“Mayday! Mayday! Mayday!”—Die noodroep wat lewens red
Die vissersboot was in vlamme en rook gehul! Almal aan boord het in groot gevaar verkeer. “As die kaptein nie die Mayday-noodroep gemaak het nie, sou niemand die ‘Nautical Legacy’ ooit gevind het nie”, het ’n woordvoerder van die kuswag gesê. Die Kanadese kuswag het gou gereageer en kon die hele bemanning red.a
“MAYDAY! Mayday! Mayday!” Wanneer hierdie woorde oor die radio gehoor word, beteken dit dat ’n lewensgevaarlike situasie dreig en dat hulp dadelik nodig is. Is die Mayday-noodroep doeltreffend? In 2008 is die Amerikaanse kuswag op meer as 24 000 reddingsoperasies uitgestuur. Hulle het 4 910 lewens gered—’n gemiddelde van 13 lewens per dag—en meer as 31 000 mense gehelp wat in nood verkeer het.
Maar waarom gebruik ons die uitdrukking “Mayday”? En hoe het skepe in die dae voor radio-uitsendings noodroepe gemaak?
Vroeë metodes om hulp in te roep
In 1588, toe die Santa Maria de la Rosa van die Spaanse Armada in ’n hewige storm beland het, het die bemanning die kanonne afgevuur in ’n poging om hulp in te roep. Die skip het gesink, en daar was glo geen oorlewendes nie. In ander gevalle het vroeë seemanne vlae gehys om ’n noodsein oor te dra. ’n Wit vlag met ’n rooi diagonale kruis is vandag nog ’n internasionale teken dat ’n skip in nood verkeer.
In die 1760’s het seemanne ’n visuele stelsel begin leer wat semafoorseine genoem word. Om hierdie stelsel te gebruik, het ’n seiner twee vlae vasgehou waarmee hy die wysers van ’n horlosie nageboots het. Elke “tydsposisie” wat die seiner gebruik het, het ’n ander letter of syfer voorgestel.
Maar vlae, kanonvuur en visuele seine het slegs gewerk as ander naby genoeg was om die noodsein te sien of te hoor. Die bemanning wat in gevaar verkeer het, het dikwels nie veel hoop gehad dat hulp sou opdaag nie. Hoe kon die situasie verbeter word?
Doeltreffender noodseine
In die 1840’s is reusevordering op die gebied van kommunikasietegnologie gemaak. Samuel Morse het ’n kode ontwikkel wat dit vir telegrafiste moontlik gemaak het om boodskappe via ’n draad te stuur met ’n seinsleutel wat met die hand gewerk is. Wanneer die telegrafis die sleutel afgedruk het, kon iemand aan die ander kant van die draad ’n elektriese impuls waarneem. Morse het ’n unieke kombinasie van kort en lang klanke of stippels en strepe aan elke letter en syfer toegeken.
Om met morsekode op see te kommunikeer, het seemanne helder ligstrale gebruik in plaas van die klanke wat deur telegrafiste gestuur is. Die seiner het ’n ligstraal kortliks laat skyn om ’n stippel voor te stel en effens langer om ’n streep voor te stel. Seiners het kort voor lank ’n eenvoudige en unieke noodsein begin gebruik wat bestaan het uit drie stippels, drie strepe en nog drie stippels, wat die letters SOS voorstel.b
Gelukkig het die omvang en afstand van noodseine nie hier gestop nie. Guglielmo Marconi het in 1901 die eerste radiosein oor die Atlantiese Oseaan gestuur. SOS-boodskappe kon nou deur middel van radiogolwe in plaas van ligstrale gestuur word. Radio-operateurs kon egter nog nie ’n gesproke noodroep uitstuur nie. Die uitdrukking “Mayday! Mayday! Mayday!” het nog nie bestaan nie.
Gesproke woorde is uiteindelik in 1906 oor die lug gehoor toe Reginald Fessenden spraak en musiek uitgesaai het. Seemanne met radiotoerusting het Fessenden se uitsending op ’n afstand van 80 kilometer opgevang. In 1915 het baie meer mense met groot opgewondenheid geluister na ’n lewendige uitsending wat van Arlington, Virginië, VSA, na die Eiffeltoring in Parys, Frankryk, uitgesaai is—’n afstand van 14 000 kilometer! En stel jou voor hoe opgewonde die bemanning van die S.S. America in 1922 was toe hulle vanuit hulle skip, meer as 600 kilometer van die kus af, gekommunikeer het met Deal Beach, New Jersey, VSA—die eerste radiogesprek tussen skip en land.
Een noodroep vir almal
In die 1920’s en 1930’s het radio-operateurs graag met mekaar gepraat. Maar die bemanning van verskillende skepe het nie altyd dieselfde taal gepraat nie. Hoe kon ’n kaptein dus ’n noodroep maak wat deur almal verstaan sou word? In 1927 is die probleem by die Internasionale Radiotelegraafkonferensie opgelos toe “Mayday” as die internasionale noodroep aangeneem is.c
Ons kan dankbaar wees dat kommunikasie voortdurend verbeter. Byvoorbeeld, radar en globale posisioneringstelsels het kanonne en vlagseine vervang. Ook het radio’s standaardtoerusting geword, en reddingsdienste monitor die luggolwe en is heeltyd gereed vir ’n noodsituasie. Soos met die Nautical Legacy word die noodroep “Mayday! Mayday! Mayday!” byna altyd gehoor wanneer ’n noodsituasie ontstaan. As jy op see in nood verkeer, sal jy, anders as vorige geslagte, nie net ’n vae hoop hê om gered te word nie, maar die vertroue kan hê dat hulp op pad is.
[Voetnote]
a Uit die boek True Stories of Rescue and Survival—Canada’s Unknown Heroes
b Die letters SOS is gekies omdat dit maklik gestuur en waargeneem kan word. Dit het geen spesifieke betekenis gehad nie.
c “Mayday” moet drie keer herhaal word sodat die bedoeling duidelik is en dit nie met ’n ander woord verwar word nie.
[Prent op bladsy 27]
Die “Nautical Legacy” was in vlamme en rook gehul
[Erkenning]
Courtesy Fisheries and Oceans Canada, reproduced with the permission of © Her Majesty the Queen in Right of Canada, 2010
[Prent op bladsy 28]
Om met morsekode op see te kommunikeer, het seemanne helder ligstrale gebruik in plaas van die klanke wat deur telegrafiste gestuur is
[Erkenning]
© Science and Society/SuperStock