Jongmense Vra
Hoe kan ek met my broers en susters oor die weg kom?
Hoe sou jy jou verhouding met elkeen van jou broers en susters beskryf?
․․․․․ Beste vriende
․․․․․ Kom meestal goed oor die weg
․․․․․ Ons verdra mekaar
․․․․․ Ons baklei alewig
PARTY broers en susters is baie na aan mekaar. Byvoorbeeld, Felicia, 19, sê: “My suster, Irena, is 16 jaar oud en is een van my beste vriendinne.”a En Carly, 17, sê van haar 20-jarige broer, Eric: “Ons kom baie goed oor die weg. Ons baklei nooit nie.”
Aan die ander kant het baie ’n verhouding soos dié van Lauren en Marla. “Ons baklei oor alles”, sê Lauren, “maak nie saak hoe onbelangrik dit is nie.” Of miskien voel jy soos Alice, 12, wat van haar 14-jarige broer, Dennis, sê: “Hy werk op my senuwees! Hy storm by my kamer in en ‘leen’ goed sonder om te vra. Dennis is so kinderagtig!”
Het jy ’n broer of suster wat op jou senuwees werk? Jou ouers het natuurlik die verantwoordelikheid om te sorg dat daar orde in die huisgesin is. Maar vroeër of later sal jy moet leer om met ander oor die weg te kom. Jy kan dit leer terwyl jy nog in die huis is.
Dink aan die kere toe jy met jou broer of suster gestry het. Waaroor baklei julle die meeste? Kyk na die lys hieronder, en maak ’n ✔ in die blokkies wat van toepassing is, of skryf neer watter situasie jou woedend maak!
□ Besittings. My broer of suster “leen” goed sonder om te vra.
□ Persoonlikheidsverskille. My broer of suster is selfsugtig of onbedagsaam of probeer my lewe beheer.
□ Privaatheid. My broer of suster loop sonder om te klop by my kamer in of lees my e-posse of SMS’e sonder om te vra.
□ Ander. ․․․․․
As jou broer of suster jou heeltyd irriteer—vir jou sê wat om te doen of jou nie enige privaatheid gee nie—is dit dalk moeilik om te keer dat woede in jou opbou. Maar ’n Bybelspreuk sê: “As jy iemand op die neus slaan, kom daar bloed uit; as jy mense kwaad maak, kom daar rusie” (Spreuke 30:33, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling). As jy ’n wrok koester, kan dit maklik tot ’n woedeuitbarsting lei; net soos ’n hou op die neus dit kan laat bloei. Die probleem sal dus net erger word (Spreuke 26:21). Hoe kan jy voorkom dat ’n irritasie in ’n hewige argument ontaard? Die eerste stap is om die werklike probleem te identifiseer.
Voorval of probleem?
Probleme tussen kinders uit dieselfde huisgesin is soos puisies. Op die oog af lyk ’n puisie soos ’n onooglike seer, maar die oorsaak is ’n onderliggende infeksie. Net so is ’n lelike stryery tussen broers of susters dikwels net die sigbare bewys dat daar ’n onderliggende probleem is.
Jy kan ’n puisie probeer wegkry deur dit uit te druk. Maar dit sal net die simptoom wegneem en sal moontlik ’n litteken laat of die infeksie vererger. Dit sal beter wees om iets omtrent die infeksie te doen en sodoende verdere puisies te vermy. Dieselfde geld wanneer jy probleme met jou broers of susters het. Leer om die onderliggende probleem te identifiseer, en jy sal verder as net die voorval sien en tot by die oorsaak van die probleem kom. Jy sal ook die raad van die wyse koning Salomo kan toepas, wat geskryf het: “Die insig van ’n mens vertraag beslis sy toorn.”—Spreuke 19:11.
Byvoorbeeld, Alice, wat vroeër aangehaal is, het van haar broer Dennis gesê: “Hy storm by my kamer in en ‘leen’ goed sonder om te vra.” Dít is die voorval. Maar wat dink jy is die werklike probleem? Dit het heel moontlik te doen met respek.b
Alice kan iets omtrent die probleem probeer doen deur vir Dennis te sê om nooit weer in haar kamer in te kom of haar goed te gebruik nie. Hierdie oplossing behandel egter net die simptoom en sal waarskynlik tot verdere konflik lei. Maar as Alice Dennis kan oortuig om haar privaatheid en haar eiendom te respekteer, sal hulle verhouding ongetwyfeld verbeter.
Leer om konflikte op te los of te vermy
Om die onderliggende probleme wat jy met ’n broer of suster het, te identifiseer, is natuurlik net deel van die oplossing. Wat kan jy doen om ’n probleem op te los en ’n toekomstige konfrontasie te vermy? Probeer die volgende ses stappe.
1. Besluit saam oor ’n paar basiese reëls. “Planne misluk waar daar geen vertroulike gesprekke is nie”, het koning Salomo geskryf (Spreuke 15:22). Om frustrasie te help vermy, kan jy gerus weer kyk na wat jy gesê het konflik tussen jou en jou broer of suster veroorsaak. Kyk of julle saam met ’n paar reëls vorendag kan kom waarmee julle al twee saamstem en wat die onderliggende probleem kan oplos. Byvoorbeeld, as julle oor besittings stry, kan Reël 1 dalk wees: “Vra altyd voordat jy iets vat wat aan iemand anders behoort.” Reël 2 kan wees: “Respekteer jou broer of suster se reg om te sê: ‘Nee, jy kan dit nie gebruik nie.’” Wanneer julle sulke reëls maak, moet julle dink aan Jesus se bevel: “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook net so aan hulle doen” (Matteus 7:12). Sodoende sal julle reëls maak wat jy en jou broer of suster kan volg. Vra dan julle ouers om seker te maak dat hulle julle ooreenkoms goedkeur.—Efesiërs 6:1.
2. Bly self by die reëls. Die apostel Paulus het geskryf: “Leer jy, die een wat iemand anders leer, dan nie jouself nie? Jy, die een wat preek: ‘Moenie steel nie’, steel jy?” (Romeine 2:21). Hoe kan jy hierdie beginsel toepas? As jy byvoorbeeld wil hê dat jou broer of suster jou privaatheid moet respekteer, moet jy ook klop voordat jy by sy of haar kamer instap of vra voordat jy sy of haar e-posse of SMS’e lees.
3. Moenie gou aanstoot neem nie. Waarom is dit goeie raad? Want ’n Bybelspreuk sê: “Net dwase word gou kwaad en koester ’n wrok” (Prediker 7:9, Contemporary English Version). As jy maklik aanstoot neem, sal jy altyd ongelukkig wees. Ja, jou broer of suster sal dinge doen of sê wat jou ontstel. Maar vra jou af: ‘Het ek in die verlede iets soortgelyks aan hom of haar gedoen?’ (Matteus 7:1-5). “Toe ek 13 was”, sê Jenny, “het ek gedink dat my mening die belangrikste is en dat dit gehoor moet word. My kleinsussie gaan nou deur ’n soortgelyke stadium. En daarom probeer ek nie kwaad word oor die dinge wat sy sê nie.”
4. Vergewe en vergeet. Ernstige probleme moet bespreek en opgelos word. Maar moet jy jou broer of suster konfronteer oor elke fout wat hy of sy maak? Jehovah God waardeer dit wanneer jy gewillig is om “oortreding oor te sien” (Spreuke 19:11). Alison, 19, sê: “Ek en my suster Rachel kan gewoonlik ons verskille uitstryk. Ons al twee sal gou om verskoning vra en dan verduidelik wat ons dink die oorsaak van die stryery was. Soms gaan slaap ek oor ’n saak voordat ek daaroor praat. Die volgende oggend sien ’n mens sake dikwels uit ’n heel ander oogpunt en hoef ek nie eers daaroor te praat nie.”
5. Betrek jou ouers as skeidsregters. As jy en jou broer of suster nie ’n belangrike probleem kan oplos nie, kan julle ouers julle help om vrede te maak (Romeine 14:19). Maar onthou dat die vermoë om ’n konflik op te los sonder om jou ouers te betrek soos ’n mylpaal is—dit is ’n teken van ware volwassenheid.
6. Waardeer jou broer of suster se goeie eienskappe. Jou broer of suster het waarskynlik eienskappe wat jy bewonder. Skryf een ding neer wat jy omtrent elkeen van jou broers of susters waardeer.
Naam Wat ek waardeer
․․․․․ ․․․․․
Kan jy, in plaas van behep te raak met jou broer of suster se foute, op die uitkyk wees na ’n geleentheid om hom of haar te vertel wat jy omtrent hom of haar bewonder?—Psalm 130:3; Spreuke 15:23.
Lewensfeit: Wanneer jy eendag die huis verlaat, sal jy soms omring wees deur mense wat jou irriteer—werksmaats en ander wat onbeskof, ongevoelig en selfsugtig is. Jou ouerhuis is die plek waar jy leer om sulke uitdagings op ’n vreedsame manier die hoof te bied. As jy sukkel om met een van jou broers of susters oor die weg te kom, moet jy dit as iets positiefs beskou. Daardie broer of suster help jou om kosbare lewensvaardighede te ontwikkel!
Die Bybel erken dat ’n broer of suster dalk nie altyd die persoon sal wees wat die naaste aan jou is nie (Spreuke 18:24). Maar jy kan jou vriendskap met jou broer of suster versterk as julle “[aanhou] om mekaar te verdra”, selfs al gee hy of sy jou geldige “rede tot klagte” (Kolossense 3:13). As jy dit doen, sal jou broer of suster jou heel moontlik minder irriteer. En jy sal hulle miskien ook minder omkrap!
Nog artikels uit die reeks “Jongmense vra” kan gevind word op die webwerf www.watchtower.org/ype
[Voetnote]
a Van die name is verander.
b Vir verdere hulp, sien die venster hieronder.
IETS OM OOR TE DINK
● Waarom is dit belangrik om die verskil te sien tussen ’n voorval en die onderliggende probleem?
● Watter een van die ses stappe hierbo moet jy die hardste aan werk?
[Venster op bladsy 27]
IDENTIFISEER DIE WERKLIKE PROBLEEM
Wil jy vaardiger daarin word om onderliggende probleme tussen broers en susters te identifiseer? Indien wel, lees Jesus se gelykenis van die seun wat die huis verlaat het en sy erfenis verkwis het.—Lukas 15:11-32.
Kyk mooi hoe die ouer broer gereageer het toe sy jonger broer teruggekeer het huis toe. Beantwoord dan die volgende vrae.
Wat het die ouer broer so laat reageer?
Wat dink jy was die onderliggende probleem?
Hoe het hulle vader die probleem probeer oplos?
Wat moes die ouer broer doen om die probleem op te los?
Dink nou aan ’n onlangse argument wat jy met jou broer of suster gehad het. Skryf dan jou antwoorde langs die vrae neer.
Wat het aanleiding gegee tot die voorval?
Wat dink jy is moontlik die onderliggende probleem?
Op watter basiese reëls kan julle saam besluit wat hierdie probleem sal oplos en toekomstige stryery sal voorkom?
[Venster/Prente op bladsy 28, 29]
WAT JOU PORTUURS SÊ
“Ek wil vir die res van my lewe vriende met my susters wees, en daarom kan ek net sowel nou al met hierdie lewenslange projek begin.”
“Ons doen dinge saam as ’n gesin, en dit help om ons te verenig. Dis asof ons nie meer so baie stry soos voorheen nie.”
“In sekere opsigte verskil ons soos dag en nag. Maar my suster is nog steeds uniek. Ek sal haar vir niks verruil nie!”
“Sonder my broer en suster sou ek glad nie my beste herinneringe gehad het nie. Vir dié wat broers of susters het, sal ek sê: ‘Waardeer hulle!’”
[Prente]
Tia
Bianca
Samantha
Marilyn
[Prent op bladsy 27]
Probleme tussen kinders uit dieselfde huisgesin is soos puisies—om daarvan ontslae te raak, moet jy die onderliggende probleem oplos, nie net iets omtrent die simptoom doen nie