Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • ijwyp artikel 19
  • Waarom sny ek myself?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom sny ek myself?
  • Jongmense vra
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat is snyery?
  • Waarom doen mense dit?
  • Hoe kan jy ophou as jy hierdie probleem het?
  • Waarom maak ek myself seer?
    Ontwaak!—2006
  • Sy het baie lewens geraak
    Ontwaak!—1995
  • Waarom ek ’n winsgewende loopbaan prysgegee het
    Ontwaak!—2010
  • Hoe kan ek ophou om myself seer te maak?
    Ontwaak!—2006
Sien nog
Jongmense vra
ijwyp artikel 19

JONGMENSE VRA

Waarom sny ek myself?

  • Wat is snyery?

  • Waarom doen mense dit?

  • Hoe kan jy ophou as jy hierdie probleem het?

  • Onderhoud

  • Vrae om oor na te dink

  • My notaboekie vir Bybeltekste

Wat is snyery?

Snyery is die kompulsiewe gebruik om jouself seer te maak met ’n skerp voorwerp. Dit is net een vorm van selfbesering. Ander vorme sluit in om jouself te brand, te kneus of te slaan. Hierdie artikel handel oor snyery, maar die beginsels wat bespreek word, is van toepassing op alle vorme van selfbesering.

Toets jou kennis: Waar of onwaar.

  1. Net meisies sny hulleself.

  2. As jy jouself sny, oortree jy die Bybel se gebod in Levitikus 19:28 wat sê: “Julle mag geen snye in julle vlees maak . . . nie.”

Korrekte antwoorde:

  1. Onwaar. Hoewel die probleem blykbaar algemener is onder meisies, is daar ook seuns wat hulleself sny en ander vorme van selfbesering beoefen.

  2. Onwaar. Levitikus 19:28 verwys na ’n ou heidense ritueel, nie na die kompulsiewe gebruik van selfbesering wat in hierdie artikel bespreek word nie. Maar dit is net logies dat ons liefdevolle Skepper nie wil hê dat ons onsself moet beseer nie.—1 Korintiërs 6:12; 2 Korintiërs 7:1; 1 Johannes 4:8.

Waarom doen mense dit?

Toets jou kennis: Watter stelling dink jy is die mees korrekte?

Mense sny hulleself . . .

  1. omdat hulle emosionele angs probeer oorkom.

  2. omdat hulle hulleself probeer doodmaak.

Korrekte antwoord: A. Die meeste mense wat hulleself sny, wil nie doodgaan nie. Hulle wil net ’n einde maak aan hulle emosionele wanhoop.

Let op waarom party jongmense hulleself gesny het.

Celia: “Dit het my ’n mate van verligting gegee.”

Tamara: “Dit het gevoel asof dit ontvlugting bied. Die fisiese pyn was beter as die emosionele pyn.”

Carrie: “Ek het dit gehaat om hartseer te voel. Wanneer ek myself gesny het, het dit my aandag van my hartseer afgelei en dit op my fisiese pyn gevestig.”

Jerrine: “Elke keer dat ek myself gesny het, het ek byna onbewus geraak van my omgewing en weggekom van my probleme. Dit was vir my ’n aangename verandering.”

Hoe kan jy ophou as jy hierdie probleem het?

Gebed tot Jehovah God is baie belangrik as jy wil ophou. Die Bybel sê: ‘Werp al julle sorge op hom, want hy sorg vir julle.’—1 Petrus 5:7.

Wenk: Begin met kort gebede, soos om net vir Jehovah te sê: “Ek het hulp nodig”. Mettertyd sal jy openlik kan praat en jou hart voor “die God van alle vertroosting” kan uitstort.—2 Korintiërs 1:3, 4.

Gebed is nie ’n sielkundige kruk nie. Dit is ware kommunikasie met jou hemelse Vader, wat belowe: “Ek sal jou werklik help. Ek sal jou werklik stewig vashou met my regterhand van regverdigheid.”—Jesaja 41:10.

Baie wat met snyery geworstel het, het ook vertroosting gevind deur met ’n ouer te praat of met ’n ander volwassene wat hulle in hulle vertroue kon neem. Kyk na die volgende kommentare deur drie jongmense wat juis dit gedoen het.

Onderhoud

  • Diana, 21

  • Kathy, 15

  • Lorena, 17

Hoe oud was jy toe jy jouself begin sny het?

Lorena: Ek het begin toe ek omtrent 14 was.

Diana: Ek was 18, en ek het dit nie altyd ewe gereeld gedoen nie. Ek het my ’n week of twee lank elke dag gesny en dan miskien ’n maand lank glad nie.

Kathy: Ek het begin toe ek 14 was. Ek ondervind elke nou en dan nog ’n terugslag.

Waarom wou jy jouself beseer?

Kathy: Ek het met gevoelens van selfhaat geworstel. Dit het vir my gevoel asof niemand my ooit as ’n vriendin sou wou hê nie.

Diana: Soms het my hartseer in frustrasie verander, en my frustrasie in wanhoop. Die wanhoop het dan oorweldigend geword. Dit was soos ’n monster in my, en dit was asof ek myself moes sny om dit uit te laat.

Lorena: Ek het soms baie terneergedruk of kwaad geraak of net nie goed gevoel oor myself nie. Ek het niks werd gevoel nie, en ek wou net ontslae raak van al daardie aaklige emosies. Soms het ek gevoel dat ek die fisiese pyn verdien.

Het dit jou beter laat voel wanneer jy jouself beseer het?

Diana: Ja. Ek het daarna verlig gevoel, asof ’n las van my af weggeneem is.

Kathy: Dis amper soos om te huil. Ek het beter gevoel nadat ek myself gesny het net soos party mense beter voel nadat hulle hulle uitgehuil het.

Lorena: Wanneer ek myself beseer het, was dit soos om ’n gaatjie in die ballon van my negatiewe emosies te maak. Dit het nie gebars nie; al die negatiwiteit het net stadig uitgelek.

Was jy bang om vir iemand te sê wat jy doen?

Lorena: Ja. Ek was bang dat mense sal dink ek is weird. Ek wou ook nie hê dat ander iets van my persoonlike lewe moet weet nie.

Diana: Mense het altyd vir my gesê dat hulle dink dat ek sterk is, en ek wou hê dat hulle dit moet aanhou glo. Ek het gedink dat dit ’n teken van swakheid sou wees om hulp te vra.

Kathy: Ek was bang dat mense sou dink dat ek ’n emosionele wrak is, wat my net slegter sou laat voel het oor myself. Boonop het ek gevoel dat ek verdien wat ek aan myself doen.

Wat was ’n keerpunt vir jou?

Lorena: Ek het vir my ma gesê wat ek doen. Ek het ook na ’n dokter toe gegaan, wat my gehelp het om my negatiewe emosies te beheers. Ek het ’n paar terugslae gehad, maar ek het ’n beter rooster vir Bybelstudie begin volg, en dit het my gehelp. Ek bly ook bedrywig in die Christelike bediening. Ek sal dalk nooit heeltemal ontslae raak van gevoelens van waardeloosheid nie, maar wanneer ek hierdie gevoelens ervaar, probeer ek om nie daardeur oorweldig te word nie.

Kathy: ’n Christensuster wat omtrent tien jaar ouer is as ek, het agtergekom dat iets verkeerd is, en ek het haar uiteindelik in my vertroue geneem. Tot my verbasing het sy voorheen ook met die gewoonte gesukkel. Ek het nie verleë gevoel om met haar te praat nie omdat sy dit ook gedoen het. En ek het hulp by ’n dokter gekry, wat my en my ouers gehelp het om te verstaan wat ek deurmaak.

Diana: Ek was een aand by die huis van ’n egpaar wat ek vertrou, en die man het opgemerk dat iets nie reg is nie. Hy het my liefdevol aangespoor om vir hulle te vertel wat die probleem is. Sy vrou het haar arms om my gesit en my gewieg, net soos my ma toe ek klein was. Ek het begin huil, en sy ook. Dit was moeilik om vir hulle te vertel wat ek aan myself doen, maar ek is bly dat ek met hulle daaroor gepraat het.

Hoe het die Bybel jou gehelp?

Diana: Die Bybel het my help besef dat ek nie op my eie hierteen kan stry nie. Ek het Jehovah God se hulp nodig.—Spreuke 3:5, 6.

Kathy: Dit vertroos my grootliks om die Bybel te lees—en te weet dat die boodskap daarin van God kom!—2 Timoteus 3:16.

Lorena: Wanneer ek tekste teëkom wat my hart raak, skryf ek dit in ’n notaboekie sodat ek later daaroor kan peins.—1 Timoteus 4:15.

Is daar ’n spesifieke teks wat jou gehelp het?

Diana: Spreuke 18:1 sê: “Wie hom afsonder, sal sy eie selfsugtige verlange soek; teen alle praktiese wysheid sal hy losbreek.” Dit is soms vir my moeilik om tussen mense te wees, maar hierdie teks help my om te besef dat dit gevaarlik is om my af te sonder.

Kathy: Twee Bybelverse waarvan ek baie hou, is Matteus 10:29 en 31, waar Jesus gesê het dat nie eens ’n mossie doodgaan sonder dat Jehovah God dit opmerk nie. En toe het hy bygevoeg: “Moet dus nie vrees nie: julle is meer werd as baie mossies.” Hierdie woorde herinner my altyd daaraan dat ek vir Jehovah kosbaar is.

Lorena: Ek waardeer die gedeelte in Jesaja 41:9, 10, waar Jehovah vir sy volk sê: “Ek het jou nie verwerp nie. Moenie bang wees nie, want ek is met jou. . . . Ek sal jou versterk.” Wanneer ek dink aan iets wat versterk is, dink ek aan iets ondeurdringbaars, soos ’n gebou met klipmure. Hierdie teks gee my krag, want ek weet dat Jehovah my liefhet en dat hy altyd aan my sy sal wees.

Vrae om oor na te dink

  • Wie kan jy in jou vertroue neem wanneer jy gereed is om hulp te vra?

  • Wat kan jy vir Jehovah God in gebed oor die saak sê?

  • Kan jy aan twee metodes dink (wat nie selfbesering behels nie) wat jy kan gebruik om jou stres en angs te verlig?

My notaboekie vir Bybeltekste

Wenk: Wanneer jy ’n Bybelgedeelte teëkom wat jou van Jehovah se liefde verseker of jou kan help om ’n gebalanseerde beskouing van jouself en jou tekortkominge te ontwikkel, kan jy dit in ’n notaboekie skryf. Skryf ’n sin of twee neer om te sê waarom die gedeelte vir jou betekenisvol is. Hier is byvoorbeeld ’n paar tekste wat Diana, Kathy en Lorena nuttig gevind het.

  • Romeine 8:​38, 39

    “Hierdie verse sê vir my dat Jehovah my liefhet, selfs wanneer ek voel dat dinge op hulle ergste is.”​—Diana.

  • Psalm 73:23

    “Sulke tekste verseker my dat ek nie alleen is nie. Dit is asof Jehovah reg langs my is.”​—Kathy.

  • 1 Petrus 5:​10

    “Verligting kom dalk nie dadelik nie; ons moet miskien ‘’n klein rukkie’ ly. Maar op die ou end kan Jehovah ons sterk genoeg maak om enigiets te verduur.”​—Lorena.

Nog tekste om oor na te dink

  • Psalm 34:18

  • Psalm 54:4

  • Psalm 55:22

  • Jesaja 57:15

  • Matteus 11:28, 29

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel