Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 11/10 bl. 4-6
  • Het die wetenskap weggedoen met God?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Het die wetenskap weggedoen met God?
  • Ontwaak!—2010
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe het die natuurwette ontstaan?
  • Watter geloof sal jy kies?
  • Geluk as die Eerste Oorsaak—Goeie wetenskap?
  • Is geloof in God redelik?
    Ontwaak!—2010
  • Hoe het die heelal en lewe ontstaan?
    Ontwaak!—2002
  • Moderne ongeloof—Moet die soeke voortgesit word?
    Die mensdom se soeke na God
  • Waar kan jy antwoorde vind?
    Ontwaak!—2004
Sien nog
Ontwaak!—2010
g 11/10 bl. 4-6

Het die wetenskap weggedoen met God?

DIE Britse filosoof Antony Flew was 50 jaar lank ’n hooggeagte ateïs onder sy portuurs. Sy artikel Theology and Falsification, wat in 1950 verskyn het, “was die filosofiese publikasie wat die meeste herdruk is in die [20ste] eeu”. In 1986 is Flew beskryf as “die diepsinnigste hedendaagse kritikus van teïsme” (die geloof in God of gode). Dit was dus vir baie ’n groot skok toe Flew in 2004 aangekondig het dat hy van siening verander het.

Wat het Flew van mening laat verander? Kortom, die wetenskap. Hy het daarvan oortuig geraak dat die heelal, die natuurwette en lewe nie bloot toevallig kon ontstaan het nie. Is dit ’n redelike gevolgtrekking?

Hoe het die natuurwette ontstaan?

Die fisikus en skrywer Paul Davies wys daarop dat die wetenskap hom wonderlik van sy taak kwyt om fisiese verskynsels soos reën te verduidelik. Maar hy sê: “Wanneer dit kom by . . . vrae soos ‘Waarom is daar natuurwette?’ is die situasie nie so duidelik nie. Hierdie soort vrae word nie juis beantwoord deur spesifieke wetenskaplike ontdekkings nie: baie van die werklik belangrike vrae het van die begin van die beskawing af onveranderd gebly en kwel ons vandag nog.”

“Die belangrike punt is nie bloot dat daar reëlmatighede in die natuur is nie”, het Flew in 2007 geskryf, “maar dat hierdie reëlmatighede van wiskundige presisie getuig, universeel en ‘onderling verbind’ is. Einstein het daarna verwys as die ‘beliggaming van intelligensie’. Die vraag wat ons moet vra, is hoe die natuur in die eerste plek met al hierdie dinge toegerus is. Dit is beslis die vraag wat wetenskaplikes van Newton tot Einstein tot Heisenberg gevra het—en beantwoord het. Hulle antwoord was die Verstand van God.”

Ja, talle hooggeagte wetenskaplikes beskou dit nie as onwetenskaplik om in ’n intelligente Eerste Oorsaak te glo nie. Wat meer is, om te sê dat die heelal, die wette daarvan en lewe toevallig ontstaan het, is intellektueel onbevredigend. Doodgewone ondervinding sê vir ons dat ontwerp—veral hoogs gesofistikeerde ontwerp—’n ontwerper vereis.

Watter geloof sal jy kies?

Hoewel die nuwe ateïste beweer dat die wetenskap hulle siening ondersteun, is dit ’n feit dat nóg ateïsme nóg teïsme uitsluitlik op die wetenskap gegrond is. Albei behels geloof—ateïsme in doellose blinde toeval; teïsme in ’n intelligente Eerste Oorsaak. Die nuwe ateïste bevorder die idee dat “alle geloof van ’n godsdienstige aard blinde geloof is”, skryf John Lennox, ’n wiskundeprofessor aan die Universiteit van Oxford, Engeland. Hy voeg by: “Ons moet sterk beklemtoon dat hulle verkeerd is.” Die vraag is dus: Watter geloof sal die toets deurstaan—dié van die ateïs of dié van die godsdiensgelowige? Kyk byvoorbeeld na die oorsprong van lewe.

Evolusioniste erken geredelik dat die oorsprong van lewe ’n raaisel bly—hoewel daar talle teenstrydige teorieë is. ’n Vooraanstaande nuwe ateïs, Richard Dawkins, beweer dat dit onvermydelik is dat lewe êrens sou ontstaan, aangesien daar so ’n ontsaglike aantal planete in die heelal is. Maar talle gerespekteerde wetenskaplikes is nie so seker nie. Professor John Barrow, van Cambridge, sê dat die opvatting dat “lewe en intellek geëvolueer het, op elke stadium in ’n . . . doodloopstraat eindig. Daar is soveel redes waarom lewe nie in ’n komplekse en vyandige omgewing kan evolueer nie dat dit eenvoudig aanmatigend sou wees om aan te neem dat enigiets moontlik is as daar genoeg koolstof en tyd is.”

Hou ook in gedagte dat lewe nie net ’n versameling van chemiese elemente is nie. Dit is eerder gegrond op ’n uiters gesofistikeerde vorm van inligting, wat in DNS geënkodeer is. Wanneer ons van die oorsprong van lewe praat, praat ons dus ook van die oorsprong van biologiese inligting. Wat is die enigste bron van inligting waarvan ons weet? Kortom, intelligensie. Sou toevallige gebeure komplekse inligting, soos ’n rekenaarprogram, ’n wiskundige formule, ’n ensiklopedie of selfs ’n koekresep voortbring? Natuurlik nie. Maar wanneer dit by kompleksiteit en doeltreffendheid kom, kan nie een van hierdie dinge naastenby vergelyk met die inligting wat in die genetiese kode van lewende organismes geberg is nie.

Geluk as die Eerste Oorsaak—Goeie wetenskap?

Volgens ateïste “is dit ’n raaisel waarom die heelal is soos dit is, en toevallig maak dit lewe moontlik”, verduidelik Paul Davies. “As dit anders was”, sê ateïste, “sou ons nie hier gewees het om daaroor te stry nie. Hetsy die heelal ’n diep onderliggende eenheid het of nie, daar is geen ontwerp of doel nie—ten minste nie wat vir ons enigsins sin sal maak nie.” “Die voordeel van hierdie standpunt”, sê Davies, “is dat dit maklik is om te verdedig—so maklik dat die geskil omseil kan word.”

In sy boek Evolution: A Theory in Crisis, het die molekulêre bioloog Michael Denton tot die slotsom gekom dat die evolusieteorie “meer soos ’n beginsel van middeleeuse sterrewiggelary is as ’n grondige wetenskaplike teorie”. Hy het ook na Darwinistiese evolusie verwys as een van die grootste mites van ons tyd.

Om aan te voer dat geluk die eerste oorsaak is, klink alte veel na ’n mite. Stel jou die volgende voor: ’n Argeoloog sien ’n ruwe steen wat min of meer vierkantig is. Hy dink dalk dat dit toevallig so ’n vorm het, wat redelik sou wees. Maar later vind hy ’n steen wat presies soos ’n menslike borsbeeld gevorm is, tot in die fynste besonderhede. Sou hy dink dat hierdie steen toevallig so ’n vorm het? Nee. Sy logika sê vir hom: ‘Iemand het dit gemaak.’ Die Bybel gebruik ’n soortgelyke redenasie waar dit sê: “Elke huis word natuurlik deur iemand gebou, maar hy wat alles gebou het, is God” (Hebreërs 3:4). Stem jy saam met hierdie stelling?

Lennox skryf: “Hoe meer ons van die heelal te wete kom, hoe geloofwaardiger raak die veronderstelling dat daar ’n Skepper-God is, wat die heelal met ’n doel ontwerp het, die beste verduideliking bied vir waarom ons hier is.”

Ongelukkig is een van die dinge wat geloof in God ondermyn, die bose dade wat in sy naam gepleeg word. Gevolglik het party tot die slotsom gekom dat die mensdom beter af sal wees sonder godsdiens. Wat dink jy?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel