Talespraak
Definisie: ’n Spesiale vermoë wat deur middel van die heilige gees aan sommige dissipels in die vroeë Christengemeente gegee is wat hulle in staat gestel het om in ’n ander taal te preek of God op die een of ander wyse te verheerlik.
Sê die Bybel dat almal wat God se gees sou hê ‘in tale sou spreek’?
1 Kor. 12:13, 30: “Ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam . . . Het almal genadegawes van gesondmaking, spreek almal in tale . . . ?” (Ook 1 Korinthiërs 14:26)
1 Kor. 14:5: “Ek wens dat julle almal in tale spreek, maar nog liewer dat julle profeteer. Want hy wat profeteer, is groter as hy wat in tale spreek, of hy moet dit uitlê, sodat die gemeente stigting kan ontvang.”
Bewys ekstatiese spraak in ’n taal wat ’n persoon nooit geleer het nie dat hy die heilige gees het?
Kan die vermoë om ‘in tale te spreek’ uit ’n ander bron as die ware God kom?
1 Joh. 4:1: “Geliefdes, glo nie elke gees [“geïnspireerde uiting”, NW] nie, maar stel die geeste [“geïnspireerde uitinge”, NW] op die proef of hulle uit God is.” (Kyk ook Mattheüs 7:21-23; 2 Korinthiërs 11:14, 15.)
Diegene wat ‘in tale spreek’, sluit vandag lede van die Pinksterkerke en Baptiste in, asook Rooms-Katolieke, Anglikane, Metodiste, Lutherane en Presbiteriane. Jesus het gesê dat die heilige gees ‘sy dissipels in die hele waarheid sou lei’ (Joh. 16:13). Glo die lede van elk van hierdie gelowe dat die ander wat ook ‘in tale spreek’ in “die hele waarheid” gelei is? Hoe is dit moontlik, aangesien hulle nie eensgesind is nie? Watter gees maak dit vir hulle moontlik om in ‘tale te spreek’?
’n Gesamentlike verklaring deur die Fountain Trust en die Anglikaanse Evangeliese Raad het erken: “Ons is ook daarvan bewus dat ’n soortgelyke verskynsel onder okkulte/demoniese invloed kan voorkom” (Gospel and Spirit, April 1977, uitgegee deur Fountain Trust en die Anglikaanse Evangeliese Raad, bl. 12). Die boek Religious Movements in Contemporary America (geredigeer deur Irving I. Zaretsky en Mark P. Leone, wat L. P. Gerlach aanhaal) berig dat ‘talespraak’ in Haïti kenmerkend is van sowel Pinkster- as Voedoe-gelowe.—(Princeton, N. J.; 1974), bl. 693; kyk ook 2 Thessalonicense 2:9, 10.
Is hedendaagse ‘talespraak’ dieselfde as dié van die eerste-eeuse Christene?
In die eerste eeu het die wonderdadige gawes van die gees, onder meer die vermoë om ‘in tale te spreek’, bevestig dat God se guns van die Joodse stelsel van aanbidding na die pasgestigte Christengemeente verskuif het (Hebr. 2:2-4). Daardie doel is in die eerste eeu bereik. Is dit dan nog nodig om dieselfde ding herhaaldelik in ons dag te bewys?
In die eerste eeu het die vermoë om in ‘tale te spreek’ die internasionale getuieniswerk wat Jesus aan sy volgelinge opgedra het ’n stoot gegee (Hand. 1:8; 2:1-11; Matt. 28:19). Is dit hoe diegene wat vandag ‘in tale spreek’ daardie vermoë gebruik?
Wanneer Christene in die eerste eeu ‘in tale gespreek’ het, het die dinge wat hulle gesê het sin gehad vir mense wat daardie tale geken het (Hand. 2:4, 8). Is dit nie waar dat dit vandag gewoonlik ’n ekstatiese uitborreling van onverstaanbare klanke is nie?
Die Bybel toon dat gemeentes in die eerste eeu net twee of drie persone by enige vergadering ‘in tale moes laat spreek’; hulle moes dit “by beurte” doen, en as daar geen uitlêer aanwesig was nie, moes hulle swyg (1 Kor. 14:27, 28). Is dit wat vandag gedoen word?
Kyk ook bladsye 145, 146, onder “Gees”.
Kan die heilige gees persone dinge laat doen wat nie deur die Skrif goedgekeur word nie?
2 Tim. 3:16, 17: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.” (Gestel iemand beweer dat hy ’n geïnspireerde boodskap het wat strydig is met dinge wat God se gees deur Jesus en sy apostels geopenbaar het. Kan dit dan uit dieselfde bron kom?)
Gal. 1:8: “Al sou ons of ’n engel uit die hemel julle ’n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ’n vervloeking wees!”
Getuig die lewenswyse van lede van organisasies wat ‘talespraak’ goedkeur dat hulle God se gees het?
Openbaar hulle as ’n groep vrugte van die gees soos sagmoedigheid en selfbeheersing op besondere wyse? Is hierdie eienskappe opvallend vir diegene wat hulle eredienste bywoon?—Gal. 5:22.
Is hulle waarlik “nie van die wêreld nie”? Is hulle gevolglik ten volle toegewy aan die Koninkryk van God, of bemoei hulle hulle met die wêreld se politieke aangeleenthede? Het hulle in oorlogstyd vry van bloedskuld gebly? Het hulle as ’n groep ’n goeie reputasie omdat hulle die wêreld se onsedelike gedrag vermy?—Joh. 17:16; Jes. 2:4; 1 Thess. 4:3-8.
Word ware Christene vandag uitgeken aan die vermoë om ‘in tale te spreek’?
Joh. 13:35: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.”
1 Kor. 13:1, 8, NAV: “Nou wys ek julle wat nog die allerbeste is: Al praat ek die tale van mense en engele, maar ek het geen liefde nie, het ek ’n stuk klinkende metaal, ’n galmende simbaal geword. . . . Die liefde vergaan nooit nie, maar die gawe om God se boodskap te verkondig, sal verdwyn, die gawe om ongewone tale en klanke te gebruik, sal ophou.”
Jesus het gesê dat sy volgelinge die heilige gees sou ontvang en dat hulle sy getuies tot aan die uiterste van die aarde sou wees (Hand. 1:8). Hy het hulle beveel: “Maak dissipels van al die nasies” (Matt. 28:19). Hy het ook voorspel dat ‘hierdie evangelie van die koninkryk in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies verkondig sou word’ (Matt. 24:14). Wie doen vandag as ’n groep en individueel hierdie werk? Moet ons nie, ooreenkomstig wat Jesus gesê het, hierna soek as bewys dat ’n groep die heilige gees het nie?
Sal talespraak voortduur totdat “die volmaakte” kom?
In 1 Korinthiërs 13:8 word daar van verskeie wonderdadige gawes melding gemaak—profesie, tale en kennis. Vers 9 verwys weer na twee van hierdie gawes—kennis en profesie—wanneer dit sê: “Want ons ken ten dele en ons profeteer ten dele.” Of, soos RS dit stel: “Want ons kennis is onvolmaak en ons profesie is onvolmaak.” Dan sê vers 10: “Maar as die volmaakte gekom het, dan sal wat ten dele is, tot niet gaan.” Die woord “volmaakte” is ’n vertaling van die Griekse teʹlei·on, wat die gedagte van volwassenheid, volledigheid of volmaaktheid bevat. Ro, By, NW en NAV gee dit hier weer met “volledig[e]”. Let op dat daar nie gesê word dat die gawe van tale “onvolmaak”, “ten dele” of gedeeltelik is nie. Dit word van “profesieë” en “kennis” gesê. Met ander woorde, selfs met daardie wonderdadige gawes het die vroeë Christene slegs ’n onvolmaakte of gedeeltelike begrip van God se voorneme gehad. Maar wanneer die profesieë vervul word, wanneer God se voorneme volbring word, sal “die volmaakte”, of dit wat volledig is, kom. Dit is dus duidelik nie ’n bespreking van hoe lank die gawe van tale sou duur nie.
Maar die Bybel toon wel hoe lank die ‘gawe van tale’ ’n deel van die Christelike ondervinding sou wees. Volgens die verslag is hierdie gawe en die ander gawes van die gees altyd aan persone oorgedra deur die handoplegging van die apostels van Jesus Christus of in hulle teenwoordigheid. (Hand. 2:4, 14, 17; 10:44-46; 19:6; kyk ook Handelinge 8:14-18.) Na hulle dood, en die dood van diegene wat die gawes op daardie wyse ontvang het, moes die wonderdadige gawes wat die gevolg was van die werking van God se gees geëindig het. So ’n beskouing stem ooreen met die doel van daardie gawes, soos gestel in Hebreërs 2:2-4.
Toon Markus 16:17, 18 dan nie dat die vermoë om ‘met nuwe tale te spreek’ ’n teken sou wees wat gelowiges identifiseer nie?
Ons moet daarop let dat hierdie verse nie alleen sê dat daar ‘met nuwe tale gespreek’ sal word nie, maar ook dat slange opgeneem en dodelike gif gedrink sal word. Staan almal wat ‘in tale spreek’ ook hierdie gebruike voor?
Kyk bladsy 158, onder “Genesing”, vir kommentaar oor die redes waarom nie alle Bybelgeleerdes hierdie verse aanvaar nie.
As iemand sê—
‘Glo julle in talespraak?’
Jy kan antwoord: ‘Jehovah se Getuies praat baie tale, maar ons praat nie “onbekende tale” terwyl ons in vervoering is nie. Maar mag ek vra: Glo u dat die talespraak wat vandag beoefen word dieselfde is as wat die eerste-eeuse Christene beoefen het?’ Dan kan jy byvoeg: ‘Hier is ’n paar verskille wat ek baie interessant gevind het. (Die materiaal op bladsy 394 kan gebruik word.)’
Of jy kan sê: ‘Ons glo dat eerste-eeuse Christene “in tale gespreek het” en dat dit destyds in bepaalde behoeftes voorsien het. Weet u wat daardie behoeftes was?’ Dan kan jy byvoeg: (1) ‘Dit het gedien as ’n teken dat God sy guns van die Joodse stelsel na die pasgestigte Christengemeente verskuif het (Hebr. 2:2-4).’ (2) ‘Dit was ’n praktiese manier om die goeie nuus in ’n kort tydjie wêreldwyd uit te dra (Hand. 1:8).’