DIE BYBEL SE BESKOUING
Alkohol
Is dit verkeerd om alkohol te drink?
“Wyn om ons bly te maak, olyfolie om ons vrolik te maak en brood om ons krag te gee.”—Psalm 104:15, “Good News Translation”.
WAT MENSE SÊ
In baie huise word alkohol feitlik elke dag saam met maaltye gedrink. In ander huise word alkoholgebruik ten sterkste afgekeur. Waarom is daar verskillende beskouings? Mense word beïnvloed deur verskeie faktore, soos kultuur, gesondheid en godsdiens.
WAT DIE BYBEL SÊ
Die Bybel veroordeel dronkenskap en die oormatige gebruik van alkohol, maar nie die matige inname daarvan nie (1 Korintiërs 6:9, 10). Ja, godvresende manne en vroue het reeds van die vroegste tye af wyn gedrink, en wyn word meer as tweehonderd keer in die Bybel genoem (Genesis 27:25). “Eet jou voedsel met blydskap en drink jou wyn met ’n goeie hart”, sê Prediker 9:7. Omdat wyn tot ’n vreugdevolle gees bydra, is dit gewoonlik bedien by feestelike geleenthede, soos huweliksfeeste. Jesus Christus het by so ’n fees sy eerste wonderwerk verrig—hy het water in “goeie wyn” verander (Johannes 2:1-11). Wyn is ook vir mediese doeleindes gebruik.—Lukas 10:34; 1 Timoteus 5:23.
Stel die Bybel ’n beperking op hoeveel ’n mens mag drink?
“[Moenie] aan baie wyn verslaaf wees nie.”—Titus 2:3.
WAAROM MAAK DIT SAAK?
Elke jaar ly tallose gesinne omdat een of albei ouers alkohol misbruik. Drankmisbruik dra ook by tot baie val- en ander ongelukke, insluitende padongelukke. En op die lange duur kan alkoholmisbruik die brein, die hart, die lewer en die maag beskadig.
WAT DIE BYBEL SÊ
Matigheid in drink- sowel as eetgewoontes is een van God se grondvereistes (Spreuke 23:20; 1 Timoteus 3:2, 3, 8). ’n Gebrek aan selfbeheersing dra glad nie sy goedkeuring weg nie. Die Bybel sê: “Wyn is ’n spotter, sterk drank is luidrugtig, en elkeen wat daardeur afdwaal, is nie wys nie.”—Spreuke 20:1.
Een manier waarop alkohol die onwyses kan laat afdwaal, is deur hulle sedelike standaarde te ondermyn. Hosea 4:11 sê: “Wyn en soet wyn neem die goeie beweegrede weg.” ’n Man met die naam John het dit deur bittere ervaring geleer.a Nadat hy en sy vrou rusie gemaak het, het hy na ’n hotel toe gegaan, te veel gedrink en egbreuk gepleeg. Hy was later baie spyt daaroor en het hom voorgeneem om dit nooit weer te doen nie. Alkoholmisbruik kan ons fisies, sedelik en geestelik benadeel, en die Bybel sê dat dronkaards nie die ewige lewe sal kry nie.—1 Korintiërs 6:9, 10.
Wanneer is dit onvanpas om te drink?
“Verstandige mense sal moeilikheid sien kom en dit vermy, maar iemand wat nie dink nie, sal reguit daarin loop en later daaroor spyt wees.”—Spreuke 22:3, “Good News Translation”.
WAAROM MAAK DIT SAAK?
“Alkohol is ’n kragtige dwelm”, sê die World Book Encyclopedia. Daar sal dus omstandighede of tye wees wanneer selfs die matige gebruik van alkohol onverstandig sal wees.
WAT DIE BYBEL SÊ
Dit gebeur dikwels dat ‘mense reguit in moeilikheid in loop’ omdat hulle op die verkeerde tyd drink. “Vir alles is daar ’n vasgestelde tyd”, sê die Bybel, ook ’n tyd om van alkohol af weg te bly (Prediker 3:1). Byvoorbeeld, ’n persoon is dalk volgens die wet te jonk om te drink, of is miskien ’n alkoholis op die herstelpad of neem moontlik medisyne wat nie saam met alkohol geneem moet word nie. En vir baie mense is die “vasgestelde tyd” om hulle van alkohol te onthou, voordat hulle werk toe gaan en terwyl hulle by die werk is, veral as hulle met masjiene werk wat gevaarlik kan wees. Verstandige mense beskou die lewe en gesondheid beslis as kosbare gawes van God (Psalm 36:9). Ons toon ons respek vir hierdie gawes wanneer ons toelaat dat Bybelbeginsels ons gesindheid teenoor alkohol rig.
a Naam is verander.