Is die gawe van tale deel van die ware Christelike geloof?
“TERWYL ek geluister het hoe hy in tale bid, het dit vir my gevoel asof daar ’n elektriese lading in die lug is”, het Bill gesê nadat hy en ses ander voor die leraar naby die preekstoel gaan staan het. Is sulke ondervindings ’n herhaling van die heilige gees se werking in die eerste eeu? Identifiseer hulle die godsdiens van die Bybel? Ons kan bevredigende antwoorde vind deur die Skrif noukeurig te ondersoek.
Die Bybelverslag toon dat wanneer enige wonderdadige gawe van die gees oorgedra is, ten minste een van die 12 apostels of die apostel Paulus teenwoordig was. Die eerste van drie opgetekende gevalle waar daar in tale gepraat is, het onder 120 van Jesus se dissipels plaasgevind toe hulle in 33 G.J. met Pinkster in Jerusalem vergader het (Handelinge 2:1-4). Drie en ’n half jaar later, terwyl ’n groep onbesnede Italianers na Petrus se preek geluister het, het hulle die gees ontvang en begin om ‘in tale te spreek en God groot te maak’ (Handelinge 10:44-48). En 19 jaar na Pinkster, in ongeveer 52 G.J., het Paulus met ’n groep in Efese gepraat en sy hande op 12 dissipels gelê. Hulle het ook “met tale gespreek en geprofeteer”.—Handelinge 19:6.
Waarom die gawe van tale?
Net voordat Jesus na die hemel opgevaar het, het hy vir sy volgelinge gesê: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem . . . tot aan die uiterste van die aarde” (Handelinge 1:8). Let daarop dat hy dus met hierdie woorde ’n aanduiding gegee het van presies hoe hierdie ontsaglike predikingswerk gedoen sou word—met behulp van die heilige gees.
Moderne kommunikasie-tegnologie wat dit vir ons moontlik maak om boodskappe in baie tale wêreldwyd te stuur, het nie destyds bestaan nie. Die goeie nuus moes hoofsaaklik mondelings versprei word, en hierin sou die wonderdadige gawe van spraak in vreemde tale baie nuttig te pas kom. Dit was die geval toe die eerste-eeuse Christene vir Jode en proseliete in Jerusalem met Pinkster 33 G.J. gepreek het. Parthers, Meders, Elamiete, Kretense, Arabiere en die inwoners van Mesopotamië, Judea, Kappadocië, Pontus en die gebied van Asië, asook Romeine wat daar vertoef het, het “die groot dade van God” in hulle eie taal gehoor en verstaan wat gesê is. Drieduisend het spoedig gelowiges geword.—Handelinge 2:5-11, 41.
’n Feit wat dikwels oor die hoof gesien word, is dat talespraak net een van die nege werkinge van die heilige gees was wat die apostel Paulus in sy brief aan die Christene in Korinthe gemeld het. Hoewel Paulus talespraak as ’n minder belangrike gawe beskou het, was dit vir die vroeë gemeente nuttig in die verkondiging van die goeie nuus oor die hemelse Koninkryk van God. Dit was een van die “gawes” wat tot die vinnige groei en opbouing van die jong gemeente van Christene gelei het.—1 Korinthiërs 12:7-11; 14:24-26.
Die verskeie werkinge van die heilige gees in die eerste eeu, waaronder talespraak, was ook ’n sigbare bewys dat God nie meer die 1 500 jaar oue gemeente van Israel as sy spesiale volk gebruik het nie. Sy goedkeuring het nou ongetwyfeld op die nuwe Christengemeente gerus, wat deur sy eniggebore Seun gestig is.—Vergelyk Hebreërs 2:2-4.
Hierdie openbaringe van die gees was deurslaggewende boustene in die stigting van die jong Christengemeente, en dit het hulle gehelp om tot selfstandigheid te groei. Paulus het verduidelik dat hierdie wonderdadige gawes, nadat hulle aan hulle doel beantwoord het, sou ophou: “Profesieë—hulle sal tot niet gaan; of tale—hulle sal ophou.”—1 Korinthiërs 13:8.
Ja, die Bybel sê duidelik dat die gawe van talespraak sou ophou. Maar wanneer? Handelinge 8:18 bring aan die lig dat die gees ontvang is “deur die handoplegging van die apostels”. Daarom is dit vanselfsprekend dat die oordrag van die gawes van die gees—waaronder talespraak—met die dood van die laaste apostel sou ophou. Wanneer diegene wat hierdie gawes van die apostels ontvang het ook van die aardse toneel af verdwyn het, sou die wonderdadige gawe gevolglik ophou. Teen daardie tyd sou die Christengemeente tyd gehad het om gevestig te raak en na baie lande te versprei.
“Vreemde tale” en hulle uitleg
Die huidige herlewing van talespraak is al “deur party beskou as die emosionele buitensporigheid van onstabiele ekshibisioniste, terwyl ander dit presies dieselfde beskou as die verskynsel van talespraak in die apostoliese tye”. By hedendaagse kerksamekomste waar daar in “vreemde tale” gepraat word, behels dit gewoonlik ’n ekstatiese uitbarsting van onverstaanbare klanke. In ooreenstemming hiermee het een persoon erken: “Ek gebruik my gawe van tale hoofsaaklik privaat wanneer ek mediteer. . . . Ek voel ’n bietjie verleë voor ander mense.” ’n Ander een het gesê: “Ek hoor my eie woorde, ek verstaan dit nie, maar ek bly voel hoe my tong gedryf word om te praat.”
Watter werklik nuttige inligting word deur sulke vreemde tale oorgedra, en wat van die uitleg daarvan? Dié wat beweer dat hulle hierdie spraak uitlê, het verskillende verduidelikings vir dieselfde onverstaanbare uitinge gegee. Waarom het dit verskil? Hulle redeneer die teenstrydigheid weg deur te sê dat “God vir een persoon een uitleg en vir ’n ander persoon ’n ander uitleg gegee het”. Een individu het erken: “Ek het gevalle opgemerk waar die uitleg nie juis akkuraat was nie.” D. A. Hayes het in sy boek The Gift of Tongues verwys na ’n geval waar ’n man geweier het om die spraak van ’n vrou wat in ’n vreemde taal gepraat het, uit te lê omdat “die taal so verskriklik vuil was”. Hoe verskil dit tog van die talespraak wat in die eerste eeu bestaan het en wat in werklikheid die gemeente moes opbou!—1 Korinthiërs 14:4-6, 12, 18.
Party beweer wel vandag dat hulle wonderlike uitleggings gehoor het, en hulle glo dalk opreg dat God hierdie gawe gebruik wanneer hy “’n direkte boodskap aan die mense wil gee”. Maar watter boodskap van God het ons vandag nodig wat Jesus Christus en die apostels nie aan ons voorsien het nie? Paulus, wat self gawes van die heilige gees gehad het, het gesê: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”—2 Timotheüs 3:16, 17.
Feit is dat die Christengemeente nie meer in sy kinderskoene staan nie, en daarom is goddelike openbaringe of wonderdadige gawes van die gees nie meer nodig om sy rol te bevestig nie. Die Bybel waarsku: “Al sou ons of ’n engel uit die hemel julle ’n ander evangelie verkondig as wat [“’n evangelie verkondig in stryd met die wat”, Afrikaanse Bybel] ons julle verkondig het, laat hom ’n vervloeking wees!”—Galasiërs 1:8, NW.
Wonderdadige talespraak is nie meer nodig nie, en daar is geen Bybelse grondslag om te glo dat dit vandag deel uitmaak van die ware Christelike godsdiens nie. Noudat die Bybel voltooi en algemeen beskikbaar is, het ons alles wat ons nodig het in die Woord van God. Dit stel ons in staat om juiste kennis van Jehovah en sy Seun in te neem wat tot die ewige lewe lei.—Johannes 17:3; Openbaring 22:18, 19.
Selfs in die eerste eeu was Paulus verplig om aan die gemeente in Korinthe te skryf om hulle sienswyse reg te stel oor waarom die gawe van tale aan die vroeë Christene gegee is. Dit lyk asof die gawes van die gees party gefassineer het, en hulle het soos klein kindertjies, geestelik onvolwasse, opgetree. Hulle het te veel waarde aan “tale” geheg (1 Korinthiërs 14:1-39). Paulus het beklemtoon dat nie alle Christene in die eerste eeu in wonderdadige tale gepraat het nie. Dit was nie noodsaaklik vir hulle verlossing nie. Selfs toe dit in daardie tyd bestaan het, was die gawe van tale van minder belang as wonderdadige profesieë. Talespraak was nie en is nie ’n vereiste vir Christene om die ewige lewe te kry nie.—1 Korinthiërs 12:29, 30; 14:4, 5.
Die krag agter vreemde tale vandag
Baie mense glo dat die dryfkrag agter diegene wat vandag in tale praat charismatiese kerkleiers is wat lede van hulle kudde aanspoor om hierdie vermoë te ontwikkel. In baie gevalle word dit teweeggebring deur oorgevoeligheid en ongebalanseerdheid. Cyril G. Williams sê in Tongues of the Spirit dat dit “in baie gevalle ’n elite-teken in die groep” geword het en dat dit ’n persoon “aansien en gesag in die oë van die groep en in sy eie oë” gee. Die beweegrede kan dus ’n begeerte wees om aan die verhewe groep te behoort wat in vreemde tale praat.
Die eertydse president van die Loyola-universiteit, Donald P. Merrifield, het opgemerk dat “talespraak ’n histeriese of, volgens party, ’n duiwelse ondervinding kan wees”. Geestelike Todd H. Fast het gesê: “Talespraak is kontroversieel. Die duiwel het baie maniere waarop hy ons probeer beïnvloed.” Die Bybel self waarsku ons dat Satan en sy demone mense kan beïnvloed en hulle spraak kan beheer (Handelinge 16:17, 18). Jesus het teen ’n demoniese gees opgetree wat ’n man laat skreeu het en hom op die grond neergegooi het (Lukas 4:33-35). Paulus het gewaarsku dat ‘Satan self hom in ’n engel van die lig sal verander’ (2 Korinthiërs 11:14). Diegene wat vandag streef na die gawe van tale wat God nie langer aan sy volk skenk nie, stel hulle in werklikheid bloot aan misleiding deur Satan wat, soos ons gewaarsku word, “allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen” sal gebruik.—2 Thessalonicense 2:9, 10.
Talespraak—en die ware Christelike godsdiens
Die eerste-eeuse Christene wat die gawe van talespraak ontvang het, het dit gebruik om die groot dinge van God te verduidelik. Daar is beklemtoon hoe noodsaaklik dit is om die boodskap wat in tale oorgedra is duidelik uit te lê sodat almal dit kon verstaan en baie gevolglik opgebou kon word (1 Korinthiërs 14:26-33). Paulus het vermaan: “As julle met die tong geen verstaanbare woord uitbring nie, hoe sal ’n mens weet wat gespreek word? Want julle sal wees soos mense wat in die wind praat.”—1 Korinthiërs 14:9.
Hoewel die gees van God die gawe van tale aan vroeë Christene verleen het, het dit hulle nie ’n onverstaanbare of onvertaalbare brabbeltaal laat praat nie. In harmonie met Paulus se raad het die heilige gees spraak voorsien wat daartoe gelei het dat die goeie nuus vinniger “verkondig is in die ganse mensdom onder die hemel”.—Kolossense 1:23.
Jesus Christus het aangaande hierdie laaste dae van die huidige stelsel beveel: “Die evangelie [van die opgerigte Koninkryk] moet eers aan al die nasies verkondig word” (Markus 13:10). Soos in die eerste eeu moet die hele skepping die boodskap van die Koninkryk hoor. Dit is moontlik omdat die Bybel nou, in sy geheel of gedeeltelik, in byna 2 000 tale vertaal is. Dieselfde gees wat vroeë Christene besiel het om met vrymoedigheid en moed te spreek, ondersteun nou die groot en wonderlike predikingswerk van die hedendaagse gemeente van Jehovah se Getuies. Mondelings en deur van moderne druktegnologie gebruik te maak om skriftuurlike waarheid deur die gedrukte blad beskikbaar te stel, praat hulle die “suiwer taal”. Hierdie boodskap word in meer as 200 lande en eilande van die see verkondig. Jehovah se Getuies staan alleen as die enigste mense wat deur God se gees beweeg word om al die groot dinge van God bekend te maak.—Sefanja 3:9, NW; 2 Timotheüs 1:13.
[Prente op bladsy 7]
Huis-tot-huis- getuieniswerk in Japan
Skip-tot-skip- getuieniswerk in Colombia
Onder: Bybelstudie in Guatemala
Heel onder: Getuieniswerk op die Nederlandse platteland