Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 4/13 bl. 8-11
  • ’n Oplossing vir gesinsgeweld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Oplossing vir gesinsgeweld
  • Ontwaak!—2013
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’N OPLOSSING VIR GESINSGEWELD
  • ’n Einde aan gesinsgeweld
    Ontwaak!—1993
  • Is ’n wêreld sonder geweld moontlik?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe)—2016
  • Wat veroorsaak gesinsgeweld?
    Ontwaak!—1993
  • Jy kan probleme te bowe kom wat ’n gesin skade berokken
    Die geheim van gesinsgeluk
Sien nog
Ontwaak!—2013
g 4/13 bl. 8-11

VOORBLADONDERWERP

’n Oplossing vir gesinsgeweld

Scenario 1: Isabela se ouers het kom kuier. Hulle geniet die aand in die geselskap van hulle dogter en haar man. Watter ouer sou nie trots wees op die man met wie hulle dogter getrou het nie? Hy behandel haar so goed.

Scenario 2: Frank kook van woede. Hy sal weer eens op die gewone manier aan sy woede uiting gee—deur sy vrou in die gesig te slaan, haar te skop, haar hare te trek of haar kop herhaaldelik teen die muur te stamp.

JY SAL moontlik verbaas wees om te hoor dat al twee hierdie scenario’s oor dieselfde paartjie handel.

Diegene wat hulle aan gesinsgeweld skuldig maak, openbaar dikwels twee persoonlikhede

Soos baie ander wat hulle aan gesinsgeweld skuldig maak, weet Frank hoe om voor te gee dat hy ’n goeie man is wanneer hy in die openbare oog is of saam met sy vrou se ouers is. Maar wanneer Frank en sy vrou alleen is, is hy vreeslik wreed.

Baie mans soos Frank het in gewelddadige gesinne grootgeword, en as volwassenes dink hulle dat hulle gedrag aanvaarbaar—selfs normaal—is. Maar gesinsgeweld is allesbehalwe normaal. Daarom is die meeste mense geskok wanneer hulle hoor dat ’n man sy vrou geslaan het.

Nogtans is gesinsgeweld ontsettend algemeen. In die Verenigde State is daar byvoorbeeld in ’n opname bevind dat daar regoor die land gedurende een dag ’n gemiddelde van meer as 16 oproepe per minuut gemaak is na blitslyne vir gesinsgeweld. Gesinsgeweld is ’n wêreldwye epidemie, wat voorkom in alle kulture en ekonomiese en sosiale groepe. Aangesien baie voorvalle nooit aangemeld word nie, is die situasie ongetwyfeld erger as wat statistiek openbaar.b

Berigte van gesinsgeweld laat die volgende vrae ontstaan: Hoe bereik ’n man die punt waar hy enigiemand—wat nog te sê sy vrou—so skandelik behandel? Kan mans wat hulle vrou slaan, gehelp word?

Jehovah se Getuies, die uitgewers van hierdie tydskrif, glo dat die Bybel se praktiese raad gewelddadige huweliksmaats kan help om hulle gedrag te verander. Is dit maklik om te verander? Nee. Is dit moontlik? Ja! Bybelonderrig het baie mense al gehelp om ’n gewelddadige gesindheid te vervang met ’n goedhartige en respekvolle gesindheid (Kolossense 3:8-10). Kyk na die ondervinding van Theuns en Vanessa.

Watter soort verhouding het julle aanvanklik gehad?

Vanessa: Die aand toe ons verloof geraak het, het Theuns my so hard geslaan dat ek ’n week lank ’n kneusplek gehad het. Hy het gesê dat hy baie jammer is en het belowe om dit nooit weer te doen nie. In die jare daarna het ek hierdie woorde baie keer gehoor.

Theuns: Enigiets het my my humeur laat verloor—soos as my vrou laat was met die kos. Ek het Vanessa eenkeer met ’n pistool geslaan. ’n Ander keer het ek haar so erg geslaan dat ek gedink het sy is dood. Later het ek haar probeer bang maak deur te dreig om ons seun dood te maak terwyl ek ’n mes teen sy keel gehou het.

Vanessa: Ek het in vrees gelewe. Soms moes ek uit die huis vlug totdat Theuns gekalmeer het. Dit was egter vir my moeiliker om sy kwetsende woorde te verduur as die fisiese geweld.

Theuns, was jy altyd gewelddadig?

Theuns: Ja, van jongs af. Ek het in ’n gewelddadige atmosfeer grootgeword. My pa het my ma gereeld voor my geslaan. Nadat hy ons verlaat het, het my ma met ’n ander man begin saamwoon, en hy het haar ook geslaan. Hy het ook my suster—en my—verkrag. Hy is daarvoor tronk toe gestuur. Ek besef natuurlik dat dit my gedrag glad nie verskoon nie.

Vanessa, jy het by jou man gebly. Waarom?

Vanessa: Ek was bang. Ek het gedink: ‘Sê nou hy spoor my op en maak my of my ouers dood? Sê nou ek meld die mishandeling aan en die situasie raak erger?’

Wanneer het dinge begin verander?

Theuns: My vrou het die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. Aanvanklik was ek jaloers op haar nuwe vriende, en ek het gedink dat ek haar van hierdie vreemde “sekte” moet red. Daarom het ek selfs gewelddadiger geword, nie net teenoor Vanessa nie, maar ook teenoor die Getuies. Maar toe ons vierjarige seun, Danie, byna drie weke in die hospitaal was weens stuipe-aanvalle, het die Getuies baie vir ons gedoen—hulle het selfs ons sesjarige dogtertjie, Desiree, opgepas. Een Getuie het, nadat hy nagskof gewerk het, die dag saam met Danie deurgebring sodat Vanessa kon slaap. Die goedhartigheid van hierdie mense—die einste mense wat ek so onbeskof behandel het—het my diep getref. Ek het besef dat ek die ware Christelike geloof in aksie gesien het, en daarom het ek die Getuies gevra om die Bybel met my te studeer. In my studie van die Bybel het ek geleer hoe ’n man sy vrou moet behandel en hoe hy haar nie moet behandel nie. Ek het heeltemal opgehou om gewelddadig te wees en my vrou te mishandel. Uiteindelik het ek een van Jehovah se Getuies geword.

Watter Bybelbeginsels het jou gehelp om te verander?

Theuns: Daar is so baie. In 1 Petrus 3:7 sê die Bybel dat ek my vrou moet “eer”. Galasiërs 5:23 spoor ons aan om “sagmoedigheid” en “selfbeheersing” aan die dag te lê. Efesiërs 4:31 veroordeel “smadende taal”. Hebreërs 4:13 sê dat “alles . . . oop en bloot” lê voor God. God sien dus my gedrag, selfs al sien ander dit nie. Ek het ook geleer dat ek ander vriende moet kry, want “slegte omgang bederf nuttige gewoontes” (1 Korintiërs 15:33). My vorige vriende het my in werklikheid aangespoor om gewelddadig te wees. Hulle het gemeen dat dit reg is om ’n vrou te slaan om haar “onder beheer” te hou.

Hoe voel julle nou oor julle huwelik?

Vanessa: Theuns het 25 jaar gelede een van Jehovah se Getuies geword. Sedertdien behandel hy my met opregte liefde, goedhartigheid en bedagsaamheid.

Theuns: Ek kan nie verander wat ek my gesin aangedoen het nie, en my vrou het beslis nooit verdien dat ek haar so sleg behandel nie. Maar ek sien uit na die vervulling van Jesaja 65:17, wat die tyd voorspel wanneer hierdie donker deel van ons verlede vergete sal wees.

Watter raad sou elkeen van julle gee aan gesinne wat geteister word deur gesinsgeweld?

Theuns: As jy jou gesin fisies mishandel of met woorde kwets, moet jy erken dat jy hulp nodig het en moet jy hierdie hulp kry. Daar is baie hulp beskikbaar. Om die Bybel saam met Jehovah se Getuies te studeer en met hulle te assosieer, het my gehelp om my diepgewortelde gewelddadige neigings te oorkom.

Vanessa: Moenie gou wees om jou situasie te vergelyk met dié van iemand anders of om die raad te volg van mense wat dink hulle weet wat vir jou die beste is nie. Hoewel die uiteinde nie in elke geval dieselfde sal wees nie, is ek bly dat ek nie my man verlaat het nie, want ons geniet nou ’n goeie verhouding.

’N OPLOSSING VIR GESINSGEWELD

’n Studie van die Bybel het baie mans al gehelp om die nodige veranderinge aan te bring

Die Bybel sê: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om te onderrig, om tereg te wys, om dinge reg te stel” (2 Timoteus 3:16). Talle gewelddadige huweliksmaats soos Theuns, wie se verhaal hierbo vertel word, het al die Bybel se raad toegepas en dit reggekry om hulle denke en gedrag te verander.

Sal jy graag meer wil uitvind oor hoe die Bybel jou huwelik tot voordeel kan strek? Vir meer inligting kan jy met Jehovah se Getuies in jou omgewing in aanraking kom, of gaan na www.pr2711.com/af.

a Van die name in hierdie artikel is verander.

b Heelwat mans word deur vroue geslaan. Maar in die meeste aangemelde gevalle van gesinsgeweld is mans die skuldiges.

WAAROM VERLAAT HULLE NIE HULLE MAAT NIE?

Waarom besluit party vrouens om by ’n gewelddadige maat te bly? ’n Algemene rede is dat hulle bang is dat die mishandeling erger sal word as hulle weggaan. Party mans het al gedreig om hulle vrou leed aan te doen of selfs dood te maak as sy probeer wegkom. ’n Hele paar het hierdie dreigement wel uitgevoer.

Ander huiwer om hulle huweliksmaat te verlaat omdat hulle bang is dat hulle vriende en familielede teen hulle sal draai en sal weier om te glo dat die situasie by die huis so erg is. Isabel, wie se ondervinding aan die begin van hierdie artikel gemeld word, het haar man verlaat. Sy sê: “My suster was kwaad vir my en het my aangespoor om na my man terug te keer—sy het nie geglo dat so ’n ‘goeie’ man so wreed kan wees nie. Die hele buurt het my kil behandel, en ek het geen ander keuse gehad as om saam met my kinders weg te trek nie.”

Nog redes waarom party vrouens besluit om te bly, is:

  • Hulle wil hê dat hulle kinders by al twee ouers moet grootword.

  • Hulle is bang dat hulle hulleself en hulle kinders nie sal kan onderhou nie.

  • Hulle glo verkeerdelik dat hulle die skuld dra.

  • Hulle is te skaam om te erken dat hulle mishandel word.

  • Hulle hoop dat die situasie sal verbeter.

Jehovah se Getuies bly by die Bybelstandaard dat egbreuk die enigste rede vir egskeiding is (Matteus 5:32). Maar daar is omstandighede wat party dalk sal beweeg om hulle huweliksmaat te verlaat, soos as hulle uiterse fisiese mishandeling moet verduur.

NUTTIGE BYBELBEGINSELS VIR MANS

  • Behandel jou vrou met eer en respek.—1 Petrus 3:7.

  • Wees lief vir jou vrou soos vir jou eie liggaam.—Efesiërs 5:28, 29.

  • Koester en voed die liefde wat jy vir jou vrou het.—Efesiërs 5:25.

  • Vermy smadende taal.—Efesiërs 4:29, 31.

  • Kweek selfbeheersing aan.—Spreuke 29:11.

  • Hou in gedagte dat jy selfrespek kry, nie deur ander te oorheers nie, maar deur jouself te beheers.—Spreuke 16:32.

  • Dink aan die gevolge van jou dade.—Galasiërs 6:7.

  • As dit voel asof jy jou humeur gaan verloor, is dit moontlik die beste om weg te stap.—Spreuke 17:14.

  • Leer om gewelddadige gedrag te haat.—Psalm 11:5.

  • Moenie jou vrou as minderwaardig beskou nie, maar eerder as ’n bekwame metgesel.—Genesis 1:31; 2:18.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel