Jongmense vra . . .
Wat kan ek doen om nie meer in my broer of suster se skaduwee te lewe nie?
“Ek wou ’n individu wees, maar ek het altyd gevoel ek moet my suster se reputasie naleef. Ek het gevoel dat ek nooit sou kon bereik wat my suster bereik het nie.”—Clare.
LYK dit asof jou broer of suster uitblink in feitlik alles wat hulle aanpak? Spoor jou ouers jou gedurig aan om meer soos hulle te wees? As dit die geval is, is jy dalk bang dat jy altyd in hulle skaduwee sal wees—dat jou waarde altyd gemeet sal word aan hoe goed jy jou broer of suster se prestasies naleef.
Barrya se ouer broers het albei gegradueer aan die hoogaangeskrewe Bedieningsopleidingskoolb en het uitstekende reputasies as Christene. Barry erken: “My selfvertroue het daaronder gely, aangesien ek gevoel het dat ek nooit hulle standaarde in die predikingswerk sou kon naleef of so goed soos hulle in die openbaar sou kon praat nie. Dit was moeilik om my eie vriende te maak, want ek het altyd net saam met my broers gegaan wanneer hulle uitgenooi is. Ek het gevoel dat mense net as gevolg van my broers met my vriendelik is.”
Dit is moeilik om nie jaloers te word as ’n mens ’n broer of suster het wat dikwels geprys word nie. In Bybeltye het jong Josef uitgestaan bo sy broers. Watter uitwerking het dit op hulle gehad? “Hulle [het] hom begin haat, en hulle kon nie op vreedsame wyse met hom praat nie” (Genesis 37:1-4). Josef was natuurlik beskeie. Maar jou broer of suster wek dalk gevoelens van wedywering en gegriefdheid by jou deur jou aanhoudend aan hulle prestasies te herinner.
Party jongmense reageer daarop deur opstandig te word—hulle verwaarloos miskien hulle skoolwerk, verminder hulle Christelike bedrywighede of raak betrokke by skokkende gedrag. Hulle reken dalk dat dit nutteloos is om selfs te probeer om iets te doen as hulle nie so goed soos hulle broer of suster kan wees nie. Maar op die ou end sal jou opstandigheid jou net benadeel. Hoe kan jy onder jou broer of suster se skaduwee uitkom en nog steeds goed voel oor jouself?
Verkry ’n realistiese beskouing van hulle
Wanneer jy sien hoeveel aandag jou broer of suster kry, kan jy jou wysmaak dat hy of sy volmaak is en dat jy nooit aste nimmer so goed sal kan wees nie. Maar is dit regtig waar? Die Bybel sê reguit: “Almal het gesondig en skiet te kort aan die heerlikheid van God.”—Romeine 3:23.
Ja, ongeag watter vaardighede of talente ons broers of susters het, hulle is nog steeds “mense met dieselfde gebreke” as ons (Handelinge 14:15). Daar is geen rede om hulle op ’n troon te plaas of om hulle te verafgod nie. Die enigste mens wat nog ooit ’n volmaakte voorbeeld gestel het, is Jesus Christus.—1 Petrus 2:21.
Leer by hulle!
Daarna moet jy probeer om jou situasie te beskou as ’n geleentheid om iets te leer. Beskou die voorbeeld van Jesus Christus se broers en susters (Matteus 13:55, 56). Dink aan wat hulle alles by hulle volmaakte broer kon geleer het! Maar “sy broers het in werklikheid nie geloof in hom beoefen nie” (Johannes 7:5). Miskien het trots en jaloesie hulle verhinder om geloof te betoon. Dit was Jesus se geestelike broers—sy dissipels—wat gereageer het op sy ruimhartige uitnodiging: “Leer by my” (Matteus 11:29). En dit was eers ná Jesus se opstanding dat sy vleeslike broers hom uiteindelik waardeer het (Handelinge 1:14). Tot op daardie tydstip het hulle talle gulde geleenthede om by hulle uitsonderlike broer te leer, deur die vingers laat glip.
Kain het ’n soortgelyke fout begaan. Sy broer, Abel, was ’n uitsonderlike kneg van God. Die Bybel sê dat “Jehovah Abel en sy offer gunstig aangesien het” (Genesis 4:4). Maar om die een of ander rede het God “Kain en sy offer glad nie gunstig aangesien nie”. Kain kon nederigheid aan die dag gelê het en by sy broer geleer het. Maar “Kain het baie kwaad geword” en Abel op die ou end vermoor.—Genesis 4:5-8.
Nie dat jy ooit so kwaad vir jou broer of suster sal word nie. Maar jy kan ook kosbare geleenthede deur die vingers laat glip as jy toelaat dat trots en jaloesie in jou pad staan. As jy ’n broer of ’n suster het wat in wiskunde uitblink, briljant is in geskiedenis, jou gunstelingsport bemeester het, uitsonderlike kennis van die Skrif het of goeie toesprake lewer, moet jy teen jaloesie stry! Onthou, “jaloesie is verrotting vir die gebeente” en kan jou net benadeel (Spreuke 14:30; 27:4). Moenie ’n wrok koester nie, maar probeer eerder om by jou broer of suster te leer. Aanvaar die feit dat hy of sy vermoëns of vaardighede het wat jy nie het nie. Let op hoe hulle dinge doen—of nog beter, vra om hulp.
Barry, wat vroeër genoem is, het met verloop van tyd uit sy broers se goeie voorbeeld geleer. Hy sê: “Ek het gesien hoe gelukkig dit my broers gemaak het omdat hulle gewillig was om mense in die gemeente en in die predikingswerk te help. Daarom het ek besluit om hulle voorbeeld na te volg en betrokke geraak by Koninkryksaal- en Bethelbouwerk. Die ondervinding wat ek opgedoen het, het my selfvertroue gegee en my verhouding met Jehovah versterk.”
Vind jou sterk punte
Miskien is jy bang dat jy jou individualiteit sal verloor as jy jou broer of suster se goeie eienskappe navolg. Maar dit hoef nie te gebeur nie. Die apostel Paulus het eerste-eeuse Christene aangemoedig: “Word navolgers van my” (1 Korintiërs 4:16). Het dit beteken dat Paulus wou hê dat hulle hulle individualiteit moes prysgee? Glad nie. Daar is baie ruimte vir verskeidenheid. As jy nie so ’n goeie wiskundestudent soos jou broer of suster is nie, beteken dit nie dat jy minderwaardig is nie. Dit beteken eenvoudig dat jy anders is.
Paulus gee hierdie praktiese raad: “Laat elkeen sy eie werk op die proef stel, en dan sal hy net met betrekking tot homself rede tot vreugde hê, en nie in vergelyking met die ander persoon nie” (Galasiërs 6:4). Dit sal dus goed wees as jy jou daarop toelê om jou eie unieke vaardighede en vermoëns te ontwikkel. As jy leer om ’n ander taal te praat, ’n musiekinstrument te speel of ’n rekenaar te gebruik, kan dit jou help om beter oor jouself te voel, en dit kan ook daartoe lei dat jy waardevolle vaardighede ontwikkel. Moenie probeer om alles volmaak te doen nie! Leer om deeglik, pligsgetrou en bekwaam te wees (Spreuke 22:29). Jy het dalk nie ’n natuurlike aanleg vir iets nie, maar “die hand van die vlytiges sal heers”, sê Spreuke 12:24.
Maar jy moet jou veral op jou geestelike ontwikkeling toelê. Geestelike vaardighede is van baie groter waarde as enige talente wat dalk meer aandag trek. Dink aan die tweelingbroers Esau en Jakob. Esau is baie deur sy pa geprys, want hy was “’n man . . . wat geweet het hoe om te jag, ’n man van die veld”. Sy broer Jakob is miskien in die begin maklik misgekyk omdat hy “’n onberispelike man [was] wat in tente gewoon het” (Genesis 25:27). Esau het versuim om sy geestelikheid te ontwikkel en het die geleentheid verbeur om geseën te word. Jakob het ’n liefde vir geestelike dinge aangekweek en is ryklik deur Jehovah geseën (Genesis 27:28, 29; Hebreërs 12:16, 17). Wat leer ons hieruit? Ontwikkel jou geestelikheid, ‘laat jou lig skyn’ en dan sal jou “vooruitgang vir almal duidelik . . . wees”.—Matteus 5:16; 1 Timoteus 4:15.
Clare, wat vroeër genoem is, sê: “Ek was tevrede om in die skaduwee van my ouer susters te lewe. Maar toe het ek besluit om die Skriftuurlike raad te volg om ‘verruim te word’ in my geneenthede. Ek het saam met verskillende mense in die gemeente velddiens gedoen en gesoek na praktiese maniere om dié in die gemeente te help wat hulp nodig gehad het. Ek het ook broers en susters van verskillende ouderdomsgroepe na ons huis toe genooi en vir hulle kos gemaak. Nou het ek ’n wyer vriendekring en meer selfvertroue.”—2 Korintiërs 6:13.
Jou ouers sal jou dalk nog steeds van tyd tot tyd aanspoor om meer soos jou broer of suster te wees. As jy egter besef dat jou ouers jou belange op die hart dra, sal dit dalk minder seermaak (Spreuke 19:11). Maar dit sal miskien wys wees om op ’n respekvolle manier vir jou ouers te sê hoe sulke vergelykings jou laat voel. Miskien sal hulle dan ander maniere probeer vind om vir jou te sê as hulle besorg is oor iets.
Moet nooit vergeet dat Jehovah God jou sal raaksien as jy hom dien nie (1 Korintiërs 8:3). Barry som dit op deur te sê: “Hoe langer ek Jehovah dien, hoe gelukkiger is ek. Mense sien my nou vir wie ék is en aanvaar my, net soos hulle my broers aanvaar.”
[Voetnote]
a Van die name is verander.
b Gereël deur Jehovah se Getuies.
[Prent op bladsy 25]
Kry jou broer of suster dikwels al die aandag?
[Prent op bladsy 26]
Ontwikkel jou eie talente en belangstellings
[Prent op bladsy 26]
‘Laat jou lig skyn’ deur jou geestelike vaardighede te ontwikkel