Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 7/11 bl. 18-20
  • Van die boom na die bottel—Die verhaal van kurk

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Van die boom na die bottel—Die verhaal van kurk
  • Ontwaak!—2011
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Verskeie gebruike
  • Omgewingsvriendelik
  • Kurk—Selletjies wat jou tot groot nut strek
    Ontwaak!—1990
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2011
  • Hou aan om die saad te saai—Jehovah sal dit laat groei
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Van ’n klein akkertjie tot ’n groot eikeboom
    Ontwaak!—2010
Sien nog
Ontwaak!—2011
g 7/11 bl. 18-20

Van die boom na die bottel—Die verhaal van kurk

Kan jy dink aan ’n boombas wat ’n belangrike rol speel in die maak van enjins, krieketballe, bofballe en sjampanje—’n bas wat duisende jare gelede deur vissermanne sowel as deftige dames gebruik is en wat selfs al in die buitenste ruimte gebruik is? Wat nog verstommender is, is dat hierdie unieke bas in al hierdie behoeftes kan voorsien sonder dat die boom afgekap word!

KURK is die buitenste laag van die bas van die kurkeik. Maar hierdie boombas is uniek. Dit is lig, vuurvas en elasties.

Die kurkeik produseer sy veerkragtige bas jaar ná jaar. As die bas nie geoes word nie, kan dit tot 25 sentimeter dik word—’n nuttige bedekking wat die boom teen hitte, koue en bosbrande beskerm. As die bas geoes word, groei ’n nuwe kurklaag binne omtrent tien jaar geleidelik terug.

Portugal voorsien omtrent 55 persent van die kurk wat wêreldwyd geproduseer word, Spanje omtrent 30 persent en ander lande (waaronder Algerië, Frankryk, Italië, Marokko en Tunisië) die oorblywende 15 persent.a

Verskeie gebruike

Die Romeine en Grieke het ontdek dat kurk ideale dobbers vir visnette maak, asook ’n gemaklike sool vir sandale. Hulle het kurk blykbaar ook gebruik om proppe vir flesse te maak. Aangesien kurk selfs teen hoë temperature elasties bly, is dit ideaal vir enjinpakstukke (gaskets). Dit maak ook ’n belangrike deel uit van hittepanele wat op sekere ruimtetuie gebruik word.

Omdat baie huiseienaars van die voorkoms sowel as die isoleervermoë van kurk hou, het die gebruik van kurkteëls om mure en vloere te versier, gewild geword. Vervaardigers van sporttoerusting het ook gevind dat kurk uiters nuttig is vir die binneste deel van ’n bofbal of die handvatsel van ’n visstok. Maar kurk is moontlik hoofsaaklik bekend vir sy gebruik as ’n prop in wyn- en sjampanjebottels.—Sien die venster “Die ideale prop”.

Omgewingsvriendelik

’n Kurkeikewoud wat goed in stand gehou word, bewys dat die mens in harmonie met die natuur kan werk—hy kan oes wat voorsien word sonder om die natuur van sy rykdom te stroop. Die ou kurkeike verfraai die omgewing, voorsien skadu en voedsel vir die beeste wat onder hulle takke wei en maak die somerhitte draagliker.

Verskeie voëls wat deur uitwissing bedreig word—insluitende die keiserarend, die monniksgier en die grootswartooievaar—is van groot kurkeike afhanklik vir gepaste broeiplekke. Kurkeikewoude is ook die laaste skuilplek vir die bedreigde Iberiese los. Die Wêreld-natuurfonds het onlangs gesê dat die oorlewing van hierdie spesie afhanklik is van die voorspoed van die kurkbedryf in Spanje en Portugal.

Wanneer jy dus weer ’n kurkprop uit ’n wynbottel trek, kan jy gerus ’n oomblik neem om dit te waardeer. Die kurkprop wat jy in jou hand hou, is ’n natuurlike, bioafbreekbare, hernieubare voorwerp. En die aanvraag na kurk help selfs om die omgewing te beskerm. Wat ’n nuttige boom!

[Voetnoot]

a Die kurkeik groei ook in ander wêrelddele, maar kurk wat vir handelsdoeleindes gebruik word, kom hoofsaaklik uit die Middellandse See-gebied, waar die kurkeik ’n inheemse boom is.

[Venster/Prent op bladsy 20]

“Die ideale prop”

Miguel Elena, die direkteur van die Instituut vir Kurk, Hout en Houtskool in Extremadura, Spanje, voorsien verdere inligting oor die gebruik van kurk as ’n prop.

Hoe doeltreffend is ’n kurkprop?

Ek het al gesien dat kurkproppe uit bottels getrek word wat meer as honderd jaar oud is, en die wyn het niks makeer nie! Kurk is die ideale prop.

Hoe oud moet ’n kurkeik wees voordat sy bas geoes kan word om proppe te maak?

Om ’n prop van goeie gehalte te maak, moet ’n kurkeik ten minste 50 jaar oud wees, hoewel die eerste kurk geoes kan word 25 jaar nadat die akker geplant is. Min mense is natuurlik bereid om in ’n oes te belê wat 50 jaar lank geen geld gaan inbring nie. Trouens, ek kan nie aan enige ander bedryf dink wat so lank moet wag voordat dit winsgewend is nie.

Wat is die lewensduur van ’n kurkeik?

’n Kurkeik het ’n lewensduur van omtrent 200 jaar, maar party bome word baie ouer. Die kurk word elke nege jaar geoes.

Wat word gedoen om te verseker dat kurkproduksie voortgaan?

Die Europese Unie en ons plaaslike streekowerheid voorsien subsidies om die aanplanting van kurkeike aan te moedig. In onlangse jare het ons dus hektare grond met nuwe kurkeike beplant en die bestaande woude verbeter.

Watter onlangse verwikkelinge was daar in die produksie van kurk?

Die afgelope twee dekades het ons baie navorsing gedoen om die beste akkers uit te ken. En ons werk ten nouste met ander kurkproduserende lande saam om die produk te verbeter. Ons het ’n soort handsagie begin gebruik wat kurksnyers in staat sal stel om die bas doeltreffender te verwyder, ’n taak wat eeue lank met byle gedoen is.

[Prent op bladsy 19]

Elke keer nadat die bas afgesny is, groei dit weer terug

[Prent op bladsy 19]

Die bas word versigtig deur vaardige werkers verwyder

[Prent op bladsy 19]

Die kurk word opmekaargestapel, gereed vir die volgende stap

[Prent op bladsy 19]

Topgehalte kurkproppe word nog steeds met die hand gepons

[Prent op bladsye 18, 19]

Oorskietstukkies word bymekaargemaak, en saamgeperste kurk en ander produkte word daarvan gemaak

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel