Is dit ontwerp?
Die skulp van die skubvoetslak
● Dit het een van die sterkste eksoskelette wat nog ooit in die natuur ontdek is. Die skubvoetslak, wat op die bodem van die Indiese Oseaan voorkom, kan die waterdruk op ’n diepte van sowat 2 400 meter weerstaan. Wat meer is, dié weekdiertjie word nie geraak deur die hoë suurgehalte of die wisselende temperatuur van die water nie—insluitende warm water wat by hidrotermiese openinge uitspuit nie. Die skulp beskerm dit ook teen aanvalle deur roofdiere.
Dink hieraan: Die skulp van die skubvoetslak het drie lae. Die eerste bestaan uit ystersulfiede; die tweede is soortgelyk aan die proteïenlaag wat by ander slakspesies gevind word; en die derde bestaan uit ’n kalsiummineraal wat aragoniet genoem word. Met hierdie driedubbele beskermingslaag, is die skulp van die skubvoetslak ondeurdringbaar vir krappe, wat dit met hulle sterk knypers probeer verbrysel. Die krap hou die slak soms dae lank in sy greep, maar die skulp bly heel.
Met behulp van ’n toestel met ’n diamantpunt wat ’n induiker genoem word, het navorsers uitgevind dat “die buitenste skulp ontwerp is om so te kraak dat dit energie absorbeer”, berig die tydskrif Discover. “Krake vorm net om die ystersulfieddeeltjies. Hierdie ‘mikrokrakies’ absorbeer nie net energie nie, maar verhoed ook dat groter krake vorm.” Intussen absorbeer die middelste laag die meganiese energie wat gedurende ’n aanval uitgeoefen word.
Navorsers hoop om die struktuur van die skubvoetslak se skulp na te maak sodat hulle sterker helms en koeëlvaste baadjies, asook sterker rompe vir skepe en vliegtuie kan maak. “Selfs Arktiese oliepyplyne wat herhaaldelik deur ysberge gestamp word, kan hierby baat vind”, sê Discover.
Wat dink jy? Het die skulp van die skubvoetslak per toeval ontstaan? Of is dit ontwerp?
[Diagram op bladsy 23]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Induiker
Buitenste laag
Middelste laag
Binneste laag
[Foto-erkenning op bladsy 23]
Courtesy Anders Warén