Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w08 10/1 bl. 28-31
  • Hoe my geloof my gehelp het om tragedies te verwerk

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe my geloof my gehelp het om tragedies te verwerk
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Gelukkige lewe met min probleme
  • Ons leer ons kind om Jehovah lief te hê
  • ’n Stryd teen leukemie
  • Saúl se geloof roer ander se harte
  • Hulp vir kinders wat treur
    Ontwaak!—2012
  • “Ek het die geloof behou”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Ek kom voor ’n mediese noodgeval te staan
    Ontwaak!—1996
  • Wanneer ’n kind kanker het
    Ontwaak!—2011
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
w08 10/1 bl. 28-31

Hoe my geloof my gehelp het om tragedies te verwerk

Soos vertel deur Soledad Castillo

Baie keer in my lewe kon eensaamheid my oorweldig het—maar dit het nie. Toe ek 34 was, het my geliefde man gesterf. Ses jaar daarna het my pa gesterf. Agt maande ná my pa se dood het ek uitgevind dat my enigste seun ’n ongeneeslike siekte het.

MY NAAM is Soledad, wat “eensaamheid” beteken. Maar tog het ek nooit heeltemal alleen gevoel nie. Wanneer ek tragedies moes verwerk, het ek geglo dat Jehovah God daar was en ‘my hand vasgegryp en my gehelp het sodat ek nie bang gevoel het nie’ (Jesaja 41:13). Laat my verduidelik hoe ek my persoonlike tragedies oorleef het en hoe dit my nader aan Jehovah gebring het.

’n Gelukkige lewe met min probleme

Ek is op 3 Mei 1961 in Barcelona, Spanje, gebore as die enigste kind van my ouers, José en Soledad. Toe ek nege jaar oud was, het my ma die waarheid van God se Woord geleer. Sy het na antwoorde op haar godsdiensvrae gesoek, maar die kerk het haar nie tevrede gestel nie. Eendag het twee van Jehovah se Getuies haar by die huis besoek en al haar vrae uit die Bybel beantwoord. Sy het ’n Bybelstudie gretig aanvaar.

Kort voor lank het my ma ’n gedoopte Getuie van Jehovah geword, en ’n paar jaar daarna het my pa haar voorbeeld gevolg. Eliana, wat die studie met my ma gehou het, het gou my lewendige belangstelling in God se Woord raakgesien. Alhoewel ek net ’n jong meisie was, het Eliana voorgestel dat ek my eie studie moet hê. Danksy haar hulp en my ma se aanmoediging is ek op 13-jarige ouderdom gedoop.

Gedurende my tienerjare het ek my dikwels in gebed tot Jehovah gewend—veral wanneer ek besluite moes neem. Om die waarheid te sê, ek het relatief min probleme gedurende my adolessensie ondervind. Ek het baie vriende in die gemeente gehad, en ek het ’n hegte verhouding met my ouers geniet. In 1982 het ek met Felipe getrou, ’n Getuie wat dieselfde geestelike doelwitte as ek gehad het.

Ons leer ons kind om Jehovah lief te hê

Vyf jaar later het ek geboorte gegee aan ’n pragtige seuntjie, wat ons Saúl genoem het. Ek en Felipe was verheug om ’n kind te hê. Ons het gehoop dat Saúl in ’n gesonde, gebalanseerde kind met ’n liefde vir God sou ontwikkel. Ek en Felipe het baie tyd saam met Saúl deurgebring terwyl ons met hom oor Jehovah gepraat, saam maaltye geniet, hom na die park geneem en speletjies met hom gespeel het. Saúl het daarvan gehou om saam met Felipe te gaan om ander van Bybelwaarhede te vertel, en Felipe het hom op ’n jong ouderdom aktief aan die bediening laat deelneem deur hom te leer om deurklokkies te lui en traktate aan mense te gee.

Saúl het goed op ons liefde en opleiding gereageer. Teen die tyd dat hy ses was, het hy gereeld saam met ons gepreek. Hy het baie daarvan gehou om na Bybelverhale te luister en het altyd uitgesien na ons gesinsbybelstudie. Kort nadat hy skool toe is, het hy klein besluite begin neem gebaseer op sy kennis van die Bybel.

Maar toe Saúl sewe was, het ons gesinslewe drasties verander. Felipe het ’n virusinfeksie in sy longe gekry. Hy het 11 maande lank met die siekte geworstel; hy kon nie werk nie en was dikwels bedlêend. Op 36-jarige ouderdom het my man gesterf.

Ek huil nog steeds wanneer ek aan daardie moeilike jaar terugdink. Ek het gesien hoe my man geleidelik die stryd teen die virus verloor, en daar was niks wat ek kon doen nie. Deur dit alles heen het ek Felipe probeer aanmoedig, alhoewel ek in my hart gevoel het hoe my eie verwagtinge en planne verpletter word. Ek het vir hom skriftuurlike artikels voorgelees, en dit het ons versterk wanneer ons nie Christelike vergaderinge kon bywoon nie. Toe hy gesterf het, het ’n gevoel van groot leegheid oor my gekom.

Maar Jehovah het my onderskraag. Ek het hom voortdurend vir sy gees gevra. Ek het hom gedank vir die gelukkige jare wat ek en Felipe saam deurgebring het en vir die hoop om Felipe in die opstanding weer te sien. Ek het God gevra om my te help om tevrede te wees met die herinneringe aan wat my man en ek saam geniet het, en om my die wysheid te gee om ons kind groot te maak om ’n ware Christen te wees. Ten spyte van die groot pyn het ek vertroos gevoel.

My ouers sowel as diegene in die gemeente het my baie ondersteun. Nogtans moes ek nou die leiding neem om die Bybel saam met Saúl te studeer en hom te leer hoe om Jehovah te dien. ’n Voormalige werkgewer het my ’n goeie kantoorwerk aangebied, maar ek het verkies om skoonmaakwerk te doen sodat ek meer tyd saam met Saúl kon deurbring en saam met hom kon wees wanneer hy van die skool af gekom het.

Een teks het die belangrikheid van Saúl se geestelike opleiding by my tuisgebring: “Lei ’n seun op volgens die weg vir hom; ook as hy oud word, sal hy nie daarvan afwyk nie” (Spreuke 22:6). Hierdie teks het my die hoop gegee dat Jehovah my pogings sou seën as ek my bes doen om geestelike waardes by Saúl in te skerp. Ek moes weliswaar finansiële opofferings maak, maar ek moes tyd saam met my seun deurbring, en dit was vir my belangriker as enige materiële gewin.

Toe Saúl 14 was, het my pa gesterf. Saúl was verpletterd, aangesien sy oupa se dood al die pyn teruggebring het wat hy met die dood van sy eie pa ondervind het. My pa het ook ’n goeie voorbeeld gestel van liefde vir Jehovah. Ná hierdie verlies het Saúl besluit dat hy die enigste “man” in die gesin was en dat hy nou na sy ma en ouma moes omsien.

’n Stryd teen leukemie

Agt maande ná my pa se dood het ons huisdokter vir my gesê om Saúl na die plaaslike hospitaal te neem omdat hy uiters moeg was. Ná ’n reeks toetse het die dokters vir my gesê dat Saúl leukemie het.a

Gedurende die volgende twee en ’n half jaar was Saúl kort-kort in die hospitaal as gevolg van die kanker en die chemoterapie wat die dokters gebruik het in ’n poging om dit te bestry. Die eerste behandelingsprogram, wat ses maande geduur het, het die kanker 18 maande lank in remissie laat gaan. Maar die kanker het teruggekeer, en Saúl het weer chemoterapie ontvang. Hierdie keer was die behandeling korter, maar dit het hom baie swak laat word. Die kanker het net ’n kort tydjie in remissie gegaan, en Saúl kon nie ’n derde kursus van chemoterapie hanteer nie. Saúl het sy lewe aan God toegewy en sy begeerte uitgespreek om as een van Jehovah se Getuies gedoop te word, maar hy het gesterf kort nadat hy 17 geword het.

Dokters beveel dikwels bloedoortappings aan om die aggressiewe aard van chemoterapie teë te werk. Oortappings kan die siekte natuurlik nie genees nie. Toe die dokters die leukemie gediagnoseer het, moes ek en Saúl dit duidelik maak dat ons hierdie behandeling nie sou aanvaar nie, aangesien ons Jehovah se gebod wou gehoorsaam om ons te “onthou . . . van bloed” (Handelinge 15:19, 20). By verskeie geleenthede moes Saúl die dokters in my afwesigheid oortuig dat hy sy eie besluit oor hierdie aangeleentheid geneem het. (Sien die venster op bladsy 31.)

Die dokters het uiteindelik tot die gevolgtrekking gekom dat Saúl ’n volwasse minderjarige is wat die aard van sy siekte goed genoeg verstaan. Hulle het ingestem om ons standpunt te respekteer en het ons bloedlose behandeling aangebied, alhoewel ons onder aanhoudende druk was om ons besluit te verander. Ek was baie trots op Saúl toe ek geluister het hoe hy sy standpunt aan die dokters verduidelik. Dit was duidelik dat hy ’n hegte verhouding met Jehovah ontwikkel het.

In die somer wat ons uitgevind het dat Saúl siek is, is die boek getiteld Kom nader aan Jehovah by ons streekbyeenkoms in Barcelona vrygestel. Daardie kosbare boek was soos ’n anker wat ons gehelp het om standvastig te bly terwyl ons ons onsekere en angswekkende toekoms tegemoetgegaan het. Gedurende die ure wat ons in die hospitaal deurgebring het, het ons gedeeltes daarvan saam gelees. In die talle moeilike tye wat ons daarna verduur het, het ons dikwels aan die inhoud daarvan teruggedink. In daardie tyd het die woorde van Jesaja 41:13, wat in die voorwoord van daardie boek genoem word, vir ons spesiale betekenis aangeneem. Dit sê: “Ek, Jehovah jou God, gryp jou regterhand vas, ek wat vir jou sê: ‘Moenie bang wees nie. Ek sal jou help.’”

Saúl se geloof roer ander se harte

Saúl se rypheid en optimisme het dokters en verpleegsters by die Vall d’Hebrón-hospitaal diep beïndruk. Die hele span wat hom versorg het, het vir hom lief geword. Die hoofhematoloog wat na kankergevalle omsien, het sedertdien ander Getuiekinders wat aan leukemie ly, as pasiënte gehad, en hy het hulle met groot respek en waardigheid behandel. Hy onthou Saúl se ferm besluit om by sy geloof te bly, sy moed toe hy die dood in die gesig gestaar het en sy blymoedige uitkyk op die lewe. Die span verpleegsters het vir Saúl gesê dat hy die beste pasiënt was wat hulle nog ooit in daardie saal gehad het. Hulle het gesê dat hy nooit gekla het of sy sin vir humor verloor het nie—selfs toe hy op die rand van die dood gestaan het.

’n Sielkundige het vir my gesê dat baie kinders wat op daardie ouderdom ’n ongeneeslike siekte het, weens ongerief en frustrasie geneig is om teen dokters en ouers te rebelleer. Sy het opgelet dat dit nie in Saúl se geval gebeur het nie. Dit was vir haar verbasend om Saúl so kalm en positief te sien. Dit het my en Saúl ’n geleentheid gegee om vir haar oor ons geloof te getuig.

Ek onthou ook hoe Saúl ’n Getuie in ons gemeente indirek gehelp het. Hierdie Getuie het ongeveer ses jaar lank aan depressie gely, en medikasie het sy toestand nie verbeter nie. By verskeie geleenthede het hy Saúl ’n nag lank in die hospitaal versorg. Hy het vir my gesê dat hy diep beïndruk was deur Saúl se gesindheid terwyl hy met leukemie geworstel het. Hy het opgemerk dat Saúl almal wat hom besoek het, probeer aanmoedig het alhoewel hy baie moeg was. “Saúl se voorbeeld het my die moed gegee om teen my depressie te veg”, sê hierdie Getuie.

Drie jaar het nou verbygegaan sedert Saúl oorlede is. Die pyn is natuurlik nog daar. Ek is nie sterk nie, maar God het my “die krag wat bo die normale is”, gegee (2 Korintiërs 4:7). Ek het geleer dat selfs die moeilikste en pynlikste ondervindinge ’n positiewe sy kan hê. Die feit dat ek moes leer om die dood van my man, my pa en my seun te verwerk, het my gehelp om meer onselfsugtig en simpatiek te wees teenoor ander wat ly. Bowenal het dit my nader aan Jehovah gebring. Ek kan die toekoms sonder vrees tegemoetgaan omdat my hemelse Vader my nog steeds help. Hy gryp nog steeds my hand vas.

[Voetnoot]

a Saúl het limfoblastiese leukemie gehad, ’n ernstige soort bloedkanker wat die witbloedselle vernietig.

[Venster/Prent op bladsy 31]

HET JY AL GEWONDER?

Jy het dalk al gehoor dat Jehovah se Getuies nie bloedoortappings aanvaar nie. Het jy al ooit gewonder waarom nie?

Hierdie skriftuurlike standpunt word dikwels verkeerd verstaan. Soms neem mense aan dat Jehovah se Getuies alle mediese behandeling weier of dat hulle die lewe eenvoudig nie waardeer nie. Niks kan verder van die waarheid wees nie. Jehovah se Getuies wil die beste beskikbare mediese behandeling vir hulle en hulle familielede hê. Maar hulle wil bloedlose mediese behandeling hê. Waarom?

Hulle standpunt is gebaseer op ’n grondliggende wet wat God aan die mensdom gegee het. Kort ná die Vloed van Noag se dag het God Noag en sy gesin toestemming gegee om die vlees van diere te eet. God het hulle hierdie een beperking opgelê: Hulle moes nie bloed eet nie (Genesis 9:3, 4). Alle mense van alle rasse is afstammelinge van Noag, gevolglik is hierdie wet op die hele mensdom van toepassing. Dit is nooit herroep nie. Meer as agt eeue later het God daardie wet aan die nasie Israel herhaal en verduidelik dat bloed heilig is en dat dit die siel, of lewe self, voorstel (Levitikus 17:14). Oor die 1 500 jaar later het die Christenapostels alle Christene beveel om hulle “voortdurend te onthou . . . van bloed”.—Handelinge 15:29.

Dit is duidelik vir Jehovah se Getuies dat dit onmoontlik is om hulle van bloed te onthou as hulle dit deur middel van ’n oortapping in hulle liggaam inneem. Hulle dring dus aan op alternatiewe behandelingsmetodes. Hierdie skriftuurlike standpunt het dikwels ’n selfs hoër gehalte van mediese behandeling tot gevolg. Dit is ongetwyfeld waarom baie mense wat nie Jehovah se Getuies is nie, ook bloedlose mediese behandeling wil hê.

[Prent op bladsy 29]

Saam met my man Felipe en ons seun Saúl

[Prent op bladsy 29]

My ouers, José en Soledad

[Prent op bladsy 30]

Saúl een maand voor sy dood

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel