Oorsake van geweld
DIE grondoorsake van gewelddadige gedrag is gewoonlik kompleks. En dikwels kan dit nie toegeskryf word aan net een faktor, soos assosiasie, vermaak of milieu nie. Baie faktore kan ’n rol speel, insluitende die volgende.
Desperaatheid en wanhoop. Soms wend mense hulle tot geweld as hulle onderdruk word, diskriminasie ondervind, uit die samelewing verstoot word, ekonomies benadeel word of as hulle voel dat hulle geen beheer oor hulle lewe het nie.
Die invloed van ’n skare. Soos dikwels by sportbyeenkomste gesien word, maak mense hulle blykbaar makliker skuldig aan slegte gedrag wanneer hulle in ’n groep of in ’n oproerige skare is. Waarom? Hulle is “minder bewus van hulle eie sedelike standaarde en baie meer geneig om te reageer op dinge wat geweld of aggressie kan uitlok”, sê die boek Social Psychology. Sulke mense, sê ’n ander tesis, kan redelose marionette word en “enige gevoel van maatskaplike verantwoordelikheid” verloor.
Haat en jaloesie. Die eerste opgetekende moord in die mensegeskiedenis is deur ’n man met die naam Kain gepleeg (Genesis 4:1-8). Kain is verteer deur jaloerse haat en het sy broer vermoor—al het God Kain gewaarsku om sy emosies te beheers en belowe om hom te seën as hy dit doen. Hoe waar is die Bybel se woorde tog: “Waar daar jaloesie en twisgierigheid is, daar is wanorde en allerhande veragtelike dinge”!—Jakobus 3:16.
Alkohol- en dwelmmisbruik. Alkohol- en dwelmmisbruik benadeel nie net ’n persoon se fisiese en geestesgesondheid nie, maar belemmer ook die werking van beheersentrums in die brein. Gevolglik sal iemand wat onder die invloed van sulke middels is, moontlik meer geneig wees tot gewelddadige gedrag en aggressiewer optree as hy uitgelok word.
Lakse strafregstelsels. “Omdat die vonnis oor ’n slegte werk nie gou voltrek is nie, daarom is die hart van die mensekinders in hulle volkome daarop gerig om kwaad te doen”, sê Prediker 8:11. Swak, onbevoegde of korrupte regstelsels bevorder geweld op direkte of indirekte wyse.
Valse godsdiens. Godsdiens word dikwels verbind met geweld, insluitende sektariese geweld en terrorisme. Maar die skuld lê nie net by godsdiensdwepers, ekstremiste en fanatici nie. Gedurende die twee wêreldoorloë het lede van vername godsdienste—“Christelik” en nie-Christelik—mekaar afgemaai, dikwels met die seën van hulle godsdiensleiers. Sulke gedrag is vir God aanstootlik.—Titus 1:16; Openbaring 17:5, 6; 18:24.
Is dit, met die oog op al die dinge wat geweld bevorder of verheerlik, moontlik om in vandag se wêreld ’n vredeliewende persoon te word? Ja, soos ons nou sal sien.
[Venster op bladsy 6]
GEWELD KOM VAN BINNE
Hoewel ’n aantal faktore tot gewelddadige gedrag aanleiding kan gee, is die hoofoorsake daarvan binne ons. Hoe so? Jesus Christus, wat diep insig in die mensehart gehad het, het gesê: “Uit die hart van die mens, kom skadelike redenasies: hoererye, diefstalle, moorde, egbreuk, hebsugtige begeertes, goddelose dade, bedrog, losbandige gedrag, ’n afgunstige oog, lastering, hoogmoed, onredelikheid” (Markus 7:21, 22). Ons voed sulke verkeerde neigings wanneer ons herhaaldelik na slegte dinge kyk, daarna luister of daaraan dink.—Jakobus 1:14, 15.
Wanneer ons ons verstand egter met heilsame dinge voed, soos dié wat in die artikel op bladsy 8 gemeld word, smoor ons slegte begeertes en ‘maak ons dit dood’ en kweek ons goeie begeertes (Kolossense 3:5; Filippense 4:8). Dan sal God ons help om “sterk gemaak te word in die mens wat [ons] innerlik is”.—Efesiërs 3:16.
[Venster op bladsy 7]
GEWELD VERBYSTER DESKUNDIGES
Waarom is die moordsyfer in party lande 60 keer hoër as in ander lande? Waarom was oorloë en ander vorme van geweld nog altyd deel van die mensegeskiedenis? Daar is soveel verbysterende vrae, maar min oortuigende antwoorde.
Party navorsers hou vol dat armoede en ongelykheid tot geweld aanleiding gee. Volgens statistiek het omtrent 90 persent van alle gewelddadige sterftes, insluitende selfmoord, in die wêreld se minder welvarende lande plaasgevind en is die misdaadsyfer in armer stedelike woonbuurte dikwels hoog. Maar is arm mense werklik gewelddadiger? Of ondervind hulle meer geweld omdat hulle gemeenskappe nie goeie gehalte wetstoepassing kan bekostig nie? Dan is daar plekke soos Kolkata, Indië, waar miljoene in armoede lewe. En tog het Kolkata een van die laagste moordsyfers in die wêreld.
Ander meen dat daar meer geweld is in ’n gemeenskap waar vuurwapens geredelik beskikbaar is. Vuurwapens maak gewelddadige mense beslis gevaarliker. Maar waarom is daar in party gemeenskappe ’n groter persentasie gewelddadige mense as in ander? Weer eens kan die deskundiges nie saamstem nie.