. Later het daardie geld opgeraak. Omdat die pa van my tweede seun ons bly teister het, het ons in 1981 na ’n stad aan die ander kant van die land getrek, waar hy ons nie kon vind nie.
In dié stad het die Getuies my geleer hoe om tamales, oliebolle en ander eetgoed te maak om te verkoop. Later het ek nagskofwerk in ’n fabriek gekry. Maar hierdie werk het my bywoning van Christelike vergaderinge en my diens aan God nadelig beïnvloed. Daarom het ek uiteindelik bedank en by die huis tamales begin maak. Ek het dit dan in mandjies gepak en op straat verkoop. Op dié manier kon ek my in die voltydse bediening onderhou.
’n Besluit waaroor ek nog nooit spyt was nie
Wanneer mense my vra hoe ek daaroor voel dat ek my belowende loopbaan as ’n sangeres prysgegee het, sê ek vir hulle dat ek my kennis van Jehovah en my begrip van sy wonderlike voornemens vir niks sal verruil nie. Dit het my vreugde verskaf om te sien hoe my seuns al hoe meer Bybelkennis inneem, hulle lewe aan Jehovah toewy en later met medegelowiges trou. Al twee my seuns, tesame met hulle vrouens, maak hulle kinders groot om ons God, Jehovah, te dien.
Ek is al byna drie dekades lank ’n pionier, soos Jehovah se Getuies diegene noem wat die predikingswerk voltyds doen. Met God se hulp kon ek al baie mense, onder wie Irma en haar dogter, help om Bybelwaarhede te leer en hulle lewe aan God toe te wy. Dit is vir my ’n bron van groot vreugde om hierdie “geestelike kinders” elke nou en dan raak te loop en te hoor dat hulle nog steeds in die waarheid wandel—baie van hulle dien ook as pioniers (3 Johannes 4). Vandag, op 64-jarige ouderdom, hou ek 18 Bybelstudies met ander mense.
Die geestelike leemte wat ek as ’n jong sangeres gevoel het, is gevul, en die begeerte om ander te help, is bevredig omdat ek Jesus se bevel gehoorsaam om te ‘gaan en dissipels te maak’ (Matteus 28:19, 20). Hoe dankbaar is ek tog dat Jehovah my deur al hierdie jare onderskraag het en dit nog steeds doen! Ek het waarlik ‘gesmaak en gesien dat hy goed is’.—Psalm 34:8.
[Voetnote]
a Lorena Wong het later een van Jehovah se Getuies geword.
b Uitgegee deur Jehovah se Getuies, maar nou uit druk.
[Prent op bladsy 25]
Saam met my seuns, hulle vrouens en my ouer suster, wat nog steeds saam met my pionier
[Prent op bladsy 26]
Ek maak nog steeds ‘tamales’ en verkoop dit op straat om my in die voltydse bediening te onderhou