Indonesië se “man van die woud”
DIE groot dier het na ons gestaar terwyl hy vasgeklou het aan ’n tak wat te dun gelyk het om sy yslike liggaam te dra. Ons het ons asem opgehou en ook na hom gestaar. Dit het gelyk of hy nie juis in ons belangstel nie, maar ons was in vervoering. Dit was ongelooflik om ’n orangoetang, die grootste boomlewende dier op aarde, in die oë te kyk!
Orangoetangs behoort tot die orde van groot ape, soos ook gorillas en sjimpansees. Hierdie saggeaarde alleenlopers kom voor in die digte woude van Borneo en Sumatra, twee van die grootste eilande in Suidoos-Asië. Hulle naam bestaan uit twee Indonesiese woorde, orang en hutan, wat “man van die woud” beteken.
Wil jy meer leer omtrent hierdie fassinerende groot rooi ape? Kom dan saam met ons terwyl ons tot diep in Borneo reis om hulle in hulle natuurlike habitat te besoek.
Ons besoek die orangoetangs
Om orangoetangs te sien, het ons na die Tanjung Puting- Nasionale Park gereis, waar daar ’n oorvloed dierelewe is. Die duisende orangoetangs wat daar voorkom, is die vernaamste aantrekkingskrag.
Ons besoek het begin by die klein hawe van Kumai, waar ons in ’n motoraangedrewe houtboot geklim het wat ’n klotok genoem word. Ons het met die rivier opgevaar en met sy kronkelgang al hoe dieper inbeweeg in ’n tonnel van groen oerwoudplante wat al hoe nouer geword het. Moeraspalms het al langs die rivieroewer dig teen mekaar gegroei, en dodelike krokodille het in die stil, donker water geskuil. Vreemde geluide het deur die oerwoud om ons weerklink en ons opgewonde gemaak.
Nadat ons uit die boot geklim het, het ons ons vol insekmiddel gesmeer en die woud aangedurf. Binne minute het ons ons eerste orangoetang gesien—die groot mannetjie wat vroeër genoem is. Sy lang, rooi hare het soos gepoleerde koper in die middagson geblink. Die bultende spiere onder sy pels het hom voorwaar indrukwekkend laat lyk!
Wilde volwasse mannetjies, wat omtrent 1,7 meter lank is en sowat 90 kilogram weeg, is twee keer swaarder as die wyfies. Volgroeide mannetjies ontwikkel groot wangkussings, wat hulle gesig soos ’n ronde skyf laat lyk. Hulle het ook ’n keelsak, wat hulle gebruik as hulle brom en brul. Soms maak hulle ’n reeks galmende geluide wat tot vyf minute kan duur en meer as twee kilometer ver gehoor kan word. Geen wonder dit word ’n “lang roep” genoem nie! Die mannetjies brul gewoonlik om ontvanklike wyfies te lok en mededingende mannetjies af te skrik.
Boombewoners
Terwyl ons met die paadjie langs gestap het, het ons orangoetangs in die bome sien rondswaai. Hulle voete en hande is sterk, soepel en haakvormig—met lang vingers, kort duime en groot tone. Hulle gryp takke maklik vas en beweeg grasieus en doelgerig, maar dit lyk of hulle nooit haastig is nie.
Orangoetangs kan hulle goed kamoefleer en soos skaduwees in die blaredak wegraak. Op die grond is hulle stadig; mense kan maklik vinniger as hulle beweeg.
Hierdie diere bring feitlik hulle hele lewe in die boomtoppe deur, en hulle is die enigste van die groot ape wat dit doen. Die meeste aande sal hulle so teen sononder ’n sterk mik in ’n boom kies, takkies en lootjies bymekaarmaak en ’n snoesige nuwe bed bou—tot 20 meter bokant die grond. Om beskutting teen die reën te kry, bou hulle soms ook ’n beskermende “dak”, iets wat sjimpansees en gorillas nooit doen nie. Al hierdie werk word in net sowat vyf minute gedoen!
Bome voorsien orangoetangs ook van hulle gunstelingkos—vrugte. Hulle het ’n uitstekende geheue en weet presies waar en wanneer om ryp vrugte te vind. Hulle eet ook blare, boombas, uitspruitsels, heuning en insekte. Orangoetangs gebruik soms ’n stok om heuning of insekte uit gate in bome te krap. Orangoetangs eet altesaam meer as 400 verskillende kossoorte!
Verder met die paadjie langs het ons nog ’n interessante toneel gesien—orangoetangs wat aan hope piesangs smul. Hierdie diere is in gevangenskap grootgemaak en toe in die natuur vrygelaat. Omdat hulle nie die oorlewingsvaardighede van wilde orangoetangs het nie, word hulle kos gegee ter aanvulling van wat hulle self kan vind.
Gesinslewe van die orangoetang
Ons het toegekyk terwyl oulike babatjies aan hulle ma’s hang en ondeunde kleintjies op die grond of in die bome rondkerjakker. Orangoetangwyfies lewe tot 45 jaar lank. Nadat hulle op 15- of 16-jarige ouderdom volwassenheid bereik, gee hulle een keer elke sewe of agt jaar geboorte. Die gemiddelde orangoetangwyfie kry nie meer as drie kleintjies in haar leeftyd nie. Dit maak hulle een van die groepe soogdiere op aarde wat die stadigste aanteel.
Die band tussen die ma en die pasgebore baba is besonder sterk. Orangoetangwyfies voed en leer hulle kleintjies agt jaar lank of selfs langer. Gedurende die eerste jaar van ’n kleintjie se lewe is hy feitlik aan sy ma vasgegom. Daarna sal hy nooit ver van haar af wegdwaal nie totdat die volgende kleintjie gebore word. Jong wyfies sal dalk langer naby hulle ma bly en kyk hoe sy vir die pasgebore baba sorg.
Jong mannetjies word egter deur hulle ma verstoot kort nadat ’n nuwe kleintjie gebore word. Hulle sal dan alleen in die woud rondswerf en ’n gebied van 15 vierkante kilometer of meer dek. Hulle is geneig om ander mannetjies te vermy en sal slegs met wyfies in aanraking kom om te paar.
Wyfies bly dwarsdeur hulle lewe gewoonlik in ’n baie kleiner deel van die woud. Hulle eet soms saam met ander wyfies in dieselfde boom, maar selfs dan is daar min of geen interaksie tussen hulle nie. Die feit dat orangoetangs alleenlopers is, maak hulle uniek onder die ape. Maar om meer te leer omtrent die “man van die woud”, moes ons nog een plek besoek.
Op die randjie van uitsterwing
Binne die nasionale park is Camp Leakey—’n rehabilitasie-, navorsing- en bewaringsentrum vir orangoetangs wat na die antropoloog Louis Leakey vernoem is. Hier is orangoetangs nooit ver weg nie. Party het tot naby ons gekom en geposeer of gimnastiektoertjies gedoen. Een volwasse wyfie het selfs na my vriend se baadjie gegryp! Dit was wonderlik om so naby aan hierdie pragtige diere te wees.
Maar Camp Leakey laat ’n mens tot die nugtere besef kom: Orangoetangs is op die randjie van uitsterwing. Party omgewingsdeskundiges meen dat hulle dalk nie meer lank in die natuur sal oorleef nie—tien jaar of minder. Beskou drie vername bedreigings.
Houtkappery. Omtrent 80 persent van die habitat wat geskik is vir orangoetangs het oor die afgelope 20 jaar verdwyn. Indonesië verloor gemiddeld 51 vierkante kilometer woud per dag, wat gelykstaande is aan vyf sokkervelde per minuut.
Wilddiefstal. Namate mense die woud binnedring, word orangoetangs kwesbaarder vir jagters. Die kopbeen van ’n orangoetang is tot R530 werd op die onwettige aandenkingsmark. Party beskou die orangoetang as ’n bedreiging vir gewasse. Ander maak hulle dood vir kos.
Troeteldierhandel. Op die swartmark betaal mense honderde tot tienduisende rande vir ’n oulike orangoetangbaba. Volgens skatting word omtrent duisend orangoetangbabas elke jaar verkoop.
Regerings- sowel as privaatagentskappe probeer die orangoetang van uitsterwing red. Hulle pogings sluit in dat rehabilitasiesentrums opgerig word, bewustheid deur middel van opvoedingsprogramme gewek word, nasionale parke en reservate gestig word en onwettige houtkappery beheer word.
Die Bybel sê dat God binnekort “die verderwers van die aarde [sal] verderf” en ’n aardwye paradys tot stand sal bring (Openbaring 11:18; Jesaja 11:4-9; Matteus 6:10). Dan sal die woorde van die psalmis vervul word: “Laat al die bome van die woud . . . met vreugde begin uitroep” (Psalm 96:12). Diere—soos die orangoetang, Indonesië se “man van die woud”—sal floreer, en mense sal nie meer ’n bedreiging vir sy voortbestaan inhou nie.
[Kaart op bladsy 15]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
MALEISIË
Borneo
INDONESIË
Sumatra
AUSTRALIË
[Prent op bladsy 16]
Die gesig van die volwasse mannetjie het kenmerkende wangkussings
[Erkenning]
© imagebroker/Alamy
[Prente op bladsy 17]
Orangoetangs beweeg maklik deur die bome, maar is baie stadiger op die grond
[Erkennings]
Bo: © moodboard/Alamy; onder: Orangutan in the Camp Leakey of Tanjung Puting National Park, managed by BTNTP, UPT Ditjen PHKA Dephut
[Foto-erkenning op bladsy 15]
Orangutan in the Camp Leakey of Tanjung Puting National Park, managed by BTNTP, UPT Ditjen PHKA Dephut
[Foto-erkenning op bladsy 18]
Orangutan in the Camp Leakey of Tanjung Puting National Park, managed by BTNTP, UPT Ditjen PHKA Dephut