Is Jehovah se Getuies ’n kultus?
JESUS CHRISTUS is daarvan beskuldig dat hy ’n dronkaard, ’n vraat, ’n Sabbatskender, ’n valse getuie, ’n godslasteraar en ’n boodskapper van Satan is. Hy is ook daarvan beskuldig dat hy ondermynend is.—Mattheüs 9:34; 11:19; 12:24; 26:65; Johannes 8:13; 9:16; 19:12.
Ná Jesus se dood en sy opstanding was sy dissipels eweneens die skyf van ernstige beskuldigings. Een groep eerste-eeuse Christene is na die stadsowerheid gesleep deur mense wat geskreeu het: ‘Hierdie mense het die wêreld in opstand gebring’ (Handelinge 17:6). By ’n ander geleentheid is die apostel Paulus en sy metgesel Silas na die owerheid van die stad Filippi geneem en daarvan beskuldig dat hulle die stad in opskudding bring.—Handelinge 16:20.
Paulus is later daarvan beskuldig dat hy “’n pes is en ’n verwekker van oproer onder al die Jode in die wêreld” en dat hy probeer om “die tempel te ontheilig” (Handelinge 24:5, 6). Die vernaamstes van die Jode in Rome het die situasie waarin Jesus se navolgers hulle bevind het raak beskryf toe hulle erken het: “Wat hierdie sekte betref, is dit ons bekend dat oral daarteen gespreek word.”—Handelinge 28:22.
Hierdie nuwe groep wat deur Jesus Christus tot stand gebring is, is klaarblyklik deur sommige beskou as ’n godsdiensgroep met radikale opvattings en gebruike wat gebots het met wat in daardie dae as normale sosiale gedrag aanvaar is. Baie mense van vandag sou die Christene ongetwyfeld as ’n verderflike kultus beskou het. Die beskuldigers was dikwels vooraanstaande en gerespekteerde lede van die gemeenskap, en dit het blykbaar groter gewig aan die aantygings verleen. Baie het die beskuldigings teen Jesus en sy dissipels geglo. Maar soos jy seker weet, was elkeen van hierdie aantygings onwaar! Die feit dat mense hierdie dinge gesê het, het dit nie waar gemaak nie.
Wat van vandag? Kan ’n mens van Jehovah se Getuies praat as ’n godsdiensgroep met radikale opvattings en gebruike wat bots met wat as normale sosiale gedrag aanvaar word? Is Jehovah se Getuies ’n kultus?
Wat die getuienis toon
’n Regeringsamptenaar van die stad St. Petersburg, Rusland, het verduidelik: “Daar is vir ons gesê dat Jehovah se Getuies die een of ander soort ondergrondse sekte is wat in die donker sit en kinders vermoor en hulleself om die lewe bring.” Maar die mense van Rusland het onlangs die ware karakter van die Getuies beter leer ken. Nadat dieselfde amptenaar in verband met ’n internasionale byeenkoms saam met Jehovah se Getuies gewerk het, het hy gesê: “Nou sien ek normale, glimlaggende mense—wat selfs beter is as baie mense wat ek ken. Hulle is vredeliewend en bedaard, en hulle is baie lief vir mekaar.” Hy het bygevoeg: “Ek verstaan werklik nie waarom mense sulke leuens oor hulle vertel nie.”
Jehovah se Getuies hou nie ritualistiese vergaderinge nie, en hulle aanbidding is ook nie in geheimsinnigheid gehul nie. Die skryfster Julia Mitchell Corbett, nie ’n Getuie nie, sê: “Wanneer hulle, gewoonlik meer as eenmaal per week, in Koninkryksale vergader (hulle vergaderplekke word nie kerke genoem nie), word die meeste van hulle tyd aan Bybelstudie en -besprekings gewy.” Hulle vergaderplekke word duidelik deur ’n naambord aangedui. Die vergaderinge is oop, en die algemene publiek word uitgenooi om dit by te woon. Onverwagte gaste is hartlik welkom.
In Julia Corbett se boek Religion in America sê sy verder dat die “Getuies die reputasie verwerf het dat hulle eerlik, beleefd en hardwerkend is”. Baie mense wat nie Getuies is nie, erken geredelik dat daar niks afwykends of eienaardigs omtrent Jehovah se Getuies is nie. Hulle gedrag bots nie met dít wat as normale sosiale gedrag aanvaar word nie. The New Encyclopædia Britannica sê met reg dat die Getuies “op hoë morele standaarde in persoonlike gedrag aandring”.
Die bestuurder van nuusberigte en spesiale projekte vir ’n televisiestasie in die Verenigde State het in reaksie op ’n bevooroordeelde verslag oor die Getuies in die TV-nuusprogram 60 Minutes aan Jehovah se Getuies geskryf. Hy het gesê: “As meer mense volgens julle geloof geleef het, sou hierdie nasie nie in sy huidige toestand gewees het nie. Ek is een verslaggewer wat weet dat julle organisasie op liefde en ’n sterk geloof in die Skepper gegrond is. Ek wil hê julle moet weet dat nie alle Verslaggewers so bevooroordeeld is nie.”
’n Bekende godsdiens
Is dit billik om te sê dat Jehovah se Getuies ’n klein, ekstremistiese godsdiensgroep is? Jehovah se Getuies het in ’n sekere sin min lede in vergelyking met sommige godsdienste. Maar dink aan wat Jesus gesê het: “Die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind.”—Mattheüs 7:13, 14.
Die Getuies is in elk geval alles behalwe ’n klein, ekstremistiese kultus. In die lente van 1993 het meer as 11 miljoen mense die Getuies se herdenking van Christus se dood bygewoon. Maar hulle beginselvastheid en voorbeeldige gedrag wat al vir hulle wêreldwyd lof gebring het, is belangriker as hulle getalle. Dit het ongetwyfeld daartoe bygedra dat baie lande hulle amptelik as ’n bekende, bona fide godsdiens erken het.
’n Onlangse beslissing deur die Europese Hof vir Menseregte is in hierdie verband uitstaande. Dit het verklaar dat die Getuies vryheid van denke, gewete en godsdiens moet geniet en dat hulle die reg moet hê om oor hulle geloof te praat en dit aan ander te leer. Dit sou glad nie die geval gewees het as Jehovah se Getuies daarvoor bekend was dat hulle misleidende en onetiese tegnieke gebruik om lede te werf of as hulle manipulerende metodes gebruik om hulle navolgers se verstande te beheer nie.
Baie mense oor die wêreld ken Jehovah se Getuies goed. Ons rig die volgende vrae aan die miljoene mense wat nie Getuies is nie en die Bybel saam met hulle studeer of op die een of ander stadium saam met hulle gestudeer het: Het hulle enigsins probeer om julle te indoktrineer? Het die Getuies spesiale tegnieke aangewend om in beheer van julle verstand te kom? Julle eerlike antwoord sal ongetwyfeld “nee” wees. As hulle wel van hierdie metodes gebruik gemaak het, sou daar vanselfsprekend ’n oorweldigende aantal slagoffers wees wat enige argument ten gunste van Jehovah se Getuies sou weerspreek.
“Hulle betoon buitengewone mensliewendheid”
Kultuslede sonder hulle dikwels af van familie, vriende en selfs die gemeenskap in die algemeen. Is dit die geval met Jehovah se Getuies? “Ek is nie een van Jehovah se Getuies nie”, het ’n verslaggewer in die Tsjeggiese Republiek geskryf. Tog het hy bygevoeg: “Dit is duidelik dat hulle [Jehovah se Getuies] geweldige morele krag het. . . . Hulle erken staatsowerhede, maar glo dat slegs God se Koninkryk al die probleme van die mensdom kan oplos. Maar moenie ’n fout maak nie—hulle is nie fanaties nie. Hulle betoon buitengewone mensliewendheid.”
En hulle woon nie in kommunes en sonder hulle nie van familielede en ander af nie. Jehovah se Getuies besef dat dit hulle skriftuurlike verantwoordelikheid is om hulle familie lief te hê en vir hulle te sorg. Hulle woon en werk saam met mense van alle rasse en godsdienste. Wanneer rampe voorkom, reageer hulle vinnig met noodlenigingsvoorrade en ander liefdevolle bystand.
Maar hulle is bowenal besig met ’n opvoedkundige program sonder gelyke. Hoeveel godsdienste het ’n georganiseerde stelsel waarvolgens elkeen in hulle gemeenskap persoonlik besoek word? Jehovah se Getuies doen dit in meer as 200 lande en in meer as 200 tale! Dit is duidelik dat Jehovah se Getuies “buitengewone mensliewendheid” betoon.
Hulle bly streng by wat die Bybel sê
Die leringe van Jehovah se Getuies verskil weliswaar van dit wat die kerke leer. Jehovah se Getuies glo dat Jehovah die almagtige God is en dat Jesus sy Seun is—en nie ’n deel van ’n drie-enige godheid nie. Hulle geloof is geanker in die vertroue dat slegs God se Koninkryk die mensdom uit sy lyding kan verlos. Hulle waarsku mense teen die naderende vernietiging van hierdie verdorwe stelsel van dinge. Hulle preek oor God se belofte van ’n aardse paradys vir die gehoorsame mensdom. Hulle vereer nie die kruis nie. Hulle vier nie Kersfees nie. Hulle glo dat die siel sterflik is en dat daar geen helse vuur is nie. Hulle sal nie bloed eet en ook nie bloedoortappings aanvaar nie. Hulle raak nie by die politiek betrokke en neem nie aan oorlogvoering deel nie. Het jy jou al ooit afgevra waarom die leringe van Jehovah se Getuies so anders is?
’n Koerant van Massachusetts, die Daily Hampshire Gazette, verduidelik dat Jehovah se Getuies se “streng vertolking van die Bybel baie bedrywighede verbied wat ander mense as geoorloof beskou . . . , en hulle doen dit alles omdat hulle die voorbeeld van die eerste-eeuse Christene en die woord van die Bybel probeer navolg”. The Encyclopedia of Religion stem saam dat “alles wat hulle glo op die Bybel gegrond is. Vir feitlik elke geloofsverklaring wat hulle maak, voorsien hulle ’n bewysplaas (met ander woorde hulle voorsien ’n Bybelse teksverwysing ter stawing van die verklaring), en hulle aanvaar die gesag van die Bybel as vanselfsprekend, sodat tradisie heeltemal verdring word.” Die boek Religion in America sê: “Die groep het nog nooit opgehou om die klem op Bybelstudie te lê nie, en hulle leringe word deur ’n uitgebreide stelsel van verwysings na tekste gesteun.”
Wie is hulle leier?
Dit is juis vanweë die feit dat hulle die Bybel se leringe so getrou volg dat die verering en verafgoding van menseleiers, wat deesdae so kenmerkend van kultusse is, nie onder Jehovah se Getuies aangetref word nie. Hulle verwerp die idee dat daar ’n onderskeid tussen die geestelikes en die leke getref word. The Encyclopedia of Religion sê gepas van Jehovah se Getuies: “’n Geestelikeklas en titels wat ’n onderskeid tussen hulle tref, word verbied.”
Hulle volg Jesus Christus as hulle Leier en as Hoof van die Christengemeente na. Dit was Jesus wat gesê het: “Laat jul nie Rabbi noem nie, want een is julle leermeester: Christus, en julle is almal broeders. En julle moet niemand op die aarde julle vader noem nie, want een is julle Vader, Hy wat in die hemele is. Julle moet julle ook nie leermeesters laat noem nie, want een is julle leermeester: Christus.”—Mattheüs 23:8-12.
Dit is duidelik dat Jehovah se Getuies net so min ’n kultus is as wat Jesus ’n vraat en ’n dronkaard was. Nie almal wat deur die valse berigte aangaande Jesus en sy dissipels beïnvloed is, is weliswaar oorgehaal om hom te belaster nie. Sommige was dalk bloot oningelig. As jy vrae oor Jehovah se Getuies en hulle oortuigings het, kan jy hulle gerus beter leer ken. Die deure van hulle Koninkryksale staan wyd oop vir almal wat na die waarheid op soek is.
Jy kan ook by hulle noukeurige soeke na juiste Bybelkennis baat vind en leer hoe om God in ooreenstemming met Jesus se woorde te aanbid: “Daar kom ’n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid.”—Johannes 4:23.