Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 8/10 bl. 6-7
  • Vrae wat dikwels gevra word

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vrae wat dikwels gevra word
  • Ontwaak!—2010
  • Soortgelyke materiaal
  • Christene en die hedendaagse mensegemeenskap
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Is Jehovah se Getuies ’n kultus?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Herken aan ons gedrag
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Jehovah se Getuies
    Redenering uit die Skrif
Sien nog
Ontwaak!—2010
g 8/10 bl. 6-7

Vrae wat dikwels gevra word

Waarom praat party mense teen Jehovah se Getuies?

Baie mense is eenvoudig verkeerd ingelig. Ander hou dalk nie van die Getuies se evangelisasiewerk nie. Maar die feit is dat die Getuies hierdie werk uit liefde vir hulle naaste doen, in die wete dat ‘elkeen wat die naam van Jehovah aanroep, gered sal word’.—Romeine 10:13.

Is Jehovah se Getuies Protestante, Fundamentaliste of ’n sekte?

Jehovah se Getuies is Christene, maar hulle is nie Protestante nie om dieselfde rede dat hulle nie Katolieke is nie—hulle besef dat sekere leringe van hierdie godsdienste onskriftuurlik is. Byvoorbeeld, die Bybel leer nie dat God—die verpersoonliking van liefde—mense vir ewig in ’n brandende hel folter nie. Dit leer ook nie dat mense ’n onsterflike siel het of dat Christene hulle met die politiek moet bemoei nie.—Esegiël 18:4; Johannes 15:19; 17:14; Romeine 6:23.a

“Fundamentalisme is ’n breë beweging binne Protestantisme in die Verenigde State”, sê The World Book Encyclopedia. Party Fundamentalistiese organisasies “het maatskaplike en politieke standpunte ingeneem wat gegrond is op ’n letterlike gebruik van Bybelverse”. Hierdie omskrywing pas nie by Jehovah se Getuies nie. Soos genoem is, raak hulle nie betrokke by die politiek nie en dwing hulle nie hulle beskouing op ander af deur die politiek of enigiets anders te gebruik nie. Hulle praat eerder met mense, gewoonlik persoonlik, en gebruik rede en oortuigende bewyse, in navolging van die vroeë Christene.—Handelinge 19:8.

’n Sekte is ’n afwykende groep binne ’n godsdiensgemeenskap of een wat wegbreek om ’n nuwe godsdiens te vorm. Jehovah se Getuies het nie van enige kerk weggebreek nie. Hulle is nie ’n sekte nie.

Wat gebeur by die Getuies se vergaderinge?

Hulle vergaderinge, wat oop is vir die publiek, is hoofsaaklik Bybelstudies, wat dikwels gehoordeelname insluit. Een van hulle weeklikse vergaderinge, die Teokratiese Bedieningskool, help gemeentelede om hulle onderrig-, lees- en navorsingsvermoë te ontwikkel. Nog ’n vergadering is ’n Bybeltoespraak van 30 minute oor ’n onderwerp wat diegene wat nie Getuies is nie, moontlik baie interessant sal vind. Dit word gewoonlik gevolg deur ’n studie van die Bybel met behulp van die tydskrif Die Wagtoring. Vergaderinge begin en eindig met lied en gebed; daar word nie versoeke om geld gedoen nie, en geen kollektebord word omgestuur nie.—2 Korintiërs 8:12.

Hoe word Jehovah se Getuies gefinansier?

Hulle werk word deur vrywillige bydraes gefinansier. Die Getuies vra nie geld vir doopplegtighede, troues, begrafnisse of enige ander dienste nie. Hulle vra ook nie tiendes nie. Enigiemand wat ’n donasie wil maak, kan dit doen deur geld in ’n bydraebussie te gooi wat op ’n onopsigtelike plek in die Koninkryksaal geplaas is. Jehovah se Getuies druk self die Bybellektuur wat hulle gebruik, wat koste laag hou, en hulle beskeie Koninkryksale en takfasiliteite word meestal deur vrywilligers gebou.

Aanvaar Jehovah se Getuies mediese behandeling?

Ja. Trouens, hulle probeer die bes moontlike sorg vir hulle en hulle geliefdes kry. Wat meer is, baie Getuies werk in die mediese veld as verpleegsters, paramedici, dokters en chirurge. Jehovah se Getuies weier egter om bloedoortappings te aanvaar. ‘Julle moet julle onthou van bloed’, sê die Bybel (Handelinge 15:28, 29). Interessant genoeg, ’n toenemende aantal dokters beskou bloedlose mediese sorg as die “goue standaard”, want daardeur word al die gesondheidsrisiko’s vermy wat met die gebruik van bloedprodukte verband hou.

a Die Bybelse beskouing van hierdie en talle ander belangrike onderwerpe kan gevind word in die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

WAAR VERDRAAGSAAMHEID HEERS

Daar is iets buitengewoons omtrent die dorp Bejucal de Ocampo in Suid-Mexiko. “Die meeste van die inwoners is Jehovah se Getuies”, sê ’n berig in die koerant Excélsior en voeg by: “Hier heers ’n atmosfeer van verdraagsaamheid teenoor godsdiens en die regering. . . . Die inwoners het dronkenskap en sigarette vir liedere en Bybellees verruil. Hulle respekteer ook die owerhede.”

Al is daar verskillende godsdienste in die dorp, “was daar nog geen godsdienskonflikte of -geskille nie”, sê die berig. Dit sê ook: “Daar is geen plek vir vyandigheid nie, en godsdiensverskeidenheid verhinder nie dat bure mekaar groet nie . . . Elke gesin bely hulle geloof openlik, en dit keer nie dat hulle as ’n gemeenskap by mekaar inskakel nie. Dit is vir niemand vreemd dat Jehovah se Getuies ’n sterk teenwoordigheid in Bejucal het nie.” Wat meer is, hulle kinders ‘trek beskeie aan, behaal goeie punte en gedra hulle goed in die klas’, het ’n hoërskoolonderwyser daar gesê wat nie ’n Getuie is nie.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel