Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 3/11 bl. 12-13
  • Jean Crespin se martelaarsboek

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jean Crespin se martelaarsboek
  • Ontwaak!—2011
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Regsgeleerde sluit by die hervorming aan
  • Die doel van ’n martelaarsboek
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2011
  • John Foxe en die onstuimige tye waarin hy gelewe het
    Ontwaak!—2011
  • Slagoffers of martelare—Wat is die verskil?
    Ontwaak!—1993
  • Godsdiensonverdraagsaamheid nou erken
    Ontwaak!—2000
Sien nog
Ontwaak!—2011
g 3/11 bl. 12-13

Jean Crespin se martelaarsboek

IN 1546 is 14 mans van Meaux, Frankryk, skuldig bevind aan kettery en veroordeel om lewendig verbrand te word. Waarom? Hulle het in huise bymekaargekom, gebid, psalms gesing, Nagmaal gehou en bekend gemaak dat hulle nooit die afgodery wat deur die pouse ingebring is, sal aanvaar nie.

Op die teregstellingsdag het die Rooms-Katolieke leraar François Picard die veroordeelde mans uitdagend uitgevra oor hulle oortuigings in verband met die Nagmaal. Hulle het geantwoord deur hom uit te vra oor die Katolieke lering van transsubstansiasie, waarvolgens die brood en die wyn wat tydens die viering gebruik word, op ’n wonderdadige manier in Jesus se vlees en bloed verander. ‘Proe die brood soos vleis? Of die wyn soos bloed?’ het die veroordeelde mans gevra.

Ten spyte van die feit dat die 14 mans nie ’n antwoord op hulle vrae gekry het nie, is hulle aan pale vasgemaak en lewendig verbrand. Diegene wie se tong nie uitgesny is nie, het psalms gesing. Priesters wat naby die teregstellingsplek gestaan het, het hulle gesing probeer uitdoof deur harder as hulle te sing. Die volgende dag het Picard op dieselfde plek afgekondig dat die 14 vir ewig in die hel sou brand.

In die 1500’s was Europa ’n gevaarlike plek vir andersdenkendes op godsdiensgebied. Baie wat die aanvaarde kerkleerstellings betwis het, het verskriklike dinge verduur deur die toedoen van hulle godsdiensteenstanders. Een van die inligtingsbronne oor hierdie lyding is Jean Crespin se martelaarsboek Le Livre des martyrs, wat in 1554 in Genève, Switserland, gepubliseer is. Dit staan ook bekend as Histoire des martyrs.a

’n Regsgeleerde sluit by die hervorming aan

Crespin is omstreeks 1520 in Atrecht gebore, in wat nou die noorde van Frankryk is, en hy het in Leuven, België, in die regte gestudeer. Dit is waarskynlik hier waar hy vir die eerste keer aan hervormingsgesinde idees blootgestel is. In 1541 het Crespin na Parys gegaan om as die sekretaris van ’n beroemde regsgeleerde te werk. Omtrent dieselfde tyd het hy gesien hoe Claude le Painctre, wat as ’n ketter veroordeel is, by Place Maubert, Parys, verbrand word. Crespin was diep beïndruk deur die geloof van hierdie jong goudsmid, wat volgens Crespin tereggestel is omdat hy “die waarheid aan sy ouers en vriende bekend gemaak het”.

Omstreeks hierdie tyd het Crespin in Atrecht in die regte begin praktiseer. Maar kort voor lank het sy nuutgevonde oortuigings daartoe gelei dat hy van kettery beskuldig is. Om vervolging vry te spring, het hy na Straatsburg, Frankryk, gevlug, en later in Genève, Switserland, gaan woon. Hier het Crespin omgegaan met mense wat die Hervorming ondersteun het. Hy het sy beroep in die regte laat vaar en ’n drukker geword.

Crespin het godsdienswerke van Hervormers soos Johannes Calvyn, Martin Luther, John Knox en Theodorus Beza gepubliseer. Hy het die Griekse teks gedruk van die deel van die Bybel wat oor die algemeen die Nuwe Testament genoem word, asook die Bybel—in sy geheel of gedeeltelik—in Engels, Frans, Italiaans, Latyn en Spaans. Crespin het egter beroemd geword vir sy martelaarsboek. Daarin het hy baie mense opgenoem wat tussen 1415 en 1554 weens kettery tereggestel is.

Die doel van ’n martelaarsboek

Baie van die lektuur wat deur die Hervormers uitgegee is, het die wreedheid van die Katolieke owerheid veroordeel. Dit het mense aangemoedig deur die “heldemoed” van Protestantse martelaars uit te beeld as ’n voortsetting van die lyding waarvoor God se knegte in vroeëre tye, insluitende Christene in die eerste eeu, te staan gekom het. Om mede-Protestante te voorsien van voorbeelde wat hulle kon navolg, het Crespin ’n lys saamgestel van dié wat weens hulle geloof doodgemaak is.b

Crespin se boek is ’n samestelling van opgetekende verhore, inkwisisieprosedures en ooggetuieverslae, sowel as verklarings wat deur die beskuldigdes in die tronk geskryf is. Dit het ook bemoedigende briewe ingesluit wat aan diegene in die tronk geskryf is, waarvan party vol aanhalings uit die Bybel is. Crespin het geglo dat die skrywers se geloof “altyd in herinnering gehou moet word”.

Baie van die leerstellige inligting wat in Crespin se boek bespreek word, draai om welbekende geskille tussen Katolieke en Protestante. Die vervolgers en die vervolgdes het byvoorbeeld gestry oor geskille soos die gebruik van beelde in aanbidding, die vaevuur en gebede vir die dooies, sowel as die bewering dat Jesus se offerande gedurende die Katolieke mis herhaal word en dat die pous God se verteenwoordiger is.

Crespin se martelaarsboek getuig van die geskille en onverdraagsaamheid wat daardie gewelddadige tye gekenmerk het. Hoewel Crespin die aandag gevestig het op hoe die Katolieke die Protestante vervolg het, moet daar in gedagte gehou word dat die Protestante ook soms die Katolieke met dieselfde wreedheid vervolg het.

Deur die geskiedenis heen het valse godsdiens hom bevlek met “die bloed van profete en van heiliges . . . , en van almal wat op die aarde doodgemaak is”. Die bloed van dié wat God as sy getroue martelaars erken, roep beslis uit om wraak (Openbaring 6:9, 10; 18:24). Party van dié wat in Jean Crespin se dag weens hulle geloof gely en gesterf het, het waarskynlik in alle opregtheid na godsdienswaarheid gesoek.

[Voetnote]

a ’n Vertaling van een titel van Crespin se werk is Book of Martyrs, That Is, a Collection of Several Martyrs Who Endured Death in the Name of Our Lord Jesus Christ, From Jan Hus Until This Year, 1554. Verskeie hersiene en vermeerderde uitgawes met verskillende titels en inhoud is gedurende Crespin se lewe gepubliseer, en ander is ná sy dood gepubliseer.

b Twee ander martelaarsboeke is in 1554 gepubliseer—dieselfde jaar waarin Crespin sy martelaarsboek uitgegee het—een in Duits, deur Ludwig Rabus, en die ander in Latyn, deur John Foxe.

[Prent op bladsy 12]

Voorblad van Crespin se martelaarsboek (uitgawe van 1564)

[Prent op bladsy 13]

Protestante word voor die Franse koning Hendrik II en sy hof tereggestel

[Foto-erkenning op bladsy 13]

Prente, albei bladsye: © Société de l’Histoire du Protestantisme Français, Paris

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel