Hulp vir kinders wat treur
Dit is beslis nie maklik om ’n volwassene van die dood van ’n geliefde te vertel nie. Maar stel jou voor dat jy ’n kind moet vertel.
VIR baie kinders kan die dood van ’n familielid of vriend verwarrend—selfs skrikwekkend—wees. Om ’n kind deur hierdie tyd te help, is moeilik, veral vir ouers wat self treur. Hulle het immers ook emosionele ondersteuning nodig.
Party ouers probeer om dit vir die kind makliker te maak deur te sê dat die oorledene hulle verlaat het of weggegaan het. Maar om sulke dinge te sê, is misleidend en bedrieglik. Hoe kan jy dus met ’n kind oor die dood praat?
Renato en Isabelle het voor so ’n uitdaging te staan gekom. Toe hulle drie-en-’n-halfjarige dogtertjie, Nicolle, oorlede is, moes hulle hulle seuntjie, Felipe, wat toe vyf jaar oud was, help om haar dood te verwerk.
Ontwaak!: Hoe het julle Nicolle se dood aan Felipe verduidelik?
Isabelle: Ons het probeer om eerlik en heeltemal openlik daaroor te praat. Ons het hom aangemoedig om vrae te vra, en ons het dit altyd probeer beantwoord op ’n manier wat ’n kind van sy ouderdom kan verstaan. Aangesien Nicolle aan ’n bakteriële infeksie oorlede is, het ons vir hom gesê dat ’n onsigbare goggatjie haar liggaam binnegedring het en dat die dokters dit nie kon doodmaak nie.
Ontwaak!: Het julle met Felipe gepraat oor julle godsdiensoortuigings in verband met die dood?
Renato: Ons is Jehovah se Getuies, en ons het geweet dat ons Bybelse oortuigings oor die dood Felipe sou vertroos. Die Bybel stel dit baie duidelik—dit leer dat die dooies van niks bewus is nie (Prediker 9:5). Ons het gemeen dat hierdie lering sou help om enige vrese wat Felipe moontlik gehad het—soos om saans alleen te slaap—uit die weg te ruim.
Isabelle: Die Bybel leer ook dat mense wat gesterf het, op ’n paradysaarde opgewek sal word. Dis wat ons glo, en ons het gedink dat ons oortuiging Felipe ook sou help. Ons het dus met hom gepraat oor wat die Bybel leer. Ons het gesels oor die Bybelverslag van hoe Jesus Jaïrus se 12-jarige dogter opgewek het. Toe het ons aan Felipe verduidelik dat Nicolle ook opgewek sal word. Dit is wat die Bybel leer.—Markus 5:22-24, 35-42; Johannes 5:28, 29.
Ontwaak!: Dink julle dat Felipe al hierdie inligting kon verstaan?
Renato: Ja, ons dink hy kon. Kinders verwerk die dood die beste as hulle akkurate, eenvoudige, duidelike, eerlike verduidelikings gegee word. ’n Mens hoef nie geheimsinnig daaroor te wees nie. Die dood is ’n werklikheid. Ongelukkig is dit nog steeds deel van die lewe. Ouers moet hulle kinders dus leer hoe om die dood te verwerk, en ons het ook later ons jonger seun Vinicius hiermee gehelp.a
Ontwaak!: Het julle Felipe na die begrafnis geneem?
Renato: Nadat ons die voordele en die nadele teen mekaar opgeweeg het, het ons besluit om hom nie saam te neem nie. Op sy ouderdom is ’n kind baie vatbaar vir indrukke. Party ouers sal natuurlik besluit om hulle kind saam te neem, en elke kind is anders wanneer dit kom by wat hy of sy kan hanteer. As ’n kind wel na die begrafnis geneem word, sal dit goed wees om vir hom of haar te sê presies wat om te verwag.
Ontwaak!: Toe Nicolle gesterf het, het julle sekerlik ’n baie moeilike tyd deurgemaak. Was julle bang dat julle seun julle sou sien huil?
Isabelle: Ons het nooit ons gevoelens vir Felipe probeer wegsteek nie. As Jesus “trane gestort” het toe ’n geliefde gesterf het, waarom kon ons nie? (Johannes 11:35, 36). En waarom sou dit sleg gewees het as Felipe ons sien huil? Aangesien ons nie ons droefheid weggesteek het nie, het Felipe besef dat dit nie verkeerd is om te huil nie. Dis net ’n manier om aan emosies uiting te gee. Ons wou hê dat Felipe moet voel dat hy sy gevoelens ook kon uitdruk, eerder as om dit op te krop.
Renato: Wanneer ’n gesin ’n tragedie deurmaak, voel kinders dikwels onveilig. As ons as ouers dus openlik en eerlik oor ons gevoelens praat, sal ons kinders dit ook doen. Nadat ons mooi geluister het na wat hulle bekommer, sal ons hulle kan gerusstel en hulle vrese kan stil.
Ontwaak!: Het julle enige hulp van ander ontvang?
Renato: Ja, die lede van ons gemeente was ’n groot ondersteuning. Al die besoeke, oproepe en kaartjies wat ons ontvang het, het Felipe gehelp om te sien hoe lief hulle vir ons is en hoeveel hulle vir ons omgee.
Isabelle: Ons familie was ook baie behulpsaam. Ná Nicolle se dood het my pa besluit om elke oggend saam met ons ontbyt te kom eet. Dit was ’n blyk van sy liefdevolle ondersteuning. En dit het Felipe baie beter laat voel om sy oupa aan sy sy te hê.
Renato: Die geestelike aanmoediging wat ons by Christelike vergaderinge ontvang het, was van onskatbare waarde. Ons het hard probeer om by al die vergaderinge te wees, al was daar tye toe ons die trane nie kon keer nie. Dit was omdat Christelike vergaderinge baie herinneringe van Nicolle teruggebring het. Maar ons het geweet dat ons sterk moet wees, veral vir Felipe se onthalwe.
[Voetnoot]
a Vir meer inligting, sien die artikel “Help jou kind om droefheid te verwerk”, in Die Wagtoring van 1 Julie 2008, bladsye 18-20, en die brosjure Wanneer ’n geliefde sterf, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Venster/Prente op bladsy 14]
Die boeke hieronder, wat deur Jehovah se Getuies uitgegee word, kan diegene vertroos wat ’n geliefde aan die dood afgestaan het.
VIR VOLWASSENES:
Wat leer die Bybel
Hoofstuk 6: Waar is die dooies?
Hoofstuk 7: Ware hoop vir jou geliefdes wat gesterf het
VIR KLEIN KINDERS:
My boek met Bybel-verhale
Verhaal 92: Jesus wek dooies op
VIR OUER KINDERS:
Leer by die Groot onderwyser
Hoofstuk 34: Wat sal gebeur as ons doodgaan?
Hoofstuk 35: Ons kan wakker word uit die dood!
Hoofstuk 36: Wie sal opgewek word? Waar sal hulle lewe?
VIR ADOLESSENTE:
Vrae wat jongmense vra—antwoorde wat werk Deel 1
Hoofstuk 16: Is dit normaal dat ek so treur?
[Venster/Prent op bladsy 15]
HOE OM TE HELP
● Moedig jou kind aan om vrae te vra. Skep ’n atmosfeer waarin jou kind vryelik oor die dood en die betekenis daarvan kan praat.
● Vermy vae, abstrakte verduidelikings—soos dat die oorledene “ons verlaat het” of “weggegaan het”.
● Verduidelik die dood in eenvoudige, letterlike terme. Party sê eenvoudig dat die geliefde se liggaam “ophou werk het” en “nie reggemaak kon word nie”.
● Sê vir die kind wat om by die begrafnis te verwag; verduidelik dat die oorledene nie sal kan sien of hoor wat gebeur nie.
● Moenie jou gevoelens wegsteek nie. Dit sal jou kind help om te sien dat dit natuurlik is om te treur.
● Onthou dat daar nie ’n “regte” manier is om te treur nie. Elke kind—en elke omstandigheid—is anders.
[Erkenning]
Bron: www.kidshealth.org
[Prent op bladsy 15]
Kloksgewys van links: Felipe, Renato, Isabelle en Vinicius