Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • hb bl. 17-22
  • Jy het die reg om te kies

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jy het die reg om te kies
  • Hoe kan bloed jou lewe red?
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • JOU REG WORD ERKEN
  • IN PLAAS VAN DIE HOWE
  • LIEFDEVOLLE BEHANDELING VIR KINDERS
  • Hospitale—Wanneer jy ’n pasiënt is
    Ontwaak!—1991
  • Is jy voorbereid op ’n mediese situasie wat jou geloof kan toets?
    Ons Koninkryksbediening—1992
  • Kwaliteitsalternatiewe vir oortappings
    Hoe kan bloed jou lewe red?
  • Jehovah se Getuies—Die chirurgiese/etiese uitdaging
    Hoe kan bloed jou lewe red?
Sien nog
Hoe kan bloed jou lewe red?
hb bl. 17-22

Jy het die reg om te kies

’n Huidige mediese benadering (wat risiko/voordeelontleding genoem word) maak dit vir dokters en pasiënte makliker om saam te werk om bloedterapie te vermy. Dokters weeg faktore soos die gevare van ’n sekere geneesmiddel of operasie teen die moontlike voordele op. Pasiënte kan ook deelneem aan so ’n ontleding.

Kom ons gebruik een voorbeeld waarmee mense in baie plekke hulle kan vereenselwig—chroniese mangelontsteking. As jy hierdie probleem gehad het, sal jy waarskynlik ’n dokter gaan spreek het. Trouens, jy sal moontlik twee gaan spreek, aangesien gesondheidskenners dikwels aan die hand doen dat ’n mens ’n tweede mening inwin. Die een beveel dalk ’n operasie aan. Hy verduidelik wat dit beteken: hoe lank jy in die hospitaal sal moet bly, hoeveel pyn jy sal verduur en hoeveel dit sal kos. Wat die risiko’s betref, sê hy dat kwaai bloeding ongewoon is en dat so ’n operasie baie selde die dood tot gevolg het. Maar die dokter wat ’n tweede mening gee, raai jou aan om antibiotikumterapie te probeer. Hy verduidelik watter soort geneesmiddel dit is, wat die kans op sukses is en hoeveel dit sal kos. Wat die gevare betref, sê hy dat baie min pasiënte ’n reaksie op die middel het wat hulle lewe in gevaar stel.

Elke bekwame geneesheer het waarskynlik die risiko’s en voordele oorweeg, maar nou moet jy die risiko’s en moontlike voordele, sowel as ander faktore waarmee jy die beste bekend is, teen mekaar opweeg. (Jy is in die beste posisie om aspekte soos jou emosionele of geestelike krag, die gesin se finansies, die uitwerking op die gesin en jou eie sedelike norme te oorweeg.) Dan maak jy ’n keuse. Jy gee moontlik jou oorwoë toestemming vir een terapie maar wys die ander van die hand.

Dit sal ook die geval wees as dit jou kind was wat die chroniese mangelontsteking gehad het. Die risiko’s, voordele en terapieë sal aan julle, die liefdevolle ouers wat die direkste geraak word en wat die gevolge sal moet dra, verduidelik word. Nadat julle al die aspekte oorweeg het, kan julle ’n oorwoë keuse maak oor hierdie saak waarby julle kind se gesondheid en selfs sy of haar lewe betrokke is. Miskien willig julle in tot die operasie, met sy risiko’s. Ander ouers sal moontlik die antibiotika, met die gevare daaraan verbonde, kies. Net soos geneeshere verskil ten opsigte van die raad wat hulle gee, verskil pasiënte of ouers ten opsigte van wat hulle meen die beste is. Dit is ’n vanselfsprekende kenmerk van oorwoë (risiko/voordeel)keuses.

Wat van die gebruik van bloed? Niemand wat die feite objektief ondersoek, kan ontken dat bloedoortappings ’n groot risiko inhou nie. Dr. Charles Huggins, wat die direkteur van die oortappingsdiens by die groot Algemene Hospitaal van Massachusetts is, het dit baie duidelik gestel: “Bloed was nog nooit veiliger nie. Maar dit moet as onvermydelik onveilig beskou word. Dit is die gevaarlikste middel wat ons in die geneeskunde gebruik.”—The Boston Globe Magazine, 4 Februarie 1990.

Mediese personeel is tereg gemaan: “Dit is nodig om ook weer die risiko-aspek van die voordeel/risikoverhouding vir bloedoortappings te evalueer en om alternatiewe te soek.” (Ons kursiveer.)—Perioperative Red Cell Transfusion, konferensie van die National Institutes of Health, 27-29 Junie 1988.

Geneeshere verskil moontlik oor die voordele en risiko’s van die gebruik van bloed. Een gee moontlik baie oortappings en is oortuig dat hulle die risiko werd is. ’n Ander meen dat die risiko’s ongeregverdig is, want hy het goeie resultate met bloedlose behandeling gehad. Die finale besluit berus egter by jou, die pasiënt of ouer. Waarom by jou? Omdat jou (of jou kind se) liggaam, lewe, sedelike norme en uiters belangrike verhouding met God daarby betrokke is.

JOU REG WORD ERKEN

Vandag het die pasiënt in baie plekke ’n onaanvegbare reg om te besluit watter behandeling hy sal aanvaar. “Die wet van oorwoë toestemming berus op twee veronderstellings: ten eerste, dat die pasiënt die reg het om genoeg inligting te ontvang om ’n oorwoë keuse oor die aanbevole behandeling te maak; en ten tweede, dat die pasiënt kan besluit om die geneesheer se aanbeveling te aanvaar of te verwerp. . . . Tensy pasiënte die reg het om nee sowel as ja, en selfs ja met voorwaardes, te sê, verdwyn baie van die logiese grond vir oorwoë toestemming.”—Informed Consent—Legal Theory and Clinical Practice, 1987.a

Sommige pasiënte het teenstand ondervind toe hulle hul reg probeer uitoefen het. Dit kon van ’n vriend gewees het wat sterk voel oor ’n mangeluitsnyding of oor antibiotika. Of ’n geneesheer was moontlik oortuig daarvan dat sy raad die beste is. Selfs ’n hospitaalbeampte kon met jou verskil het op grond van wetlike of finansiële belange.

“Baie ortopediste verkies om nie op [Getuie]pasiënte te opereer nie”, sê dr. Carl L. Nelson. “Ons meen dat die pasiënt die reg het om enige soort mediese terapie te weier. As dit tegnies moontlik is om ’n veilige operasie te doen sonder om ’n bepaalde behandeling, soos ’n oortapping, te gebruik, dan moet dit as ’n keuse gestel word.”—The Journal of Bone and Joint Surgery, Maart 1986.

’n Bedagsame pasiënt sal nie druk op ’n geneesheer uitoefen om ’n terapie te gebruik waarin die dokter onervare is nie. Soos dr. Nelson egter gesê het, kan talle toegewyde geneeshere hulle aanpas by die pasiënt se oortuigings. ’n Duitse amptenaar het gemaan: “Die dokter kan nie weier om hulp te verleen . . . omdat hy redeneer dat hy met ’n Jehovasgetuie nie al die mediese alternatiewe tot sy beskikking het nie. Hy het steeds ’n plig om hulp te verleen selfs wanneer daar minder kanale vir hom oop is” (Der Frauenarzt, Mei-Junie 1983). Hospitale bestaan eweneens nie net om geld te maak nie, maar om alle mense te dien sonder om te diskrimineer. Katolieke teoloog Richard J. Devine sê: “Hoewel die hospitaal elke redelike mediese poging moet aanwend om die pasiënt se lewe en gesondheid te bewaar, moet dit verseker dat die mediese behandeling nie [sy] gewete skend nie. Dit moet boonop alle vorme van dwang vermy, van pogings om die pasiënt om te rokkel tot die verkryging van ’n hofbevel om ’n bloedoortapping aan hom op te dwing.”—Health Progress, Junie 1989.

IN PLAAS VAN DIE HOWE

Baie mense is dit eens dat persoonlike mediese geskille nie in ’n hof tuishoort nie. Hoe sal jy voel as jy die antibiotikumterapie kies, maar iemand hof toe gaan om ’n mangeluitsnyding aan jou op te dwing? ’n Dokter wil dalk die behandeling gee wat hy meen die beste is, maar daar rus geen plig op hom om wetlike regverdiging te soek om jou basiese regte te vertrap nie. En aangesien die Bybel onthouding van bloed op dieselfde sedelike vlak as die vermyding van hoerery plaas, sal dit gelykstaande wees aan gewelddadige geslagsgemeenskap—verkragting—as bloed aan ’n Christen opgedwing word.—Handelinge 15:28, 29.

En tog berig Informed Consent for Blood Transfusion (1989) dat sommige howe so verontrus raak wanneer ’n pasiënt weens sy godsdiensregte bereid is om ’n sekere risiko te aanvaar “dat hulle wetlike uitsonderings uitdink—regsfiksies, as jy wil—om toe te laat dat ’n oortapping plaasvind”. Hulle probeer dit moontlik verskoon deur te sê dat ’n swangerskap daarby betrokke is of dat daar kinders is wat onderhou moet word. “Dit is regsfiksies”, sê die boek. “Bevoegde volwassenes is daarop geregtig om behandeling te weier.”

Sommige wat daarop aandring om bloed oor te tap, ignoreer die feit dat Getuies nie alle terapieë weier nie. Hulle verwerp net een terapie, wat selfs volgens kenners gevaarvol is. Gewoonlik kan ’n mediese probleem op verskeie maniere behandel word. Een het hierdie risiko, ’n ander daardie risiko. Kan ’n hof of ’n dokter paternalisties weet watter risiko “in jou belang” is? Jý moet daaroor besluit. Jehovah se Getuies staan daarop dat hulle nie wil hê dat iemand anders vir hulle moet besluit nie; dit is hulle persoonlike verantwoordelikheid voor God.

Hoe kan dit jou gewete en daardie noodsaaklike element, jou wil om te lewe, raak as ’n hof ’n afstootlike behandeling aan jou opdwing? Dr. Konrad Drebinger het geskryf: “Dit sal beslis ’n misplaaste vorm van mediese ambisie wees wat iemand sal beweeg om ’n pasiënt te dwing om teen sy gewete ’n bepaalde terapie te aanvaar, sodat hy hom fisies kan behandel terwyl hy sy psige ’n doodhou toedien.”—Der Praktische Arzt, Julie 1978.

LIEFDEVOLLE BEHANDELING VIR KINDERS

Hofsake oor bloed gaan meestal oor kinders. Party medici het soms, wanneer liefdevolle ouers beleef gevra het dat bloedlose behandeling gebruik word, ’n hofbevel probeer kry om bloed te gee. Christene is dit natuurlik eens met wette of optrede deur howe om kindermishandeling of -verwaarlosing te voorkom. Jy het dalk al gelees van gevalle waar ’n ouer ’n kind onmenslik behandel het of hom alle mediese behandeling ontsê het. Hoe tragies tog! Dit is duidelik dat die staat kan en moet ingryp om ’n verwaarloosde kind te beskerm. Dit is nogtans maklik om te sien dat dit ’n heeltemal ander saak is wanneer ’n liefdevolle ouer bloedlose mediese terapie van hoë gehalte aanvra.

Hierdie hofsake gaan gewoonlik oor ’n kind in ’n hospitaal. Hoe het die kind daar gekom, en waarom? Dit is byna altyd die besorgde ouers wat hulle kind gebring het om kwaliteitsbehandeling te ontvang. Net soos Jesus in kinders belanggestel het, gee Christenouers vir hulle kinders om. Die Bybel praat van ‘’n sogende moeder wat haar eie kinders koester’. Jehovah se Getuies het sulke innige liefde vir hulle kinders.—1 Thessalonicense 2:7, NW; Mattheüs 7:11; 19:13-15.

Dit is vanselfsprekend dat alle ouers besluite neem wat hulle kinders se veiligheid en lewe raak: Sal die gesin gas of olie gebruik om die huis te verwarm? Sal hulle ’n kind op ’n lang rit neem? Mag hy gaan swem? Risiko’s is by sulke kwessies betrokke, selfs risiko’s wat die verskil tussen lewe en dood kan beteken. Maar die gemeenskap erken ouerlike diskresie, en daarom het ouers die seggenskap in byna alle besluite wat hulle kinders raak.

In 1979 het die Amerikaanse Appèlhof duidelik gesê: “Die reg se konsep van die gesin berus op ’n veronderstelling dat ouers besit wat ’n kind kortkom ten opsigte van volwassenheid, ondervinding en die oordeelsvermoë wat nodig is om die moeilike besluite in die lewe te neem. . . . Die feit dat ’n ouer se besluit [oor ’n mediese aangeleentheid] risiko’s inhou, beteken nie dat die bevoegdheid om daardie besluit te neem vanselfsprekend van die ouers na die een of ander liggaam of amptenaar van die staat oorgedra word nie.”—Parham v. J.R.

In daardie selfde jaar het New York se Appèlhof beslis: “Die belangrikste faktor om te bepaal of ’n kind gepaste mediese behandeling ontneem word . . . , is of die ouers toegesien het dat hulle kind in die lig van al die omringende omstandighede aanvaarbare mediese behandeling ontvang. By hierdie ondersoek is die vraag nie of die ouer ’n ‘regte’ of ’n ‘verkeerde’ besluit geneem het nie, want die huidige stand van die geneeskunde laat, ten spyte van sy geweldige vooruitgang, baie selde sulke definitiewe gevolgtrekkings toe. ’n Hof kan hom ook nie die rol van ’n surrogaatouer toe-eien nie.”—In re Hofbauer.

Dink weer aan die voorbeeld van ouers wat moet kies tussen ’n operasie en antibiotika. Elke terapie hou sy eie risiko’s in. Dit is die verantwoordelikheid van liefdevolle ouers om die risiko’s, voordele en ander faktore te oorweeg en dan ’n keuse te maak. In hierdie verband het dr. Jon Samuels (Anesthesiology News, Oktober 1989) aan die hand gedoen dat daar weer gekyk word na Guides to the Judge in Medical Orders Affecting Children, wat die volgende standpunt ingeneem het:

“Mediese kennis is nie gevorderd genoeg dat ’n geneesheer met redelike sekerheid kan voorspel of sy pasiënt sal lewe of sterwe nie . . . As daar ’n keuse ten opsigte van prosedures is—as die dokter byvoorbeeld ’n prosedure aanbeveel waarvan die kans op sukses 80 persent is, maar wat die ouers nie goedkeur nie, en die ouers het geen beswaar teen ’n prosedure waarvan die kans op sukses net 40 persent is nie—moet die dokter die medies gevaarliker weg volg waarteen die ouers nie beswaar het nie.”

In die lig van die vele dodelike gevare wat na vore gekom het in verband met die mediese gebruik van bloed en omdat daar doeltreffende alternatiewe vorme van behandeling is, kan daar tereg gevra word of dit nie moontlik is dat die risiko selfs kleiner is wanneer bloed vermy word nie.

Christene oorweeg natuurlik baie faktore wanneer hulle kind chirurgie nodig het. Daar is risiko’s aan elke operasie verbonde, hetsy bloed gebruik word of nie. Watter chirurg gee waarborge? Die ouers weet moontlik dat bekwame geneeshere goeie resultate behaal het met bloedlose chirurgie op Getuie-kinders. Is dit dan nie redelik dat ’n geneesheer of hospitaalbeampte, al het hy ’n ander voorkeur, eerder met die liefdevolle ouers saamwerk as om ’n spanningsvolle en tydrowende regstryd aan te knoop nie? Of ouers kan hulle kind na ’n ander hospitaal oorplaas waar die personeel al sulke gevalle hanteer het en waar hulle bereid is om dit te doen. Trouens, bloedlose behandeling sal heel waarskynlik kwaliteitsbehandeling wees omdat dit die gesin sal help om “geoorloofde mediese en nie-mediese oogmerke te bereik”, soos vroeër genoem is.

[Voetnoot]

a Sien die mediese artikel “Bloed: Wie se keuse en wie se gewete?” wat in die Aanhangsel, op bladsye 30-1, herdruk is.

[Venster op bladsy 18]

VREES VIR REGSAANSPREEKLIKHEID ONGEGROND

Jy wonder moontlik: ‘Waarom is sommige dokters en hospitale so haastig om ’n hofbevel te kry om bloed te gee?’ In sommige plekke is vrees vir aanspreeklikheid ’n algemene rede.

Sulke kommer is ongegrond wanneer Jehovah se Getuies bloedlose behandeling kies. ’n Dokter by die Albert Einstein College of Medicine (VSA) skryf: “Die meeste [Getuies] teken geredelik die vorm van die American Medical Association wat geneeshere en hospitale van aanspreeklikheid onthef, en baie dra ’n Medical Alert[-kaart]. ’n ‘Weiering om bloedprodukte te aanvaar’-vorm wat behoorlik onderteken en gedateer is, is ’n kontraktuele ooreenkoms en is wetlik bindend.”—Anesthesiology News, Oktober 1989.

Ja, Jehovah se Getuies werk graag saam om die wetlike versekering te gee dat ’n geneesheer of hospitaal nie aanspreeklik gehou sal word as hulle die verlangde bloedlose terapie toepas nie. Soos gesondheidsdeskundiges aan die hand doen, dra elke Getuie ’n “Medical Document”-kaart. Dit word jaarliks hernuwe en word deur die persoon en getuies, dikwels sy naasbestaandes, onderteken.

In Maart 1990 het die Hooggeregshof van Ontario, Kanada, ’n uitspraak bekragtig wat ’n gunstige kommentaar op so ’n dokument gelewer het: “Die kaart is ’n skriftelike verklaring van ’n geldige standpunt wat die houer van die kaart wettiglik mag inneem om ’n skriftelike beperking op [die] kontrak met die dokter te plaas.” In Medicinsk Etik (1985) het professor Daniel Andersen geskryf: “As daar ’n ondubbelsinnige skriftelike verklaring van die pasiënt is wat sê dat hy een van Jehovah se Getuies is en onder geen omstandighede bloed wil hê nie, vereis respek vir die pasiënt se outonomie dat hierdie wens eerbiedig word, asof dit mondeling uitgespreek is.”

Getuies onderteken ook toestemmingsvorms van hospitale. Een wat by ’n hospitaal in Freiburg, Duitsland, gebruik word, het ruimte waar die geneesheer kan beskryf watter inligting hy die pasiënt oor die behandeling gegee het. Bokant die handtekeninge van die geneesheer en die pasiënt sê die vorm voorts: “As ’n lidmaat van die godsdiensgroep Jehovah se Getuies weier ek volstrek dat vreemde bloed of bloedkomponente tydens my operasie gebruik word. Ek is bewus daarvan dat die beoogde en nodige prosedure derhalwe ’n hoër risiko inhou weens die komplikasies van bloeding. Nadat ek veral daaroor ’n breedvoerige verduideliking gekry het, versoek ek dat die nodige operasie uitgevoer word sonder die gebruik van vreemde bloed of bloedkomponente.”—Herz Kreislauf, Augustus 1987.

In werklikheid hou bloedlose behandeling moontlik ’n kleiner risiko in. Maar die punt is dat Getuie-pasiënte met graagte enige onnodige kommer uit die weg sal ruim sodat medici kan voortgaan met dit waartoe hulle hul verbind het, naamlik om mense te help om gesond te word. Hierdie samewerking is tot almal se voordeel, soos dr. Angelos A. Kambouris in “Groot buikoperasies op Jehovah se Getuies” getoon het:

“’n Preoperatiewe ooreenkoms moet deur die chirurg as bindend beskou word, en hy moet daarby bly, ongeag wat gedurende en na die operasie gebeur. [Dit] stel die pasiënte positief in teenoor hulle operasie en lei die chirurg se aandag van die wetlike en filosofiese oorwegings na die chirurgiese en tegniese oorwegings en stel hom derhalwe in staat om op sy beste te opereer en in die pasiënt se belang op te tree.”—The American Surgeon, Junie 1987.

[Venster op bladsy 19]

“Oormatige gebruik van mediese tegnologie is ’n vername faktor by die verhoging van gesondheidsdienste se huidige uitgawes. . . . Bloedoortappings is veral van belang weens die koste en hoë risiko wat daaraan verbonde is. Gevolglik is bloedoortappings deur die American Joint Commission on Accreditation of Hospitals geklassifiseer as ’n prosedure wat ‘baie gebruik word, ’n hoë risiko inhou en aan foute onderhewig is’.”—“Transfusion”, Julie-Augustus 1989.

[Venster op bladsy 20]

Verenigde State: “Die etiese konsep van individuele outonomie, naamlik dat besluite oor ’n mens se eie lot deur die betrokke persoon geneem moet word, lê die belangrikheid van die pasiënt se toestemming ten grondslag. Die wetlike grond vir die vereiste van toestemming is dat ’n mediese daad wat sonder die pasiënt se toestemming verrig word op aanranding neerkom.”—“Informed Consent for Blood Transfusion”, 1989.

Duitsland: “Die pasiënt se selfbeskikkingsreg weeg swaarder as die beginsel van hulpverlening en die bewaring van lewe. Gevolglik: geen bloedoortapping teen die pasiënt se sin nie.”—“Herz Kreislauf”, Augustus 1987.

Japan: “Daar is geen ‘absolute’ in die mediese wêreld  nie. Dokters glo dat die weg van hedendaagse geneeskunde die beste is en volg daardie weg, maar hulle moenie elke besonderheid daarvan as ’n ‘absolute’ aan pasiënte opdwing nie. Pasiënte moet ook keusevryheid hê.”—“Minami Nijon Sjimboen”, 28 Junie 1985.

[Venster op bladsy 21]

“Ek het gevind dat die gesinne [van Jehovah se Getuies] heg en liefdevol is”, berig dr. Lawrence S. Frankel. “Die kinders is welopgevoed, liefdevol en eerbiedig. . . . Dit lyk selfs of hulle strenger by mediese voorskrifte hou, wat moontlik ’n poging is om hulle aanvaarding van mediese ingryping te toon in die mate wat hulle geloof dit toelaat.”—Pediatrie-afdeling, M. D. Anderson Hospital and Tumor Institute, Houston, VSA, 1985.

[Venster op bladsy 22]

“Dit is ongelukkig nie ongewoon nie”, sê dr. James L. Fletcher jr., “dat beroepsverwaandheid goeie mediese oordeel verdring. Vorme van behandeling wat vandag as ‘die beste’ beskou word, word môre gewysig of verwerp. Wat is die gevaarlikste, ’n ‘godsdienstige ouer’ of ’n aanmatigende geneesheer wat oortuig is dat sy of haar behandeling absoluut noodsaaklik is?”—“Pediatrics”, Oktober 1988.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel