Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • su hfst. 13 bl. 98-104
  • ’n Tyd van herskepping

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Tyd van herskepping
  • Oorlewing tot in ’n nuwe aarde
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DIE VOORDELE WAT CHRISTUS SE OFFER NOU MEEBRING
  • „IN DIE HERSKEPPING”
  • Jesus beloof ’n herskepping
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • “Ek maak alles nuut”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Losprys
    Redenering uit die Skrif
  • Die lewe in ’n herstelde paradys
    Ontwaak!—2008
Sien nog
Oorlewing tot in ’n nuwe aarde
su hfst. 13 bl. 98-104

Hoofstuk 13

’n Tyd van herskepping

1. (a) Watter wonderlike geleentheid lê daar vir diegene voor wat tot in die „nuwe aarde” oorlewe? (b) Maar wat sal dit vereis?

DIE moontlikheid om die einde van hierdie verdorwe wêreld te oorleef, is ’n wonderlike vooruitsig. Ons hunker daarna om bevry te word van die onregte, die hebsug en die gewelddadigheid van hierdie wêreld. Maar daar is iets anders wat oorlewing selfs begeerliker maak. Wat is dit? Die feit dat almal wat ’n deel van die „nuwe aarde” word ook die geleentheid sal hê om van hulle eie onvolmaakthede, van siekte en ’n lewe vol pyn, ja, selfs van die dood, bevry te word (Openbaring 21:1-5). Maar voor dít kan gebeur, moet sonde eers heeltemal uitgeroei word. Hoe is dit moontlik? Dit hou verband met wat Jesus Christus „die herskepping” genoem het.

2. Wat is „die herskepping” waarvan Mattheüs 19:28 melding maak?

2 Jesus het vir sy apostels gesê: „In die herskepping, wanneer die Seun van die mens op sy glorieryke troon gaan sit, sal julle wat my gevolg het ook self op twaalf trone sit en die twaalf stamme van Israel oordeel” (Mattheüs 19:28, NW). Die herskepping sal ’n tyd van „herlewing” wees, ’n tyd „wanneer alles nuut gemaak word”, soos ander Bybelvertalings dit stel (The Emphasised Bible, deur Rotherham; NAV; Die Lewende Bybel). Deur middel van hierdie herskepping sal dit vir mense moontlik wees om weer die volmaaktheid te geniet wat die mensdom in die begin gehad het.

3. (a) Wat was die gevolge van Adam se sonde? (b) Waarom kon geeneen van Adam se nakomelinge hulself van die gevolge van erfsonde bevry nie?

3 Weens die sonde wat Adam nagelaat het, moes al sy nakomelinge sterf, en baie het ernstige siektes opgedoen wat tot die dood gelei het (Romeine 5:12). Geen geld kon ons uit die mag van die dood vrykoop nie. Geen onvolmaakte mens kon deur sy werke vir homself of vir enigiemand anders bevryding bewerk nie. Goddelike geregtigheid het vereis dat, indien die mensdom ooit weer die kans op ewige lewe wou verkry, ’n offer gebring moes word wat gelykwaardig was aan wat Adam verloor het, naamlik, ’n volmaakte menselewe. Nie een van Adam se nakomelinge kon so ’n lewe aanbied nie.—Psalm 49:8-10; Prediker 7:20.

4. (a) Hoe is die nodige losprys voorsien? (b) Hoe kan ons daaruit voordeel trek?

4 In sy genade het Jehovah self die nodige voorsiening gemaak deur sy eniggebore Seun, Jesus, as ’n volmaakte mens na die aarde te stuur om sy lewe as „’n ooreenstemmende losprys” af te lê (1 Timotheüs 2:5, 6, NW). Wat ’n manjifieke bewys van onverdiende goedheid en van God se liefde vir die mensdom! Die lewe wat daardeur moontlik gemaak word, is nie iets wat ons soos ’n loon kan verdien nie—dit is ’n gawe van God. Maar dit word net gegee aan diegene wat opreg hulle behoefte aan hierdie goddelike voorsiening erken, geloof daarin stel en blyk gee van daardie geloof deur aan God se Seun gehoorsaam te wees (Romeine 6:23; Johannes 3:16, 36). Maar wanneer sou die mensdom die voordele van daardie offerande geniet?

DIE VOORDELE WAT CHRISTUS SE OFFER NOU MEEBRING

5. (a) Wie het eerste by Christus se offerande baat gevind? (b) Watter ander groep het daarby baat gevind, en veral van wanneer af?

5 Mense het begin om voordele te ondervind onmiddellik nadat Jesus (in die rol van God se groot Hoëpriester) die waarde van sy offerande in die hemel vir God aangebied het. Die eerste persone wat hierdie voordele ondervind het, en dít van Pinkster, 33 G.J., af, was diegene wat geroep is om erfgename saam met Christus te wees en wat as konings en priesters saam met hom in die hemel sou dien (Handelinge 2:32, 33; Kolossense 1:13, 14). Toe, veral van 1935 af, het persone wat die hoop koester om vir ewig op aarde te lewe na vore begin kom. Hulle hoop is ook deur Christus se offerande moontlik gemaak (1 Johannes 2:1, 2). Hierdie progressiewe aanwending van die waarde van daardie offerande is aangedui deur wat op eertydse Israel se Versoendag plaasgevind het.

6. Vertel kortliks wat op die Versoendag plaasgevind het.

6 By Israel se heilige tabernakel, en later by die tempel, was daar ’n hoëpriester wat ’n lid van die Levitiese huis van Aäron was. Ander manlike lede van Aäron se huis was onderpriesters, en die res van die mans van die stam van Levi het as helpers gedien. Om vir sondes versoening te doen, het die hoëpriester twee diere geoffer en elkeen se bloed afsonderlik in die Allerheiligste ingebring, soos Jehovah voorgeskryf het. Eers het die Aäronitiese hoëpriester ’n jong bul „vir hom en sy huis”, wat die hele stam van Levi ingesluit het, geoffer (Levitikus 16:11, 14). Daarna is ’n bok as sondoffer „vir die volk”, die ander twaalf stamme, aangebied (Levitikus 16:15). Daarbenewens is die sondes van die hele Israel oor die kop van ’n lewende bok bely, en dié is dan na die woestyn weggelei (Levitikus 16:21, 22). Wat het dit alles beteken?

7. (a) Watter enkele offer is daar afgeskadu? (b) Waarom is meer as een diereoffer gebruik?

7 Die apostel Paulus verduidelik dat die vervulling op die een offer van Jesus Christus betrekking het. „Christus het nie ingegaan in ’n heiligdom met hande gemaak, ’n teëbeeld van die ware nie, maar in die hemel self om nou voor die aangesig van God vir ons te verskyn . . . om die sonde deur sy offer weg te doen” (Hebreërs 9:24-26). Waarom is die bloed van meer as een dier dan op Israel se Versoendag in die Allerheiligste ingebring? Dit was om die aandag te vestig op verskillende aspekte van Jesus se volmaakte menseoffer. En nog ’n aspek is beklemtoon deur die belydenis van die sondes van die volk oor die kop van ’n lewende bok wat dan na die woestyn weggelei is.

8. (a) Hoe het die prosedure op die Versoendag aangedui wie eerste uit Christus se offerande voordeel sou trek? (b) Watter aanwending van Jesus se offerande is aangedui deur die sondoffer „vir die volk”? (c) Watter ander aspek word toegelig deur die feit dat ’n bok na die woestyn weggelei is?

8 Net soos bloed van die bul wat vir die huis van Aäron geoffer is eerste in die Allerheiligste ingeneem is, so is die voordele van Jesus se offerande eers aangewend ten behoewe van diegene wat saam met Christus aan die hemelse priesterdom verbonde sou wees. Dit is van 33 G.J. af gedoen. Jesus Christus het nie soos Aäron sondes gehad waarvoor versoening gedoen moes word nie, maar diegene wat saam met Christus onderpriesters sal wees, is wel sondig. Hulle is deur die stam van Levi afgebeeld (1 Petrus 2:4, 5). Die aanbieding van bloed van ’n tweede offerande, die bok van die sondoffer „vir die volk”, het aangedui dat ander lede van die mensdom ná die hemelse klas uit Jesus se offerande voordeel sou trek. Dit sou persone wees wat die lewe in die herstelde Paradys op aarde sou ontvang. Hulle is op die Versoendag afgebeeld deur „die twaalf [nie-priesterlike] stamme van Israel” (Mattheüs 19:28; Psalm 37:29). Jesus het nie alleen vir hulle almal gesterf nie, maar hy dra ook die sondes weg van diegene vir wie hy ’n offerdood gesterf het en bring sodoende verligting vir hulle. Dit is aangedui deur die feit dat, nadat die sondes van Israel oor ’n lewende bok bely is, dit na die woestyn weggelei en nooit weer gesien is nie.—Psalm 103:12; Jesaja 53:4-6.

9. (a) Watter seëninge geniet diegene met geloof in Christus se offerande nou? (b) Watter ander voordele sal later volg?

9 Ware vergifnis van sonde, ’n rein posisie voor God, is nou vir almal moontlik wat geloof in Jehovah se liefdevolle voorsiening deur Christus stel, ongeag hulle vorige lewenswyse. Hulle kan die onskatbare seën geniet om met ’n rein gewete heilige diens aan God te lewer (1 Korinthiërs 6:9-11; Hebreërs 9:13, 14). Maar dit beteken nie dat hulle nou reeds bevry word van al die gevolge van sonde nie (1 Johannes 1:8-10; Romeine 7:21-25). Vir diegene wat saam met Christus in die hemel gaan regeer, sal dit eers gebeur wanneer hulle hulle aardse loopbaan voltooi en tot onsterflikheid in die hemel opgewek word. Vir die res van die mensdom sal algehele bevryding van sonde deur die herskepping moontlik gemaak word.

„IN DIE HERSKEPPING”

10. (a) Wanneer het die herskepping begin? (b) Het sommige reeds op trone gaan sit ter vervulling van Jesus se belofte?

10 Soos Jesus gesê het, vind die herskepping plaas „wanneer die Seun van die mens [Jesus Christus] op sy glorieryke troon gaan sit” (Mattheüs 19:28, NW). Dit beteken natuurlik nie dat alles dadelik gebeur het toe hy die troon bestyg het nie. Na Jesus se troonsbestyging in 1914 G.J. het hy eers die hemele gesuiwer deur Satan en sy demone uit te werp. Daarna het hy sy gesalfde volgelinge tot hemelse heerlikheid opgewek (Openbaring 12:5, 7-12; 1 Thessalonicense 4:15-17). Nie alleen het die getroue apostels van Christus die „twaalf trone” ontvang wat aan hulle beloof is nie, maar die res van die 144 000 word ook progressief in die hemel op trone geplaas wanneer hulle uit die dood opgewek word.—Openbaring 3:21.

11. In watter opsig ondervind die „ander skape” reeds die gevolge van die herskepping?

11 Toe die verkiesing van die lede van die hemelse klas ten einde geloop het, het die insameling van die groot menigte „ander skape” begin, veral van 1935 af. Hulle het ook begin om die voordele van Christus se offerande te geniet en het „hul klere gewas en hul klere wit gemaak in die bloed van die Lam”. Hulle word gehelp om hulle ‚met die nuwe persoonlikheid te beklee wat volgens God se wil geskape is in ware geregtigheid en lojaliteit’ (Openbaring 7:9, 10, 14; Efesiërs 4:20-24, NW). Hulle vind in immer toenemende getalle baat by God se voorsienings deur Christus wat daartoe kan lei dat hulle vir ewig in die herstelde Paradys lewe.—Openbaring 7:17; 22:17.

12. (a) Wie word voorgestel deur „die twaalf stamme van Israel” waarvan Jesus hier melding maak? (b) Wie behalwe oorlewendes sal by die herskepping baat vind?

12 Hierdie goddelose wêreld gaan binnekort vernietig word. Satan en sy demone sal in die afgrond gewerp word. Die duisendjarige Oordeelsdag van die mensdom sal begin. Jesus Christus sal die Hoofregter wees, en hy sal sorg dat almal die volle geleentheid en voldoende hulp ontvang om van Jehovah se regverdige weë te leer en hulle daaraan te onderwerp. Die gesalfde volgelinge van Christus wat hulle onkreukbaarheid tot die dood toe bewaar het, sal hom bystaan in die werk „om die twaalf stamme van Israel te oordeel” (Lukas 22:28-30; Openbaring 20:4, 6). Dit beteken nie dat hulle net die natuurlike kinders van Israel sal oordeel nie. Hulle sal eerder almal oordeel wat op die Versoendag afgeskadu is deur „die twaalf [nie-priesterlike] stamme van Israel”. Dit sluit die hele wêreld van die vrygekoopte mensdom in (1 Korinthiërs 6:2). Oorlewendes van die groot verdrukking sal eerste baat vind by hierdie program om die mensdom te verhef. Maar duisendmiljoene ander sal ook daarby baat vind, want diegene wat geoordeel gaan word, sluit „die lewende en die dode” in (2 Timotheüs 4:1; Handelinge 24:15). Hoe wonderlik sal dit nie wees wanneer die dode wat deur die losprysofferande van Christus vrygekoop is uit die grafte terugkeer nie! O die blydskap wanneer dierbares herenig word!

13. Waarom sal die gevolge van die duisendjarige Oordeelsdag waarlik ’n herskepping wees?

13 Dit sal die tyd wees wanneer die mensdom uiteindelik bevry word van die liggaamlike en verstandelike gebreke wat deur die sonde veroorsaak is. Toe Jesus op aarde was, het hy oombliklike genesing gebring vir mense wat verlam was, vir blindes, dowes en stommes, en vir persone wie se vlees geskend was of wat deur siekte uitgemergel is. Daardie wonderwerke was net ’n voorsmaak van wat hy gedurende sy Duisendjarige Heerskappy vir die hele mensdom sal doen. Diegene wat so ’n wonderlike blyk van Jehovah se goedheid aanskou of ondervind en dan sy soewereiniteit versmaai, sal met goeie rede vir ewig vernietig word. Maar deur opvoeding in Jehovah se regverdige weë sal die denke en beweegredes van diegene wat opregte geloof en gehoorsaamheid toon, geleidelik verbeter totdat hulle algehele volmaaktheid bereik. Sulke liefhebbers van Jehovah sal waarlik ’n herlewing, ’n herskepping, ondervind het. Dit sal wees asof hulle ’n nuwe begin in die lewe gekry het met ’n nuwe vader, die Ewige Vader, Jesus Christus.—Jesaja 26:9; 9:5.

14. Watter kosbare verhouding sal almal wat in die finale toets slaag, kan geniet?

14 Nadat hulle geslaag het in ’n finale toets aan die einde van die duisend jaar, sal Jehovah God hulle deur Christus as sy eie seuns, as deel van Sy volmaakte, universele gesin, aanneem. Wat ’n bemoedigende vooruitsig is dit tog—nie alleen vir oorlewendes van die groot verdrukking nie, maar ook vir al die dode wat sal opstaan om die vreugde van lewe op ’n paradysaarde te smaak!—Romeine 8:20, 21.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel