“Ek maak alles nuut”
“Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut. En Hy het aan my gesê: Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar.”—OPENBARING 21:5.
1, 2. (a) Watter vraag het Salomo drie millenniums gelede gestel? (b) Wat skyn vandag ’n weerspreking van Salomo se woorde te wees?
“DAAR is glad niks nuuts onder die son nie.” Dit is die woorde van wyse koning Salomo. En hy het vervolgens gevra: “Is daar iets waarvan ’n mens kan sê: Kyk hier, dit is nuut?” (Prediker 1:9, 10). Hoe sal ons vandag daardie vraag beantwoord?
2 Het die wetenskap en die tegnologie nie gedurende hierdie 20ste eeu baie nuwe dinge voortgebring nie? Kyk net na die vervoerwese, met sy straalvliegtuie, sy kragtige motors en sy blitstreine. Dan is daar die verstommende vooruitgang in die telekommunikasiewese, die gebruik van wentelende satelliete, en die lansering van ruimteskepe wat mense selfs op die maan laat land het. En wat van die moderne kombuistoestelle, yskaste en wasmasjiene wat in so baie huise aangetref word? Party mense sal geneig wees om te sê: ‘Daar is alles wat nuut is onder die son!’
3. Watter skokkende situasie het hier “onder die son” ontstaan? (Lukas 21:25, 26; Psalm 53:2).
3 Maar wag ’n bietjie! Daar is ook iets afgrysliks, iets uiters ontstellends, onder die son. Wat is dit? Wel, die aarde het ’n krygskamp geword! Dit het in 1914 begin toe die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek het. Vir die eerste keer is masjiengewere, vliegtuie, tenks en duikbote in oorlogvoering gebruik. Minder as 30 jaar later het die Tweede Wêreldoorlog gevolg. Wat lewe en eiendom betref, was dit vier keer so vernietigend soos die Eerste Wêreldoorlog. Dit het die gebruik van nog moordender wapens ingelui—vlamwerpers, napalmbomme en uiteindelik die atoombom—voorloper van die demoniese kernwapens wat nou die voortbestaan van die mensdom hier op aarde bedreig.
4. (a) Watter kader het Salomo in gedagte gehad toe hy gesê het dat daar “niks nuuts” is nie? (b) Hoe blyk God se wysheid en liefde uit wat hy “onder die son” gedoen het en nog gaan doen?
4 Kan ons dan regtig sê dat ‘daar glad niks nuuts onder die son is nie’? Ja, ons kan, want al hierdie maaksels val binne die kader, of raamwerk, van die materiële wêreld waarin die mensdom nog altyd geleef het. Selfs wanneer die mens sy waterstofsmeltingstoestelle laat ontplof, is dit niks nuuts nie. Waterstofsmelting is al miljoene der miljoene jare in die son aan die gang. Dit is die bron van die ononderbroke energiegloed wat ons aarde verlig, verwarm en verlewendig. Die wisselwerking tussen lig van die son en die chlorofil in groen plante lei tot die produksie van suiker en stysel, wat die hoofvoedselbron van tallose lewende dinge rondom ons is. Hoe dankbaar kan ons tog wees dat die aarde se alwyse Skepper gesorg het vir hierdie beheerste, voordelige uitstraling van kernenergie vir ons aarde! (Psalm 104:24). Hoewel goddelose mense planne beraam om kerntoestelle vir massamoord te gebruik, sal God gelukkig ‘die verderwers van die aarde verderf’.—Openbaring 11:18.
5. (a) Waarom het Salomo gelyk gehad toe hy gesê het: “Daar is glad niks nuuts onder die son nie”? (b) Hoe bevestig die lewenstyl van onvolmaakte mense die waarheid van Salomo se woorde?
5 Salomo het gelyk gehad toe hy gesê het: “Daar is glad niks nuuts onder die son nie.” Want daar is niks nuuts omtrent die stowwe, die kragbronne en die natuurwette wat die grondslag van die aarde se fisiese sisteem vorm nie. Hierdie dinge is al lank in God se skepping aanwesig (Psalm 24:1; Openbaring 4:11) Daar is niks nuuts in die opkoms en ondergang van die son, in die weerpatrone en in die natuurlike kringloop wat die aarde nat maak en vernuwe nie. En wat die lewenstyl van onvolmaakte sterflinge betref, is daar, ondanks veranderende modes, niks wat werklik nuut is nie. Selfs in gegoede gemeenskappe word die lewe vir baie mense eentonig en op die lange duur “vermoeiend”. Oor ’n tydperk van ongeveer 70 of 80 jaar gaan die sondige mens “na sy ewige huis”—die graf. Soos Salomo dit stel: “Wat gewees het, dit sal daar weer wees; en wat gebeur het, dit sal weer gebeur, en daar is glad niks nuuts onder die son nie.”—Prediker 1:4-9; 12:5.
“’n Nuwe skepping” onder die son
6. (a) Waarom is ons nie in die nabye toekoms nuwe materiële skeppingswerke te wagte nie? (b) Hoe en wanneer het Jehovah begin om iets “nuuts onder die son” voort te bring?
6 In ’n fisiese sin is daar waarlik “niks nuuts onder die son nie”. En Jehovah sal ook nie nuwe materiële dinge voortbring gedurende die huidige 7 000-jarige dag waarin hy van sy skeppingswerke rus nie. Maar daar het iets nuuts onder die son verskyn. Wanneer? Dit was in die jaar 2 v.G.J. dat Jehovah se engel skielik aan nederige herders naby Betlehem verskyn het om ’n verstommende nuwe aankondiging te doen. Hy het gesê: “Kyk, ek bring vir julle ’n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!” ’n Menigte heilige engele het toe saam met hom God geloof en gesê: “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ’n welbehae het!”—Lukas 2:8-14, NAV.
7. (a) Watter nuwe ding het by Jesus se doop gebeur? (b) Hoe het Jesus die weg gebaan vir verdere ontwikkelinge?
7 Op 30-jarige leeftyd is hierdie Verlosser in die waters van die Jordaan gedoop. Onmiddellik het daar nog iets nuuts onder die son gebeur. Lukas 3:21, 22 beskryf dit so: “[Toe Jesus] besig was om te bid, het die hemel oopgegaan; en die Heilige Gees het in liggaamlike gedaante soos ’n duif op Hom neergedaal; en ’n stem het uit die hemel gekom wat sê: U is my geliefde Seun; in U het Ek ’n welbehae.” Op daardie oomblik het Jesus “’n nuwe skepping”, ’n geesverwekte Seun van God, geword (2 Korinthiërs 5:17, NW). Gedurende die volgende drie en ’n half jaar het Jesus ’n kragtige getuienis oor God se Koninkryk afgelê en het hy sy eerste dissipels versamel. Na sy offerdood en sy opstanding as ’n geespersoon het Jesus, in 33 G.J., “voor die aangesig van God” verskyn om die weg te baan vir verdere wonderbaarlike ontwikkelinge hier “onder die son”.—Hebreërs 9:24; 1 Petrus 3:18, NW.
8. Hoe is “’n nuwe skepping” voortgebring?
8 Op Pinksterdag van daardie jaar het Jesus begin om heilige gees op sy getroue dissipels uit te stort, wat aangedui het dat hulle een geword het met hom as seuns van God. Die apostel Paulus praat van hierdie “nuwe skepping” in 2 Korinthiërs 5:17, 18 (NW), waar hy sê: “Indien iemand in eendrag met Christus is, dan is hy ’n nuwe skepping; die ou dinge het verbygegaan, kyk! nuwe dinge het ontstaan. Maar alle dinge kom van God, wat ons met homself versoen het deur Christus en ons die bediening van die versoening gegee het.”
9. Wat is die doel van die “nuwe skepping”?
9 Die apostel Petrus rig hom tot hierdie “nuwe skepping” en sê: “Julle is ’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige volk, ’n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig” (1 Petrus 2:9). Terwyl hulle hier op aarde was, het die koninklike priesterdom “die groot dade van God” in verband met sy Koninkryksvoorneme ywerig verkondig. Die lede van hierdie “nuwe skepping” wat hul aardse loopbaan in onkreukbaarheid voltooi, word opgewek nadat Jesus na Jehovah se tempel gekom het.—Handelinge 2:11; Romeine 8:14-17; Maleagi 3:1, 2.
“Die herskepping”
10. (a) Wat het Jesus oor ’n “herskepping” gesê? (b) Waarin word die lede van die “nuwe skepping” genooi om ’n deel te hê?
10 Maar is hierdie “nuwe skepping” wat met Jesus Christus begin het die enigste “nuwe” ding wat “onder die son” verskyn? Glad nie! Toe Jesus nog hier op die aarde was, het hy vir sy dissipels gesê: “Voorwaar ek sê vir julle: In die herskepping, wanneer die Seun van die mens op sy heerlike troon gaan sit, sal julle wat my gevolg het self ook op twaalf trone sit en die twaalf stamme van Israel oordeel” (Mattheüs 19:28, NW). Die “klein kuddetjie” wat uit Jesus se beproefde dissipels bestaan—144 000 in getal—word aldus genooi om saam met Jesus in sy Koninkryk te wees en “op trone [te] sit om die twaalf stamme van Israel te oordeel”.—Lukas 12:32; 22:28-30; Openbaring 14:1-5.
11. Watter twee aspekte van Jesus se offer is op die Versoendag afgebeeld, en hoe?
11 Wie is hierdie “twaalf stamme” dan? Die wyse waarop Jehovah die Versoendag in eertydse Israel gereël het, gee ons ’n leidraad. Elke jaar, op die tiende dag van die sewende maand, moes die hoëpriester ’n bul as sondoffer “vir hom en sy huis” offer. Dit het heengewys op Jesus se offerande soos aangewend vir “sy huis” van onderpriesters. Maar wat van ander Israeliete? Die hoëpriester het vervolgens die lot gewerp oor twee bokke. Hy het een van hierdie bokke geslag as “die sondofferbok . . . wat vir die volk bedoel is”. Daarna het hy die sondes van die volk oor die tweede bok bely en dié weggestuur die woestyn in. Die reëling in verband met hierdie twee bokke het dus afgebeeld hoe Jesus sy lewensbloed as offerande sou uitstort en die sondes sou wegneem van die hele mensdom wat nie tot sy priesterlike huis behoort nie.—Levitikus 16:6-10, 15.
12. Hoe verduidelik een woordeboek die betekenis van “die herskepping”?
12 “Die twaalf stamme van Israel” het dieselfde betekenis in Mattheüs 19:28. Hier strek die toepassing verder as Jesus se geesverwekte onderpriesters en sluit dit ook die res van die mensdom in. An Expository Dictionary of New Testament Words, deur W. E. Vine, definieer die Griekse woord pa·lin·ge·ne·siʹa, wat hier vertaal word met “herskepping”, as “nuwe geboorte . . . geestelike herlewing”, en voeg by: “In Matt[heüs] 19:28 word die woord, in die Heer se redevoering, in breër sin gebruik met betrekking tot die ‘wederoprigting van alle dinge’ (Hand. 3:21, R.V.), wanneer Jehovah, as gevolg van die Tweede Koms van Christus, ‘Sy Koning oor Sy heilige berg Sion salf’ (Ps. 2:6) . . . Daardeur sal die wêreld verlos word van die mag en verleiding van Satan en van die despotiese en anti-Christelike heersers van die nasies.”
13. (a) Wat dui verskillende Bybelvertalings aan in verband met die betekenis van pa·lin·ge·ne·siʹa? (b) Wat gaan derhalwe “onder die son” gebeur?
13 In ooreenstemming hiermee gee Bybelvertalings pa·lin·ge·ne·siʹa verskillend weer as: herlewing, nuwe wêreld, nuwe geboorte, wêreld opnuut gebore, wêreld wat moet kom, Nuwe Skepping, nuwe lewensorde, nuwe tydperk. Begryp jy dit? “Die twaalf stamme van Israel”, wat al die nasies van die mensdom verteenwoordig, sal deur Christus en sy lojale onderpriesters geoordeel word. Dit staan in verband met ’n herlewing, ’n groot vernuwing van alles wat Jehovah hom voorgeneem het met betrekking tot die aarde, hier “onder die son”.
“Die wederoprigting”
14. (a) Waarvoor moet Jesus wag, volgens Handelinge 3:20, 21? (b) Hoe en wanneer is Jesus as Koning gekroon?
14 Wanneer vind daardie herlewing plaas? In Handelinge 3:20, 21 praat Petrus van Jesus “wat die hemel moet ontvang tot op die tye van die wederoprigting van alle dinge, waarvan God van ouds af gespreek het deur die mond van al sy heilige profete”. Dit beteken dat Jesus aan God se regterhand in die hemel sou wag “totdat die tye van die nasies vervul is” (Lukas 21:24; Psalm 110:1, 2). Toe, in 1914, het Jehovah inderdaad ‘sy Koning oor Sion, sy heilige berg’, gesalf. Watter wederoprigting het hierop gevolg?—Psalm 2:6.
15. (a) Wat het “onder die son” gebeur ná Jesus se troonsbestyging? (b) Hoe is Mattheüs 25:31-34 en Jesaja 11:6-9 vervul?
15 Eers is iets nuuts onder die son gesien: die oorblywende getroue onderpriesters van Christus—die laaste lede van die “nuwe skepping”—is versamel en het die opdrag ontvang om ‘hierdie evangelie van die opgerigte Koninkryk’ te verkondig. Daarna is “’n groot menigte . . . uit alle nasies” byeengebring sodat hulle deur “die groot verdrukking” heen gered kan word (Mattheüs 24:14; Openbaring 7:9, 14). Die gekroonde Koning, Jesus Christus, is tans besig om mense van mekaar te skei, “soos die herder die skape van die bokke afskei”. “Die skape” is diegene wat toon dat hulle die Koning en sy geesverwekte broers, die “nuwe skepping”, goedgesind is. Hierdie “skape” word derhalwe genooi om die ewige lewe in die aardse ryk van Jehovah se Koninkryk te beërwe. Hulle geniet reeds die geestelike paradys wat hier op aarde herstel is.—Mattheüs 25:31-34, 46; Jesaja 11:6-9.
16. (a) Watter oordeel is nou aan die gang? (b) Watter verdere oordeel sal ná Armageddon plaasvind?
16 Die nasies en “die skape” word tans geoordeel om te bepaal of hulle dit waardig is om die “groot verdrukking” te oorlewe (Mattheüs 24:21, 22). Maar is dit die oordeel waarvan Mattheüs 19:28 praat? Nee, want Christus en sy onderpriesters sal ook ná daardie verdrukking oordeel. Dit is die oordeel van die figuurlike “twaalf stamme van Israel”, nasies wat nie tot die koninklike priesterdom behoort nie. Die getal “twaalf” dui aan dat die hele mensdom geoordeel sal word. Dit sluit diegene in wat die “groot verdrukking” oorlewe, kinders wat moontlik vir hulle gebore word, en die miljoene der miljoene mense wat op die aarde sal herlewe in die opstanding.
17. Wie sal dan geoordeel word, en volgens watter “werke”?
17 Paulus sê hieroor in Handelinge 17:31 dat God “’n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ’n Man [Christus Jesus] wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek”. Die na-Armageddonse “wêreld”, naamlik alle mense wat dan op aarde sal wees, sal nie geoordeel word volgens hulle vorige sondes wat gedurende die teenswoordige stelsel begaan is nie. Hulle sal eerder “geoordeel [word], elkeen volgens sy werke” op die nuwe aarde namate hulle gebruik maak van Christus se losprysoffer.—Openbaring 20:13; Mattheüs 20:28; 1 Johannes 2:2.
18. (a) Wat sal dan “onder die son” verskyn, soos Jesaja aandui? (b) Watter belofte sal aldus vervul word, en wat kan ons te wagte wees gedurende die ewigheid wat voorlê? (Romeine 8:21).
18 Watter pragtige dinge sal gedurende daardie tyd onder die son verskyn! Die geestelike paradys sal uitbrei tot ’n letterlike paradys, ter vervulling van Jehovah se oorspronklike voorneme met hierdie aarde. Ons God deel ons mee dat ‘die aarde die voetbank van sy voete’ is, ’n heiligdom waar hy aanbid moet word, en hy verklaar ook: “Ek sal die plek van my voete heerlik maak” (Jesaja 66:1; 60:13). Hier onder die son moet die aarde dus in ’n heerlike paradys omgeskep word, ’n tuin van genot waarin ’n volmaakte, vreedsame en verenigde mensdom hulle God en Skepper vir ewig sal loof. “Waaragtig en betroubaar” is Jehovah se aangrypende belofte: “Kyk, Ek maak alles nuut!” (Openbaring 21:5). En watter wonderlike nuwe skeppingswerke sal ons liefdevolle God dalk nog in die ewigheid wat voorlê hier onder die son verrig om sy mensekinders genot te verskaf!
Hoe sou jy antwoord, betreffende gebeure “onder die son”?—
◻ In watter sin is daar “glad niks nuuts” nie?
◻ Wanneer en hoe het “’n nuwe skepping” verskyn?
◻ Wat behels “die herskepping”?
◻ Hoe verloop “die wederoprigting”, en met watter luisterryke resultaat?
[Prent op bladsy 26]
Wat ’n skokkende aanklag is dit teen die sogenaamde beskawing dat die wêreld nou elke minuut ’n enorme bedrag van R4,2-miljoen aan wapens bestee! Daardie bedrag is oorgenoeg om al die mense wat vandag in armoede leef van kos, klere en onderdak te voorsien. Aan die ander kant kan die voorraadstapel megatonbomme alle mense op aarde—5 miljard in getal—12 keer uitwis. Daar word nietemin berig dat ’n halfmiljoen van die wêreld se slimste breine ingespan word om nog vernietigender wapens te ontwikkel.
[Erkenning]
Foto: VSA se Leër