Die wêreld se grootste blom
“KOM kyk, Meneer, ’n blom, ’n baie groot, pragtige, wonderlike blom”, het Joseph Arnold se opgewonde gids gesê gedurende ’n ekspedisie om plante op die Indonesiese eiland Sumatra te versamel. Arnold, ’n Britse plantkundige, het sy gids gevolg en iets gesien wat hy as “waarlik verstommend” beskryf het. Dit was ’n besondere blom. Nou, byna 200 jaar later, word die blomsoort wat hy gedurende sy 1818-ekspedisie gesien het—die skouspelagtige rafflesia—nog steeds erken as die grootste blom in die wêreld.
Daar is tientalle spesies rafflesia, en almal kom net in die oerwoude van Suidoos-Asië voor. Nuwe spesies word egter nog steeds ontdek. Die soort wat die grootste blom dra, is Rafflesia arnoldii, wat vernoem is na Joseph Arnold en na sir Thomas Stamford Raffles, die stigter en goewerneur van Singapoer, wat saam met hom op die ekspedisie gegaan het. Al is dit ’n pragtige blom, sal jy dit beslis nie in ’n rangskikking wil sit nie.
Dink eerstens aan hoe groot dit is. Die rafflesia kan omtrent ’n meter in deursnee word—die grootte van ’n bus se band—en kan sowat 11 kilogram weeg.a Die blom het vyf dik, pienkbruin vlesige kroonblare met ligte vratagtige kolle. Waar die kroonblare in die middel saamkom, is daar ’n groot holte wat soos ’n bak lyk en tot ses liter water kan bevat.
Dink tweedens aan die reuk. Een persoon het onomwonde gesê dat die rafflesia soos ’n “buffelkarkas in ’n gevorderde toestand van ontbinding” ruik, en daarom word dit ook heel gepas die stinkende-lyk-lelie genoem.b Die blomme word hoofsaaklik bestuif deur aasvlieë, wat die stank onweerstaanbaar vind.
Die rafflesia het geen stam, blare of wortels nie en groei as ’n parasiet in sekere rankplante op die oerwoudvloer. Nadat ’n nuwe rafflesiaknop deur die bas van die gasheer gebreek het, neem die knop omtrent tien maande om uit te swel, en dikwels word dit so groot soos ’n groot koolkop. Dan, in ’n proses wat ’n hele paar uur neem, vou die vlesige kroonblare oop, en sien jy die blom in volle glorie. In die holte in die middel is ’n aantal puntige uitsteeksels wat prosesse genoem word. Navorsers weet nog nie werklik watter funksie dit verrig nie, hoewel party meen dat die uitsteeksels moontlik hitte versprei en die stank dus vererger.
Die blom se vreemde prag is egter van korte duur. Ná net ’n paar dae vrek die bloeisel en begin dit verrot, waarna ’n slymerige swart massa agterbly.
Die Rafflesia arnoldii is ’n seldsame en bedreigde spesie. Waarom? Manlike en vroulike blomme moet naby mekaar wees sodat kruisbestuiwing kan plaasvind, maar die meeste blomknoppe bereik nooit volwassenheid nie of blom nooit nie. Die rede hiervoor is dat baie knoppe gepluk word om in tradisionele medisyne gebruik te word of om as ’n lekkerny geëet te word. Dit het die aantal plante wat in die natuur groei, aansienlik verminder. Die voortdurende vernietiging van die blom se habitat, tropiese reënwoude, hou ook ’n ernstige bedreiging in.
Om ’n rafflesia te sien, is ’n unieke ervaring. Die grootte van die blom is indrukwekkend. Sy reuk is onvergeetlik, om die minste te sê. En sy vorm en kleur is baie treffend. Die wêreld se grootste blom is natuurlik net een van ons Skepper se tallose wonderbare werke. Psalm 104:24 sê: “Hoe talryk is u werke, o Jehovah! U het hulle almal in wysheid gemaak. Die aarde is vol van wat u voortgebring het.”
[Voetnote]
a Die blomme van sekere spesies rafflesia is net tien sentimeter in deursnee.
b Die titan arum (Amorphophallus titanum), wat ook die lykblom genoem word, word soms met die rafflesia verwar.—Sien die Ontwaak! van 22 Junie 2000, bladsy 31.
[Kaart op bladsy 17]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
MALEISIË
SUMATRA
[Prent op bladsy 17]
’n Rafflesiaknop net voordat dit oopvou