Noodlot
Definisie: ’n Onvermydelike en dikwels ongunstige lot. Die noodlotsleer, of fatalisme, is die opvatting dat alle gebeure deur die goddelike wil of deur ’n bomenslike mag bepaal word, dat elke gebeurtenis moet plaasvind soos dit plaasvind omdat dit voorbestem is. Nie ’n Bybelwoord of -leerstelling nie.
Het almal ’n voorbestemde “tyd om te sterwe”?
Hierdie opvatting was gewild onder die Grieke en Romeine. Volgens heidense Griekse mitologie was daar drie Skikgodinne wat die lewensdraad gespin, die lengte daarvan bepaal en dit afgeknip het.
Prediker 3:1, 2 praat van “’n tyd om te sterwe”. Maar Prediker 7:17 toon dat dit nie ’n voorbestemde, vasgestelde oomblik vir die individu is nie wanneer dit vermaan: “Wees nie alte goddeloos, en wees nie dwaas nie: waarom sou jy sterwe voor jou tyd?” Spreuke 10:27 sê: “Die jare van die goddelose word verkort.” En Psalm 55:24 voeg by: “Manne van bloed en bedrog sal hulle dae nie tot op die helfte bring nie.” Wat beteken Prediker 3:1, 2 dan? Dit bespreek bloot die voortdurende lewe-en-dood-kringloop in hierdie onvolmaakte stelsel. Daar is ’n tyd wanneer mense gebore word en ’n tyd wanneer hulle sterf—gewoonlik nie op ’n hoër ouderdom as 70 of 80 jaar nie, maar soms vroeër en soms later.—Ps. 90:10; kyk ook Prediker 9:11.
As die oomblik en wyse van elke persoon se dood reeds by sy geboorte of vroeër bepaal is, sou daar geen nodigheid bestaan om gevaarlike situasies te vermy of om na ’n mens se gesondheid om te sien nie, en sou veiligheidsmaatreëls nie sterftesyfers laat daal nie. Maar meen jy dat ’n slagveld gedurende die oorlog net so veilig is soos ’n mens se huis ver weg van die operasionele gebied af? Sien jy na jou gesondheid om of neem jy jou kinders dokter toe? Waarom sterf rokers gemiddeld drie tot vier jaar vroeër as nie-rokers? Waarom is daar minder noodlottige ongelukke wanneer motorpassasiers veiligheidsgordels dra en wanneer bestuurders verkeerswette gehoorsaam? Dit is klaarblyklik voordelig om maatreëls te tref.
Is alles wat gebeur “God se wil”?
2 Pet. 3:9: “Die Here . . . is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.” (Maar nie almal reageer gunstig op sy lankmoedigheid nie. Dit is duidelik nie “God se wil” wanneer sommige hulle nie bekeer nie. Vergelyk Openbaring 9:20, 21.)
Jer. 7:23-26: “Hierdie saak het Ek hulle [Israel] beveel, naamlik: Luister na my stem, dan sal Ek vir julle ’n God wees, en julle sal vir My ’n volk wees; en wandel net in die weg wat Ek julle beveel, dat dit met julle goed kan gaan. Maar hulle het nie geluister . . . nie. . . . Ek [het] na julle al my knegte, die profete, gestuur, daagliks, vroeg en laat; maar hulle het na My nie geluister en geen gehoor gegee nie, maar hul nek verhard.” (Die boosheid wat in Israel plaasgevind het, was klaarblyklik nie “God se wil” nie.)
Mark. 3:35: “Elkeen wat die wil van God doen, dié is my broer en my suster en moeder.” (As alles wat mense gedoen het “God se wil” was, dan sou almal die soort verhouding met Jesus geniet het wat hier beskryf is. Maar hy het vir sommige gesê: “Julle het die duiwel as vader.”—Joh. 8:44.)
Waaraan kan talle oënskynlik onverklaarbare gebeure toegeskryf word?
Pred. 9:11: “Tyd en lotgeval [“toeval”, NE, RS] tref hulle almal.” (Dit is dus nie weens enige voorbestemming nie, maar weens toeval dat ’n persoon ’n slagoffer van ongunstige omstandighede kan word.)
Is mense verantwoordelik vir baie van die ontbering wat hulle en ander lede van die mensdom verduur?
Rom. 5:12: “Soos deur een mens [Adam] die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het.” (Ons het almal onvolmaaktheid, onder meer die neiging om te sondig, van Adam geërf.)
Pred. 8:9: “Die een mens heers oor die ander tot sy ongeluk.”
Spr. 13:1: “’n Wyse seun luister na die tug van die vader.” (Ouers se optrede het ’n groot invloed op die lewe van hulle kinders.)
Gal. 6:7: “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.” (Ook Spreuke 11:17; 23:29, 30; 29:15; 1 Korinthiërs 6:18)
Is daar bomenslike magte wat vir die mensdom wee veroorsaak?
Openb. 12:12: “Wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het.” (Ook Handelinge 10:38)
Weet God alles vooruit en word dit deur hom voorbeskik?
Jes. 46:9, 10: “Ek [is] God . . . en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen.” (Hy maak sy voorneme bekend, beskik sommige sake wat met die vervulling daarvan verband hou vooruit en het die almag om te verseker dat dit geskied.)
Jes. 11:1-3: “Daar sal ’n takkie uitspruit uit die stomp van Isai, en ’n loot uit sy wortels sal vrugte dra [Jesus is in die geslag van Isai gebore]; en op Hom sal die Gees van die HERE rus . . . Hy het ’n welgevalle aan die vrees van die HERE.” (Jehovah kon dit met vertroue oor sy Seun voorspel, want Hy het sy gesindheid en gedrag in die hemele sedert die begin van die skepping waargeneem.) (Kyk bladsy 237, onder “Jesus Christus”, in verband met Jesus se voormenslike bestaan.)
Deut. 31:20, 21: “Ek sal hulle [die nasie Israel] inbring in die land wat Ek aan hulle vaders met ’n eed beloof het, wat oorloop van melk en heuning, en hulle sal eet en versadig en vet word; dan sal hulle afwyk na ander gode en dié dien, en hulle sal My verag en my verbond verbreek. En as dan baie onheile en node oor hulle kom, dan sal hierdie lied [wat vertel hoe hulle opgetree het omdat hulle nie God se guns waardeer het nie] in hulle aangesig as getuie antwoord . . . want Ek ken hulle gedagtes wat hulle vandag koester voordat Ek hulle inbring in die land wat Ek met ’n eed beloof het.” (Let op dat God se vermoë om die uiteinde van hulle weg te onderskei nie beteken het dat hy daarvoor verantwoordelik was of dat hy dit vir hulle begeer het nie. Maar op grond van hulle dade kon hy die uitslag voorsien. ’n Weervoorspeller kan eweneens op grond van sekere waarnemings die weer met ’n groot mate van akkuraatheid voorspel, maar hy veroorsaak dit nie en hou nie noodwendig daarvan nie.)
Bewys God se vermoë om gebeure vooruit te weet en te beskik dat hy dit doen ten opsigte van al die dade van al sy skepsele?
Openb. 22:17: “Laat hom wat hoor, sê: Kom! En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet.” (Die keuse is nie voorbeskik nie; dit word aan die individu oorgelaat.)
Rom. 2:4, 5: “Verag jy die rykdom van sy goedertierenheid en verdraagsaamheid en lankmoedigheid, omdat jy nie besef dat die goedertierenheid van God jou tot bekering wil lei nie? Maar ooreenkomstig jou verhardheid en onbekeerlike hart vergader jy vir jou toorn as ’n skat in die dag van die toorn en die openbaring van die regverdige oordeel van God.” (Individue word nie gedwing om ’n voorgeskrewe weg te bewandel nie. Maar ’n mens is aanspreeklik vir jou dade.)
Sef. 2:3: “Soek die HERE, o alle ootmoediges van die land . . . soek geregtigheid, soek ootmoedigheid—miskien sal julle verborge bly op die dag van die toorn van die HERE.” (Sou ’n regverdige en liefdevolle God mense aanspoor om te doen wat reg is en ’n beloning aan hulle voorhou as hy geweet het dat hulle voorbestem is om nie te slaag nie?)
Ter toeligting: Die eienaar van ’n radio kan na die wêreldnuus luister. Maar die feit dat hy na ’n sekere stasie kan luister, beteken nie dat hy dit doen nie. Hy moet eers die radio aanskakel en dan die stasie kies. Jehovah het eweneens die vermoë om gebeure vooruit te weet, maar die Bybel toon dat hy daardie vermoë selektief en oordeelkundig gebruik, met die nodige agting vir die vrye wil waarmee hy sy menseskepping begaaf het.—Vergelyk Genesis 22:12; 18:20, 21.
Het God geweet dat Adam sou sondig toe hy hom geskape het?
Hier is wat God voor Adam en Eva gestel het: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.” “En die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe” (Genesis 1:28; 2:16, 17). Sou jy jou kinders aanspoor om ’n projek met ’n wonderlike toekoms te onderneem as jy uit die staanspoor geweet het dat dit tot mislukking gedoem was? Sou jy hulle teen rampspoed waarsku, terwyl jy geweet het dat jy alles so beplan het dat die onheil hulle beslis sou tref? Is dit dan redelik om te sê dat God dit sou doen?
Matt. 7:11: “As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid!”
As God Adam se sonde en al die gevolge daarvan voorbestem en vooruit geweet het, sou dit beteken dat God opsetlik al die goddeloosheid wat in die mensegeskiedenis begaan is in werking gestel het deur Adam te skep. Dit sal hom die Bron van al die oorloë, die misdadigheid, die onsedelikheid, die verdrukking, die leuens, die skynheiligheid, die siekte maak. Maar die Bybel sê duidelik: “U is nie ’n God wat behae het in goddeloosheid nie” (Ps. 5:5). “Sy siel haat die goddelose en die wat geweld liefhet” (Ps. 11:5). “God . . . kan [nie] lieg nie” (Tit. 1:2). “Hy [die Een wat deur God as Messiaanse Koning aangewys is] sal hulle siel verlos van verdrukking en geweld, en hulle bloed sal kosbaar wees in sy oë” (Ps. 72:14). “God is liefde” (1 Joh. 4:8). “Hy het geregtigheid en reg lief.”—Ps. 33:5.
Het God Jakob en Esau se lewens voorbestem?
Gen. 25:23: “Die HERE het haar [Rebekka] geantwoord: Twee nasies is in jou skoot, en twee volke sal van mekaar gaan uit jou liggaam; en die een volk sal sterker wees as die ander volk; en die oudste [Esau] sal die jongste [Jakob] dien.” (Jehovah kon die genetiese patroon van die ongebore tweeling lees. Hy kon dit in aanmerking geneem het toe hy die eienskappe wat elk van die seuns sou verkry, vooruitgesien en die uitslag voorspel het [Ps. 139:16]. Maar daar is hier geen aanduiding dat hy hulle ewige lot beslis het of dat hy elke gebeurtenis in hulle lewens voorbeskik het nie.)
Was Judas Iskariot voorbestem om Jesus te verraai?
Ps. 41:10: “Selfs die man wat met my in vrede lewe, op wie ek vertrou het, wat my brood eet, het die hakskeen teen my opgelig.” (Let op dat die profesie nie spesifiseer watter intieme metgesel van Jesus dit sou wees nie. Jehovah het geweet dat die Duiwel Dawid se raadgewer Agitofel gebruik het om hom te verraai, en Hy het dit laat opteken omdat dit getoon het hoe die Duiwel te werk gaan en wat hy in die toekoms sou doen. Nie God nie, maar “die duiwel het dit . . . in die hart van Judas Iskariot, die seun van Simon, ingegee om Hom [Jesus] te verraai” [Joh. 13:2]. In plaas van hom te verset, het Judas voor daardie sataniese invloed geswig.)
Joh. 6:64: “Jesus het van die begin af geweet . . . wie hy was wat Hom sou verraai.” (Nie van die begin van die skepping of van Judas se geboorte af nie, maar “van die begin” van sy verraderlike optrede af. Vergelyk Genesis 1:1, Lukas 1:2 en 1 Johannes 2:7, 13. In elk van hierdie tekste word “begin” in ’n relatiewe sin gebruik. Let ook op Johannes 12:4-6.)
Sê die apostel Paulus dan nie dat Christene ‘voorbestem’ is nie?
Rom. 8:28, 29: “Ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is. Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer [“bestem”, NAV] om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders.” (Ook Efesiërs 1:5, 11) Vir hierdie selfde persone sê 2 Petrus 1:10 egter: “Daarom, broeders, moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie.” (As die individue voorbestem was om gered te word, kon hulle onmoontlik struikel, ongeag wat hulle gedoen het. Aangesien inspanning aan die kant van individue nodig is, moet dit die klas wees wat voorbestem is. Dit was God se voorneme dat die hele klas hulle moes skik na die voorbeeld wat deur Jesus Christus gestel is. Diegene wat deur God gekies is om ’n deel van daardie klas te wees, moet egter getrou bly as hulle inderdaad die beloning wil ontvang wat aan hulle voorgehou word.)
Ef. 1:4, 5: “Hy [het] ons in Hom [Jesus Christus] uitverkies . . . voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees, deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil.” (Dit is opmerklik dat Jesus “die grondlegging van die wêreld” in Lukas 11:50, 51 gelykstel met die tyd van Abel. Abel was die eerste mens wat God se guns dwarsdeur sy lewe behou het. Dit was gevolglik ná die opstand in Eden maar voor Abel verwek is dat God sy voorneme gevorm het om ’n “saad” voort te bring deur wie verlossing bewerk sou word [Gen. 3:15]. Dit was God se voorneme dat ’n groep van die getroue volgelinge van die Saad se vernaamste lid, Jesus Christus, saam met hom deel sou hê aan ’n nuwe regering oor die aarde, die Messiaanse Koninkryk.)
Beïnvloed die sterre en planete gebeure in ons lewe of bied hulle voortekens wat ons in aanmerking moet neem wanneer ons besluite neem?
Wat is die oorsprong van astrologie?
“Westerse astrologie kan regstreeks teruggevoer word tot die teorieë en gebruike van die Chaldeërs en Babiloniërs van die jare 2000 v.C.”—The Encyclopedia Americana (1977), Dl. 2, bl. 557.
“Astrologie was op twee Babiloniese idees gebaseer: die diereriem en die goddelikheid van die hemelliggame. . . . Die Babiloniërs het die invloede wat ’n mens sou dink hulle aan hulle verskillende gode sou toeskryf aan die planete toegeskryf.”—Great Cities of the Ancient World (New York, 1972), L. Sprague de Camp, bl. 150.
“In Babilonië en, as ’n regstreekse produk van Babiloniese kultuur, ook in Assirië, . . . neem astrologie sy plek in die amptelike kultus in as een van die twee belangrikste metodes tot die beskikking van die priesters . . . om te bepaal wat die wil en die planne van die gode is. Die ander manier om dit te doen was deur die lewer van die offerdier te ondersoek. . . . Daar is gemeen dat die beweging van die son, maan en vyf planete die bedrywigheid voorstel van die vyf betrokke gode, asook van die maangod Sin en die songod Sjamasj, terwyl hulle gebeure op aarde voorberei.”—Encyclopædia Britannica (1911), Dl. II, bl. 796.
Hoe beskou die mensdom se Skepper hierdie gebruik?
Deut. 18:10-12: “Daar mag niemand by jou gevind word . . . wat met waarsêery, goëlery of met verklaring van voortekens of towery omgaan nie . . . Want elkeen wat hierdie dinge doen, is vir die HERE ’n gruwel.”
Vir die Babiloniërs het hy gesê: “Laat daardie sterrekykers jou nou kom red. Want hulle bestudeer die sterre en voorspel dan elke maand wat gaan gebeur. . . . Hulle is soos strooi . . . Dit is al wat daardie towenaars vir jou sal beteken vir wie jy van kleins af soveel moeite gedoen het. Hulle sal padgee en elkeen sy eie koers inslaan en daar sal nie een oorbly om jou te red nie.”—Jes. 47:13-15, LB.