Ek kan nie wag om vir hulle te sê: “Ons is almal hier!” nie
Soos vertel deur Abigail Austin
Ek was nege jaar oud. Dit was ’n pragtige Aprildag in 1995, en ’n groep van ons uit die plaaslike gemeente van Jehovah se Getuies het besluit om die dag in die Engelse platteland deur te bring. Ons het motorgroepe gevorm en vertrek. Ek, my ouer suster Sarah en ’n vriendin van ons gesin, Deborah, het saam met my pa en ma gery. Skielik het ’n motor aan die verkeerde kant van die pad op ons afgepyl en in ons vasgery. Ek was die enigste oorlewende.
EK HET twee weke later in die hospitaal wakker geword. My skedel was verbrysel, en die dokters het ’n hele paar plate ingesit om dit bymekaar te hou. Tog het ek gou herstel. My familielede het my uiteindelik vertel wat gebeur het, maar ek het hulle nie geglo nie. Ek het bly dink dat my ouers en my suster my besoek het terwyl ek geslaap het en dat ek hulle net nie gesien het nie. Dit was eers toe ek by die huis gekom het dat die werklikheid my getref het. Ek was verpletter.
Wat het my gehelp om hierdie verskriklike tragedie te verwerk?
My geestelike erfenis
Ek was die jongste van vyf kinders. Toe die ongeluk plaasgevind het, was Sarah 22, Shane 20, Jessica 17 en Luke 15. Ons het wonderlike, liefdevolle ouers gehad. My pa, Steve, het gedien as ’n ouer man in die West Yorkshire-gemeente van Jehovah se Getuies in Shipley en was geliefd omdat hy altyd bereid was om na ander te luister en hulle te help. My ma, Carol, was ook baie geliefd en het soos ’n dogter na die bejaarde lede van die gemeente omgesien. Sy het gesellighede vir ons as jongmense gereël en ons gehelp om goeie vriende te vind. Almal was welkom by ons huis. Ons ouers het ons geleer om ook vriendelik en bedagsaam teenoor ons medemens te wees.
Elke Woensdagaand het ons as ’n gesin die Bybel bestudeer. Soms het ons Bybeldramas opgevoer en klere aangetrek wat by ons rol gepas het. My ma en pa het ons van kleins af geleer hoe om vir ons gemeentelike vergaderinge voor te berei en hoe om die Bybel se boodskap aan ander mense by hulle huise oor te dra. Hoewel ons ouers hulle hande vol gehad het met vyf kinders, het hulle tyd saam met ons deurgebring en ons gehelp om geestelik sterk te word.
Toe Sarah, Shane en Jessica skool verlaat het, het hulle pioniers, oftewel voltydse Christenbedienaars, geword, soos ook ons vriendin Deborah. Ek en Sarah was baie na aan mekaar. Sy was soos ’n tweede ma vir my, en gedurende my skoolvakansies het ons twee ons tyd saam deurgebring om ander te help om van die Bybel te leer. Ek het daardie dae baie geniet. Ek kon sien hoe gelukkig al die pioniers was, en dit was vir my lekker om saam met hulle te wees. My doelwit was om saam met Sarah te pionier nadat ek my skoolloopbaan voltooi het.
Vakansietye het ons gesin en ander in die gemeente dikwels tyd saam deurgebring. Jonk en oud het hegte vriendskapsbande gesmee en baie lief vir mekaar geword. Min het ek geweet hoe hierdie goeie vriende my in die dae wat voorlê, sou help en vertroos!
Ná die ongeluk
Toe ek uit die hospitaal gekom het, het ek na ons gesinshuis teruggekeer. Shane en Jessica het hard gewerk om vir ons almal te voorsien en te sorg, terwyl hulle deeltyds gewerk het en aan die voltydse bediening deelgeneem het.
Baie mede-Getuies in ons plaaslike gemeente het ons ook te hulp gesnel. Hulle het soveel vir ons gedoen! Hulle het maaltye voorsien, skoongemaak, inkopies gedoen en ons wasgoed gewas totdat ons na onsself kon omsien. Ons was baie dankbaar hiervoor. Tallose geskenke en kaartjies om meegevoel te betuig, het van heinde en ver van Getuies gekom, wat bewys gelewer het van die innige liefde binne Jehovah se organisasie.
Ná ongeveer ’n jaar het my broers en suster besluit dat ek ’n bestendige gesinslewe nodig het. Party liefdevolle gesinne in die gemeente het hulp aangebied, en daarom het my gesinslede gaan sit om te bespreek wat my ma en pa sou dink die beste vir my en my geestelike toekoms sou wees. Een gesin het uitgestaan. Billy, ’n ouer man, en sy vrou, Dawn, was besonder hegte vriende van ons gesin, en hulle het ’n vyfjarige dogter, Lois, gehad. Hulle het my in hulle huis ingeneem en het sedertdien liefdevol vir my gesorg asof ek hulle eie dogter was. Hoewel Lois haar ouers met my moes deel, was sy nooit jaloers nie, en vandag is ons so na aan mekaar soos twee eie susters.
Hoe ek die tragedie verwerk het
Aanvanklik het ek gewonder waarom hierdie verskriklike tragedie ons gesin getref het, veral aangesien my ouers, sowel as Sarah en Deborah, soveel liefde vir Jehovah en ander mense getoon het. Maar toe het ek gedink aan die Bybelverslag van Job, wat sy geloof in God behou het al het hy sy kinders verloor (Job 1:19, 22). Ek het gedink: ‘Ja, Satan het lyding en die dood oorspronklik in die wêreld ingebring, en hy sal bly wees as hierdie tragedie veroorsaak dat ons ophou om God te dien’ (Genesis 3:1-6; Openbaring 12:9). Ek het ook onthou dat Jehovah uit liefde die wonderlike opstandingshoop aan ons gegee het (Johannes 5:28, 29). Ons gaan ons gesin en Deborah weer sien, dié keer op ’n paradysaarde! Om die waarheid te sê, my liefde vir Jehovah het sterker geword.
Wanneer ek mense ontmoet wat ook tragedies deurgemaak het, voel ek baie hartseer as hulle nog nie van die Bybel se kosbare opstandingsbelofte gehoor het nie. Ek wil hulle dan van ons hoop vertel, want ek is seker dat ons gesin slegs danksy Jehovah en sy organisasie so goed deur hierdie donker tyd gekom het, in die wete dat daar lig aan die einde van die tonnel is.
Dalk het ons ondervinding ook op ’n ander manier gehelp deurdat party ouers hulle afgevra het: ‘Het ons ons kinders ’n geestelike grondslag gegee wat sterk genoeg is sodat hulle, as iets met ons gebeur, sal voortgaan om Jehovah sonder ons te dien?’
Ek probeer lewe asof my ma en pa nog hier is. Ek weet dat hulle sou wou hê dat ek hard moet werk om ander te help, net soos hulle gedoen het. Ek pionier al vandat ek skool verlaat het, en Lois pionier nou saam met my. My broers en my suster is getroud en dien Jehovah vreugdevol in hulle onderskeie gemeentes.
Ek sien werklik uit na God se nuwe wêreld asook die opstanding! Dan sal daar nie meer pyn of dood wees nie (Openbaring 21:3, 4). Die wete dat ons almal weer bymekaar sal wees, help my om voort te gaan. Ek kan nie wag om my ma, pa, Sarah en Deborah te omhels en vir hulle te sê: “Ons is almal hier!” nie.
[Prent op bladsy 23]
Abigail (tweede van links af) vandag saam met die gesin wat haar aangeneem het