Mag ’n mens maar kul om goeie punte te kry?
IS JY op skool of universiteit? Indien wel, weet jy waarskynlik van klasmaats wat kul om goeie punte te kry. Dit is beslis ’n algemene probleem. In 2008 het die Josephson-instituut ’n opname gedoen onder byna 30 000 hoërskoolleerders in die Verenigde State, en 64 persent het erken dat hulle daardie jaar in ’n toets gekul het. Maar ander skat dat die eintlike syfer selfs groter is—meer as 75 persent.
Ook in Europa het kullery ’n ernstige probleem geword, veral plagiaat, oftewel letterdiewery. “Webwerwe wat studenteopstelle, meesterstesisse en doktorale proefskrifte as volledige produkte verkoop, is ’n nuwe probleem wat al hoe meer kommer wek”, sê ’n artikel wat in die e-tydskryf Digithum gepubliseer is.
Waarom het kullery so ’n groot probleem geword? Vind dié wat kul, werklik daarby baat? Is dit werklik beter om eerlik te wees—selfs as jy laer punte sal kry?
Waarom so algemeen?
Sedelike agteruitgang. “Baie opvoeders sê dat kullery algemener word weens sedelike agteruitgang in ’n egosentriese samelewing”, sê die American School Board Journal. Een leerder het van diegene in haar hoërgraadklasse erken: “Ons almal . . . het gekul; ons punte moes goed genoeg wees sodat ons by goeie universiteite kon inkom. Ons was goeie kinders met goeie sedes; ons was nie onetiese mense nie . . . Ons moes eenvoudig by goeie universiteite aanvaar word.” Selfs party ouers het hierdie beskouing ontwikkel. Omdat hulle graag wil sien dat hulle kinders “sukses behaal”, keur hulle kullery goed of sluit hulle hulle oë daarvoor, en sodoende ondermyn hulle hulle kinders se sedelike waardes nog verder.
Die druk om suksesvol te wees. Volgens Donald McCabe, stigter van die Internasionale Sentrum vir Akademiese Integriteit, meen leerders en studente wat kul dat eerlikheid hulle ’n agterstand sal gee in vergelyking met ander wat kul en skotvry daarvan afkom.
Die hulp van tegnologie. Moderne tegnologie stel leerders en studente in staat om makliker en op bedrewener wyse te kul. Hulle kan eksamenvraestelle en antwoorde vir hulle huiswerk van die Internet aflaai en dit vir ander gee. Dikwels word net ’n klein persentasie van hulle gevang, en dit moedig ander aan om dit ook te doen.
Die invloed van slegte voorbeelde. Kullery het iets algemeens geword in die wêreld van volwassenes—in groot maatskappye, in die politiek, in sport en dikwels selfs by die huis, as ouers kul wanneer dit kom by inkomstebelasting en versekeringseise. “As rolmodelle of mense in gesagsposisies kul”, sê David Callahan, die skrywer van The Cheating Culture, “sê dit as ’t ware vir jongmense dat kullery aanvaarbaar is.” Maar is dit? Kan kullery werklik geregverdig word as dit gedoen word om beter punte te kry?
Waarom eerlik wees?
Vra jou af: ‘Wat is die doel van ’n goeie opvoeding?’ Is dit nie om leerders en studente toe te rus vir baie van die lewe se verantwoordelikhede, soos om probleme by die werk te ontleed en op te los nie? Diegene wat in die gewoonte kom om te kul, sal dalk nooit hierdie belangrike vaardighede aanleer nie. Mense wat uit gewoonte kul, verbloem hulle swakhede en belemmer hulle kanse op sukses op baie gebiede in die lewe.
Wat meer is, “mense wat vroeg in die lewe kortpad kies—deur byvoorbeeld baie op skool te kul—sal die gewoonte moontlik by die werk voortsit”, sê Callahan. In sekere sin is sulke mense soos ’n kledingstuk of ’n polshorlosie met ’n vervalste handelsmerk. Dit lyk eg, maar is uiteindelik ’n teleurstelling.
Diegene wat kul, loop natuurlik ook die risiko om betrap te word en die gevolge te ly. Op die allerminste sal dit tot verleentheid en oneer lei. Maar dit kan ook tot skorsing of selfs erger dissipline lei. Die Bybel waarsku ronduit: “Wat ’n mens saai, dit sal hy ook maai” (Galasiërs 6:7). Maar die vrees om betrap te word, moenie die hoofrede wees om eerlik te wees nie. Daar is baie edeler redes.
Eerlikheid—Die ware sleutel tot sukses
Verstandige jongmense probeer eienskappe aankweek wat vir hulle nuttig sal wees, nie net tydens die eksamen nie, maar vir die res van hulle lewe. Daarom werk hulle hard op skool en probeer hulle waardes nastreef wat selfrespek opbou, wat toekomstige werkgewers hoog op prys sal stel en wat blywende geluk sal meebring.
Hierdie waardes kan in die Bybel gevind word, en jongmense wat daarvolgens lewe, het geensins ’n agterstand nie. Inteendeel, 2 Timoteus 3:16, 17 sê dat hulle “volkome bevoeg [sal] wees, ten volle toegerus vir elke goeie werk”. Jorge, wat in graad nege is, sê: “My klasmaats kul omdat hulle goeie punte wil kry sonder om hard te werk. Maar ek wil God behaag. Die Bybel sê in Spreuke 14:2: ‘Wie in sy regskapenheid wandel, vrees Jehovah, maar wie verdorwe is in sy weë, verag Hom.’ Ek weet dat ons niks vir God kan wegsteek nie. Daarom kul ek nie en help ek ander nie om te kul nie.”
Diegene wat hard probeer om in ooreenstemming met Bybelbeginsels te lewe, is nie noodwendig die slimste in die klas nie. Maar hulle is die verstandigste, want hulle lê ’n vaste grondslag vir blywende sukses in die lewe (Psalm 1:1-3; Matteus 7:24, 25). Wat meer is, hulle kan seker wees van die Skepper se goedkeuring en ondersteuning.
[Venster/Prent op bladsy 28]
BEGINSELS OM OOR NA TE DINK
● “Die lip van waarheid sal vir ewig stewig bevestig word, maar die leuenagtige tong sal slegs ’n oomblik duur.”—Spreuke 12:19.
● “’n Man van getroue dade sal baie seëninge kry.”—Spreuke 28:20.
● “Die ware God sal elke soort werk oordeel met betrekking tot alles wat verborge is, of dit goed of sleg is.”—Prediker 12:14.
● “Ons [wil] ons in alles eerlik . . . gedra.”—Hebreërs 13:18.
[Prent op bladsye 26, 27]
Moderne tegnologie stel leerders en studente in staat om makliker en op bedrewener wyse te kul
[Prent op bladsy 28]
Diegene wat kul, is soos ’n polshorlosie met ’n vervalste handelsmerk. Dit lyk net goed