Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g03 2/8 bl. 16-20
  • Geloof tydens beproewinge in Nazi-Europa

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Geloof tydens beproewinge in Nazi-Europa
  • Ontwaak!—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ek leer Bybelwaarhede
  • Geestelike vooruitgang
  • 1938—’n kritieke jaar
  • My broer, Willi
  • Willi neem sy standpunt in vir Bybelwaarheid
  • Vinko se getrouheid tot die dood
  • Uiteindelik vry!
  • ’n Liefdevolle helper
  • Tevrede in God se liefde
  • Ons het nie Hitler se oorlog gesteun nie
    Ontwaak!—1994
  • Aangemoedig deur my gesin se lojaliteit aan God
    Ontwaak!—1998
  • My haat het in liefde verander
    Ontwaak!—1995
  • Die Nazi’s kon my nie verander nie
    Ontwaak!—2011
Sien nog
Ontwaak!—2003
g03 2/8 bl. 16-20

Geloof tydens beproewinge in Nazi-Europa

SOOS VERTEL DEUR ANTON LETONJA

Op 12 Maart 1938 het Hitler se troepe die Oostenrykse grens oorgesteek. Radio’s het marsliedere en politieke slagspreuke uitgeblêr. Patriotiese gevoelens het vinnig deur my tuisland, Oostenryk, versprei.

NADAT Hitler oorgeneem het, was mense in Oostenryk baie opgewonde. Baie het gehoop dat sy “Duisendjarige Ryk” ’n einde aan armoede en werkloosheid sou maak. Selfs Katolieke priesters, wat meegevoer is deur die patriotiese geesdrif wat die nasie in sy greep gehad het, het die Hitler-saluut gegee.

Hoewel ek nog maar ’n jong man van 19 was, is ek nie deur Hitler se beloftes mislei nie. Ek het nie geglo dat enige menseregering die mensdom se probleme kan oplos nie.

Ek leer Bybelwaarhede

Ek is op 19 April 1919 in Donawitz, Oostenryk, as die derde en jongste kind in ons gesin gebore. My pa was ’n hardwerkende steenkoolmynwerker. In 1923 het hy ons gesin na Frankryk geneem, waar hy in die myndorp Liévin werk gekry het. Weens sy politieke oortuigings het hy godsdiens wantrou, maar my ma was ’n vroom Katoliek. Sy het ons as kinders geleer om in God te glo, en sy het elke aand saam met ons gebid. Mettertyd het my pa godsdiens so erg begin wantrou dat hy my ma verbied het om kerk toe te gaan.

In die laat 1920’s het ons Vinzenz Platajs ontmoet, ’n jong man van Joego-Slawiese afkoms wat ons Vinko genoem het. Hy het kontak gehad met die Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies destyds bekend gestaan het. Kort daarna het een van die Bybelstudente ons gesin begin besoek. Aangesien my pa my ma verbied het om kerk toe te gaan, het sy Vinko gevra of ’n mens God by die huis kan aanbid. Hy het na Handelinge 17:24 verwys, wat sê dat God “nie in handgemaakte tempels [woon] nie”, en verduidelik dat die huis ’n gepaste plek is om hom te aanbid. Sy antwoord het haar tevrede gestel en sy het vergaderinge in die huise van die Bybelstudente begin bywoon.

My pa het haar beveel om op te hou met daardie onsin, soos hy dit genoem het. Om te keer dat ons met die Bybelstudente omgaan, het hy daarop aangedring dat ons almal die mis op Sondae bywoon! Aangesien my ma volstrek geweier het om te gaan, was my pa vasbeslote dat ek ’n altaarknaap moes word. Hoewel my ma sy wense hieroor gerespekteer het, het sy aangehou om Bybelbeginsels in my hart en verstand in te skerp en om my saam te neem na die vergaderinge van die Bybelstudente.

In 1928 het Vinko en my suster, Josephine—of Pepi, soos ons haar genoem het—hulle toewyding aan Jehovah deur waterdoop gesimboliseer. Hulle het later getrou. Die volgende jaar is hulle dogter, Fini, in Liévin gebore. Drie jaar later is hulle genooi om as voltydse bedienaars in Joego-Slawië te dien, waar die werk van die Getuies beperk was. Ondanks baie probleme het hulle vreugde en ywer in Jehovah se diens nie afgeneem nie. Hulle goeie voorbeeld het die begeerte om ’n voltydse bedienaar te word by my gewek.

Geestelike vooruitgang

Die onenigheid tussen ons ouers het ongelukkig in 1932 tot ’n egskeiding gelei. Ek het saam met my ma na Oostenryk teruggekeer, terwyl my ouer broer, Wilhelm (Willi), in Frankryk gebly het. Daarna het ek min kontak met my pa gehad. Hy was tot die dag van sy dood negatief ingestel teenoor ons.

Ek en my ma het ons in Gamlitz, ’n dorp in Oostenryk, gevestig. Sy het gereeld Bybelpublikasies met my bespreek, aangesien daar geen gemeentes naby was nie. Gelukkig het Eduard Wohinz twee keer per maand van Graz af met ’n fiets na ons huis gery om ons geestelik aan te moedig, ’n rit van byna 100 kilometer in elke rigting!

Aan die begin van Hitler se skrikbewind in 1938 is broer Wohinz in hegtenis geneem. Ons was baie hartseer toe ons uitvind dat hy in ’n genadedoodinstituut in Linz vergas is. Sy merkwaardige geloof het ons versterk om Jehovah getrou te bly dien.

1938—’n kritieke jaar

Die werk van die Getuies is in 1935 in Oostenryk verbied. Toe Hitler se troepe Oostenryk in 1938 binnegeval het, het ons bediening baie gevaarlik geword. Mense in die omgewing het geweet dat ek en my ma Jehovah se Getuies is, en daarom het ons besluit om so onopsigtelik as moontlik te wees. Ek het selfs begin om die aande in ’n skuur deur te bring sodat dit vir die Nazi’s moeiliker sou wees om my in die hande te kry.

Vroeg in 1938 het ek my basiese skoolopleiding voltooi en in ’n bakkery begin werk. Omdat ek geweier het om “Heil Hitler” te sê of ’n lid van die Hitlerjeug-organisasie te word, is ek afgedank. Maar ek het meer vasbeslote as ooit tevore geword om my toewyding aan Jehovah God deur waterdoop te simboliseer.

Ek en my ma is op 8 April 1938 gedoop. Een aand het ons saam met sewe ander in ’n afgeleë hut in die woud bymekaargekom. Ná die dooptoespraak het een van ons elke tien minute met ’n smal paadjie na die wassery afgeloop. Daar is ons in ’n betontrog gedoop.

Op 10 April 1938 is skynverkiesings oor Oostenryk se inlywing by Duitsland gehou. Die woorde “Ja vir Hitler!” het op plakkate oral in die land verskyn. Ek en my ma het nie nodig gehad om te stem nie, aangesien ons staatloos was nadat ons so lank in Frankryk gebly het—iets wat later my lewe gered het. Franz Ganster, van Klagenfurt in die suide van Oostenryk, het gereeld vir ons Die Wagtoring gebring. Ons kon dus geestelike krag uit God se Woord put voordat die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het.

My broer, Willi

Willi, wat vier jaar ouer as ek was, het nie met my en my ma kontak gemaak sedert ons Frankryk meer as nege jaar vroeër verlaat het nie. Hoewel my ma hom uit die Bybel geleer het toe hy jonk was, is hy mislei om te glo dat Hitler se politieke program die sleutel tot ’n wonderlike toekoms was. In Mei 1940 het ’n Franse hof Willi vir sy onwettige bedrywighede as ’n Nazi tot twee jaar gevangenskap gevonnis. Maar hy is kort daarna vrygelaat toe Duitse troepe Frankryk binnegeval het. Toe dit gebeur het, het hy vir ons ’n poskaart uit Parys gestuur. Ons was bly om te weet dat hy nog lewe, maar geskok om uit te vind wat hy geword het!

Gedurende die oorlog kon Willi ons dikwels besoek weens sy goeie verhouding met die SS (Schutzstaffel, Hitler se keurwag). Hy was baie beïndruk deur Hitler se militêre oorwinnings. Feitlik elke keer as ek probeer het om sy aandag te vestig op ons Bybelse hoop, het hy gesê: “Snert! Kyk na Hitler se Blitzkrieg. Die Duitsers sal binnekort die heersers van die wêreld wees!”

Terwyl Willi eenkeer, in Februarie 1942, met verlof by die huis was, het ek vir hom die boek Vyande gegee, wat deur Jehovah se Getuies uitgegee is. Tot my groot verbasing het hy dit op een slag deurgelees. Dit het tot hom begin deurdring dat Hitler se bewind tot mislukking gedoem is. Hy het ’n onmenslike stelsel ondersteun en was vasbeslote om sy fout onmiddellik reg te stel.

Willi neem sy standpunt in vir Bybelwaarheid

Toe Willi ons die volgende maand besoek het, was hy ’n ander mens. Hy het gesê: “Anton, ek was verkeerd!”

“Willi”, het ek gesê, “dis ’n bietjie laat om dit nou te besef.”

“Nee”, het hy geantwoord, “dis nie te laat nie! Die Bybel sê dat ‘jy moet doen wat jy moet so lank jy lewe’, en dank die Vader ek lewe nog!”—Prediker 9:10.

“En presies wat is jy van plan om te doen?” het ek gevra.

“Wel, ek gaan nie langer ’n soldaat wees nie”, het hy geantwoord. “Ek gaan my bande met die Nazi’s verbreek en kyk wat gebeur.”

Hy het dadelik na Zagreb, Joego-Slawië, vertrek om ons suster, Pepi, nog een keer te besoek. Nadat hy ’n ruk lank verbode vergaderinge van die Getuies daar bygewoon het, is hy in die geheim gedoop. Die verlore seun het uiteindelik teruggekeer!—Lukas 15:11-24.

Willi het die grens na Switserland probeer oorsteek om van die Nazi’s in Frankryk af weg te kom. Maar die Duitse militêre polisie het hom gevang. Hy het in Berlyn voor ’n krygsraad verskyn, en op 27 Julie 1942 is hy ter dood veroordeel omdat hy gedros het. Ek is toegelaat om hom in die Berlyn-Tegel- Militêre Gevangenis te besoek. Ek is na ’n klein vertrek geneem, en ná ’n rukkie het Willi ingekom, vasgeketting aan ’n wag. My oë het vol trane geword toe ek hom in daardie toestand sien. Ons is nie toegelaat om mekaar te omhels nie en het net 20 minute gehad om afskeid te neem.

Willi het my trane gesien en gesê: “Anton, waarom huil jy? Jy behoort bly te wees! Ek is so dankbaar teenoor Jehovah dat hy my gehelp het om weer die waarheid te vind! As ek vir Hitler moes sterf, sou ek geen hoop gehad het nie. Maar as ek vir Jehovah sterf, beteken dit dat ek beslis opgewek sal word en dat ons mekaar weer sal sien!”

Willi het in sy afskeidsbrief aan ons geskryf: “Ons liefdevolle God, wat ek dien, gee my alles wat ek nodig het en sal my beslis tot die einde toe onderskraag, sodat ek kan volhard en as oorwinnaar uit die stryd kan tree. Ek sê weer, wees verseker dat ek glad nie spyt is nie en dat ek standvastig gebly het in die Here!”

Willi is die volgende dag, 2 September 1942, in die Brandenburg-strafgevangenis, naby Berlyn, tereggestel. Hy was 27 jaar oud. Sy voorbeeld bevestig die woorde in Filippense 4:13: “Vir alles is ek sterk genoeg deur hom wat my krag gee.”

Vinko se getrouheid tot die dood

Die Duitse leër het in 1941 in Joego-Slawië ingemarsjeer, waarna Pepi sowel as haar man, Vinko, en hulle 12-jarige dogter, Fini, noodgedwonge na Oostenryk moes terugkeer. Teen daardie tyd was die meeste van die Getuies in Oostenryk reeds in gevangenisse of konsentrasiekampe. Omdat hulle staatloos was—met ander woorde nie Duitse burgers nie—moes hulle dwangarbeid verrig op ’n plaas in die suide van Oostenryk, naby ons huis.

Later, op 26 Augustus 1943, het die Gestapo (die Nazi- geheime polisie) Vinko in hegtenis geneem. Toe Fini haar pa probeer groet, het die polisiehoof haar van haar voete af geslaan. Vinko is dikwels deur die Gestapo ondervra en wreed geslaan en is na die Stadelheim-strafgevangenis in München geneem.

Op 6 Oktober 1943 het die polisie my by die werk in hegtenis geneem, en ek is ook na die Stadelheim-strafgevangenis gestuur, waar Vinko was. Aangesien ek Frans vlot kon praat, is ek as ’n tolk vir Franse krygsgevangenes gebruik. Wanneer ek deur die gevangenekamp geloop het, het ek geleentheid gehad om met Vinko te gesels.

Vinko is uiteindelik ter dood veroordeel. Hy is daarvan beskuldig dat hy Getuies van Bybellektuur voorsien het en dat hy geldelike hulp gegee het aan Getuievrouens wie se mans in konsentrasiekampe was. Hy is na dieselfde strafgevangenis naby Berlyn oorgeplaas waar Willi tereggestel is. Daar is hy op 9 Oktober 1944 onthoof.

Die laaste ontmoeting wat Vinko met sy gesin gehad het, was hartverskeurend. Hy was vasgeketting en erg geslaan, en weens die kettings was dit vir hom moeilik om hulle te omhels. Fini was 14 toe sy haar pa die laaste keer gesien het. Sy onthou nog sy laaste woorde: “Pas jou ma op, Fini!”

Ná haar pa se dood is Fini van haar ma af weggeneem en in die sorg van ’n Nazi-gesin geplaas wat haar probeer “hervorm” het. Sy is dikwels wreed geslaan. Toe Russiese troepe Oostenryk binnegeval het, het hulle die Duitse gesin geskiet wat haar so mishandel het. Hulle het die gesin as berugte Nazi’s beskou.

Ná die oorlog het my suster in die voltydse bediening gebly. Sy het tot haar dood in 1998 saam met haar tweede man, Hans Förster, in die Switserse takkantoor van Jehovah se Getuies gedien. Fini het in haar ouers se voetstappe gevolg en dien nou die ware God, Jehovah, in Switserland.

Uiteindelik vry!

Vroeg in 1945 was ons gevangenis in München onder die geboue wat gebombardeer is. Die stad het in puin gelê. Ek was reeds 18 maande in die gevangenis voordat die dag van my verhoor voor ’n regter uiteindelik aangebreek het. Dit was net twee weke voordat die oorlog op 8 Mei 1945 amptelik geëindig het. Tydens die verhoor is ek gevra: “Is jy bereid om militêre diens te doen?”

“’n Gevangene mag nie ’n uniform dra of ‘Heil Hitler’ sê nie”, het ek geantwoord. Toe ek gevra is of ek bereid sal wees om in die Duitse leër te dien, het ek gesê: “Gee my asseblief my oproepdokumente, en ek sal vir julle sê wat my besluit is!”

’n Paar dae later was die oorlog verby, en daar is vir my gesê dat ek vry is om te gaan. Kort daarna het ek na Graz toe getrek, waar ’n klein gemeente van 35 Getuies georganiseer was. Nou floreer agt gemeentes in die Graz-omgewing.

’n Liefdevolle helper

Kort ná die oorlog het ek Helene Dunst ontmoet, ’n jong onderwyseres wat ’n lid van die Nazi-party was. Sy is heeltemal deur Nazisme ontnugter. Gedurende my eerste gesprek met haar het sy gevra: “Waarom weet net julle dat God se naam Jehovah is en ander mense nie?”

“Want die meeste mense ondersoek nie die Bybel nie”, het ek geantwoord. Toe het ek haar God se naam in die Bybel gewys.

“As die Bybel sê dat God se naam Jehovah is, moet ons almal daarvan vertel!” het sy gesê. Helene het Bybelwaarhede begin verkondig en ’n jaar later haar toewyding aan Jehovah deur waterdoop gesimboliseer. Ons is op 5 Junie 1948 getroud.

Op 1 April 1953 het ons voltydse bedienaars van Jehovah se Getuies geword. Later is ons genooi om die 31ste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead, naby South Lansing, New York, by te woon. Daar het ons waarlik bemoedigende omgang met medestudente van 64 verskillende lande geniet.

Ná ons graduering is ons teruggestuur Oostenryk toe. ’n Paar jaar lank was dit ons toewysing om gemeentes te besoek en hulle geestelik te versterk. Daarna is ons genooi om by die takkantoor van Jehovah se Getuies in Luxemburg te dien. Later is ons gevra om na die takkantoor in Wene, Oostenryk, te trek. In 1972, terwyl ons daar gedien het, het ons Serwo-Kroaties begin leer sodat ons vir die groot aantal Joego-Slawiese immigrantewerkers in Wene kon getuig. Vandag is hier agt Serwo-Kroatiese gemeentes in Wene, wat bestaan uit mense van feitlik elke deel van Europa!

Op 27 Augustus 2001 is Helene oorlede. Sy was ’n betroubare en geliefde helper en metgesel gedurende ons 53 gelukkige jare van getroude lewe. Nou is die opstandingshoop nog kosbaarder vir my.

Tevrede in God se liefde

Ondanks die tragedies wat ek deurgemaak het, bly ek tevrede met my werk by die Oostenrykse takkantoor. Ek het onlangs die voorreg gehad om persoonlike ondervindinge te vertel as deel van die uitstalling “Vergete slagoffers van die Nazi-bewind”. Sedert 1997 het hierdie uitstalling deur 70 Oostenrykse stede en dorpe getoer en ooggetuies wat Nazi-gevangenisse en -konsentrasiekampe oorleef het, die geleentheid gegee om te vertel van die geloof en moed wat ware Christene ten spyte van Nazi-vervolging getoon het.

Ek beskou dit as ’n voorreg dat ek sulke getroue persone persoonlik geken het. Hulle lewer treffende bewys van die waarheid van Romeine 8:38, 39: “Nie die dood of die lewe of engele of regerings of teenswoordige dinge of toekomstige dinge of magte of hoogte of diepte of enige ander skepping [sal] ons . . . kan skei van God se liefde wat in Christus Jesus, ons Here, is nie.”

[Prent op bladsy 17]

Ons familie in 1930 (links na regs): ek, Pepi, my pa, Willi, my ma en Vinko

[Prent op bladsy 18]

My broer, Willi, kort voor sy teregstelling

[Prent op bladsy 19]

Ek en Vinko was ’n ruk lank saam in die Stadelheim-strafgevangenis, München

[Prent op bladsy 19]

Vinko se dogter, Fini, is in die sorg van ’n wrede Nazi-gesin geplaas; sy is vandag nog getrou

[Prent op bladsy 20]

Helene was ’n geliefde metgesel gedurende ons 53 jaar van getroude lewe

[Prent op bladsy 20]

Ek praat by die uitstalling “Vergete slagoffers van die Nazi-bewind”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel