Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 11/10 bl. 22-23
  • Die makadamianeut ’n—Australiese lekkerny

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die makadamianeut ’n—Australiese lekkerny
  • Ontwaak!—2010
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Harde neut om te kraak
  • ’n Besoek aan ’n Australiese plaas
  • Lekker en gesond!
  • Die neut met ’n nuwe naam
    Ontwaak!—1994
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2010
  • Is dit werklik ’n boom?
    Ontwaak!—2008
  • Die veeldoelige oliepalm
    Ontwaak!—1992
Sien nog
Ontwaak!—2010
g 11/10 bl. 22-23

Die makadamianeut ’n—Australiese lekkerny

DIE plantkundige Walter Hill het sy jong assistent angstig dopgehou. Die seun het so pas neute geëet van ’n boomspesie wat kort tevore ontdek is en in die subtropiese reënwoude van Suidoos-Queensland, Australië, voorkom. Hill het gehoor dat die neute giftig is. Maar die seun het nie siek geword of dood neergeslaan nie. Hy het eerder gevind dat die neute baie lekker is. Hill het dus self een geëet en met hom saamgestem. Kort daarna het hy makadamiasaailinge onder vriende en plantkundiges regoor die wêreld begin versprei.a

Vandag, sowat 150 jaar later, is makadamianeute regoor die wêreld gewild—en met goeie rede. Die tydskrif Chronica Horticulturae verduidelik: “Die makadamia word as een van die wêreld se keurigste neute beskou weens sy unieke, delikate geur, sy fyn bros tekstuur en ryk roomkleur.” Geen wonder dat makadamianeute Australië se suksesvolste inheemse voedselgewas is nie!

’n Harde neut om te kraak

Immergroen makadamiabome floreer al langs Australië se subtropiese ooskus. Twee van die nege spesies dra eetbare neute, wat bestaan uit ’n veselagtige omhulsel, ’n geelbruin, ronde dop en ’n roomkleurige kern so groot soos ’n albaster.

Die harde dop is egter moeilik om te kraak.b Die Aborigines het klippe gebruik. Die pioniervrugtekweker John Waldron het ’n hamer en aambeeld gebruik. Trouens, met hierdie eenvoudige gereedskap het hy omtrent agtmiljoen neute oor ’n tydperk van 50 jaar oopgebreek. Sou masjiene die werk kon doen? Vroeë ontwerpe was onaanvaarbaar omdat hulle gewoonlik die kern beskadig het. Maar later is doeltreffender masjiene gebou.

Nog ’n probleem was die kweek van nuwe bome. Wanneer neute van goeie bome geplant is, was die nuwe bome dikwels van swak gehalte. En pogings om een boom op ’n ander te ent, het misluk. Weens hierdie probleme is bome nie meer vir kommersiële doeleindes gekweek nie—altans, nie totdat die Hawaiërs die probleem aangepak het nie. Hulle het die nodige deurbrake gemaak. Gevolglik het hulle kort voor lank 90 persent van die wêreld se makadamianeute voorsien. Geen wonder dat mense die neute later Hawaise neute genoem het nie.

Toe, in die 1960’s, het Australiese kwekers die lesse toegepas wat in Hawaii geleer is en “die makadamia vir grootskaalse kommersiële boerdery begin aanplant”. Gevolglik het die plaaslike industrie so goed gevaar dat Australië vandag omtrent 50 persent van die wêreld se makadamianeute produseer. Dit word ook in Afrika, Asië en Sentraal-Amerika verbou.

’n Besoek aan ’n Australiese plaas

Ontwaak! het Andrew besoek wat ’n makadamiaplaas het naby die dorp Lismore, Nieu-Suid-Wallis. “Elke paar rye plant ons ’n ander soort makadamiaboom om kruisbestuiwing te bevorder”, het Andrew verduidelik. Ontwaak! het uitgevind dat omtrent 80 persent van die miljoene bome wat in Australië geplant is, suksesvolle variëteite is wat Hawaise kwekers gebruik. Maar Australiese kwekers gebruik nou genetiese materiaal van wilde makadamiabome om beter plaaslike variëteite te kweek.

Toe ons na die bome gekyk het, het ons honderde neute gesien wat soos klein balletjies tussen die digte blare hang. Die neute neem ses maande om ryp te word en val dan op die grond. Ons het opgelet dat party van die neute wat op die grond lê, gaatjies inhet. “Rotte kan in agt sekondes deur ’n dop knaag”, het Andrew gesê. “Wilde varke hou ook baie van makadamianeute.” Verder met die ry af het Andrew gestop om ’n neut wat half onder die grond lê, met sy skoen los te wikkel. “Ek het so pas drie sent gespaar”, het hy met ’n glimlag gesê. Baie boere oes die neute met behulp van ’n spesiaal ontwerpte masjien wat ’n drom en kort plastiekvingers het om die neute op te tel. Die neute word dan op die plaas uit die omhulsel gehaal en gesorteer, waarna dit by ’n fabriek afgelewer word om afgedop, gegradeer en na kopers vervoer te word.

Lekker en gesond!

Aan die einde van ons toer het ons aan ’n hand vol neute gesmul—die ryk, romerige smaak was alte heerlik. Maar is makadamianeute gesond? Die olie-inhoud van die neut (hoofsaaklik mono-onversadigde olie, of goeie olie) “is dikwels hoër as 72%, die hoogste vir enige olieryke neut”, sê ’n feiteblad van die Australiese regering oor die verbouing van makadamianeute. Volgens onlangse studies kan die matige inname van makadamianeute in werklikheid slegte cholesterol en trigliseriede verminder en hoë bloeddruk verlaag.

Mense geniet makadamianeute in sjokolade, koekies en roomys. Ander verkies om dit gerooster, gesout of sommer net so te eet. Ongeag wat hulle verkies, die meeste mense se mond water na nog.

[Voetnote]

a Jare tevore het die ontdekkingsreisigers Cunningham (1828) en Leichhardt (1843) makadamianeute versamel, maar die neute is geberg sonder om dit te benoem. In 1857 het een van Hill se vakgenote, Ferdinand von Mueller, ’n plantkundige uit Melbourne, die genus Macadamia na sy goeie vriend dr. John Macadam vernoem.

b Die fyngemaakte doppe van makadamianeute is so hard dat dit ’n uitstekende industriële skuurmiddel is.

[Venster op bladsy 23]

DOPPE DIEN AS BRANDSTOF VIR ’N KRAGSTASIE

Die klipharde doppe van makadamianeute het ’n hittewaarde soortgelyk aan dié van bruinkool. Daarom gebruik ’n Australiese energieverskaffer leë doppe om elektrisiteit op te wek vir die aanleg waar die neute verwerk word sowel as vir die kragnetwerk. Die stasie is Australië se eerste projek waarin afval gebruik word om energie op te wek, en die hoeveelheid krag wat die stasie opwek, sal dalk aansienlik toeneem namate meer kwekers brandstof voorsien.

[Prent op bladsy 23]

Kwekers in Australië plant elke jaar duisende nuwe bome

[Foto-erkenning op bladsy 23]

Alle foto’s op bladsye 22 en 23: Australian Macadamia Society

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel